thumb|200px|Beskuldigings van bloedlaster teen Jode word beskou as die voorloper van die moderne sataniese rituele misbruik.
Sataniese rituele misbruik is die beweerde mishandeling van kinders deur 'n groep volwassenes as deel van 'n kultus- of satansverering. Verhale hieroor duik sedert die 1980's gereeld op, hoewel geen oortuigende bewyse nog gevind kon word dat rituele misbruik daadwerklik voorkom nie.
In die VSA het 'n sataniese paniek ontstaan oor duisende onbewese gevalle van dié soort misbruik wat aangemeld is. Dit het teen die laat 1990's deur baie dele van die wêreld versprei en kom vandag nog voor.
Ontstaan Beskuldigings van bloedlaster teen Jode in die 30's n.C. word beskou as die voorloper van die moderne sataniese rituele misbruik. In Amerika het die paniek in 1980 ontstaan met die publikasie van Michelle Remembers, 'n boek deur die medeskrywers Lawrence Pazder, 'n Kanadese psigiater, en Michelle Smith, sy pasiënt en toekomstige vrou. Dit het die gediskrediteerde praktyk van geheueherwinningsterapie gebruik om verregaande en skokkende bewerings te maak oor sataniese rituele misbruik waarby Smith glo betrokke was.
Soortgelyke bewerings, wat later oor 'n groot deel van die VSA opgeskiet het, het verslae ingesluit van fisieke en seksuele misbruik van mense in verband met die okkulte of sataniese rituele. In sy uiterste vorm het dit bewerings ingesluit van 'n wêreldwye sataniese kultus wat die rykes en elite insluit en waarin kinders ontvoer word en spesiaal gemaak word vir menslike offerandes, kinderpornografie en prostitusie.
Feitlik elke aspek van rituele misbruik is omstrede, insluitende die definisie daarvan, die bron van die bewerings en bewyse daarvoor, getuienisse van vermeende slagoffers, hofsake oor die bewerings en misdaadondersoeke. Die paniek het advokate, terapeute en maatskaplike werkers beïnvloed wat bewerings oor kindermisbruik hanteer het. Bewerings het aanvanklik groepe wat grootliks verskil het bymekaargebring, soos godsdiensfundamentaliste, polisieondersoekers, advokate vir kinders, terapeute en pasiënte in psigoanalise. Aanvanklik was die term "sataniese misbruik" meer algemeen, maar later is dit vervang met "sataniese rituele misbruik" of net "rituele misbruik".
Die bewerings is mettertyd al hoe meer verbind met dissosiatiewe identiteitsteuring, destyds bekend as 'n "gesplete persoonlikheid", en komplotteorieë teen die regering.
Verspreiding 200px|thumb|Virginia McMartin tydens die McMartin-verhoor. Die aanvanklike belangstelling wat gewek is deur die reklameveldtog vir Michelle Remembers, is deur die dekade aangeblaas en gewild gemaak deur dekking van die McMartin-verhoor, oor die misbruik van voorskoolse kinders deur hulle oppassers. Getuienisse, simptomelyste, gissings, en tegnieke om herinnerings te ondersoek of onthul, asook die paniek wat ontstaan het, is versprei deur professionele, gewilde en godsdienstige konferensies, asook deur geselsprogramme – deur en na buite die VSA.
In sommige gevalle het bewerings gelei tot misdaadverhore met wisselende resultate; ná sewe jaar in die hof het die McMartin-verhoor tot geen skuldigbevindings vir enige van die aangeklaagdes gelei nie, terwyl ander hofsake geëindig het met lang vonnisse, waarvan sommige later omgekeer is.
Geleerdes se belangstelling het geleidelik toegeneem en het eindelik gelei tot die gevolgtrekking dat die verskynsel 'n morele paniek is wat, soos een navorser in 2017 gesê het, "honderde bewerings ingesluit het dat duiwelaanbiddende pedofiele in die voorstedelike dagsorgsentrums van die wit Amerikaanse middelklas werkagtig is".
'n Boek van 1994 lui: "Van die meer as 12 000 aangetekende beskuldigings landwyd, was die ondersoekende polisie nie in staat om enige bewerings van georganiseerde kultusmisbruik te bekragtig nie. In Rusland het sake egter anders verloop: Sewe vermeende lede van 'n sataniese kultus is skuldig bevind aan die moord op vier tieners en die skending van hulle liggame in 'n inwydingsritueel in 2008. Twee "Gote" in Rusland het tronkstraf van byna 20 jaar gekry omdat hulle 'n 16-jarige meisie in Januarie 2009 verdrink en geëet het.
Definisies Die term "sataniese rituele misbruik" word gebruik om verskillende gedragspatrone, dade en bewerings te beskryf wat tussen uiterse definisies val. In 1988 het 'n landwye studie van seksuele misbruik in Amerikaanse dagsorgsentrums, wat deur David Finkelhor gelei is, bewerings van "rituele misbruik" in drie kategorieë verdeel: kultusgebaseerde ritualisme, waarin die misbruik 'n spirituele of sosiale doel vir die oortreders het; skynritualisme, waarin die doel seksuele bevrediging was en waarin die rituele gebruik is om die slagoffers bang te maak of te intimideer; en psigopatologiese ritualisme, waarin die rituele weens geestesteurings was. Intussen is ook 'n vierde soort beweerde sataniese rituele misbruik geïdentifiseer, waarin klein misdade met 'n dubbelsinnige betekenis (soos graffiti of vandalisme), wat gewoonlik deur tieners gepleeg word, toegeskryf word aan die dade van sataniese kultusse.
Teen die vroeë 1990's is "sagter" terme gebruik, soos "veeldimensionele kinderseksringe", "rituele misbruik" of "georganiseerde misbruik". Sommige het die kompleksiteit van misbruikgevalle erken waar menige oortreder betrokke is, sonder om oortreders in 'n godsdienstige raamwerk te plaas. Hulle het egter nie daarin geslaag om die term "sataniese misbruik" te verbeter of vervang nie, omdat dit nooit gebruik is om enige rituele buiten die sataniese soort te beskryf nie; laasgenoemde was die kern van die aantygings. Daar is nooit genoem of die misbruik in verband met die Christendom, Islam of ander godsdienste plaasgevind het nie.
Getuienis Die Nasionale Sentrum vir die Misbruik en Verwaarlosing van Kinders het 'n studie gedoen wat deur die sielkundige Gail Goodman van die Uiversiteit van Kalifornië gelei is. Onder die 12 000 bewerings van rituele of godsdiensverwante misbruik, was daar geen getuienis van "'n goed georganiseerde sataniese kultus wat kinders seksueel molesteer en martel nie", hoewel daar "oortuigende bewyse was van enkele oortreders of paartjies wat gesê het hulle is by Satan betrokke om die slagoffers te intimideer". In een so 'n geval wat Goodman bestudeer het, was grootouers betrokke "wat swart klede, kerse en Christus op 'n omgekeerde kruis gehad het – en die kinders het 'n seksueel oordraagbare infeksie in hulle kele gehad".
Die bewyse vir sataniese rituele misbruik was hoofsaaklik in die vorm van getuienis deur kinders, asook volwassenes wat beweer het hulle onthou misbruik tydens hulle kinderjare, wat vergeet en tydens geheueherwinningsterapie teruggeroep kon gewees het.
Ondanks bewerings in Amerika, Nederland, Swede, Nieu-Seeland en Australië, is geen materiële bewyse gevind van 'n georganiseerde, kultusgebaseerde misbruik wat menslike offerandes en kannibalisme insluit nie. Google books pp. 317–321 Hoewel traumaspesialiste dikwels sê die bewerings deur kinders en volwassenes is dieselfde, is die bewerings deur volwassenes in werklikheid erger en vreemder. In 95 persent van die volwassenes se gevalle is herinneringe aan die misbruik herwin tydens psigoterapie.
Volwasse getuienis Die grootste deel van die volwasse getuienis is gegee deur mense wat psigoterapie ondergaan het, in die meeste gevalle juis om herinneringe aan sataniese rituele misbruik te herwin. Terapeute beweer die pyn wat hulle pasiënte voel, die ooreenkoms tussen hulle stories en die raakpunte van hulle bewerings dui daarop dat sataniese rituele misbruik wel bestaan, maar sulke getuienis ontbreek verifieerbare bewyse en is alles onthou jare of dekades nadat die misbruik na bewering plaasgevind het. aangehaal in Victor, 1993, pp. 263-264. In 'n studie met 29 pasiënte in 'n mediese kliniek wat bewerings van sataniese rituele misbruik gemaak het, is geen ooreenkomste van die bewerings gevind in mediese rekords of besprekings met familielede nie. In 'n opname onder 2 709 Amerikaanse terapeute is bevind die meeste bewerings van sataniese rituele misbruik kom van net 16 terapeute, wat dui op dié terapeute se ingesteldheid.
Kinders se bewerings Die tweede groep wat bewerings van sataniese rituele misbruik gemaak het, was jong kinders. In die vroeë 1980's het ondersoekers tegnieke gebruik om inligting uit kinders te kry wat baie leidend, afdwingend en suggestief was; druk is op kinders uitgeoefen om getuienis te lewer en skimpe is gegooi wat tot valse verklarings gelei het. Veranderings in ondervragingstegnieke sedertdien het daartoe gelei dat sulke bewerings verdwyn het.
Die ontleding van die tegnieke in twee verhore (die McMartin-voorskoolse en die Wee Care-kindertuinverhoor) het gelei tot bevindings dat die kinders op 'n hoogs suggestiewe manier ondervra is. In vergelyking met 'n stel onderhoude van die kinderbeskermingsdienste, was die onderhoude tydens die twee verhore aansienlik meer geneig om nuwe suggestiewe inligting tot die onderhoud te voeg; aanprysings, beloftes en positiewe bekragtiging te verskaf; en kinders te vra om oor veronderstelde gebeure voor te gee of te gis.
Spesifieke bewerings in die sake sluit in: Die sien van hekse wat vlieg; reise in 'n warmlugballon; misbruik en reise deur tonnels; die uitkenning van die akteur Chuck Norris van 'n reeks foto's as een van die misbruikers; orgies by karwasplekke en lughawens, kinders wat met toilette afgespoel word na geheime kamers, waar hulle misbruik, agterna skoongemaak en dan aan hulle niksvermoedende ouers terugbesorg word. (McMartin-voorskoolsaak, met geen forensiese bewyse om die bewerings te staaf nie) Verkragting met messe (insuitende een met 'n lem van 30 cm), stokke, vurke en towerstawwe; misbruik deur 'n nar in 'n towerkamer; die drink van urine onder dwang; vasbinding aan 'n boom terwyl nakend (Fells Acres-dagsorgsentrumsaak, met geen forensiese bewyse om die bewerings te staaf nie) Rituele moord op babas; kinders wat op bote uitgeneem en oorboord gegooi word; reise in warmlugballonne; babas wat teen mure gegooi word; kinders wat met messe en vurke gepenetreer word; die mure en vloere van die sentrum se musiekkamer wat vol urine en ontlasting gesmeer is (Little Rascals-dagsorgsentrumsaak, met geen forensiese bewyse om die bewerings te staaf nie) Om onder dwang aan kinderpornografie en kinderprostitusie deel te neem; marteling; om onder dwang te kyk na pornografieflieks waarin kinders vermoor word (Kern County-kindermolesteringsaak, met geen kinderpornografie wat gevind is om die bewerings te staaf nie) Die geestesiek misbruiker met Noonansindroom het menslike bloed in sataniese rituele gedrink; die kinders ontvoer al kon hy nie bestuur nie; die kinders gedwing om urine en ontlasting te eet; die kinders na geheime kamers geneem; gewelddadige seksdade met hulle gepleeg; 'n kameelperd, konyn en olifant doodgemaak en hulle bloed voor die kinders gedrink. (Faith Chapel Church-rituelemisbruiksaak, met geen forensiese bewyse om die bewerings te ondersteun nie)
Verskeie van dié bewerings het tot skuldigbevindings gelei. Van 22 werknemers by dagsorgsentrums wat in 2007 bestudeer is, was net 3 nog in die tronk, 11 se vonnisse is omgekeer of verwerp, en 8 is vrygelaat voordat hulle hulle volle vonnis uitgedien het.
Skeptisisme 'n "Morele paniek" thumb|180px|links|Amerikaanse propaganda teen kommunisme in die tyd van McCarthyisme wat spesifiek op die vermaakbedryf gerig was.
Sataniese rituele misbruik en die sogenaamde "sataniese paniek" is al 'n "morele paniek" genoem en vergelyk met die bloedlaster- en heksejagveldtogte van historiese Europa en McCarthyisme in die 20ste eeu in die VSA. Die sosioloog Stanley Cohen, wat die term "morele paniek" geskep het, het die verskynsel genoem "een van die suiwerste gevalle van morele paniek".