Die Stijdomhuis op Modimolle was ‘n huismuseum ter nagedagtenis aan J.G. Strijdom, ‘n premier van die Unie van Suid-Afrika.

Gebou Die statige huis in Kerkstraat in die destydse Nylstroom is 20 jaar lank deur die Strijdom-familie bewoon. Dit is in die laat 1920’s deur Strijdom laat bou, in 1953 vergroot onder leiding van die argitek Gerard Moerdyk en in 1948 is die Kaaps-Hollandse gewel aangebring. In 1958 is dit deur die provinsiale administrasie van Transvaal aangekoop en dien dit as ampswoning vir verskeie amptenare totdat dit in 1975 as monument verklaar en as museum ingerig is.

Versameling Die baie bome rondom die huis is nog deur Strijdom self aangeplant. Meubels, gebruiksartikels en persoonlike besittings van die familie is hier uitgestal, onder andere statige ou meubels, skilderye en portrette, ‘n geweefde mat in die studeerkamer, Paul Kruger se pyp en ‘n reuse eetkamertafel. Ook opvallend was ‘n ou ossewaentjie met wakis, tent en waterkan wat Strijdom as geskenk ontvang het.

Beeld In 2003 is die Vryheidsbeeld van J.G. Strijdom wat op Strijdomplein in Pretoria gestaan het na hierdie museum verskuif. Na die ineenstorting van die bronskopbeeld, ‘n werk van Coert Steynberg, is die brokstukke so ver as moontlik weer aanmekaargelap en op 31 Mei 2003 her-onthul by die Strijdomhuis.

Sluiting Metterjare is die gebou, die versameling en die beeld verwaarloos en was die museum nie meer veilig om erfenisstukke in te bewaar nie. In 2022 het die Erfenisstigting die versameling opgepak. Dele daarvan is na die Voortrekkermonument en ander items vorm nou deel van die huismuseum Ouma se Huis op Udolpho, die kultuurplaas van die F.A.K. by Parys. Die huis op Modimolle is nou ‘n bouval.

Bibliografie Botha, Alida: Strijdomhuis – ou tuiste van Waterberg se Leeu. In: Omgewing RSA. Deel 10, nr. 5, Mei 1983 Maroela Media: Skatte uit Strijdom-huis nou deur Erfenisstigting bewaar aanlyn geplaas op 26 Augustus 2021 Artikel oor Strydomplein en die Vryheidsbeeld (Pretoria)

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika