Kaptein Jack Sparrow is 'n fiktiewe karakter en die hoofkarakter van die Pirates of the Caribbean-rolprentreeks en . 'n Vroeë weergawe van Sparrow is deur die draaiboekskrywers Ted Elliott en Terry Rossio geskep, maar die finale karakter is geskep deur die akteur Johnny Depp, wat ook die rol vertolk.

duimnael|150px|links|Keith Richards in 1982. Die karakter, 'n seerower, is geskoei op 'n kombinasie van The Rolling Stones se kitaarspeler Keith Richards en Looney Tunes-strokiesprente, veral die karakters Bugs Bunny en Pepé Le Pew. Hy verskyn die eerste keer in die rolprent van 2003 Pirates of the Caribbean: The Curse of the Black Pearl, en later in die opvolgprente Dead Man's Chest (2006), At World's End (2007), On Stranger Tides (2011) en Dead Men Tell No Tales (2017).

In die rolprente is Sparrow een van die seerowerlords in die Brethren Court, die Seerowerlords van die Sewe Seë. Hy kan verraderlik wees en oorleef hoofsaaklik deur sy brein te gebruik en te onderhandel, eerder as deur krag. Hy vlug van die gevaarlikste situasies en veg net indien nodig.

Sparrow word bekendgestel waar hy sy skip, die Black Pearl, probeer terugkry van sy muitsugtige eerste stuurman, Hector Barbossa. Nadat hy geslaag het, probeer hy ontsnap van sy slegte skuld aan die legendariese Davy Jones, terwyl hy teen die Oos-Indiese Kompanjie veg. Later, toe hy na die Fontein van Jeug soek, word hy ontvoer en op Swartbaard se Queen Anne's Revenge geneem, waar hy gedwing word om hom na die Fontein te lei terwyl die Black Pearl in 'n bottel vasgekeer is. In 'n latere avontuur, toe die Spaanse spookkaptein Armando Salazar hom jaag, soek hy na die Drietandvurk van Poseidon terwyl hy ook probeer om die Pearl tot sy oorspronklike vorm te herstel.

Die Pirates of the Caribbean-reeks is geïnspireer deur die Disney-temaparkrit met dieselfde naam. Toe die rit in 2006 opgeknap is, is die karakter Jack Sparrow bygevoeg. Hy is die onderwerp van ander boeke, onder meer die kinderreeks Pirates of the Caribbean: Jack Sparrow, wat van sy kinderjare vertel.

Konsep en skepping Karakter Toe hulle die draaiboek vir The Curse of the Black Pearl skryf, het Ted Elliott en Terry Rossio kaptein Jack Sparrow gevisualiseer as 'n ondersteunende karakter soos Bugs Bunny en Groucho Marx. Die vervaardigers het hom hulle voorgestel as 'n jong Burt Lancaster. Sparrow het 'n sedelike seerower verteenwoordig, met kaptein Barbossa as sy korrupte eweknie, maar albei was swendelaars. Sparrow se ware motiewe bly gewoonlik duister, en of hy eerbaar of boos is, hang van die gehoor se perspektief af.

Ná die sukses van The Curse of the Black Pearl, was die uitdaging volgens die regisseur, Gore Verbinski: "Jy wil nie net die Jack Sparrow-fliek hê nie. Dit is soos 'n knoffelmelkskommel. Hy is die spesery en jy het baie ander mans nodig... Laat ons hulle nie te veel Jack gee nie. Dit is soos te veel nagereg of te veel van 'n goeie ding." Hoewel Dead Man's Chest geskryf is om die storielyn van die trilogie voort te dryf, raak Sparrow se geestesgesteldheid terwyl hy deur Davy Jones agtervolg word, toenemend gespanne, en die skrywers het die kanibaalstorielyn uitgedink om te wys hy was in gevaar terwyl hy ter see of op land was. Sparrow is dronkgeslaan oor sy aangetrokkenheid tot Elizabeth Swann, en hy probeer dit deur die hele prent regverdig.

duimnael|links|200px|'n Tekening van Jack Sparrow se kop. At World's End was bedoel om dit weer 'n karakterstuk te maak. Sparrow is op die punt van waansin ná sy lang eensame opsluiting deur Davy Jones, en begeer nou onsterflikheid. Sparrow het 'n stryd met wat dit vat om 'n morele mens te wees nadat sy eerlike streep in die tweede rolprent amper tot sy ondergang gelei het. Dit is duidelik uit sy toenemend wisselvallige gedrag en sy hallusinasies, waar dit lyk of dosyne "Jack Sparrows" die skip beman in sy afwesigheid, maar dan word die hallusinasies belangriker en daar is hoofsaaklik twee "Jacks" wat voortuderend stry oor watter pad om te volg: die onsterflike of die sterflike. Die laaste hallusinasie vind plaas terwyl Jack op die Dutchman gevange gehou word, en waar sy eerlike streep wen. Teen die einde van At World's End seil Sparrow na die Fontein van Jeug, 'n vroeë konsep vir die tweede prent.

Rossio het in 2007 gesê 'n vierde prent is moontlik, en die vervaardiger, Jerry Bruckheimer. het sy belangstelling in 'n splinterreeks laat blyk. Verbinski het gesê "al die stories wat in die eerste prent begin het, is klaargemaak. As daar ooit nog 'n Pirates of the Caribbean-rolprent is, sal ek van voor af begin en op die verdere avonture van kaptein Jack Sparrow fokus."

On Stranger Tides is op 28 September 2008 die eerste keer aangekondig, tydens 'n Disneygeleentheid in die Kodakteater. Verbinski het nie die vierde prent geregisseer nie en is deur Rob Marshall vervang. Die fliek gebruik elemente van Tim Powers se roman van dieselfde naam, veral Swartbaard en die Fontein van Jeug, maar die prent is nie 'n regstreekse verwerking van die roman nie.

Die mederegisseurs van die vyfde rolprent, Dead Men Tell No Tales, was Joachim Rønning en Espen Sandberg.

Johnny Depp Johnny Depp was op soek na 'n gesinsfliek om te maak toe hy die Walt Disney-ateljee in 2001 besoek en hoor van planne om die Pirates of the Caribbean-pretparkrit in 'n rolprent te verwerk. Hy was opgewonde oor die moontlikheid om 'n ou Hollywoodgenre te laat herleef. Hy het die draaiboek in die hande gekry en daarvan gehou. Die vervaardiger Jerry Bruckheimer het gevoel Depp sal aan die rolprent 'n skerpte gee wat jong en volwasse gehore sal lok ondanks Disney se reputasie vir kindervermaak.

Volgens verskeie berigte en onderhoude het Depp vir die rol voorberei in die stoomkamer van 'n sauna. Soms het hy na bewering die temperatuur tot die maksimum verhoog. Die akteur is aangehaal waar hy sê: "Kaptein Jack is eintlik in 'n sauna gebore – my sauna. Ek het gemeen dit is 'n ou wat moontlik sy hele lewe lank op see was, of minstens vir die grootste deel van sy lewe, en hy het dus 'n groot mate van onontsnapte hitte aan sy brein ervaar."Um, Did Johnny Depp Boil His Brain in a 1000-Degree Sauna? – E! Online Depp se dogter was toe klein en hy het ook baie kinderprente gekyk.A Conversation with… Johnny Depp at Zurich Film Festival – YouTubeJohnny Depp on Creating Jack Sparrow and Fighting Disney – YouTube

Met die eerste leessessie het Depp die ander spelers verbaas met sy ongewone uitbeelding. Hy het 18de-eeuse seerowers nagevors en ooreenkomste met moderne rocksterre gesien; hy het dus sy spel op Keith Richards geskoei. Richards het later in twee kameerolle verskyn as Jack se vader, kaptein Teague: in At World's End en On Stranger Tides.

Verbinski en Bruckheimer het vertroue in Depp gehad, deels omdat Orlando Bloom die tradisionele Errol Flynn-tipe karakter sou speel. Disney se uitvoerende beamptes was aanvanklik verward oor Depp se spel, en het gevra of die karakter dronk of gay is. Disney se uitvoerende beampte, Michael Eisner, het verklaar Depp ruïneer die prent. Depp het geantwoord Disney moet hom óf vertrou óf in die pad steek. Baie mense in die rolprentbedryf het Depp in die rol bevraagteken, want hy was 'n onkonvensionele akteur wat nie bekend daarvoor was dat hy in die tradisionele ateljeestelsel gewerk het nie.

Depp se toneelspel het byval gevind by die resensente. Alan Morrison het gedink dit is "heerlik ekstreem... Wat presisie en verbale inset betref, is dit 'n meestersklas in komedietoneelspel." Roger Ebert het Depp geprys omdat hy die karakter anders vertolk het as hoe dit geskryf is en het gedink Depp se spel is uiters oorspronklik. "Daar was nog nooit so 'n seerower, of eintlik enige mens, in enige ander fliek nie;... sy optrede toon 'n leeftyd van inoefening." Depp het 'n Screen Actor's Guild-prys vir sy toneelspel gewen, asook 'n benoeming vir 'n Golden Globe en 'n Oscar vir beste akteur, die eerste in sy loopbaan.

Depp se terugkeer in Dead Man's Chest was die eerste keer dat hy in 'n opvolgprent gespeel het. Hy het 'n MTV Movie Award en 'n Teen Choice Award gewen vir Dead Man's Chest, en is benoem vir 'n Empire Award en nog 'n Golden Globe. Vir sy spel in At World's End het Depp 'n MTV Movie Award, People's Choice Award, Kids' Choice Award en nog 'n Teen Choice Award gewen.

Grimering en kostuums duimnael|links|200px|Johnny Depp tydens verfilming, met Jack se bokbaard wat tydens die grimeringsessies aangesit is. Depp dra 'n pruik met rastalokke in 'n ruk-en-rol-benadering tot die seerowervoorkoms. Hy dra 'n rooi bandana en verskeie voorwerpe in sy hare, wat beïnvloed is deur Keith Richards se gewoonte om herdenkings van sy reise te versamel; Sparrow se versierings sluit sy "piece of eight" in. Hy dra kohl om sy oë, wat geïnspireer is deur Depp se bestudering van nomades, wat hy met seerowers vergelyk het, en kontaklense. Sparrow het verskeie goue tande en hy dra sy bokbaard in twee vlegsels. Hy het verskeie tatoes.

Depp het met die kostuumontwerper Penny Rose saamgewerk om die karakter se voorkoms te skep en het 'n driepunthoed as Sparrow se leerhoed gekies; om Sparrow uniek te maak dra die ander karakters nie leerhoede nie. Depp het daarvan gehou om net een kostuum tydens verfilming te dra: 'n liggewig-sy-tweed-jas.

Sparrow se wapens was egte 18de-eeuse stukke: Sy swaard dateer van die 1740's en sy pistool van die 1760's. Albei is in Londen gemaak. Depp het twee pistole op die stel gebruik; die een was van rubber. Sparrow se towerkompas is ook deur die hele reeks gebruik.

Sparrow dra vier ringe, waarvan twee aan Depp behoort. Onder Depp se bykomede idees was die halssnoer van menslike tone wat Sparrow dra toe die Pelegosto voorberei om hom te eet, en die septer is geskoei op een wat aan 'n vriend van Depp behoort het.

Fiktiewe karakterbiografie Voor die flieks Pirates of the Caribbean: The Complete Visual Guide gee 'n agtergrond vir Jack Sparrow waarin hy tydens 'n tifoon in die Indiese Oseaan op 'n seerowerskip gebore is en deur 'n Italianer in die skermkuns opgelei is.

Boeke wat Jack Sparrow se avonture volg voordat die flieks verfilm is, sluit in 'n reeks van 12 boeke wat op sy tienerjare fokus met die titel Pirates of the Caribbean: Jack Sparrow, en 'n reeks van 5 boeke, Pirates of the Caribbean: Legends of the Brethren Court.

In 2011 het Ann C. Crispin 'n roman met die titel Pirates of the Caribbean: The Price of Freedom geskryf wat meer op die rolprente fokus as op die vorige boeke. Dit volg Sparrow se avonture as 'n handelaarskaptein in diens van die Oos-Indiese Kompanjie, waarop in At World's End geskimp is. Crispin het die draaiboek voor die tyd gelees, maar die tonele is eindelik uit die prent gesny.A.C. Crispin, Pirates of the Caribbean: The Price of Freedom, 2011

Die Wicked Wench was 'n seerowerslip onder bevel van 'n kaptein met die naam Morgan, wat dood is in 'n geveg met die Spaanse vlootkaptein Armando Salazar. Die stuurman, Jack Sparrow, word kaptein van die Wicked Wench nadat hy die bemanning tydens 'n geveg gered het. Sparrow vervoer later vir Cutler Beckett verskillende vragte, maar weier om slawe te vervoer. In die hoop om Sparrow aan te stel as een van die "operateurs", sien Beckett wat hy beskou as 'n "sondetjie" van Sparrow oor die hoof: Beckett het Sparrow gestuur om die verlore eiland Kerma te vind, asook die skat in die middel van die eiland. Sparrow het egter gesê hy kon nie die eiland opspoor nie. Beckett het vermoed dat Sparrow wel die eiland en die skat opgespoor het, maar hy het nie vir hom die presiese ligging gegee nie. Beckett het toe geëis dat die jong kaptein 'n vrag slawe na die Nuwe Wêreld vervoer. Sparrow het aanvanklik ingestem, maar toe hy besef hy verraai die Wicked Wench, sowel as homself, het hy in opstand gekom en die slawe bevry en na Kerma geneem.