Die Harmony Flats-natuurreservaat by Kaapstad huisves bedreigde inheemse plante en diere.
Ligging Die beskermde gebied is by 34° 8′ 18″ suid, 18° 51′ 33″ oos, in Elfdelaan in die Strand in die rigting van Gordonsbaai. Dit is aan die suidoostekant van die Gustrow-sportterrein in die woonbuurt Southfork.
Reservaat Hierdie natuurgebied van slegs 9 ha omvat ‘n seisoenale vleiland. Dit is in 1989 gestig om die oorblywende uiters bedreigde Lourensford-fynbosvariant te beskerm. Hierdie tipe fynbos is die habitat van die psammobates geometricus, die suurpootjie, maar hulle het kort na die stigting van die reservaat hier uitgesterf. Die reservaat is te klein om ekologies lewensvatbaar te wees. Weens die ligging tussen stedelike woonbuurte is honde, katte, tuinafval, die verwydering van sand en indringerplante ‘n probleem.
Fauna Besondere voëls wat hier voorkom, is die oranjekeelkalkoentjie, gevlekte klopkloppie en die landeryklopkloppie. Die akkedis Agama spinosa is as uitgestorwe beskou totdat dit hier weer in 2010 herontdek is. Ook loop die papegaaibek-padloper hier rond. Verder kan die geelslang, molslang, verskeie muissoorte, rotte en insekte hier teengekom word.
Flora ‘n 220 plantspesies waarvan 30 as skaars beskou word, is al aangeteken. Die bekendste plante is die uiters bedreigde Ixia versicolor (die blouoog-kalossie), Bartholina burmanniana, Disa tenella (die lekkerruik-orgidee), Lampranthus filicaulis (die langsteelvygie), Moraea villosa, die kleingroenroos en die tjienkerientjee.
Bibliografie botanicalsociety.org.za/spring-flower-harmony-flats-nature-reserve/ fynboslife.com/nature-reserves/harmony-flats-nature-reserve/ resource.capetown.gov.za/documentcentre/Documents/Graphics%20and%20educational%20material/Flyer%20-%20Harmony%20Flaats%20Nature%20Reserves.pdf
Kategorie:Natuurreservate in die Wes-Kaap Kategorie:Kaapstad