Maria Aleksandrovna Alexandrova (; * 20 Julie 1978) is 'n Russiese balletdanser en Volkskunstenaar van Rusland.

Biografie Alexandrova is gebore in Moskou in die Russiese Sowjetse Federale Sosialistiese Republiek (Rusland) en het die Moskouse Staatsakademie vir Choreografie bygewoon. Sy het in 1997 'n goue medalje verower tydens die Moskouse Internasionale Balletkompetisie en het kort daarna aangesluit by die Bolsjoi-ballet, waar sy spoedig haar debuut as Myrtha in Giselle gemaak het. In Junie 2000 het sy 'n dubbele rol vertolk in Don Quijote as 'n straatdanser in die eerste bedryf en solis in die derde bedryf. Teen 2004 het sy 'n hoofdanser geword en sedertdien verskyn in Doringrosie en die titelkarakter vertolk in Alexei Ratmansky se Leah asook Carmen in die Carmen Suite. In 2005 en 2007 het sy verskeie rolle as solokunstenaar vertolk en haar debuut gemaak as Odette-Odile in Swanemeer, Medora in Le Corsaire en die Leerling in Die Les.

In 2008 het sy deelgeneem aan die première van Ratmansky se Vlamme van Parys waarin sy die rol van die heldin Jeanne gespeel het. In 2009 het sy gedans in die première van Coppélia as Swanilda, haar debuut gemaak as Nikiya in La Bayadère, en die titelrol gedans in die première van La Esmeralda. Dieselfde jaar het sy ook gereis na Nowosibirsk, waar sy weereens verskyn het in Swanemeer en Don Quijote, wat beide opgevoer is by die Nowosibirsk Opera- en Balletteater. In 2010 het sy haar buiging gemaak as die Gravin in Roland Petit se Queen of Spades. Op 2 Augustus 2013 het Alexandrova gedurende 'n opvoering deur die Bolsjoi-ballet by die Royal Opera House in Londen haar been beseer terwyl sy die rol van Gamzatti in La Bayadère gedans het. Sy moes terstond die verhoog verlaat. Sy het haar terugkeer na die verhoog gemaak op 28 Februarie 2014 met 'n opvoering van Mats Ek se Apartment.

In 2015 het Alexandrova deelgeneem aan die film Bolshoi Babylon.

Op 2 Februarie 2017 is dit aangekondig dat Alexandrova besluit het om te bedank uit die Bolsjoi-ballet. "Die Bolsjoi-teater het die bedanking bevestig van een van die balletgeselskap se sterre, die internasionaal-bekroonde prima ballerina Maria Alexandrova. Die bedanking was vrywillig" het TASS berig. "Op 19 Januarie 2017 het die Volkskunstenaar van Rusland, Maria Alexandrova, skriftelik haar bedanking ingedien," het 'n segspersoon namens die teater gesê. "Dit was Mejuffrou Alexandrova se persoonlike besluit." Alexandrova het verduidelik dat sy sal voortgaan om in ander projekte te dans.

Alexandrova was een van die leiers van die Bolsjoi-teater se kunstenaarsvakbond. Op 14 September 2014 was sy onsuksesvol as kandidaat vir die Kommunistiese Party tydens die verkiesing vir Mouskou se Stadsduma ( 'n Streeksparlement. Russies: Московская городская дума, verlatyns: Moskovskaya gorodskaya duma). Sy het tweede geëindig in die 41ste kiesafdeling.

Verwysings

Eksterne skakels Alexandrova se blad by Boljhoi-teater Alexandrova se blad by Adajio.ru Foto van Alexandrova by Adajio.ru Alexandrova op die Ballerina-galery Foto van Alexandrova by Die Galery van Meesters van Musikale Teater

Kategorie:Geboortes in 1978 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Dansers Kategorie:Ballet