Clare Cooper Marcus Gebore Clare Cooper( 1934-04-19 ) 19 April 1934 Nasionaliteit Amerikaans Beroep Argitek
Clare Cooper Marcus is 'n prominente landskapsargitek en opvoeder in landskapargitektuur en argitektuur. Sy is 'n pionier op die gebied van sosiale kwessies in behuising, oopruimte-ontwerp en genesende landskappe.
Clare Cooper Marcus is in 1934 gebore en het in 'n noord-Londense voorstad grootgeword. Sy het haar voorgraadse graad in historiese geografie van University College, Londen, ontvang, asook 'n Meestersgraad in stedelike en kulturele geografie van die Universiteit van Nebraska in Lincoln. Sy het na afloop van haar meesterstudies na Engeland teruggekeer om kartografie aan die Universiteit van Sheffield te doseer, en het as stedelike beplanner by die Ministerie van Behuising en die Londense Graafskapsraad gewerk. Sy het weer na die VSA teruggekeer en in 1965 'n tweede Meestersgraad in Stads- en Streekbeplanning aan die Universiteit van Kalifornië in Berkeley verwerf. Sy het in die 1960's aan die teenkultuurbeweging en studentestakings by Berkeley deelgeneem, en haar vir vryheid van spraak beywer. Sy was geïnspireer deur die geskrifte van Catherine Bauer Wurster oor behuisingsprogramme en Jane Jacobs oor stedelike plekmaking.
Marcus het vir etlike jare as navorsingsgenoot in die Instituut vir Stedelike en Streeksontwikkeling aan die Universiteit van Kalifornië in Berkeley gewerk. In 1969 het sy by die Departement Landskapargitektuur by dieselfde instelling begin doseer. Haar kursus oor Sosiale en Sielkundige Faktore in Oop Ruimte-ontwerp was gewild onder voorgraadse en nagraadse studente. Daarmee saam het sy 'n gesamentlike aanstelling in die Departement Argitektuur beklee waar sy seminare aangebied het oor sosiale aspekte van behuisingsontwerp, omgewings vir die menslike lewensiklus en ook sin van plek. Sy het met verskeie van haar voormalige studente saamgewerk aan artikels en die redigering van boeke.
Marcus was getroud met die landskapargitek Stephen Marcus saam met wie sy twee kinders, Jason en Lucy, het. Nadat sy in 1994 uit voltydse onderrig afgetree het, skryf, reis en konsulteer sy. Sy is die Hoof van die firma Healing Landscapes wat spesialiseer in gesondheidsorgomgewings. Sy gee ook gereeld onderrig in gesondheidsorgtuinontwerp by die Chicago Botaniese Tuin. Sy het talle toekennings ontvang, insluitend vir uitnemende ontwerpnavorsing van die National Endowment for the Arts, 'n loopbaantoekenning van die Environmental Design Research Association (EDRA), en 'n Guggenheim-genootskap. Haar bundel People Places: Design Guidelines for Urban Open Space, saam met Carolyn Francis, het in 2000 'n Merietetoekenning van die Amerikaanse Vereniging van Landskapargitekte ontvang en Healing Gardens: Therapeutic Benefits and Design Recommendations, saam met Marni Barnes, het die EDRA-toekenning vir Pleknavorsing in 2000 gewen.
Marcus is 'n voorstaander van evaluering na afloop van bewoning as 'n navorsingsmetode vir die bestudering van openbare en semi-openbare oop ruimtes. In haar studies van Easter Hill Village in Richmond, Kalifornië en St. Francis Square in San Francisco, het sy gesien dat semi-openbare oop ruimtes in groepbehuising 'n gevoel van gemeenskap bevorder. Sy het gevind dat hierdie ruimtes goed gebruik word deur inwoners, en veral deur kinders. Haar artikels en boek, Housing as if People Mattered: Site Design Guidelines for Medium-Density Family Housing, saam met Wendy Sarkissian, en gepubliseer deur die University of California Press in 1986, het aangedui hoe mediumdigtheid, lae-vlak groepsbehuising ondersteunend is vir gesinne met kinders en as 'n katalisatordien on the ontwikkeling van sosiale netwerke. Marcus het haar studies oor oop ruimtes in behuising verder uitgebrei na ander tipes ruimtes —buurt- en stadsparke, pleine en oop kampus ruimtes, in haar geredigeerde bundel, People Places: Design Guidelines for Urban Open Space, saam met Carolyn Francis, wat die eerste keer in 1990 deur Van Nostrand Reinhold gepubliseer is. Sy het haar bevindinge in prestasieriglyne vertaal wat die ontwerper sou bystaan en die gaping tussen navorsing en praktyk sou oorbrug.
Marcus het die vormingsjare van haar kindertyd tydens die Tweede Wêreldoorlog in die platteland van Buckinghamshire deurgebring, toe haar gesin uit Londen ontruim is. Daar was sy vry om die landskap te verken en het sy 'n lewenslange voorliefde vir die natuurlike buitelewe ontwikkel. Sy het haar ontwerpstudente aangemoedig om ook hul eie kinderjare-omgewings te herroep en sodoende hul omgewings-outobiografie te skryf om verborge vooroordele bloot te lê, terwyl hulle ontwerpe vir hul kliënte skep.
Marcus se werk toon die impak van menslike potensiaalbeweging tydens die sestigerjare in Kalifornië aan. Sy het seminare bygewoon in die Carl Jung Instituut in San Francisco en die Esalen Instituut in Big Sur om diep te delf in onderwerpe soos die era van Aquarius, heilige geometrieë in landskappe, en selftransformasie en heelwording deur die integrasie van vroulike en manlike argetipes. Sy het geskryf oor die tuin as 'n simbool van die hoër self en die rol van tuinmaak in die skepping van die spirituele gemeenskap van Findhorn in Skotland. Sy het die Gestalt- rolspelterapeutiese tegniek aangepas in haar navorsing oor die huis as 'n simbool van die self wat in 1995 as die boek The House as a Mirror of Self: Exploring the Deeper Meaning of Home deur Conari Press gepubliseer is. Marcus se eie omgewings-outobiografie en ontleding van haar self en selfgroei is vervat in die boek, Iona Dreaming: The Healing Power of Place, A Memoir, uitgegee deur Nicholas-Hays, Inc. in 2010. In hierdie boek, geskryf na 'n dubbele stryd teen kanker, onthul sy die merkwaardige krag van plek om sielkundige wonde te genees en die gees te herstel.
Marcus het haar navorsing oor herstellende omgewings voortgesit in die boek (saam met Marni Barnes) Gardens in Healthcare Facilities: Uses, Therapeutic Benefits, and Design Recommendations, gepubliseer deur The Center for Health Design, Inc. (Martinez, Kalifornië) in 1995; in die geredigeerde bundel (saam met Marni Barnes) Healing Gardens: Therapeutic Benefits and Design Recommendations, gepubliseer deur John Wiley & Sons in 1999; en die boek (saam met Naomi Sachs) Therapeutic Landscapes: An Evidence-Based Approach to Designing Healing Gardens and Restorative Outdoor Spaces, gepubliseer deur John Wiley & Sons in 2014. Sy bepleit die ontwerp van "salutogeniese" stedelike ruimtes wat gesondheid bevorder.
Verwysings
Kategorie:Lewende mense Kategorie:Geboortes in 1934 Kategorie:Engelse landskapsargitekte Kategorie:Landskapsargitekte Kategorie:Argitektuur Kategorie:Positiewe Sielkunde Kategorie:Omgewingsielkunde Kategorie:Omgewing Kategorie:Tuine Kategorie:Parke Kategorie:San Francisco Kategorie:Kalifornië Kategorie:Vroue Kategorie:Vroue van die 21ste eeu Kategorie:Akademici Kategorie:Ontwerp