Jan Oskar Sverre Lucien Henri Guillou (gebore 17 Januarie 1944) is 'n Sweedse joernalis en skrywer wat veral bekend is vir sy reeks romans oor intelligensie-agent Carl Hamilton en die Tempelridder Arn Magnusson. Die boeke oor Carl Hamilton is uitgebeeld in televisiereekse en rolprente met onder andere Stellan Skarsgård en Peter Stormare in die hoofrol, en word gesien as ’n Sweedse ekwivalent van James Bond.
Jan Guillou het 'n Franse pa gehad, maar het saam met sy Noorse ma en haar nuwe eggenoot in 'n hoërklasomgewing grootgeword. Die mishandeling deur sy stiefpa en die harde omgewing by die kosskool Solbacka word in die roman Ondskan (Die Kwaad) van 1981 uitgebeeld.
As joernalis het Jan Guillou in 1973 bekendheid verwerf toe hy saam met sy kollega Peter Bratt 'n geheime intelligensie-organisasie, IB, ontbloot het wat inligting oor Sweedse kommuniste en ander beweerde veiligheidsrisiko's versamel het. Hy is steeds aktief as rubriekskrywer vir die poniekoerant Aftonbladet, waar hy dikwels regse politiek, die VSA en Israel kritiseer. Hy het Israel vergelyk met Suid-Afrika onder Apartheid.
In 2009 het die mededingende poniekoerant Expressen onthul dat Jan Guillou in die 1960's en 1970's kontakte met die Sowjet-intelligensiediens KGB gehad het. Volgens Guillou was die doel om die aktiwiteite van die KGB bloot te lê.
Verwysings
Kategorie:Sweedse skrywers Kategorie:Joernaliste Kategorie:Geboortes in 1944 Kategorie:Lewende mense