Mamreweg is 'n spoorweghalte tussen die wingerde van die Swartland, Suid-Afrika.

Hierdie stasietjie lê by die kruising van die R315-pad (tussen Darling en Malmesbury) en die spoorlyn. Dit is 80 km van Kaapstad, 96 m bo seespieël en 10 km noordoos van die sendingstasie Mamre.

Vanaf Kalbaskraal, 'n spoorwegaansluiting aan die Dieprivier op die lyn van Kraaifontein na Bitterfontein, draai 'n sylyn noordwes via Mamreweg, Darling, Hopefield, Langebaanweg, Vredenburg na Saldanha. By die Mamreweg-halte is die Darling-wynkelder, voorheen bekend as die Mamreweg-kelder. Die stasie van Darling het bekend geword weens Pieter-Dirk Uys se Evita se Perron.

Dele van hierdie sylyn is reeds in Oktober 1902 in gebruik geneem. Aanvanklik is dit met 'n smal spoor gebou, maar later jare is dit met Kaapspoor herbou.

Kategorie:Spoorlyne in Suid-Afrika Kategorie:Wes-Kaap