duimnael|regs|270px|Bedford se huidige kerk is deur die argitekte Anthonie Smith en Douw Gerbrand Steenkamp in die tentstyl ontwerp as een van die vroeë voorbeelde van die sogenaamde kappiekerk. Steenkamp was die ontwerp-argitek. Ds. J.D. Thom het die hoeksteen gelê op 9 Augustus 1957 en die bouaannemers was Swart & Kemp (Edms.) Bpk.Artefacts.co.za se lys van Steemkamp en Smith se kerke duimnael|regs|270px|Die hoeksteen van die ou kerk op Bedford is in 1894 gelê. Dit dien as kerksaal sedert die ingebruikneming van die nuwe kerk.
Glen Lynden is die 19de oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en die sesde oudste in die teenswoordige Sinode van Oos-Kaapland. Dit is op 17 Julie 1829 gestig op die gelyknamige Oos-Kaapse dorpie, maar die swaartepunt van die gemeente het van 1891 af na die dorpie Bedford verskuif met Glen Lynden vandag net 'n buitewyk. Die gemeente het in 2009 153 belydende en 53 dooplidmate gehad, teenoor presies 99 meer van elk in 1985.
Ontstaan Daar word gesê Glen Lynden se geskiedenis is die ingewikkeldste onder al die NG gemeentes. Dieselfde geld die dogtergemeente Adelaide. As antwoord op die regering se aanbod van plase aan die Oostelike grens van die Kaapkolonie, het Afrikaners en, in 1820, Skotse setlaars hulle langs die Baviaansrivier gaan vestig. Hulle tydelike woonplek het hulle Glen Lynden genoem.
duimnael|links|220px|Ds. John Pears, 'n Skotse predikant, was die eerste leraar van Glen Lynden nadat hy op 1 Mei 1829 op die nedersetting aan die Baviaansrivier aankom.
Omdat sowel Afrikaans- as Engelssprekendes sterk verlang het na 'n eie gemeente, het hulle in 1826 'n versoekskrif aan die regering gerig om 'n predikant en kerkgeboue. As reaksie op die gunstige antwoord is op 5 Januarie 1827 – die stigtingsdatum van die gemeente – 'n bestuurskomitee gekies vir die benoeming van 'n predikant en die beplanning van die geboue.
Die kerk, wat in 1964 oorgedra is aan die NG Kerk in Afrika, is in 1828 voltooi en op 1 Mei 1829 is die eerste predikant, die Skotse ds. John Pears, na wie Pearston vernoem is, verwelkom. Reeds in 1830 het hy die kansel egter met 'n professoraat in Kaapstad verwissel. Ontmoedig deur sy swartgallige verslag oor Glen Lynden, waar hy dit onmoontlik gevind het om ’n gemeente op te bou met boere wat nie in die kerk belanggestel het nie, het die regering eers in 1833 vir ds. Alexander Welsh as sy opvolger gestuur. Hy was eweneens 'n predikant uit Skotland.
In 1855 is Bedford as dorp tussen Glen Lynden en Adelaide aangelê. En van toe af was daar hardnekkige wedywering tussen die drie plekke om voorrang as kerksentrum te kry omdat Adelaide nie vir Bedford of Glen Lynden kon bevredig nie. Bedford het egter 'n ongelyke stryd gehad, want beide Glen Lynden en Adelaide het probeer verhinder dat Bedford in aanmerking kom, omdat nie een van hulle as gemeente sonder Bedford kon bestaan nie.
Vroeër reeds het die adjunk-goewerneur van die Oostelike Provinsie, sir Andries Stockenström, ook probeer hulp verleen. Op las van goewerneur sir Lowry Cole het hy in Maart 1830 die plaas Glen Lynden as kerklike gemeente-eiendom geproklameer. Die moeilikheid met Glen Lynden was so ernstig dat Stockenström op 9 Junie 1830, as gesaghebbende in die Oostelike Provinsie, aanbeveel dat Glen Lynden verlaat word en die plaas Koonapspos (die latere Adelaide) vir die gemeente as middelpunt geneem word. Ná ds. Pears se bedanking het Stockenström alle belangstelling in die saak verloor en dit daargelaat. Toe die gemeente Glen Lynden met die vakature kennis neem dat die goewerneur hulle bestaan op Glen Lynden afkeur, het ouderling Robert Hart en ander belangstellendes met ’n nuwe voorstel vorendag gekom. Hulle beveel aan dat Stockenström ’n stuk van sy plaas Maasstroom (die latere dorpie Bedford) vir ’n gemeentemiddelpunt moes gee. Hy het eers geaarsel, maar later ingewillig. Ook dié plan het misluk. In ’n brief wat Thomas Pringle onverwyld na hom skryf oor die saak, berispe hy hom en Robert Hart dat hulle Glen Lynden wou ondermyn om Maasstroom se waarde te verhoog. ’n Kwaai brief van sir Andries, soos net hy dit kon skryf, was die antwoord daarop. En hiermee was die plan ook vereers van die baan.
Ds. Welsh se dienstyd op Glen Lynden Ds. Welsh is op 17 Augustus 1833 deur ds. John Taylor op Glen Lynden bevestig. Sy bediening was moeilik gewees en met die grootste moeite kon die transporte van die kerkgrond op Glen Lynden en Koonapspos nie gekry word voor 1859 nie. In sy tyd het die gemeente drie bloedige Grensoorloë met hulle verwoesting moes deurmaak. Die Groot Trek van die Voortrekkers het ook sy gemeente se ledetal uitgedun. Die leiers, Piet Retief en Van Rensburg, was twee van ds. Welsh se lidmate. Louis Trichardt se plaas in die Kolonie het ook binne die gemeentegrense geval. Die stryd met die Engelssprekende lidmate van Glen Lynden was sedert ds. Welsh se koms daar, maar teen 1839 was hulle ledetal uiters gering.
Ook het die geskenk van die grond aan die Koonaprivier lank vir die kerkraad moeilikheid opgelewer. In Maart 1848 gee sir Harry Smith die hele stuk grond aan die kerkraad, maar daardie Julie herroep hy dit. In Augustus 1848 word die landmeter gelas om die grondbrief vir die hele stuk grond op te stel, maar in Februarie die volgende jaar word dit herroep. Die kerkraad het die saak voor die Ring en Sinode gebring, sonder dat hulle juis vordering gemaak het, maar aan sir Andries is dit in 1854 opgedra om dit voor die eerste Kaapse Parlement te bring. Vooraf moes die landmeter eers die plaaslike toestande kom ondersoek. Die parlement het toe beslis dat al die grond aan die gemeente behoort, maar eers in 1858 ontvang die gemeente kaart en transport van sowel Glen Lynden as Koonapspos. Net soos in die tyd van ds. Pears het die regering dus steeds getwyfel aan die voortbestaan van die gemeente; daarom het hy hom sy volle grondregte so volstandig onthou. Steeds was die saak van die gemeente op Glen Lynden onuitvoerbaar en nou was dit weer so ’n moeilike saak omdat die twee middelpunte meer as 50 km uitmekaar was. Destyds was dit ’n groot afstand wat net met moeite afgelê kon word. Die onsekerheid het gemaak dat Koonapspos ook nooit kon groei nie en maar ’n sukkelende dorpe van 1840 af gebly het.
Eerste kerk op Koonapspos Ds. Welsh moes nietemin die helfte van sy jaarlikse arbeid op Koonapspos bestee. Oor die bou van 'n pastorie word besluit in 1839, maar daar het niks van gekom nie tot 1859. Van 1840 af toe die kerk daar klaargekom het, word die meeste kerkraadsvergaderings op Koonapspos gehou. Die kerkgebou is van klein en stene gebou, 17 x 7 x 3,3 m. Die hoeksteen is gelê in 1838 en die koste van £263.13.0. Van die tyd tot die koms van ds. Stegmann in 1859 is op Koonap 39 kerkraadsvergaderings en op Glen Lynden 18 gehou. In Junie 1849 het die kerkraad selfs die nuwe dorp Adelaide genoem en toe dieselfde naam aan die gemeente Glen Lynden en die Oos-Rietrivier gegee. Van daardie jaar af het die kerkraad op klein skaal begin erwe verkoop. Die regering het die nuwe naam goedgekeur.
Die verwarring oor die kernpunt van Glen Lynden het selfs in 1868 voor ’n gekose komitee van die Kaapse Parlement gedien toe die lede by dr. Andrew Murray, moderator van die Kaapse Kerk, wou weet: "Dit is ’n feit dat die kerk te Koonap en die kerk te Glen Lynden een en dieselfde is?" Waarop hy antwoord: "Ja, dit is één parogie wat tot hiertoe bekend gestaan het as die parogie van Glen Lynden en nou word dit die parogie van Adelaide genoem." Aan dieselfde kommissie is deur ds. William Robertson, die skriba van die Sinode, ’n sertifikaat oorhandig waarop geskrywe staan: "Hiermee sertifiseer ek dat die parogie vroeër bekend as Glen Lynden dieselfde is soos dié wat nou Adelaide genoem word." Nietemin was die amptelike naam van die gemeente op die Ringsittings van daardie datum tot en met die stigting van Adelaide altyd Glen Lynden. Dit kan moontlik wees omdat ds. Welsh van die vyf Ringsittings van 1849, 1850, 1853, 1854 en 1855 net die sitting van 1855 bygewoon het en kort daarna oorlede is. So het die naamsverandering waarskynlik vergete gebly, veral omdat hy siek was en die heersende Grensoorlog van groter belang was.
Adelaide word swaartepunt duimnael|links|160px|Ds. Daniel Jozua Pienaar was twee maal leraar van Glen Lynden: van 1891 tot 1896 en van 1898 tot 1900. Die swaartepunt van die gemeente het ná die voltooiing van die kerk in 1840 al hoe meer na Koonapspos oorgekom. Met die gee van die naam Adelaide in 1849 lyk dit of die kerkraad die saak van die gemeentelike sentrum ’n trap verder wou bevorder. Die kerkraadsvergaderings word om die beurt op Glen Lynden en Adelaide gehou tot in 1855. Van toe af is almal op Adelaide gehou. Die dorpie Bedford is eers in 1853 gestig, maar weens die vertraging met die verkryging van die transport op Koonapspos, was Adelaide tot 1855 onseker om as dorp aan te bou. Bedford was vry van hierdie moeilikhede. Maar Adelaide as kerksentrum kon nie die lidmate van Glen Lynden wat rondom Bedford gewoon het, se moeilikhede oplos nie. Op 13 Oktober 1855 vergader die kerkraad en bespreek ’n petisie wat vra dat ’n kerk en pastorie op Bedford gebou moet word. Die kerkraad weier om dit binne enige dae voor die Ring te lê omdat die ondertekening daarvan nie in orde was nie. Die Ring sit op 19 Oktober op Uitenhage en ds. Welsh en ouderling J.A. Raubenheimer is ook teenwoordig, soos reeds gemeld die eerste sitting uit vyf wat die leraar bywoon. Dieselfde versoekskrif en petisionarisse is ook daar. Hulle vra ’n kerk op Bedford en ’n leraar daarvoor. Hulle en die lede van die vergadering bepleit die saak en wys op die ongeskiktheid van Glen Lynden as woonplek vir die leraar en as kerkplek vir die gemeente. Op voorstel van ds. Adrian Roux besluit die vergadering eenparig om by die kerkraad van Glen Lynden aan te beveel dat die woning van die leraar verplaas moet word, óf na Bedford óf na Adelaide. En om ’n kerk op Bedford te bou. In Desember 1855 besluit die kerkraad om ’n pastorie op Adelaide te bou en ’n kerk op Bedford, maar van dié plan het niks gekom nie tot in 1859, toe alleen met die bou van die pastorie op Adelaide ’n begin gemaak is en ook met die mooi, groot klipkerk. In die godsdiensverslag vir die Ringsitting van Oktober 1856 (ds. Welsh was toe reeds oorlede), kom voordat ’n begin gemaak is met die besluit van die Ring om die pastorie op Adelaide te bou, vir die verplasing van die leraar daarheen en dat Adelaide beter geleë vir die gemeente is en beter geskik as Bedford. So eindig die eerste vasberade slag vir die kerksentrum op Bedford na die verkenningswerk in ds. Pears se tyd. Die dood van ds. Welsh in Julie 1856 het vir ’n tydjie die stryd laat bedaar.
duimnael|regs|180px|Ds. G.W. Stegmann, toe hy leraar van Glen Lynden was.
Die koms van ds. Stegmann