Fractured is 'n Amerikaanse sielkundige riller van 2019 wat deur Brad Anderson geregisseer is. Die draaiboek is deur Alan B. McElroy en die hoofakteurs is Sam Worthington, Lily Rabe, Stephen Tobolowsky, Adjoa Andoh en Lucy Capri. Dit gaan oor Ray Monroe (Worthington) wat na sy vermiste vrou en dogter soek ná 'n kopbesering.

Die prent is op 11 Oktober 2019 op Netflix begin stroom en het gemengde resensies gekry. Resensente het Worthington se spel geprys, maar was verdeeld oor die storielyn en uitvoering.

Storielyn

Terwyl Ray en Joanne saam met hulle sesjarige dogter, Peri, terugry huis toe ná 'n besoek aan haar ouers, stry hulle oor die toestand van hulle huwelik. Ná 'n besoek aan 'n ruskamer verloor Peri haar kompakte spieël en haar ouers soek daarna. Terwyl Ray se aandag afgelei is, skrik Peri vir 'n hond op 'n eensame bouterrein. Ray gooi 'n klip na die hond om hom weg te jaag. Peri skrik en val in 'n put. Ray probeer haar vang, maar val self in die put en stamp sy kop. Joanne klim met 'n trap af na die put en is bekommerd oor Peri. Hulle ry na 'n hospitaal om Peri se beseerde arm te laat ondersoek.

Tydens die lang registrasieproses weier Ray en Joanne om Peri as 'n orgaanskenker te laat registreer. 'n Dokter ondersoek Peri se arm en besluit dit is gebreek. Dr. Berthram beveel 'n X-straalondersoek aan in geval van 'n kopbesering. Joanne gaan saam met haar na die X-straaleenheid in die kelderverdieping en Ray raak in die wagkamer aan die slaap.

Hy word ure later wakker met 'n hegband aan sy voorkop en vra die hospitaalpersoneel of hy sy gesin mag sien, maar hy vind uit daar is geen rekord van hulle nie. Die enigste verpleegster wat van die vorige skof oor is, sê hy het alleen ingekom en is vir 'n kopwond behandel. Die sekuriteitswagte sproei hom met peper, gee hom 'n kalmeermiddel in en sluit hom in 'n kamer toe. Hy neem verskeie adrenalieninspuitings wat hy in die kamer kry om die kalmeermiddel teen te werk en ontsnap na die parkeerterrein. Hy keer twee polisiebeamptes voor wat belowe om die saak te ondersoek.

'n Dokter neem die twee polisiebeamptes en Ray na die derde verdieping, nie die kelder nie. Ray raak ontsteld toe die verpleegster vertel wat regtig met hom gebeur het. Volgens dr. Berthram het Ray gesê hy wag vir sy oorlede eerste vrou, Abby, en dit verwar hom. Hy sê Abby is dood en herinner dr. Berthram aan die gesprek wat hy met Peri gehad het.

Die sekuriteitswag wys materiaal van die hospitaal se sekuriteitsopnames en daar is geen teken van Joanne en Peri nie. 'n Woedende Ray onthou die kassiere by die vulstasie waar hulle stilgehou het, sal kan getuig dat sy hulle gesien het, en die twee polisiebeamptes stem in om haar op te soek. Ray kom in die hospitaal op Peri se bloedbesmeerde serp af.

Dr. Jacobs vra Ray uit oor die motorongeluk waarin hy volgens sy lêer was en noem iets van alkoholisme, maar Ray sê hy is al agt jaar nugter. Verdere vrae dui daarop dat alkoholisme dalk sy waansin kon veroorsaak het, maar hy ontken dit. Dr. Jacobs stel voor Ray gaan saam met haar en die polisie na die bouterrein en sê vir dr. Berthram dat Joanne en Peri dalk daar is. Ray beskuldig hulle daarvan dat hulle sy gesin se verdwyning toesmeer.

Die polisie vind Peri se stukkende spieëltjie en 'n groot kol bloed. Dr. Jacobs vra Ray wat voor die ongeluk gebeur het en Ray maak feite op, wat daartoe lei dat die polisie hom in hegtenis wil neem vir moord.

Ray hou dr. Jacobs later met 'n vuurwapen aan en vra haar haar sleutelkaart vir die hospitaal. Nadat hy die polisiebeamptes se wapens afgeneem en hulle in die badkamer toegesluit het, ry Ray na die hospitaal. Op pad onthou hy die ongeluk waarin 'n swanger Abby dood is. Hy neem die hyser na die kelder vermom as 'n dokter, trek 'n sekuriteitswag in en verwurg hom.

In die kelder sien Ray verpleegsters wat menslike organe ronddra en lyke waaruit die organe verwyder is. Hy kom af op Peri, wat omring is deur dokters wat haar organe wil verwyder, met 'n verdoofde Joanne daar naby. Ray verwyder hulle uit die hospitaal ondanks 'n dokter se besware, laai hulle in die motor en ry terug huis toe.

Ray het egter die hele situasie verkeerd vertolk; in plaas daarvan om Joanne en Peri te red, het hy 'n bewustelose pasiënt in die motor gelaai. In werklikheid het hy Peri laat skrik sodat sy haar in die put doodgeval het. Hy het self 'n kopwond opgedoen toe hy haar probeer vang. In sy verwarring het hy Joanne toe op die grond neergestamp, waar haar kop per ongeluk deur 'n pen deurboor is. Hy het in 'n waan gegaan, hulle lyke in die motor se bak gelaai en weggery.

Terwyl Ray van die hospitaal af huis toe ry, verbeel hy hom sy vrou en dogter sit op die agtersitplek en glimlag vir hom, terwyl hy vir hulle terugglimlag.

Hoofakteurs Sam Worthington as Ray Monroe Lily Rabe as Joanne Monroe Stephen Tobolowsky as dr. Berthram Adjoa Andoh as dr. Jacobs Lucy Capri as Peri Monroe

Ontvangs Op Rotten Tomatoes het die prent 'n goedkeuringsyfer van 56% gekry, gebaseer op 27 resensies, met 'n gemiddelde punt van 5,7/10. Volgens die webtuiste se konsensus is Worthington se toneelspel fassinerend, en is Fractured 'n "redelik vermaaklike raaiselverhaal met genoeg opwinding om op te maak vir 'n bekende storie"."Fractured". Rotten Tomatoes. Fandango Media. Besoek op 17 Junie 2025. Op Metacritic het dit 'n punt van 36 uit 100 gekry, gebaseer op 5 resensies, wat dui op 'n "algemeen ongunstige" ontvangs."Fractured". Metacritic. Fandom, Inc. Besoek op 17 Junie 2025.

Brian Tallerico van RogerEbert.com gee die prent net een uit vyf en kritiseer die gebrek aan energie wat regisseur Anderson en kie. na die prent bring. Meagan Navarro van Bloody Disgusting gee dit 'n gemengde resensie en 'n punt van twee en 'n half uit vyf. Sy het 'n positiewe mening oor die prent se poging tot innovasie van 'n bekende konsep, maar kritiseer die cliché-agtige aard van dié konsep. David Ehrlich gee Fractured 'n C op die webtuiste IndieWire en noem die prent "saai".

In 'n positiewe resensie waarin hy die prent drie uit vyf sterre gee, sê Bejamin Lee in The Guardian: "Wanneer ek nie besig was om in my kop 'n lysie te maak van die rolprente waaraan ek herinner is nie, het ek lekker rusbankspeurder gespeel."

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente