Joachim-Friedrich Martin Josef Merz (Duits: [joˈaxɪm ˈfʁiːdʁɪç ˈmɛɐts]; gebore op 11 November 1955) is 'n Duitse politikus wat sedert 6 Mei 2025 as kanselier van Duitsland dien. Daarnaas is hy ook sedert Januarie 2022 leier van die Christelik-Demokratiese Unie (CDU) en die CDU/CSU (Unie) se parlementêre groep in die Bundestag. Voorheen was hy van Februarie 2022 tot Mei 2025 opposisieleier en het in September 2024 die Unie se kandidaat vir kanselier van Duitsland vir die 2025 federale verkiesing geword.

Merz is in Brilon gebore en is van Franse Hugenote-afkoms aan sy moederskant. Hy het in 1972 by die Jong Unie aangesluit. Nadat hy in 1985 die regskool voltooi het, het Merz as regter en korporatiewe prokureur gewerk voordat hy in 1989 voltydse politiek betree het toe hy tot die Europese Parlement verkies is. Nadat hy een termyn gedien het, is hy tot die Bundestag verkies, waar hy homself gevestig het as die voorste finansiëlebeleidskenner in die CDU. In 2000 is hy verkies tot voorsitter van die CDU/CSU-parlementêre groep in dieselfde jaar as wat Angela Merkel tot voorsitter van die CDU verkies is en hulle was destyds hoofteenstanders vir die leierskap van die party, wat saam met CSU die opposisie gelei het.

Ná die federale verkiesing van 2002 het Angela Merkel, CDU-partyleier, die parlementêre groepvoorsitterskap vir haarself geëis, terwyl Merz tot adjunkparlementêre groepleier verkies is. In Desember 2004 het hy uit dié amp bedank en sodoende die jare lange magstryd met Merkel prysgegee en hom geleidelik uit die politiek onttrek, op sy regsloopbaan gefokus en die parlement heeltemal in 2009 verlaat, totdat hy in 2021 na die parlement terugkeer het. Hy het op die direksies van talle maatskappye gedien, insluitende BlackRock Duitsland. In 2018 het hy sy terugkeer na die politiek aangekondig. Hy is in Desember 2021 tot CDU-leier verkies en het die amp in Januarie 2022 aanvaar. Hy het nie daarin geslaag om die posisie te wen in twee vorige leierskapsverkiesings in 2018, en Januarie 2021 nie.

As 'n jong politikus in die 1970's en 1980's was hy 'n stoere ondersteuner van antikommunisme, die dominante politieke leerstelling van Wes-Duitsland en 'n kernbeginsel van die CDU. Merz het homself beskryf as sosiaal-konserwatief en ekonomies liberaal, en hy word beskou as 'n verteenwoordiger van die tradisionele gemeenskap-konserwatiewe en pro-sakevleuels van die CDU. Sy boek Mehr Kapitalismus wagen ("Waag meer kapitalisme") bepleit ekonomiese liberalisme. Hy was voorsitter van die Atlantik-Brücke-vereniging wat Duits-Amerikaanse begrip en Atlantisisme bevorder en is 'n sterk ondersteuner van beide die Europese Unie en NAVO, nadat hy homself beskryf het as "'n werklik oortuigde Europeër, 'n oortuigde "transatlantis". Merz bepleit 'n nouer unie en "'n leër vir Europa".

Merz, 'n korporatiewe prokureur en gerekende multimiljoenêr, is ook 'n gelisensieerde private vlieënier en besit twee vliegtuie.

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Eerste Ministers van die Bondsrepubliek Duitsland Kategorie:Duitse militariste Kategorie:Duitse opposisieleiers Kategorie:Geboortes in 1955 Kategorie:Lewende mense