Dimorfos (Engels: Dimorphos; amptelike naam: (65803) Didumos I; voorlopige naam: S/2003 (65803) 1) is 'n natuurlike satelliet, of maan, van die nabyaarde-asteroïed 65803 Didumos. Saam vorm hulle 'n dubbelstelsel.
Die maan is op 20 November 2003 deur Petr Pravec ontdek in samewerking met ander sterrekundiges wêreldwyd. Dimorfos het 'n deursnee van 177 m op sy breedste en dit was die teiken van die Double Asteroid Redirection Test (DART), 'n ruimtesending van Nasa wat op 26 September 2022 met opset teen die maan gebots het om sy wentelbaan om Didumos te verander. Voor die botsing deur DART het Dimorfos 'n effense ovaal vorm gehad met 'n oppervlak wat met rotse bedek was, maar feitlik geen kraters nie. Die maan is vermoedelik gevorm toe Didumos van sy massa ontslae geraak het vanweë sy vinnige rotasie, wat 'n wentelende rommelskyf om die asteroïed gevorm het. Dit het saamgekoek as 'n rommelhoop met 'n lae digtheid wat eindelik Dimorfos geword het.
Die DART-impak het Dimorfos se wentelperiode om Didumos met 33 minute verkort en het meer as 'n miljoen kilogram puin die lug in geskiet. Dit het 'n stofpluim tot gevolg gehad wat die Didumos-stelsel tydelik verhelder het en 'n komeetstert van 10 000 km lank geskep het wat maande lank sigbaar was. Die DART-impak het vermoedelik die hele maan se oppervlak herskep en sy vorm verander. Dit het ook 'n impakkrater van verskeie tiene meters breed geskep.
Waarnemings van helderheidswisselings in die Didumos-stelsel ná die impak dui aan dat die impak Dimorfos óf aansienlik vervorm het in 'n ovaal vorm óf in 'n chaotiese rotasie gestuur het. As Dimorfos in 'n tollende rotasietoestand is, sal die maan onderwerp word aan onreëlmatige getykragte deur Didumos voordat dit eindelik binne 'n paar dekades sal terugkeer na 'n sinchroniese toestand. Die ESA-sending Hera sal volgens plan in 2026 by die Didumos-stelsel aankom om die uitwerking van die DART-impak op Dimorfos te ondersoek.
Etimologie Die werkgroep vir naamgewing van die Internasionale Sterrekundige Vereniging (IAU) het op 23 Junie 2020 aan die satelliet sy amptelik naam gegee. Die naam "Dimorfos" is afgelei van die Griekse woord Δίμορφος, wat beteken "om twee vorms te hê".
Die regverdiging vir die nuwe naam is dat dit, as teiken van die DART- en die Hera-ruimtesendings, die eerste hemelliggaam in die kosmiese geskiedenis geword het waarvan die vorm deur die mens verander is. Die naam is voorgestel deur Kleomenis Tsiganis, 'n planetêre wetenskaplike en lid van beide die DART- en die Hera-span. Voor die naamgewing deur die IAU is die bynaam "Didumaan" (Didymoon) in amptelike kommunikasie gebruik.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Asteroïede