Die Himalaja-tahr (Hemitragus jemlahicus) is ‘n uitheemse Asiatiese bok wat in 1937 in Suid-Afrika ingevoer is.

Voorkoms Die tahr is ‘n dier tussen ‘n skaap en ‘n boerbok en word daarom soms ook ‘n halfbok genoem. Die ramme het geen baard nie, maar wel die tipiese stank van ‘n bokram. Hy het lang ruie maanhare om sy nek en bors. Die maanhare van die ooie is korter. Die ramme is lig vaalbruin tot amper swart met hier en daar ‘n donker vlek. Meesal is die kop donkerbruin en ‘n rooibruin streep om elke oog. Soos by skape is die horings klein en beide geslagte het dik agtertoe-draaiende horings. Die bokke is by die skouers 80 cm tot ‘n meter hoog. Ooie weeg 35 tot 40 kilo en ‘n ram tot 120 kilo. Na ‘n anderhalwe jaar is die diere geslagsryp en na 6 tot 8 maande draagtyd baar hulle soms twee kleintjies in Junie of Julie. Oorspronklik kom hierdie diere voor in Nepal, Tibet, Bhutan, Indië en Oman.

Gedrag Die tahrs is bergbewoners en lewe in klein troppe. Hulle is besonder aktief en rats, spring hoog, kan maklik moeilike en hoë berghange bereik met hoewe wat effens rubberagtig is. Hulle is skugter en het ‘n goeie gesigsvermoë. Die ramme raak soms aggressief. As hulle stilstaan is hulle goed gekamoefleer in die bergterrein. As gevaar dreig, gee hulle ‘n tipiese fluitgeluid. Hul dieet bestaan uit grasse, kruie en blare van byna alle stuike en bome.

Suid-Afrika ‘n Aantal van die bokke het ontsnap uit ‘n diretuin by Groote Schuur, aangeteel en versprei op Tafelberg en op die Kaapse Vlakte. Dit het nadelige gevolge vir die natuurlike plantegroei en dierelewe ingehou en gelei tot aansienlike erosie. Daarom word die getalle streng beheer.

Bibliografie invasives.org.za/fact-sheet-animals/himalayan-tahr/ researchgate.net/publication/275040008_Himalayan_tahr_Hemitragus_jemlahicus