Ozark is 'n Amerikaanse misdaaddramareeks vir televisie wat deur Bill Dubuque en Mark Williams vir Netflix geskep is. Die hoofakteurs is Jason Bateman en Laura Linney as Marty en Wendy Byrde, 'n getroude paar wat saam met hulle gesin na die Ozarkplato verhuis om geld te was vir 'n Mexikaanse dwelmkartel.

Bateman is ook 'n regisseur en uitvoerende vervaardiger van die reeks. Die eerste seisoen is op 21 Julie 2017 uitgereik, die tweede seisoen op 31 Augustus 2018 en die derde seisoen op 27 Maart 2020. Die eerste drie seisoene bestaan uit 10 episodes elk. In Junie 2020 is die reeks hernu vir 'n vierde en finale seisoen van 14 episodes, wat in twee dele verdeel is. Die eerste deel is op 21 Januarie 2022 uitgereik en die tweede deel op 29 April 2022.

Ozark het deurentyd positiewe resensies gekry vir die toon, regie, produksiewaardes en toneelspel, veral dié van Bateman, Linney en Julia Garner. Bateman het 'n Emmy gewen vir sy regie in 2020 en Garner drie Emmys vir vroulike byspeler in 'n dramareeks in 2019, 2020 en 2022.

Storielyn Nadat 'n geldwasskema vir 'n Mexikaanse dwelmkartel skeefgeloop het, stel die finansiële raadgewer Marty Byrde voor hy stel dit reg deur 'n groter geldwasskema in die gebied van die Meer van die Ozarks in Sentraal-Missouri te begin. Marty trek saam met sy gesin uit Chicago na die afgeleë someroord Osage Beach. Toe die Byrdes in Missouri aankom, raak hulle deurmekaar met plaaslike misdadigers, insluitende die Langmore- en die Snell-gesin, en later die Kansas City-mafia.

Vervaardiging Ontwikkeling Ozark speel af in 'n nederige waterfrontoord by die Meer van die Ozarks. Om die reeks so realisties moontlik te maak is 'n FBI-agent en 'n finansiële kenner se hulp ingeroep.

Verfilming Die meeste tonele is geskiet in die Atlanta-gebied van die Allatoona- en die Lanier-meer, eerder as by die Meer van die Ozarks, vanweë belastingoorwegings. Die restaurant JD's aan die Canton-meer in Georgia is gebruik vir die ligging van die Blue Cat Lodge.

Rolverdeling Jason Bateman is Marty Byrde, 'n finansiële raadgewer wat vir homself werk en uit Chicago na die gebied van die Meer van die Ozarks verhuis. In 2007 begin hy en sy sakevennoot geld vir 'n Mexikanse dwelmkartel was. Laura Linney is Wendy Byrde (gebore Davis), Marty se vrou en 'n reklameagent vir politieke veldtogte. Sofia Hublitz is Charlotte Byrde, Marty en Wendy se dogter. Skylar Gaertner is Jonah Byrde, Marty en Wendy se tienerseun. Julia Garner is Ruth Langmore, 'n jong vrou wad lid van 'n plaaslike misdadigerfamilie is. Jordana Spiro is Rachel Garrison, die eienaar van die Blue Cat Lodge en Marty se teensinnige sakevennoot; later Ruth se sakevennoot. Peter Mullan is Jacob Snell, 'n gevestigde plaaslike vervaardiger van heroïen en die gebied se misdaadbaas. Lisa Emery is Darlene Snell, Jacob se vrou en vennoot in die heroïenbesigheid. Charlie Tahan is Wyatt Langmore, Russ se oudste seun en Ruth se neef. Janet McTeer is Helen Pierce, 'n prokureur van Chicago wat die Navarro-kartel verteenwoordig. Tom Pelphrey is Ben Davis, Wendy se broer met bipolêre gemoedsteuring. Felix Solis is Omar Navarro, leier van die dwelmkartel waarvoor die Byrdes geld was. Alfonso Herrera is Javier "Javi" Elizondro, Navarro se heethoofdige susterskind en vermoedelike erfgenaam van die kartel.

Episodes       Seisoen   Episodes  Uitgereik 1 10 2 10 3 10 4 14 (7+7) ,

Seisoen 1 1 "Sugarwood" Jason Bateman Bill Dubuque, Mark Williams Marty Byrde en sy vennoot, Bruce Liddell, is finansiële raadgewers wat in Chicago gebaseer is en geld vir 'n Mexikaanse dwelmkartel was. Bruce en die eienaars van die vragmotormaarskappy verduister $8 miljoen, wat meebring dat Del vir Bruce, Bruce se verloofde en die eienaars van die vragmotormaatskappy vermoor. Om sy eie lewe te red gebruik Marty 'n promosiepamflet wat Bruce vir hom gewys het as inspirasie vir 'n bewering dat die Ozarks 'n goeie moontlike plek vir geldwassery is en dat hy, as sy lewe gespaar word, $500 miljoen in vyf jaar sal was. Marty kry 'n paar dae om die geld wat Bruce gesteel het, terug te betaal. Hy doen dit deur al sy persoonlike bates te verkoop en al die maatskappy se rekeninge te sluit. Marty kry opdrag om met sy gesin na die Ozarks te verhuis en te bewys dat hy soveel geld in drie maande kan was. Marty se vrou, Wendy, het 'n affair met Gary "Sugarwood" Silverberg. Sy volg sy raad om Marty te verlaat en hulle twee kinders en soveel geld te vat as wat sy in die hande kan kry. As 'n waarskuwing dat Wendy die gesin bymekaar moet hou laat Del vir Silverberg vermoor.

2 "Blue Cat" Jason Bateman Bill Dubuque, Mark Williams Wendy, Marty en hulle kinders kom in die Ozarks aan en begin plaaslike inwoners ontmoet, insluitende verskeie lede van die Langmore-familie, wat by die hotel werk waar hulle bly. Marty probeer plaaslike besighede vind waarin hy kan belê sodat hy kan begin om geld vir die kartel te was. Wendy soek intussen huis. Charlotte en Jonah voronagsaam hulle ouers se opdrag om die hotelkamer te bewaak omdat Charlotte vir 'n streek deur die neef en niggie Ruth en Wyatt Langmore val. Ruth gaan in die hotelkamer in en steel deel van die $8 miljoen wat Marty veronderstel is om te was. Marty waag sy lewe om die geld van Ruth, Wyatt en ander Langmores terug te kry, maar dit is duidelik hulle sal aanhou probleme veroorsaak. Die FBI ontdek die oorskot van Bruce en dié wat saam met hom vermoor is, en dit maak hulle agterdogtig oor Marty se skielike verhuising uit Chicago. Agent Roy Petty volg Marty na die Ozarks, oortuig dat hy op 'n manier betrokke is. Marty oorweeg selfmoord sodat Wendy lewensversekering kan eis en met die kinders kan vlug, maar verander van plan toe hy uitvind die Blue Cat Lodge is 'n moontlike plek om in te belê.

3 "My Dripping Sleep" Daniel Sackheim Ryan Farley Die Byrdes trek in 'n waterfronthuis in terwyl die terminaal siek oudeienaar, Buddy, in die kelder intrek. Die FBI-agent Trevor Evans, Roy se ekskêrel, volg Roy se instruksies om die Byrdes te nader. Hulle is nie geïntimideerd nie en hou vol hulle is onskuldig. Die Byrdes word daarop gewys dat Bruce, terwyl hy geld verduister het, ook 'n FBI-informant was. Charlotte en Jonah hoor die ware rede hoekom hulle na die Ozarks verhuis het, en Jonah doen aanlyn navorsing om meer oor die kartel uit te vind. Wendy kry 'n werk. Marty begin aktiwiteite by die Blue Cat, ondanks die agterdog van Rachel, die primêre eienaar. Ruth gebruik haar kennis van die Byrdes se kontant om Marty te oorreed om haar as skottelgoedwasser by die Blue Cat in diens te neem. Sy sê vir haar neefs en ooms haar plan is om meer uit te vind van Marty se geldwasoperasie, en hom dan te vermoor en die geld te vat.

4 "Tonight We Improvise" Daniel Sackheim Paul Kolsby Marty samel inligting in oor Lickety Splitz, 'n ontkleeklub wat geld verloor, want hy wil dit gebruik om geld te was. Marty huur Ruth om in die Lickety Splitz se kluis in te breek. Roy hou Marty by die Blue Cat dop en ontwikkel 'n belangstelling in Russ Langmore, Wyatt se pa en Ruth se oom. Bobby Dean, die eienaar van Lickety Splitz, word in hegtenis geneem en Marty kry toegang tot die kluis. Hy betaal Bobby se borgtog en gebruik die inligting van die kluis om Bobby te dwing om die klub te verkoop. Dit blyk Jacob en Darlene Snell is groot heroïenhandelaars vir wie Bobby geld gewas het. Hulle vermoor Bobby omdat hy die klub verloor het en om hulle dwelmsaak geheim te hou. Marty deel sy besigheidsgeheime met Jonah, insluitende hoe om nuwe geld oud te laat lyk.

5 "Ruling Days" Andrew Bernstein Martin Zimmerman Bobby se liggaam duik by die Byrdes se bootvasmeerplek op, en hulle probeer dit onoortuigend as 'n ongeluk verduidelik. Toe sherriff Nix die verkoopsdokumente van die ontkleeklub sien, besef hy hy het geen bewyse dat die Byrdes 'n motief gehad het om Bobby te vermoor nie, en hy laat vaar die saak. Jacob Snell probeer Marty oortuig om geld vir hom te was by Lickety Splitz. Marty sien hoe Mason Young, die plaaslike pastoor, Sondae dienste uit 'n boot op die meer hou en besef as hy vir hom 'n kerk bou, kan dit die geleentheid wees om geld te was. Marty vra Ruth om die ontkleeklub te bestuur. Sy verbeter Bobby se bestuur deur onder meer nuwe personeellede in diens te neem, en Lickety Splitz begin geld maak. Roy gebruik Russ as 'n gids vir visvang en probeer hom soen. Dit ontlok 'n gewelddadige reaksie by Russ. Ruth volg haar pa, Cade, wat in die tronk is, se raad om meer van Marty se geldwassery uit te vind en te ontdek waar hy die geld wegsteek wat hy van Chicago af gebring het. Russ erken hy het gevoelens vir Roy en hulle word minnaars.

6 "Book of Ruth" Andrew Bernstein Whit Anderson Die Snells wys vir Marty hulle operasie en lig hom in dat hulle Mason se kerk op die water gebruik om heroïen te versprei. Hulle waarsku Marty om op te hou om die kerk te bou, en dreig om Mason se swanger vrou, Grace, skade aan te doen as Marty hom nie oorreed om weer met sy dienste op die meer te begin nie. Del stuur vir Wendy en Marty 'n pakkie met twee oogballe in, en hulle besef dit is 'n waarskuwing om geld vinniger te was. Dit lyk of Marty wel die kartel se $8 miljoen binne drie jaar sal kan was, en die egpaar raak versoen. Charlotte werk by die Blue Cat en wys een aand 'n uitnodiging van Wyatt van die hand om met Zach, 'n toeris van Chicago, uit te gaan. Sy verloor haar maagdelikheid, maar Zach vertrek die volgende oggend sonder om te groet. Wyatt sê vir haar toeriste gaan altyd weg, en sy is nou "een van ons" – 'n permanente plaaslike inwoner. Ruth en Russ maak 'n plan om Marty te vermoor, op aanhitsing van Cade. Russ vertel vir Roy, wat in die geheim tussenbeide tree. Rachel konfronteer Marty oor ongerymdhede in die Blue Cat se boeke.

7 "Nest Box" Ellen Kuras Alyson Feltes Mason hou nie op om die kerk te bou nie. Om te keer dat die Snells hom vermoor, oorhandig Marty die kartel se laaste $700 000 kontant aan hulle. Hy vertel vir Mason die Snells is dwelmhandelaars en wil hê hy moet dienste op die meer hervat. Die Snells vertel vir Mason dat Marty die kerk gebou het om geld te was. Toe hy verstaan Marty se bewerings van liefdadigheid is vals, brand Mason die gebou se raamwerk af. Charlotte en Jonah begin skoolgaan, en Charlotte is depressief oor die gesin se veranderde omstandighede. Nadat sy klasse misloop en 'n bus na Chicago haal, bring Ruth en Wendy haar terug. Roy oortuig Russ om 'n hengelwinkel te probeer begin, met Marty as 'n belegger. Roy oortuig Russ ook om te sê hy sal nie weer probeer om Marty te vermoor nie. Cade sê vir Ruth sy moet hom nie weer besoek voordat Marty dood is nie. Charlotte gaan swem een nag en verdrink amper. Daarna is haar depressie weg.

8 "Kaleidoscope" Ellen Kuras Ryan Farley 'n Terugflits na 2007 wys hoe Wendy en Marty iewers heen ry toe sy onthul sy is weer swanger. Terwyl hulle dit bespreek, is hulle in 'n motorongeluk en Wendy het 'n miskraam. Daarna ly sy lank aan depressie. Wendy probeer onsuksesvol om weer die werkmark te betree ná die geboorte van haar kinders. Sy is 'n ervare reklameagent wat vir die politikus Bobby Rush se vroeë kongresveldtogte en vir Barack Obama se veldtog vir die senaat van Illinois gewerk het. Del nader Marty en Bruce om die kartel se geld te was en hulle weier, maar sê hulle sal dit heroorweeg. Marty verwag dat Wendy daarteen gekant sal wees, maar sy keur dit goed. Bruce en Marty sê hulle sal vir Del werk, en Del laat sy vorige finansiële raadgewer, Louis, voor hulle vermoor. Louis het nie net geld verduister nie, maar ook saam met Roy en die FBI gewerk.

9 "Coffee, Black" Jason Bateman Whit Anderson