Trudie Taljaard (1948 – 31 Januarie 2009) was ’n bekende Afrikaanse verhoog- en TV-aktrise en toneelafrigter. Sy het haar eie dramaskool, ACTA (Another Centre for Training Actors), gehad en was ook speels bekend as die tweejaarwaarborg-tannie nadat sy lank in ’n bekende meubelwinkel se advertensies opgetree het.

Biografie Trudie het in Melville, Johannesburg, grootgeword en daarna aan die Universiteit van Pretoria drama studeer. Sy was getroud met die akteur Errol Roelofsz en daarna met die akteur Nico Liebenberg. Sy het drie dogters gehad: Marlene, Justine en Eloise.

Sy is op 31 Januarie 2009 op 60-jarige ouderdom oorlede nadat sy in 2007 met beenkanker gediagnoseer is.

Verhoog, TV en rolprente Van die toneelstukke waarin Trudie oor meer as twintig jaar opgetree het, is ’n Seder val in Waterkloof, Die Potlooddief en die Engel, Die Vrek, Drie Seisoene, Die Ander Man, Die Wonderwerk, Raka, Droomsmokkelaar, Treinstories en die omstrede eenmanstuk Kombuis-blues van die skrywer Jeanne Goosen. Sy het veral vir laasgenoemde groot lof gekry en is vir ’n paar pryse benoem vir haar toneelspel.

Op TV was sy onder andere te sien in Dokter, Dokter, Sonkring, Home Affairs, Tekwan, Die Hartseerwals, Arende III, Suburban Bliss, Pastorie-petaljes, People Like Us, Dit Wat Stom Is en Saartjie. Haar laaste rol was as matrone Netta Nortjé se suster Esther in die Afrikaanse sepie 7de Laan.

Van haar rolprente sluit in Elsa se Geheim (1979), Broer Matie (1984), Windprints (1990), The Long Run (2000) en Hitchhiker (2007).

Pryse en benoemings Trudie is vir verskeie pryse benoem en het onder andere in 1991 die Star Tonight!-prys vir Beste Aktrise gewen vir haar rol as Charlene Brits in die TV4-komediereeks People Like Us en in dieselfde jaar die Computicket-prys vir haar spel in Kombuis-blues.

Ander pryse waarvoor sy benoem is, is die Dalro-teaterprys as Beste Aktrise in ’n Afrikaanse hoofrol (1991), die Fleur du Cap-toneelprys (1991), IGI Life se Vita-toneelprys vir Natal (1992) en die Artes-prys (1989).

Lys werke Toneel ’n Seder val in Waterkloof Die potlooddief en die engel Die vrek Drie seisoene Die ander man Die wonderwerk Raka Droomsmokkelaar Treinstories Kombuis-blues

TV Dokter, Dokter Phoenix en Kie Mattewis en Meraai Tekwan Die hartseerwals Pastorie-petaljes Arende III Suburban Bliss People Like Us Dit wat stom is Home Affairs Sonkring Saartjie 7de Laan

Rolprente Elsa se Geheim (1979) Grensbasis 13 (1979) Broer Matie (1984) Windprints (1990) The Long Run (2000) Beat the Drum (2003) Hitchhiker (2007)

Verwysings

Eksterne skakels Trudie Taljaard op die Internet Movie Database

Kategorie:Suid-Afrikaanse aktrises Kategorie:Suid-Afrikaanse aktrises van die 20ste eeu Kategorie:Geboortes in 1948 Kategorie:Sterftes in 2009 Kategorie:Alumni van die Universiteit Pretoria