Die Groot Markplein van Brussel (Frans: la Grand-Place de Bruxelles, Nederlands: Grote Markt van Brussel) is die sentrale stadsplein in Brussel. Dit word omring deur versierde gildehuise in die Italiaanse Barokstyl, die stadsaal (Frans: Hôtel de Ville) en die Broodhuis (Maison du Roi). Die plein is Brussel se belangrikste toeristebestemming en saam met die Atomium en Manneken Pis een van die stad se gewildste landmerke. UNESCO het die Groot Markplein in 1998 tot 'n wêrelderfenisgebied verklaar.
Die Groot Markplein het met sy ryk versierde boukuns die mag van die plaaslike bourgeoisie versinnebeeld en was sodoende steeds ook 'n simbool van stedelike demokrasie. Toe die welvarende Brusselse gildes in die 15de eeu die gesag van die aristokratiese stadsregering oorgeneem het, het hulle met hierdie plein van kosbare gildehuise, waarvan sommige volledig van hout gebou is, ook 'n monument van burgerlike mag opgerig wat 1695 deur die Franse tot 'n puinhoop gebombardeer is.
Vandag word gereeld feeste op die Groot Markplein gehou. Aan die begin van Julie vind die jaarlikse "Ommegang", 'n geskiedkundige optog, hier plaas en die plein word tweejaarliks in mid-Augustus met 'n groot blomtapyt versier.
Geskiedenis Ontstaan Die ligging van die huidige plein was oorspronklik 'n moerasagtige sandbank tussen twee spruite wat na die Senne-rivier gevloei het. In die elfde eeu is die gebied drooggelê en is die "Niedermerckt" ("laer" of "nedermark") hier aangelê, 1,2 m laer as die huidige plein. Dit het reeds die sentrum van die stad gevorm en in die twaalfde eeu was dit ook reeds 'n kommersiële sentrum vir handelsroetes tussen Brugge, Keulen en Frankryk, waar Engelse wol, Franse wyn en Duitse bier verkoop is.
Tydens die vroeë Middeleeue was klein houthuisies om die mark versprei. Dit was eers in die 14de eeu wat magtige, ryk patrisiese families hulle herehuise van steen hier gebou het. Die mark het geleidelik tot die hoofkommersiële en -administratiewe sentrum van die stad ontwikkel. Werk aan die stadsaal is in 1402 begin en 1455 voltooi. Die Broodhuis se voorganger is ook in die 13de eeu gebou: 'n houtgebou waar bakkers hulle brood in 'n bedekte mark verkoop het (vandaar die naam).
Teen hierdie tyd was die plein reeds ook 'n politiese sentrum waar vergaderings gehou is, onthoofdings plaasgevind het en waar hertoë, konings en keisers amptelik ontvang is. In 1523 is die eerste Protestantse martelaars, die monnike Hendrik Voes en Jan Van Eschen, hier deur die Inkwisisie op die brandstapel tereggestel. Veertig jaar later is die grawe Egmont en Horn, teenstanders van die berugte hertog Alva, hier onthoof.
Die Groot Markplein is na die konstruksie van die stadsaal vir die eerste keer uitgelê, in die middel van die stad se destydse kommersiële distrik. Die aangrensende strate weerspieël steeds die area se oorsprong, met historiese Nederlandse name soos "Haringstraat", "Grasmarkt", "Boterstraat", "Hoedenmakersstraat", ens. Die oorspronklike Groot Markplein was 'n mengelmoes van geboue wat tussen die 15de en 17de eeu in allerlei style opgerig is.
Negejarige Oorlog Op 13 Augustus 1695, tydens die Negejarige Oorlog, het 70 000 van die Franse Sonkoning Lodewyk XIV se troepe om politieke redes met 'n bombardering van die stad begin. Die troepe was onder leiding van maarskalk François de Neufville, wat gehoop het om die sogenaamde "Liga van Augsburg" se magte weg te trek van hul beleëring van die Frans-besette stad Namur (in die suide van die huidige België).
Die Franse het met kanonne en mortiere van die hoofsaaklik weerlose stad gevuur: die stad het vlam gevat en die grootste deel van die Groot Markplein en omliggende stadsdele is vernietig. Slegs die steenskelet van die stadsaal en fragmente van 'n paar ander geboue het staande gebly. Dit is ironies dat daar hoegenaamd iets van die stadsaal oorgebly het, siende dat dit die hoofteiken van die bombardering was.
Die plein is in die volgende vier jare herbou deur die stad se gildes, waartydens alle voormalige houthuise deur steengeboue vervang is. Hulle pogings is deur die stad se raadslede en die Goewerneur van Brussel gereguleer en hulle planne moes eers deur hierdie amptenare goedgekeur word. Die resulterende Groot Markplein het 'n harmoniese uitleg gehad, ten spyte van die oënskynlike botsende kombinasie van Gotiese, Barok- en Lodewyk XIV-style.
Geboue
Noordweste 1. Die Koning van Spanje; Gilde van die bakkers duimnael|280px|Ligging van die geboue duimnael|300px|Van regs na links: Die Koning van Spanje, Die Kruiwa, Die Sak, Die Wolvin, Die Horing en Die Vos Den Coninck van Spaigniën / Le Roy d’Espagne Die oorspronklike houthuis wat hier geleë was, is in die 13de eeu met 'n steenhuis vervang deur die familie Serghuys, wat beter beskerming wou hê as wat 'n houthuis kon bied. In 1695 het die Bakkersgilde die grond gekry om 'n groot gildehuis in die barokstyl te bou. Die gildehuis is in 1696 voltooi en daar word vandag steeds dikwels na die gebou as "die Bakkershuis" verwys.
Die gebou is in 1901-1902 aansienlik herbou en voorsien van borsbeelde van Sint Hubertus en Karel II, Koning van Spanje.
Tans word 'n taverne in die gebou gehuisves.
2&3. Die Kruiwa; Gilde van die "Vettewariërs" Den Cruywagen / La Brouette
Die Kruiwa, soos dit bekend staan, het in die 13de eeu ook aan die Serghuys-familie behoort. In 1439 is dit deur die gilde van die Vettewariërs gekoop: handelaars en winkeliers in olie, kerse en ander produkte wat uit vet vervaardig is. Die gilde het die oorspronklike houtgebou in 1644 met 'n steenweergawe vervang. Die Kruiwa het die bombardement van 1695 gedeeltelik oorleef en is in 1696-1697 onder leiding van Jan Cosyns gerestoureer, waartydens die weelderige, barokagtige voorgewel bygevoeg is.
4. Die Sak; Gilde van die Kuipers Den Sack / Le Sac Hierdie gebou het ook in die 13de eeu aan die Serghuys-familie behoort, maar is in 1444 aan die Gilde van die Kuipers verkoop. Ná die bombardering van 1695 is die gildehuis onder leiding van Antoon Pastorana in 'n barokstyl heropgebou.
5. Die Wolvin; Gilde van die Boogskutters Den Wolvin / La Louve Hierdie gebou het 'n duidelike Italiaanse invloed: die naam verwys na die legende van Romulus en Remus wat deur 'n wolf gered is. Die gebou bevat ook 'n bas-reliëf bo die hoofingang wat wys hoe die twee deur die wolvin gevoer word. Die naam is reeds aan die oorspronklike houtgebou van die 14de eeu gegee. Dié houtgebou is later deur die Boogskuttersgilde gekoop en, ná 'n brand in 1690, in 1691 opnuut laat bou in steen, volgens planne van Pieter Herbosch.
Die Wolvin is relatief min skade berokken tydens die Negejarige Oorlog; 'n beeld van 'n feniks kan bo-op die gebou gesien word, wat die onsterflikheid van die gebou simboliseer. Die Sak is in 1890 aansienlik gerestoureer deur die stadsargitek P. Jamaer en huisves vandag 'n bank.
6. Die Horing; Gilde van die Seevaarders Den Horen / Le Cornet
Die oorspronklike houthuis wat op hierdie plek geleë was, het "Den Berch" geheet. Die Seevaardersgilde het die huis in 1434 gekoop en die naam na "Die Horing" verander. Die houthuis is in ongeveer 1650 deur 'n steengebou vervang, maar dié het groot skade gely tydens die bombardering van 1695. Die heropbou het onder leiding van Antoon Pastorana in 1697 plaasgevind. Die Horing word as een van die ryklikste gedekoreerde gildehuise van die Grote Mark beskou. Die gebou is tussen 1899 to 1902 gerestoureer.
7. Die Vos; Gilde van die Garing- en Draperingverkopers Den Vos / Le Renard
Daar is reeds in die 14de eeu na hierdie huis as "Die Vos" verwys. Die garinghandelaars het die gebou in die middel van die 15de eeu gekoop. Daar het byna niks van die gebou oorgebly ná die 1695-aanval nie. Die nuwe gebou is deur Corn. van Nerven ontwerp en in 1699 voltooi en is 'n voorbeeld van Vlaamse Barok met Lodewijk XIV-invloede.
Die vier beelde op die eerste verdieping simboliseer die vier kontinente saam met die Geregtigheid.
Weste Brussel se stadshuis|duimnael|200px Stadshuis Gemeentehuis / Maison communale
Die stadshuis is tussen 1401 en 1455 gebou; die oorspronklike argitek was moontlik Jacob van Thienen. Die gotiese toring was ontwerp deur Jan van Ruysbroeck. Die linkervleuel is tussen 1401 en 1420 gebou; die eerste steen van die regtervleuel is in 1444 deur Karel de Stoute gelê en die vleuel is in 1448 voltooi.
Die oorspronklike kloktoring tussen die twee vleuels is onder leiding van Van Ruysbroeck herbou tot die weergawe wat vandag bestaan. Bo-aan hierdie 97 m-lange toring staan 'n koperstandbeeld van die aartsengel Michiel, Brussel se beskermheilige, wat 'n draak verslaan. Die standbeeld van Michiel is self vyf meter hoog en is geskep deur Maarten van Rode.
Die voorgewel bevat beelde van die Brabantse hertoë en hertoginne.
Suidweste 125px|links|duimnael|Die gedenkbeeld van Everaard 't Serclaes 8. Die Sterre; Huis van die Amman De Sterre / L’Étoile Daar word reeds in dertiende eeu na die gebou wat oorspronklik hier geleë was as "Die Sterre" verwys. Die huidige gebou is waarskynlik die kleinste gebou op die Groot Mark. Die gebou staan ook as die "Huis van die Amman" bekend, aangesien dit in die 14de eeu die woning van dié amptenaar was: 'n "Amman" was die amptenaar van justisie wat die regerende vors verteenwoordig het.
In 1356 het Lodewyk van Male (die Graaf van Vlaandere) die stad ingeneem en sy vlag bokant die hoogste venster geplaas. 'n Paar maande later het Everaard 't Serclaes teen die gebou se mure opgeklim, die vlag afgeruk en met die ondersteuning van 'n aantal patriotte die Vlame in die naam van die Hertog van Brabant verdryf .
Die gebou is in 1852 op bevel van burgemeester De Brouckere gesloop om plek te maak vir 'n beplande tremweg. Die projek is egter nooit uitgevoer nie. In 1897 het die nuwe burgemeester Karel Buls 'n nuwe gebou laat bou, wat op 'n arkade sou rus sodat voetgangers onder deur die gebou kon beweeg. In die arkade is 'n gedenkplaat aangebring ter ere van Buls en die bouers en ook 'n standbeeld ter ere van Everaard 't Serclaes. 'n Gewilde bygeloof hou in dat mens 'n jaar lank geluk in die liefde gewaarborg word indien sy regterarm gestreel word.
duimnael|300px|Van regs na links: Die Sterre, Die Swaan, Die Goue Boom, Die Roos en Thabor-berg
9. Die Swaan; Slagtersgilde De Zwane / Le Cygne
Ná die bombardering van 1695 is Die Swaan herbou met behulp van finansier Pierre Fariseau (hy het ook sy monogram aan hierdie Vlaamse Barokhuis laat aanbring). Die Slagtersgilde het die huis in 1720 gekoop om hulle gildehuis hier te vestig, maar is 'n eeu later, in 1830, in 'n herberg omskep. Hier het die Duitse filosowe Karl Marx en Friedrich Engels hulle Manifes van die Kommunistiese Party in 1847 geskryf.
10. Die Goue Boom; Brouersgilde Den Gulden Boom / L’Arbre d’Or
In die 15de eeu was die oorspronklike houtgebou die eiendom van die tapytwewers, maar dié is in die 16de eeu met 'n steengebou vervang. Die Brouersgilde het die gebou in 1638 aangekoop en vergroot. Soos meeste ander geboue, het ook Die Goue Boom groot skade gelei tydens die bombardering van 1695 en die huidige gebou is ontwerp deur Willem de Bruyn. Die gebou is in 1901 gerestoureer en huisves vandag 'n brouersmuseum.
11. Die Roos; Herehuis De Roose / La Rose Die Roos het nie tot 'n gilde behoort nie, maar was 'n burgerlike woning. 'n Steengebou is na die bombardering van 1695 in 1702 opgerig en is in 1902 gerestoureer.
12. Thabor-berg; Herehuis Den Bergh Thabor / Le Mont Thabor Nog 'n burgerlike woning wat nie deur 'n gilde besit is nie. Hierdie steengebou is in 1699 gebou en in 1885 gerestoureer.
Suidooste duimnael|300px|Van regs na links: die Koning van Beiere en die Huis van die Hertoë van Brabant 12a. Die Koning van Beiere; Herehuis De Koning van Beieren / Le Roi de Bavière
Nog 'n herehuis wat as burgerlike woning gedien het en nie aan 'n gilde behoort het nie. Die Koning van Beiere dateer uit 1699.
13/19. Die Huis van die Hertoë van Brabant