Kleuterzone was ’n groep Christelike kleuterskole in Suid-Afrika met meer as 120 takke landwyd, wat onderrig in Afrikaans en Engels aangebied het vir kinders vanaf drie maande tot vyf jaar. Die groep het op vroeë kinderontwikkeling gefokus deur 'n veilige, liefdevolle en stimulerende omgewing te skep, met programme soos KleuterKrag, GeselsGoggas, Koskabouters, en robotika- en programmeerklasse. Kleuterzone het kurrikula soos ALDAS en Wysneusies gevolg en gebalanseerde maaltye en buitemuurse aktiwiteite aangebied. Die groep, gestig deur Anthonie Bougas, het gehalteonderwys en gemeenskapsbetrokkenheid beklemtoon, maar het ook aandag getrek weens bewerings van finansiële wanbestuur.

Kleuterzone het in Februarie 2025 ineengestort nadat vrae oor die volhoubaarheid van sy beleggingsmodel in die media gestel is en beleggers begin kla het dat hul beloofde uitbetalings uitbly. Kleuterzone Operations (Edms.) Bpk. is in Maart 2025 voorlopig en in Mei 2025 finaal gelikwideer, en Bougas is in sy private hoedanigheid gesekwestreer. Die likwidateurs is sedertdien besig om sowat R400 miljoen se bates te probeer opspoor, terwyl die Valke, die polisie se eenheid vir prioriteitsmisdade, dertig sake teen die groep ondersoek.

Sakemodel en beleggings Teen Februarie 2025 het Kleuterzone volgens sy webwerf meer as 1 200 beleggers en 120 kleuterskole gehad. Die groep het aan beleggers die geleentheid gebied om in bestaande of nuwe skole te belê, met 'n geraamde opbrengs van 38% vir bestaande skole en tot 62% vir nuwe skole. Elke belegger moes minstens R100 000 belê, en uitbetalings – wat deur sommige beleggers as dividende beskryf is – sou maandeliks voor die sewende van elke maand geskied.

Bougas was die enigste direkteur van Kleuterzone Operations (Edms.) Bpk. en het ongeveer 120 skoolverwante bankrekeninge beheer, elk aan 'n spesifieke skool toegeken. Die groep se bemarking is deur ABS Promosies, sy bemarkingsafdeling, behartig, en Kobus Schoeman was tot met sy bedanking die uitvoerende hoof van die groep.

Bewerings van 'n Ponzi-skema Kleuterzone is van die bedryf van 'n moontlike piramideskema beskuldig, met nuwe beleggerfondse wat glo gebruik is om vroeër beleggers te betaal. Die groep se bedrywighede is onder die loep geneem nadat Moneyweb in Februarie 2025 vrae oor die volhoubaarheid van die sakemodel gestel het. Die publikasie het bereken dat die 120 skole gesamentlik 'n jaarlikse kontantvloei van tussen R175 miljoen en R284 miljoen sou moes genereer – tussen R121 000 en R197 000 per skool per maand – om aan die beloofde opbrengste te voldoen. Moneyweb het ook aangevoer dat Kleuterzone aandelesertifikate uitgereik het wat op beleggings in maatskappye dui wat nie bestaan nie, waarop die groep geantwoord het dat dit aan tikfoute of klerklike foute tydens die uitreiking van die sertifikate te wyte kan wees.

Bougas het die bewerings ontken. In 'n video aan beleggers het hy gesê 'n piramideskema is wanneer beleggers se geld gebruik word om ander beleggers te betaal, terwyl Kleuterzone inkomstebronne soos skoolfonds, projekte en buitekurrikulêre aktiwiteite het. Luidens 'n verklaring van die groep sou finansiële state teen einde Maart aan beleggers beskikbaar gestel word en funksioneer elke skool as 'n afsonderlike entiteit met sy eie inkomstestrome, uitgawes, personeel en aktiwiteite. Hierdie gedesentraliseerde model sou elke skool in staat stel om doeltreffend op die behoeftes van sy plaaslike gemeenskap te reageer terwyl dit steeds die voordele van Kleuterzone se breër infrastruktuur en ondersteuningsnetwerk geniet. Beleggers wat terugbetalings versoek het, sou op 'n gestruktureerde waglys geplaas word terwyl hul aandele aan nuwe of bestaande beleggers verkoop word. Bougas het beleggers gevra om die groep drie tot ses maande te gun om die skole op vol kapasiteit te kry en gesê niemand sou hul geld verloor nie omdat daar aansienlike bates is wat die beleggings ondersteun.

In dieselfde tyd het 'n geskil ontstaan oor 'n advertensie waarin die aanbieder Minki van der Westhuizen verskyn het. Bougas het ontken dat Kleuterzone haar vir 'n sosialemedia-advertensie genader het en gesê sy is 'n fooi aangebied vir 'n advertensie van 30 sekondes, wat sy aanvaar het en waarvoor sy ten volle betaal is. Van der Westhuizen het aan Rapport gesê sy was onder die indruk dat die video net op sosiale media gebruik sou word en dat 'n televisieveldtog nie deel van die ooreenkoms was nie. Volgens Bougas het sy nooit bevraagteken waar die advertensie uitgesaai sou word nie en is die saak vinnig opgelos.

Likwidasie Anita Susanna du Plessis (55) van Koster in Noordwes, wat einde Desember 2024 R900 000 vir B-klas aandele ter waarde van R1 miljoen gekoop het, het op 12 Maart 2025 'n dringende aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om Kleuterzone voorlopig te laat likwideer. Sy het aangevoer dat sy aanvanklik gereelde betalings ontvang het, maar dat die uitbetalings begin krimp het en dat sy meegedeel is dit is aan dividendebelasting te wyte wat nie deel van die oorspronklike ooreenkoms was nie. Volgens haar was daar onverklaarbare verskille in die maatskappy se finansiële rekords, onreëlmatighede in aandelesertifikate – waarvan sommige volgens haar vervalste sakeregistrasienommers bevat het – en 'n versuim om ouditeursverslae te verskaf. Sy het aangevoer dat Kleuterzone insolvent is en betrokke geraak het by finansiële praktyke wat met dié van 'n Ponzi-skema ooreenstem, en het die hof ook gevra om 'n forensiese oudit te gelas. Binne dae het nog regsfirmas uit Kaapstad en Pretoria aangedui dat hul kliënte by die aansoek gevoeg wil word. Mathys Krog, Du Plessis se regsverteenwoordiger, het gesê daar was toe 1 081 beleggers en na sy mening honderde miljoene rande waarvoor nie verantwoording gedoen is nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het Kleuterzone Operations (Edms.) Bpk. op 18 Maart 2025 voorlopig gelikwideer. Regter Sulet Potterill het die bevel onbestrede toegestaan nadat nóg Bougas nóg enige regspan of personeel van die groep by die hof opgedaag het, en het 'n keerdatum van 14 Mei bepaal. Twee bykomende krediteure, Mishka Naidoo en Sesheni Nadesan Howes, wat tussen hulle R1,2 miljoen belê het, is dieselfde dag as applikante tot die saak gevoeg. Volgens hul aansoek het Kleuterzone minstens 1 300 beleggers gehad en was die maatskappy se finansiële verpligting nie minder as R130 miljoen nie, hoewel die ware bedrag hoër kon wees omdat verskeie beleggers meer as R1 miljoen belê het. Hulle het aangevoer dat die skema waardeur Bougas beleggings gelok het al die karaktereienskappe van 'n tipiese Ponzi-skema toon, en het sy vertrek na Thailand – 'n land sonder 'n uitleweringsooreenkoms met Suid-Afrika – vergelyk met dié van Mirror Trading International se hoof, Johann Steynberg, wat na Brasilië gevlug het.

Adv. Zjaan Schoeman, namens Du Plessis, het aan die hof gesê die uitvoerende hoof het bedank, niemand kon die stigter opspoor nie en die maatskappy was 'n skip sonder 'n kaptein. Sy het betoog dat Kleuterzone reeds kommersieel insolvent was omdat dit nie dividende, huur of ander rekeninge kon betaal nie, en dat die groep as 'n private maatskappy met Bougas as enigste direkteur nie wettiglik gemagtig was om aandele aan die publiek te verkoop nie. Regter Potterill het 'n versoek om onmiddellike permanente likwidasie van die hand gewys en eers 'n voorlopige bevel toegestaan. Altesaam twee Kleuterzone-maatskappye, Kleuterzone Operations en KZ Ventures, is in dié stadium voorlopig gelikwideer. Kleuterzone Operations is in Mei 2025 finaal gelikwideer.

Gevolge vir die skole en personeel Namate die uitbetalings aan beleggers opgedroog het, kon van die Kleuterzone-kleuterskole teen Maart 2025 nie meer hul huur of salarisse betaal nie. Verskeie kleuterskooleienaars wat hul skole aan Kleuterzone verkoop of verhuur het, het maande lank gesukkel om hul geld te kry, terwyl skoolhoofde en personeel vir die toekoms van hul skole gevrees het omdat ouers hul kinders op strepe onttrek het. Die eienaar van 'n kleuterskool in Pretoria, wat haar skool in Augustus 2024 ná gesprekke met Bougas en Kobus Schoeman aan die groep verkoop het en die perseel aan hulle verhuur het, het gesê Kleuterzone was van die eerste dag af agterstallig met die huur. Sy het op 6 Maart 2025 'n eisbrief gestuur en die groep daarna kennis gegee om die perseel teen 31 Maart te ontruim. Volgens haar het Bougas aan beleggers gesê 80 leerders is by die skool ingeskryf en kan dit tot 130 groei, terwyl die skool by die departement geregistreer was om slegs 42 leerders te akkommodeer. 'n Beleggingsertifikaat vir 120 aandele teen R2 500 elk het aangedui dat Kleuterzone die skool in 2023 geregistreer het, hoewel dit eers in 2024 by haar oorgekoop is.

Die vakbond Solidariteit het talle navrae van skoolhoofde, onderwysers en lede ontvang. Johan Botha, hoof van Solidariteit se onderwysernetwerk, het gesê die likwidasie-aansoek het groot onsekerheid en kommer geskep by mense wat by die groep werksaam was, en dat die vakbond die nodige ondersteuning en regsadvies oor arbeidsregtelike kwessies sou gee. Peirru Marx van Solidariteit het later gesê talle skoolhoofde, onderwysers en lede het die vakbond vir raad en hulp genader. Volgens hom het sommige van hulle van die Werkloosheidsversekeringsfonds probeer eis omdat die werkgewer dit van hul salarisse verhaal het, maar het dit geblyk dat die geld nooit aan die fonds oorbetaal is nie. Hy het dit 'n maatskaplike krisis genoem.

'n Pas gestigte maatskappy, Ludus Holdings (Edms.) Bpk., het in Maart 2025 met die hoofde van ongeveer 60 skole in verbinding getree met 'n plan om individuele skole in die groep oor te neem. Adv. François Smuts, die uitvoerende hoof, het gesê die terugvoer was oorwegend baie positief en dat dit rampspoedig sou wees om vir 'n likwidateur te wag, omdat salarisse en daaglikse uitgawes dan nie betaal sou word nie en ouers hul kinders sou onttrek. Die reddingsplan het behels dat personeelsalarisse aan die einde van die maand betaal word, verhuurders se huur vanaf April betaal word en die skole se bedryfsuitgawes gedelg word. Ludus Holdings word deur 'n beleggingsmaatskappy gesteun wat aanvanklik oorweeg het om die hele groep oor te neem, maar besluit het dit sou sinneloos wees sodra die likwidasie-aansoeke ingedien is; die maatskappy het ook tot die gevolgtrekking gekom dat die sogenaamde aandeelsertifikate van beleggers waarskynlik nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. Volgens Smuts bied Ludus geen aandele of dividende te koop aan nie en belowe dit geen opbrengste nie.

Smuts het begin April 2025 gesê die reddingspoging het momentum gekry en dat 'n hele aantal skole ingestem het om deel van die projek te word. Die salarisse van al die personeellede van dié skole is aan die einde van Maart betaal, hul krediteure is oor die betaling van rekeninge en die sluit van nuwe kontrakte genader, en die skole se bedryfsuitgawes is weer in die gewone loop betaal.

Ondersoek en sekwestrasies