65803 Didumos (Engels: 65803 Didymos; voorlopige naam: ) is 'n asteroïed van kleiner as 'n kilometer breed en 'n dubbele stelsel wat geklassifiseer word as 'n moontlik gevaarlike asteroïed en nabyaardevoorwerp van die Apollo-groep. Die asteroïed is in 1996 deur die Spacewatch-opname ontdek. Sy klein maan van 160 meter breed, Dimorfos, is in 2003 ontdek. Vanweë sy dubbele aard is die asteroïed toe tot "Didumos" (die Griekse woord vir "tweeling") hernoem.
Dimorfos was die teiken van die DART-sending om die moontlikheid te ondersoek om die rigting van 'n asteroïed te verander deur 'n ruimtetuig daarteen te laat bots. Die botsing is waargeneem deur LICIACube, 'n komponent van die sending wat 'n verbyvlug gedoen het.
Wentelbaan Didumos wentel elke 770 dae (2 jaar en 'n maand) op 'n afstand van 1-2,3 AE om die Son. Sy baan het 'n eksentrisiteit van 0,38 en 'n helling van 3° met betrekking tot die sonnebaan. Die minimum afstand tussen sy wentelbaan en dié van die Aarde is tans 0,04 AE (6 miljoen kilometer), maar dit sal verander wanneer die asteroïed versteur word. In November 2003 het dit 7,18 miljoen kilometer van die Aarde af gekom. Dit sal nie weer so naby kom tot in November 2123 nie, op 'n afstand van 5,86 miljoen kilometer. Didumos beweeg ook soms baie naby aan Mars verby. In Julie 2144 sal dit 4,68 miljoen kilometer van Mars af kom. Die afstand van die Aarde van Oktober 2184 het 'n onsekerheidsfaktor van rofweg ±.
Didumos bring van sy tyd deur as 'n nabyaardevoorwerp (NAV), waar die moontlikheid van botsings groter is: Sowat elke 73 000 tot 84 000 jaar tref 'n voorwerp Didumos met die energie van die DART-sendingsatelliet. Die asteroïed is waarskynlik al dosyne kere getref in sy 8 miljoen tot 10 miljoen jaar as 'n NAV.
Botsing teen Dimorfos Didumos se maan, Dimorfos, was die teiken van die Double Asteroid Redirection Test (DART), 'n ruimtesending van Nasa wat op 26 September 2022 met opset teen die maan gebots het om sy wentelbaan om Didumos te verander.
Die DART-impak het Dimorfos se wentelperiode om Didumos met 33 minute verkort en het meer as 'n miljoen kilogram puin die lug in geskiet. Dit het 'n stofpluim tot gevolg gehad wat die Didumos-stelsel tydelik verhelder het en 'n komeetstert van 10 000 km lank geskep het wat maande lank sigbaar was. Die DART-impak het vermoedelik die hele maan se oppervlak herskep en sy vorm verander. Dit het ook 'n impakkrater van verskeie tiene meters breed geskep.
Die ESA-sending Hera sal volgens plan in 2026 by die Didumos-stelsel aankom om die uitwerking van die DART-impak op Dimorfos te ondersoek.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Asteroïede