Gwitsja Kwaratsgelia (internasionaal bekend as Khvicha Kvaratskhelia; Georgies: ხვიჩა კვარაცხელია; gebore 12 Februarie 2001) is ’n Georgiese professionele sokkerspeler wat as ’n vleuel vir die Ligue 1-klub Paris Saint-Germain en die Georgiese nasionale span speel. Hy word beskou as een van die beste vleuels in die wêreld en is bekend vir sy dribbelwerk, ratsheid en spelverdeling.
Kwaratsgelia het sy senior loopbaan op 16-jarige ouderdom by Dinamo Tbilisi begin, voordat hy na Rustavi vertrek het, waar hy ’n halwe seisoen deurgebring het. Gedurende sy gesamentlike drie jaar by Lokomotiv Moskou en Roebin Kazan, het Kwaratsgelia twee agtereenvolgende toekennings gewen as Beste Jong Speler in die Russiese Sokkerkampioenskap. Ná ’n kort tydperk by Dinamo Batumi, het Kwaratsgelia in 2022 by Napoli aangesluit. In sy debuutseisoen het hy die klub gehelp om vir die eerste keer ooit die kwarteindronde van die UEFA Champions League te bereik, en om hul eerste Serie A-titel in 33 jaar te wen. Hy het die liga se voorste hulpverskaffer geword. Hiervoor is hy aangewys as Serie A se Mees Waardevolle Speler en die Champions League se Jong Speler van die Seisoen.
Ná twee-en-’n-half jaar by Napoli het hy in Januarie 2025 vir €70 miljoen by die Franse klub Paris Saint-Germain aangesluit, met ’n kontrak tot Junie 2029, waar hy drie trofeë in sy eerste seisoen by die klub gewen het.
Kwaratsgelia word wyd beskou as die grootste Georgiese sokkerspeler van alle tye. Hy het homself gevestig in al Georgië se nasionale jeugspanne en ’n sleutelrol onder verskeie afrigters gespeel. Daarna het hy ’n belangrike deel van die seniorspan geword ná sy debuut in 2019, en het Georgië gehelp om vir die Europese kampioenskap in 2024 te kwalifiseer — die land se eerste groot internasionale toernooi ooit. Hy het ’n doelpunt aangeteken in die 2-0 oorwinning oor Portugal, wat daartoe gelei het dat Georgië onverwags na die rondte van 16 gevorder het.
Op 31 Mei 2025 het hy die vierde doel aangeteken in PSG se historiese 5-0 oorwinning oor Inter Milaan in die Champions League-eindstryd.
Verwysings
Kategorie:Georgiese sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 2001 Kategorie:Lewende mense