Nieu-Suid-Wallis is 'n Australiese deelstaat in die suidooste van die land. Die deelstaat beslaan 801 428 km² en is die deelstaat met die grootste bevolking sowel as die oudste van die state en gebiede. Dit word in die suide begrens deur Victoria, in die noorde deur Queensland en in die weste deur Suid-Australië. Die hoofstad en grootste stad is Sydney.

Geskiedenis Nieu-Suid-Wallis is in 1788 gestig en het oorspronklik 'n groot gedeelte van die vasteland beslaan. Die staat is vernoem deur kaptein James Cook, wat in 1770 voet aan wal gesit het in Botany Bay. Die eerste nedersetting is in 1788 in Nieu-Suid-Wallis begin deur Arthur Phillip.

Geografie Die staat bestaan uit 12 statistiese afdelings. Die laagliggende gebiede aan die kus lei na tafellande, wat gevorm word deur die Groot Skeidingsgebergte. Die vernaamste kusriviere van Nieu-Suid-Wallis is die Hawkesbury, Hunter, Macleay en Clarence. Die vernaamste binnelandse riviere is die Darling, Murray, Murrumbidgee, Lachlan en Macquarie-Bogan.

Stede Naas Sydney is ander belangrike stede Newcastle, Wollongong, Coffs Harbour, Port Macquarie en Broken Hill.

Ekonomie Die belangrikste ekonomiese bedrywighede in die deelstaat is die produksie van beesvleis, suiwel, wol en graan, asook vissery, bosbou, tekstiele en elektriese masjinerie, chemikalieë en voedselverwerking. Mynbou behels onder meer ontginning van sink, lood en steenkool.

Eksterne skakels Kaart van suidooste van Australië van Geoscience Australia Die deelstaat se amptelike webwerf Die deelstaat se parlement NSW se polisie NSW se deelstaatwette Die deelstaatbiblioteek se geskiedenis van Australië NSW en Sydney se weer