Die Romeinse Boer is die eerste volledige vertaling van Vergilius se Georgica in Afrikaans in 1925 deur T.J. Haarhoff, maar bevat ook fragmente uit Varro se De Re Rustica en Cato se voorskrifte rondom plaasbestuur. Daarbewens word heelwat bladsye afgestaan om die landboumetodes en herhalende politieke tendense (waaronder ook die armblankevraagstuk) van die Romeine vir die Afrikaners, op hulle vlak, toeganklik en verstaanbaar te maak. Dit kom in die naoorlogse tydperk toe pragmatiek, beroepsgedrewenheid, fabrilisme en die nuwe moderniteit voorop gestel is, en veral die Klassieke in die alledaagse lewe totaal wêreldvreemd geword en irrelevant aangedoen het. As mens in gedagte hou dat Latyn veral in die Afrikaanse skole in die 1920's die leerlinge dikwels heeltemal koud gelaat het (soos geskryf staan in Die Klassieke in Suid-Afrika enkele jare later), dan kan hierdie baanbrekerswerk as 'n daadwerklike poging beskou word om nuwe lewe in ou beendere te blaas.
Die slotgedagte van die inleiding som die doel van die hele boek op: "So kyk die Afrikaanse Boer deur die eeue heen en sien in die Romeinse tyd baie van sy eie ondervinding en omstandighede, en in die Romeinse boer 'n gestalte gelyk aan homself."
Inhoud Die Eerste Hoofstuk bekyk die deugde en onkreukbare karakter van die eenvoudige Romeinse boer-soldaat wat deur die oorgelewerde legendes besing is: dié van Lucius Quinctius Cincinnatus, Manius Curius Dentatus en Gaius Fabricius Luscinus. Almal van hulle word vergelyk met die Boere van die Transvaal en die Vrystaat; almal manne wat die een dag nog gebuk gestaan het oor 'n graaf, en die volgende dag opgekommandeer is om veldslae te lei.
Wat pietas en familietrou en taaiheid van die plattelandse bestaan aanbetref, word die verhaal van Lucius Manlius uitgelig (soos opgeteken staan in Livius). Lucius Manlius is deur die tribuun gedagvaar omdat hy sy seun, Titus Manlius, mishandel het. Titus Manlius daag by die tribuun op en dreig om die tribuun met 'n mes om die lewe te bring as hul nie die klagte teen sy vader laat vaar nie. Die volk het Titus so bewonder dat hulle hom tot die rang van militêre tribuun of kolonel verhoog het. Maar aardjie na sy vaartjie - Titus sou later sy eie seun ter dood veroordeel weens 'n oortreding van 'n militêre bevel.
Die Tweede Hoofstuk behandel die stoere karakter en lewensuitkyk van Cato, en die algemene landbougebruike daardie jare.
50px|geen|Commons Die Romeinse Boer kan gelees word by die Afrikaanse Wikisource, by "Die_Romeinse_Boer"
Die Derde Hoofstuk handel oor die Romeinse landbou in die latere Republiek, wat heelwat raakpunte toon met die 1920's.
Die tradisionele selfonderhoudende plaaslewe word bedreig deur oorloë, wat vir Rome enorme grondgebied en buit meebring. Die ou boer-soldaat, met sy enkele huisslawe, word nou verdring deur die haastige megaboere en kapitaliste wat plase in Italië en in die kolonies/buitegebied opraap: die ontstaan van latifundia en peperduur villas, asook die slawestalle (ergastula). Wins is die oogmerk, of dikwels is dit net mooi om die grond so onbewerk te laat lê en kyk hoe die beeste daarop wei. Die stoere, ouwêreldse takhaarboer staan in skrille kontras teenoor die pasryke, nuwerwetse, wêreldwyse, vertoonsugtige, gladgeskeerde gladdejantjies à la grecque. Waardestelsels verskil hemelsbreed, maar suinigheid en spaarsamigheid moet swik. Die wêreld is aan die verander, en 'n volk wat hom bemoei met die nywerheid kan nie aanhou tokkel op die herderlike lier nie.
Soos die tradisionele Romeinse boer so te sê permanent op diensplig is (want slegs grondeienaars het stemreg, maar ook diensplig), word die plasie tuis verwaarloos, of die boerdery loop self onder rower- of wegloopslawebendes deur; uiteindelik gaan die plaas tot niet, die kleinboer kan nie meeding teen die duisende slawe en tonnemaat koring van die buiteland nie, en die grond word onder die straatarm kleinboer uitgekoop. Die land word armer, terwyl die bevoorregte klas skatte versamel. Die sukkelaars moet maar stad toe. Op soortgelyke wyse, dink Haarhoff, wink die stadsliggies van Johannesburg die Boere om op die myne te gaan werk, in die hoop om 'n vaste salaris te verdien. Of, om met verloop van tyd sosiale opgang te maak. Hier bevind die Boer hom egter tussen die vele armblankes (vergelyk Plebs Urbana, die stadsgepeupel) wat, nes hy, in 'n soortgelyke posisie verkeer. Soos die Romeinse boer hom skielik tussen barbare bevind (Germane, Kelte, Jode, Grieke, Egiptenare) kry die Boer in die stad ook 'n eersteklas voorsmakie van kosmopolitisme. Terugkeer wil hy egter ook nie, want die stad bied darem ook beter geriewe en afleiding (by name circenses) as op die platteland. Saam met die verbrokkeling van die plaaslewe, gaan ook die karakter en sedes tot niet.
Slawerny het ook skade aan die ekonomie en tegnologiese ontwikkeling berokken. Die slaaf doen net genoeg werk om straf te vermy, en doen dikwels die werk sorgeloos. As daar min werk is, kan die eienaar ook nie die slaaf net laat loop nie, maar moet aanhou om vir sy onderhoud te betaal. Met 'n tonnevrag slawe en genoeg hande is dit ook nie nodig om tegnologiese uitvindsels te bedink nie.
Sodra 'n land ekonomies begin swaarkry, mymer die oues, soos Cato, nostalgies oor die goeie ou dae toe daar nie sulke probleme was nie. Die verrotting lê in die Griekse kultuur. Daar moet teruggekeer word na die voorvaderlike gewoontes, die mores maiorum. En tog vertel Plutarchus dat Cato in sy gryse ouderdom Grieks geleer het - Cato het begin insien dit is wys om nuwe invloede van buite te verstaan en wat goed is, aan te neem.
Haarhoff staan 'n paar bladsye af om die invloed van die Gracchi-broers te verduidelik.
Omring deur die ellende en nood rondom hom, het Tiberius Gracchus, 'n gebore patrisiër, besef die meeste grond wat braaklê behoort aan die Staat, en gesê: "Die wilde diere," het Tiberius later gesê, "het holtes en skuilplekke, maar diegene wat vir Italië veg, dool huisloos met vrou en kinders rond, en met niks wat hul hul eie kan noem behalwe die lug en die sonskyn nie." Hy dien op die volkstribuun, en haal 'n ou wet uit die jaar 367 v.C. onder die stof uit op: niemand mag meer as 500 iugera van die gemeenskaplike grond besit nie - groot stukke grond sou dus afgestaan moes word, wat onder die volk verdeel sou word. Aanvanklik is vergoeding aangebied, waarvoor die eienaars te vinde was. Maar onder druk van die gepeupel, en ook deur die meesleuring van die proletariese opwinding, het Tiberius ten eerste die kompensasie-klousule laat verdwyn, ten tweede sy opponent in die tribuun, M. Octavius ontslaan - wat onwettig was. Derde maal is skeepsreg: toe Tiberious die daaropvolgende jaar weer op die tribuun dien, het hy te ver gegaan; elke jaar moes 'n ander verteenwoordiger gekies word. 'n Relletjie is gereël en Tiberius is in die geharwar vermoor.
Gaius Gracchus het meer uit wraak opgetree, as uit liefde vir sy landelose burgers. Hy stig coloniae, en word gewild deur koring byna verniet uit te deel. Hy speel politieke partye teen mekaar af om die Senaat te verneder. Hy wou stemreg aan alle burgers gee, maar het hom bietjie misgis met die gepeupel - die gepeupel wou alleen die stemreg hê, maar dit nie deel met die Equites (die ridder-/handelaarstand, wat nie tot die patrisiërstand behoort het nie). Die Senaat het hul kans waargeneem en Livius Drusus aangehits om meer grond en meer koring as Gaius te belowe, en geen stemreg vir die Equites te belowe nie. Skielik word Gaius ongewild, en die Senaat verklaar hom voëlvry. Drieduisend van sy volgelinge is vermoor, en hul buit is na die tempel van Concordia, Eendrag, gebring. Iemand het in die nag die volgende grafitti aangebring: "Tweespalt en woede het die tempel van Eendrag gebou".
Na die dood van Gaius is burgers wat grond ontvang het toegelaat om dit weer te verkoop; iets wat Tiberius lankal in 'n wet beskrywe het verbode moes wees. Die menslike natuur het egter geseëvier - "die rykes het weer hul latifundia vergader, en die armes het weer landeloos geword en by die Arme-Blanke-Leër in die stad aangesluit. En nou dat hul koring verniet of baie goedkoop kry, was die stad tog so aanloklik".
Die pendulum sou later weer swaai, en Keiser Augustus sou die plaaslewe en sy deugde verheerlik deur die penne van die plaasjapies aan sy hof, Vergilius en Horatius. Kleiner plase wat beter en intensief sélf bewerk word, is veel beter as enorme onkruidbegroeide plase wat in vreemde hande van slawe oorgelaat word. Dié plattelandse romantiek het aanvanklik ook gewerk, maar oplaas misluk. Die kleinboer is voorheen vervang deur die slaaf, die slaaf is nou wel vervang deur bywoners (coloni) wat die grond gehuur het, maar uiteindelik het hierdie bywoners met verloop van tyd lyfeienes geword, dit wil sê, mens sien die feodale stelsel geleidelik vorm aanneem, waar die bywoners naderhand gebonde was aan die grond en uitgelewer aan die heerskappy van die grondbesitter of landheer. So het die Middeleeuse karakter sy beslag gekry.Haarhoff, T.J. 1949. 'The Augustan Reconstruction'. In: Vergil, the Universal. Oxford: Basil Blackwell, pp. 51-63
Die Vierde Hoofstuk en verder bied agtergrond van Varro ("die geleerdste van die Romeine"), asook sy werke wat Vergilius op welke wyse ook kon beïnvloed het. Van die eietydse landbouvoorskrifte is ook enkeles uitgelig. Self interessant is hoe die mens karaktereienskappe aan 'n dier of spesie (soos bye) toedig, wat meer oor homself spreek!
Die Vyfde Hoofstuk en verder bied 'n lewenskets van Vergilius.
Bladsy 70 en verder word Die Eclogae slegs ten dele vertaal. Hier word veral gekyk na die beeldende woordkuns, wat baie aansluit by die Romantiek.
Vanaf bladsy 78 word die hele Georgica in Afrikaans vertaal en ryklik van voetnotas en toeligting voorsien. Haarhoff wys onder meer uit hoe Vergilius op 'n manier Jean-Jacques Rousseau se gedagtegang moes beïnvloed het, maar toon ook hoe die digter self sy inspirasie uit Lucretius se werk en Varro se De Re Rustica gaan put het.
Die Afrikaner as Romeinse boer Die Romeinse Boer kan nié sonder Haarhoff se Vergil, the Universal (oorspronklik Vergil in the Experience of South Africa, 1931) gelees word nie.
Hierin ondersoek hy die raakpunte tussen die Afrikaner en die Romeinse boer: sowel by die gewone boer as onder hul groot helde.
In sy geheel gesien, kom die Afrikanerpionier te staan voor 'n ouer beskawing, naamlik dié van die Britse Ryk (maar later gebruik Haarhoff die woord 'Europa', veral wat betref die Europese letterkunde), net soos die ou Romeine gevrees het om deur die prestige van die Griekse taal en kultuur verswelg te word. Die Romeine het met verloop van tyd van dié Griekse tradisies oorgeneem sonder om hul eie in te boet. Dit is trouens 'n puntjie wat T.J. Haarhoff herhaal in die Encyclopaedia of Southern Africa.Encyclopaedia of Southern Africa. 1970. Fifth Edition. s.v. Afrikaans, p.8: Just as the Roman farmer, when he began to develop a literature, was faced with the enormous prestige of an older literature in Greek, the Afrikaner found himself faced with English and European literature, which he feared would swamp his individuality. But the Roman enriched his own tradition by achieving a harmony of cultures. And Leipoldt pointed the way towards an eventual harmonisation, without loss of individuality, of English and Afrikaans cultures in South Africa.
Boerderymetodes