Neymar da Silva Santos Júnior (gebore 5 Februarie 1992), algemeen bekend as Neymar Júnior of bloot Neymar, is ’n Brasiliaanse professionele sokkerspeler wat as ’n linkervleuel, aanvallende middelveldspeler of voorspeler speel vir Santos in die Campeonato Brasileiro Série A. Hy word wyd beskou as een van die beste sokkerspelers van sy generasie, bekend vir sy flair, dribbelwerk, spelmaak en afronding.
Neymar het in 2009 sy professionele debuut vir Santos gemaak. In 2011 is hy aangewys as die liga se Beste Speler en het hy die FIFA Puskás-toekenning gewen vir die beste doel van die jaar. Daardie jaar het hy ook gehelp om Santos se eerste Copa Libertadores-titel in byna 50 jaar te wen.
In 2013 het Neymar by Barcelona aangesluit en saam met Lionel Messi en Luis Suárez die gevreesde aanvalstrio MSN gevorm. In hul eerste seisoen het hulle die kontinentale driekamp gewen: La Liga, Copa del Rey en die UEFA Champions League. Neymar was mede-topskut in die Champions League daardie seisoen. Teen die einde van sy tyd by Barcelona het hy 100 doele vir die klub aangeteken en ’n rekord vir meeste assists in ’n Champions League-seisoen opgestel.
In 2017 het Neymar vir Paris Saint-Germain geteken vir ’n rekordbedrag van €222 miljoen, wat hom die duurste speler in sokkergeskiedenis gemaak het. Hy het PSG gehelp om vyf Ligue 1-titels te wen en is verskeie kere aangewys as Speler van die Jaar. In 2020 het hy PSG gehelp om hul eerste Champions League-eindstryd te bereik en is hy weer in die UEFA-span van die jaar opgeneem. Hy het meer as 100 doele vir PSG aangeteken, en was sodoende een van net vier spelers wat minstens 100 doele vir drie verskillende klubs aangeteken het. Ná ’n reeks beserings is hy in 2023 vir €90 miljoen aan Al Hilal in Saoedi-Arabië verkoop. Weens ’n langtermynkniebesering het hy egter min gespeel en in Januarie 2025 teruggekeer na sy jeugklub, Santos.
Internasionaal het Neymar op 18-jarige ouderdom vir Brasilië gedebuteer. Met 79 doele in 128 wedstryde is hy die land se algehele topskuts. Hy het die FIFA Konfederasiebeker in 2013 gewen, en was ’n sleutelfiguur tydens die 2014 Wêreldbeker, waar hy in die droomspan opgeneem is. Hy het Brasilië gelei na hul eerste Olimpiese goue medalje in sokker tydens die 2016 Olimpiese Spele, nadat hy in 2012 ’n silwer gewen het. Hy het ook aan die 2018 Wêreldbeker deelgeneem en in 2021 gehelp om Brasilië tot die eindstryd van die Copa América te lei. In die aanloop tot die 2022 Wêreldbeker het hy die land se topskuts in kwalifiserende wedstryde geword, en het tydens die toernooi ’n doel in sy derde agtereenvolgende Wêreldbeker aangeteken — ná Pelé en Ronaldo. Hy het ook ses Samba d'Or-toekennings gewen — die meeste deur enige speler.
As Brasilië se rekorddoelskieter van alle tye het hy 80 doele vir die nasionale span aangeteken. Sy eerste doel het hy in 2010 op die MetLife-stadion aangeteken, en sy laaste op dieselfde stadion in die agtste eindrondte van die 2026 FIFA Wêreldbeker. Daarna het hy besluit om sy internasionale loopbaan te beëindig.
Verwysings
Kategorie:Brasiliaanse sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 1992 Kategorie:Lewende mense