Hit Man is 'n Amerikaanse romantiese misdaadkomedierolprent van 2023 wat deur Richard Linklater geregisseer en vervaardig is. Die hoofakteurs is Glen Powell, Adria Arjona, Austin Amelio, Retta en Sanjay Rao. Die prent gaan oor 'n man van New Orleans wat hom as 'n ondergrondse huurmoordenaar voordoen terwyl hy 'n vrou in nood probeer red. Dit is losweg geskoei op "Hit Man", die ware verhaal van 'n universiteitsprofessor wat in die laat 1980's en die 1990's vir die polisie van Houston gewerk het.

Hit Man se première was op 5 September 2023 op die Venesiese Internasionale Rolprentfees en op 7 Junie 2024 op Netflix.

Hoofakteurs Glen Powell as Gary Johnson, 'n universiteitsprofessor wat ondergronds vir die polisie begin werk Adria Arjona as Madison Figueroa Masters, 'n ongelukkig getroude vrou wat Gary huur om haar man te vermoor Austin Amelio as Jasper, 'n ondergrondse speurder Retta as Claudette, 'n polisievrou Sanjay Rao as Phil, 'n polisieman Evan Holtzman as Ray, Madison se man

Storielyn

Gary Johnson (Powell) is 'n professor in sielkunde en filosofie aan die Universiteit van New Orleans wat ook vir die stad se polisie werk. Toe Jasper, 'n ondergrondse speurder wat 'n fophuurmoordenaar is om mense wat ander wil laat vermoor, uitlok en huurmoorde voorkom, se diens opgeskort word vir polisiewreedheid, word Gary onwillig in sy plek aangestel.

Gary vind gou uit hy is uitgeknip vir dié rol, asook om vermeendes vooraf na te vors en 'n foppersoonlikheid vir elkeen te skep. Hy word 'n selfversekerde en charismatiese man bekend as Ron vir 'n ongelukkig getroude vrou, Madison (Arjona), wat haar mishandelende man wil laat vormoor. Gary voel gou aangetrokke tot haar en weier om haar geld te aanvaar. Hy stel voor sy gebruik dit om 'n nuwe lewe te begin, tot die teleurstelling van Jasper en Gary se polisiemedewerkers Claudette en Phil.

Gary begin later 'n seksuele verhouding met Madison, sonder om sy ware identiteit aan haar te onthul. Om sy rol as 'n huurmoordenaar vol te hou, wys hy haar hoe om 'n wapen te gebruik en raai haar aan om vir die hart te mik. Toe Gary en Madison een aand uit 'n nagklub kom, loop hulle Ray, Madison se man, raak en eindelik moet Gary sy wapen uithaal om van hom ontslae te raak. Jasper loop hulle later die aand raak en is agterdogtig omdat hulle saam is. 'n Woedende Ray probeer later om Madison te laat vermoor en kontak onwetend vir Gary.

Toe hy Gary as Madison se kêrel herken, storm Ray uit die eetplek waar hulle ontmoet het en sê hy sal Madison self vermoor. Gary lig Madison in en probeer haar oorreed om te trek, maar sy sê vir hom Ray sal dit nooit doen nie. Gary vind daarna uit Ray is dood aan 'n skietwond deur sy hart. Hy konfronteer Madison, en sy beken skuld aan die moord. Uit paniek onthul hy sy ware identiteit aan haar.

Madison skop hom uit haar huis en terug by die polisie hoor hy hulle verdink haar van die moord, veral omdat Ray sy lewensversekering net voor sy dood verhoog het. Jasper, wat van Gary en Madison se verhouding weet en jaloers is omdat sy Gry se werk oorgeneem het, stel voor Gary probeer 'n skuldbekentenis uit haar kry deur haar as Ron te besoek.

Gary kom by Madison aan en maak of hy haar ondervra, maar gee vir haar wenke wat hy op sy foon tik. Hulle oortuig die polisie dat sy onskuldig is. Later kom Gary terug by Madison, waar Jasper hom inwag. Hy pers Gary en Madison af om Ray se versekeringsgeld aan hom te betaal, anders vertel hy die waarheid oor hulle. Madison dokter Jasper se bier en hy raak bewusteloos. Gary bind 'n plastieksak om sy kop en beplan om sy dood soos 'n selfmoord te laat lyk.

Jare later is Gary en Madison gelukkig getroud, met twee kinders.

Ontvangs Die rolprent is met lof ontvang. Op Rotten Tomatoes het dit 'n goedkeuringsyfer van 95% behaal, geskoei op 295 resensies, met 'n gemiddelde punt van 8/10. Op Metacritic het dit 'n punt van 82 uit 100 gekry, gebaseer op 55 resensies, wat dui op "algemene byval".

In The Washington Post het Ty Burr dit 'n punt van vier uit vyf gegee en dit "een van die jaar se beste flieks" genoem. In nog 'n positiewe resensie het Alissa Wilkinson van The New York Times die prent beskryf as "romanties, sexy, skreeusnaaks en bevredigend", en het sy Powell se toneelspel uitgesonder. Brian Tallerico van RogerEbert.com het dit beskryf as "'n filosofiese studie van die mens se vermoë om te verander".

Zachary Barnes van The Wall Street Journal het egter gevoel daar is 'n gebrek aan subtiliteit. Chris Evangelista van Slashfilm het geskryf dit is "vergeetbaar en dikwels ongeïnspireerd", maar hy het die toneelspel geprys.

Powell is vir 'n Golden Globe benoem vir sy toneelspel.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente