Pieter Adriaan Kriel (gebore 2 Maart 2004) is 'n Suid-Afrikaanse politieke en menseregteaktivis en sosialemediakommentator, bekend vir sy uitdagende sienings oor ras, voorreg en geregtigheid. Hy beskou homself as 'n humanis wat gelykheid, Afrika-integrasie, herverdeling van welvaart en post-nasionalisme bepleit en rasse-oorheersing en -onkunde teenstaan. Kriel het homself openlik van AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, gedistansieer en beklemtoon dat daar geen familie- of ideologiese verband tussen hulle is nie. Hy kritiseer narratiewe soos "wit volksmoord" in Suid-Afrika en argumenteer dat probleme uit kriminele ineenstorting eerder as uit etniese suiwering voortspruit. Sy opmerkings, veral oor Afrikanervlugtelinge wat na die Verenigde State vlug, het omstredenheid ontketen, wat tot doodsdreigemente teen hom en teenreaksie, veral vanuit konserwatiewe groepe, gelei het. Van sy familielede het as gevolg van hierdie uitlatings kontak met hom verbreek. Hy streef daarna om 'n voetsoolvlak-, jeuggedrewe pan-Afrika- humanistiese beweging te bou.
Benewens ras lewer Kriel ook gereeld kommentaar oor Suid-Afrikaanse partypolitiek, ekonomiese ongelykheid, korrupsie, migrasie binne Afrika en internasionale geopolitiek. Hy het onder meer die Demokratiese Alliansie se bewind in Kaapstad "apartheid met 'n beter handelsmerk" genoem, die eenheid wat by Springbok-rugbywedstryde vertoon word as oppervlakkig afgemaak en oop grense binne Afrika bepleit. Sy besoek in 2025 aan die Wesoewer is deur Gillian Schutte as "wit bevoorregting", "wit arrogansie" en as 'n vorm van "wit patriargie" beskryf.
Vroeë lewe en opvoeding Kriel is op 2 Maart 2004 in Heidelberg, Gauteng, Suid-Afrika gebore. Sy ouers is Lemont Kriel en Ramona Mears. Hy word deur sy stiefpa, David Schalk Pelzer, grootgemaak. Hy het skoolgegaan by die Hoër Volkskool in Heidelberg, Gauteng. David Schalk Pelzer sterf op 28 Januarie 2024. Hy word in die media steeds as 'n aktivis van Heidelberg in Gauteng beskryf.
Volgens Kriel het sy aktivisme reeds op skool begin toe hy betogings teen haarbeleide gesteun het wat swart leerders geraak het. Hy het destyds teenreaksie ontvang en is deur sommige 'n verraaier genoem. Hy het in 2018 by die politiek betrokke geraak nadat hy 'n ateïs geword het en magstelsels begin bevraagteken het.
Loopbaan Reeds op 'n jong ouderdom begin Kriel video's oor rekenaarspeletjies, towerkuns en atletiek op YouTube laai. In 2025 het hy meer as 300 000 volgelinge op TikTok en meer as 30 000 volgelinge op Twitter.
Van 2025 af verskyn hy gereeld in die Suid-Afrikaanse media as politieke kommentator en skrywer wat op die land se sosio-ekonomiese dinamika, konstitusionalisme en demokratiese regering toespits. Sy kommentaar word hoofsaaklik as kort video's op Facebook, TikTok en X versprei. Kriel noem Thomas Sankara, Steve Biko, Christopher Hitchens en George Orwell as sy voorbeelde en sê dat hy van sommige van Karl Marx se idees hou, maar ontken dat hy 'n Marxis is. Hy sê dat hy nie na 'n politieke amp streef nie, maar mense oor rassegrense heen wil inspireer om Afrika-onafhanklikheid te steun.
Godsdiens Op sy YouTube-kanaal @realshelomoh, waar hy onder die naam Shelomoh Ben Avraham publiseer, beskryf Kriel homself as 'n voornemende Ortodokse Jood wat die Christendom op die ouderdom van 14 verlaat het om op 'n reis van religieuse selfontdekking en sprituele transformasie te gaan. Hy skryf dat hy na bykans 'n dekade na religie teruggekeer het, maar nie na die Christendom wat hy agtergelaat het nie en dat hy diepgaande insigte in Ortodokse Judaïsme gevind het wat met hom geresoneer het. Hy is teen vervangingsteologie gekant en voer aan dat hy die denkfoute daarin deur middel van skrywes en toesprake uitlig. Hy veg teen Christelike doktrines en verlig mense oor verkeerde leerstellings wat in Christelike kerke gepredik word. Kriel voer verder aan dat hy die gees van 'n verligte intellektueel verpersoonlik, bewustheid inspireer en hoop in 'n diverse wêreld bevorder. Sy leuse is "verlig verstande deur waarheid".
In 'n podsending op 27 Mei 2023 bevestig hy sy identiteit as Ortodokse Jood en stel dat hy die drie-eenheid van God deur middel van 'n vers uit die Tanag verkeerd bewys het. Op 14 Mei 2025 verduidelik Kriel sy verhouding met Judaïsme op Twitter: "Ek is nie 'n Jood nie. Was dit nog nooit nie. Ek is Christen grootgemaak. Ek het religie heeltemal verlaat. Ja, ek het sinagoges besoek, so-ook moskees, tempels, en kerke. Dit was nuuskierigheid, nie bekering nie. Hou op daarmee om my lewe te herskryf om u lui narratief te pas." Hy voer ook aan dat godsdiens nie die middelpunt van regering behoort te wees nie en dat politiek en godsdiens nie meng nie.
Politieke sienings Ras, voorreg en die "wit volksmoord"-narratief Op 18 Mei 2025 het Kriel op sosiale media verklaar dat hy geen verwantskap met Kallie Kriel het nie: "Ek is nie verwant aan Kallie Kriel nie, ek is sy antitese. Ek veg nie vir bewaring nie – ek veg vir transformasie." Hy verwerp wat hy as nostalgie oor apartheid beskryf, sê dat hy verby apartheid wil beweeg en dat hy eenheid bo segregasie steun. Kriel beskryf die idee van 'n "wit volksmoord" in Suid-Afrika as 'n mite wat bedoel is om vrees aan te wakker, en wys daarop dat wit Suid-Afrikaners sowat 7% van die bevolking uitmaak maar ongeveer 70% van die land se hulpbronne beheer; volgens hom is die werklike kwessie weerstand teen gelykheid eerder as geweld. Hy kritiseer diegene wat volksmoordnarratiewe versprei maar stilbly oor krisisse elders in die wêreld, en voer aan dat hulle nie morele konsekwentheid het nie. Kallie Kriel het hom op sy beurt as 'n "sosialemediavegter" afgemaak wat aandag soek en oor geen voetsoolvlaksteun beskik nie.
Kriel erken dat hy self by wit bevoorregting baat in vergelyking met sy swart eweknieë, en sê dat 'n mens nie swart of rasgewys Afrikaan hoef te wees om Afrika-eenheid te steun nie: "Ek praat nie namens Afrika of Afrikane nie, maar ek praat saam met Afrikane en Afrika vir die visie en vir die doel van Afrika." Hy sê ook dat hy nie namens swart mense praat nie, maar saam met hulle aan gedeelde doelwitte wil werk.
In 'n video op sy Facebook-blad vroeg in Julie 2025 erken Kriel dat verskeie familielede ná sy uitlatings oor die Afrikanervlugtelinge kontak met hom verbreek het. Hy handhaaf dat daar geen wit volksmoord in Suid-Afrika plaasvind nie, maar dat die land breër rassisme en ongelykheid beleef wat alle rassegroepe raak, en dat die Afrikaners wat in die Verenigde State asiel soek nie rassevervolging ontvlug nie, maar gelykheid vermy. Volgens hom bevestig die persoonlike aanvalle op hom juis die noodsaak van sy boodskap.
Afrikaneridentiteit en -kultuur Ná president Donald Trump se uitvoerende bevel oor beweerde rassediskriminasie in Suid-Afrika en die hervestiging van 'n groep Afrikaners in die Verenigde State het Kriel in Mei 2025 gesê dat hy nie met die stap saamstem nie. Hy het die bewerings van vervolging bevraagteken en aangevoer dat dit onmoontlik is vir 'n groep wat 7% van die bevolking uitmaak maar steeds 72% van die land se rykdom beheer om vlugtelinge te wees. Hy het ook geargumenteer dat kultuurbewaring nie in ballingskap moontlik is nie: "Jy kan nie die Afrikaanse kultuur beskerm as jy in ballingskap is nie. Afrikaanse kultuur bestaan slegs in Afrika." Volgens dieselfde berig het sowat 70 000 Suid-Afrikaners belangstelling in hervestiging in die Verenigde State getoon en het 49 Afrikaners reeds daar aangekom.
In 'n TikTok-video in Augustus 2025 het Kriel Melany en Peet Viljoen se verhuising na die Verenigde State as opportunisties eerder as dié van vlugtelinge beskryf en gesê dat hulle Suid-Afrikaanse werklikhede, ongelykhede en misdaad as 'n politieke uitvoerproduk herverpak terwyl hulle Trump se narratief van 'n wit volksmoord versterk. Volgens hom is die gemeenskappe wat werklik onveilig is, dié van bruin en swart Suid-Afrikaners en nie mense in omheinde landgoedere met sekuriteit nie. Die video het in 2026 opnuut aandag getrek nadat die egpaar in die Verenigde State op aanklagte van diefstal in hegtenis geneem is.
Op 9 Februarie 2026 het Kriel 'n greep uit 'n potgooi-onderhoud oor Afrikaneridentiteit op Facebook gedeel. Hy het gesê dat hy nie nasionalisme of erfenis beoefen wat op onreg of konflik gegrond is nie, en erken dat Afrikaners aan stelsels deelgeneem het wat mense dekades lank uitgebuit en geskei het. Hy het bygevoeg dat hy moeg is daarvoor om as 'n skurk gesien te word wanneer hy homself in die buiteland voorstel, hoewel hy verstaan waarom mense so voel. Volgens hom hoef Afrikaners nie om verskoning te vra nie, maar behoort hulle die verlede te erken.
Ongelykheid en nasionale eenheid Op 27 Mei 2025 het Kriel 'n video op X geplaas waarin hy die Demokratiese Alliansie (DA) se bestuur van die Wes-Kaap gekritiseer het: "Die DA het nie die armes opgehef nie, hulle het net om hulle heen gelandskap. Kaapstad is nie vooruitgang nie. Dis apartheid met 'n beter handelsmerk." Die video het toestande op die Kaapse Vlakte, 'n gebied met historiese bande met gedwonge verskuiwings tydens apartheid, met dié van die welvarende middestad gekontrasteer. Volgens Kriel funksioneer die stad wel, maar nie vir armer gemeenskappe nie, en het die DA ten spyte van hulpbronne en tyd voorkeur gegee aan die stad se voorkoms eerder as aan armoede in townships.
In Julie 2025 het Kriel in 'n video op Facebook die eenheid wat by rugbygeleenthede vertoon word as oppervlakkig beskryf: "Ons is nie 'n verenigde land nie, ons is 'n verdeelde land wat saam drink." Hy het gesê dat Suid-Afrikaners wat Springbok-truie dra dieper verdeeldheid ignoreer en dat sulke gebare eerder ontvlugting as werklike versoening is, aangesien mense Maandagoggende na "afgesonderde voorstede, privaat skole en generasierykdom wat deur gesteelde grond oorgedra is" terugkeer. Volgens hom vereis werklike eenheid grondherverdeling, ekonomiese herstel en waarheid sonder skakelwerk, en nie "bier en boerewors" nie.
In Februarie 2026 het hy die Wes-Kaapse regering se voorgestelde muur langs die N2 in Kaapstad gekritiseer as 'n poging om armoede weg te steek eerder as om dit aan te spreek. Met 'n beroep op wat hy "kriminologie 101" genoem het, het hy aangevoer dat sulke versperrings misdaad net verskuif: "Mure kriminaliseer armoede per ontwerp, net soos die apartheidsregering met ruimtelike beplanning gedoen het." Hy het ook Suid-Afrikaanse agentskappe, filmspanne en bekendes daarvan beskuldig dat hulle townshipbeelde uitbuit terwyl hulle die inwoners self ignoreer.
Ekonomiese emansipasie en korrupsie Ná onthullings deur die Spesiale Ondersoekeenheid oor die plundering van R2 miljard by die Tembisa Provinsiale Tersiêre Hospitaal het Kriel in September 2025 aangevoer dat korrupsie nie ná apartheid ontstaan het nie: "Korrupsie het nie met die aanvang van demokrasie in Suid-Afrika begin nie, en ook nie met die einde van kolonisasie op die vasteland nie." Volgens hom is korrupsie soos dit vandag bekend is, saam met staatskaping en regeringsmisbruik, 'n koloniale invoerproduk wat honderde jare gelede in die Suid-Afrikaanse kultuur ingebed is. Terselfdertyd het hy die ANC gekritiseer: "Die ANC het die ekonomie vernietig, infrastruktuur laat ineenstort en basiese dienste ondermyn wat die pilare van menseregte in hierdie land behoort te wees."