MaagdeburgMagdeburg 280px Kaart Wapen 180px|center 75px|center Vlag 90px|center Land Deelstaat 20px Sakse-Anhalt Koördinate Stigting Voor 805 Stadstatus 1126/1188 Oppervlakte: - Totaal 201,84 vk km Hoogte bo seevlak 55 m Bevolking: - Totaal (31 Desember 2016) 241 134 www.magdeburg.de: Daten. Besoek op 18 Julie 2017 - Bevolkingsdigtheid 1 194,7/vk km Tydsone UTC +1 (MET) - Somertyd UTC +2 (MEST) Burgemeester Simone Borris (O) Amptelike webwerf magdeburg.de
Maagdeburg (Duits: Magdeburg, [ˈmakdəˌbʊʁk], ; Nederduits: Meideborg, [ˈmaˑɪ̯debɔɐ̯x]) is die administratiewe hoofstad en - naas Halle - ook die grootste stad van die Duitse deelstaat Sakse-Anhalt met 'n bevolking van meer as 241 000 in 2016. Maagdeburg is die setel van sowel 'n Evangelies-Lutherse asook 'n Rooms-Katolieke biskop en beskik oor twee universiteite, die Otto-von-Guericke-universiteit en die Hochschule Magdeburg-Stendal.
Maagdeburg staan bekend vir sy beduidende historiese erfenis - hier was onder meer die palts van Otto I geleë, die eerste keiser van die Heilige Romeinse Ryk wat vanaf 962 geregeer het. So word die stad tans amptelik ook Ottostadt Magdeburg genoem. Die Ottostadt Magdeburg. Besoek op 18 Julie 2017 Die eerste historiese verwysing na Maagdeburg dateer uit die jaar 805. Die destydse stadsnaam Magadoburg het waarskynlik "magtige burg" beteken, alhoewel die huidige Duitse naam Magdeburg reeds sedert die Middeleeue as "Maagde-" of "Jonkvroueburg" geïnterpreteer is.
Geografie Maagdeburg is aan die middelloop van die Elberivier en aan die oostelike kant van die Maagdeburgse Börde, die vrugbare sentrale landskap van die deelstaat Sakse-Anhalt, geleë. Dit is - naas Hamburg en Dresden - die derde belangrikste stad aan die Elbe. Die meeste stadsbuurte is aan die westelike rivieroewer geleë. Maagdeburg is een van min stede in die Noord-Duitse Laagvlakte wat op rotsige grond ontstaan het. Sommige dele van die stadsgebied is op 'n lang eiland in die Elbe en aan sy oostelike oewer geleë.
Die beduidendste stede in die omgewing is Wolfsburg (sowat 64 kilometer noordwes van Maagdeburg), Braunschweig (sowat 75 kilometer wes) en Potsdam (sowat 105 kilometer oos van Maagdeburg). Berlyn is 105 kilometer oos van Maagdeburg geleë.
Geskiedenis Vroeë geskiedenis Die oudste argeologiese vondste van vuisstene dateer uit die vroeë Saale-ystydperk van sowat 150 000 jaar gelede. Die eerste permanente menslike nedersettings in die gebied van die huidige Maagdeburg het in die laat Weichsel-ystydperk omstreeks 15 000 v.C. ontstaan. Die gebied is gedurende die Neolithiese Lynebandkeramiek-tydperk omstreeks 5 400 v.C. deur stamme van die Donaulandse Beskawing bewoon. Hierdie vroeë bewoners het voordeel getrek uit die vrugbare grond in die gebied (wat hoofsaaklik uit loess bestaan) en die nabyheid van bosgebiede en water, terwyl die westelike Elbeoewer 'n beskerming teen vloedwater gebied het.
Middeleeue Die eerste verwysing na Maagdeburg, wat destyds as Magadoburg bekend gestaan het, dateer uit die jaar 805. Die plek was destyds 'n Frankiese voorpos en sentrum van die slawehandel. Die handel is in opdrag van Karel die Grote deur 'n Frankiese amptenaar beheer.
Heinrich I het Maagdeburg in 919 teen die Hongare en Slawe versterk, alhoewel met die Slawiese bevolking oos van die Elberivier handel gedryf is. Die Slawe-inval van die jare 923 en 924 was net een in 'n reeks aanvalle waartydens die grenspos verwoes is. In 929 het Heinrich I die huwelik van sy seun Otto I die Grote met Editha, die dogter van Edward die Ouere van Engeland, georganiseer. Editha het Maagdeburg as sogenaamde "môregawe" (of geskenk ná die bruidsnag) ontvang.
Die handelspos is tydens die heerskappy van Otto I vernietig en omstreeks 936 herstig om onder meer as keiserpalts te dien. In die volgende jaar is 'n Benediktyne-klooster gestig. duimnael|links|250px|Otto I en sy eggenote Editha land naby Maagdeburg (Hugo Vogel 1898, Ständehaus Merseburg)
In 937 is 'n ryksvergadering in Maagdeburg gehou waaraan twee aartsbiskoppe, agt biskoppe en die hoogste wêreldlike waardigheidsbekleërs deelgeneem het. Die Mauritius- of Moritzklooster is in dieselfde periode ter ere van Sint Mauritius gestig.
In 946 is koningin Editha ná haar afsterwe in die kloosterkerk (die latere Maagdeburgse katedraal) te ruste gelê. Otto het daarna met Adelheid van Italië getrou wat 'n sterk invloed op die plaaslike boukuns uitgeoefen het. Otto die Grote en Adelheid is in 962 met die keiserkroon van die Heilige Romeinse Ryk gekroon.
Tydens die sinode van Ravenna is Maagdeburg in 968 tot aartsbisdom verhef, terwyl Adalbert van Maagdeburg as Sint Adalbert, apostel van die Slawe, erken is. Die aartsbisdom het die bisdomme Brandenburg, Havelberg, Meißen (tot 1399), Merseburg, Posen (tot omstreeks 1000), Zeitz-Naumburg en Lebus (eers vanaf omstreeks 1420) ingesluit en was vanaf die 10de eeu die uitgangspunt vir die kerstening van die Poolse en ander Slawiese gebiede oos van die Saale-en-Elbelyn en die ooswaartse uitbreiding van die Duitse kolonisasiegebied in die noordooste van Sakse en die ooste van die Duitse ryksgebied. Lexikon der Weltgeschichte. Wiesbaden: F. Englisch Verlag 1977, bl. 343
Keiser Otto I is in 973 oorlede en langs sy eerste vrou Editha in die Maagdeburgse domkerk begrawe. Otto III het in 995 Silesië met 'n patent by die bisdom Meißen ingesluit en aan die aartsbisdom Maagdeburg ondergeskik gemaak.
Handelsentrum, Hansestad en biskopsetel duimnael|180px|Die "Maagdeburgse Ruiter" uit die 13de eeu was (na die Romeinse tyd) die eerste vrystaande ruiterstandbeeld noord van die Alpe In 1035 is Maagdeburg amptelik as die gasheerstad van 'n beduidende handelskou erken - danksy 'n patent het die stad die reg gekry om handelskoue en konvensies te hou. 'n Groot aantal besoekers uit ander lande het na Maagdeburg gestroom om hier handel te dryf. 'n Maagdeburgse silwermunt uit die 11de eeu is byvoorbeeld in Sandur, 'n dorp op die Faroëreilande, gevind.
In 1126 het Norbert von Xanten, wat later heilig verklaar is, aartsbiskop van Maagdeburg geword. Die sogenaamde "Maagdeburgse Reg", wat hier ontwikkel is, is destyds as prakties, modern en voorbeeldig beskou en sodoende in baie gebiede van Sentraal- en Oos-Europa oorgeneem. Aartsbiskop Wichmann het in 1188 die sogenaamde Privileg ("voorreg") volgens Maagdeburgse Reg vir die stad aangeneem. In dieselfde jaar is die meeste van Maagdeburg se houthuise in 'n brandramp vernietig. Hulle is tydens die heropbou, wat tot in die 13de eeu voortgeduur het, deur steengeboue vervang. Maagdeburg het geleidelik tot een van die beduidendste Middeleeuse handelstede en 'n belangrike politieke sentrum in Noordoos-Duitsland ontwikkel.
Alhoewel die Maagdeburgers hulle in die 12de eeu van hul owerheid - die aartsbisdom Maagdeburg - losgemaak het, het hulle nooit volledige selfbeskikking gekry nie. In 1294 het die burgers nogtans die ampte van skout en burggraaf van die aartsbiskop gekoop wat hulle voortaan self beklee het. Dit was die begin van 'n soort munisipale selfregering. Teen die einde van die 13de eeu het Maagdeburg by die Hanseverbond aangesluit en naas Braunschweig tot 'n belangrike sentrum van die Saksiese Verbond van Stede ontwikkel.
Omstreeks 1430 het politieke geskille tot 'n militêre konfrontasie tussen die stad en die aartsbiskop gelei. Op die Konsilie van Basel is een van 'n aantal pogings onderneem om hierdie konflik te besleg. In 1500 is die aartsbisdom by die Nedersaksiese Rykskreits ingesluit; Maagdeburg se bevolking het in hierdie periode sowat 40 000 beloop. Die aartsbiskop het sy setel in 1503 na Halle verskuif. Met die invoering van die Reformasie het die spanninge tussen stad en aartsbisdom verskerp. Nadat Martin Luther in Junie 1524 verskeie kere gepreek het, is die Reformasie in alle Maagdeburgse kerke - behalwe vir die domkerk - op 17 Julie 1524 amptelik ingevoer. Georg von Mecklenburg het vervolgens met die steun van keiser Karl V 'n veldtog teen Maagdeburg onderneem. Nadat die stedelike troepe naby Hillersleben 'n swaar nederlaag gely het, het Georg von Mecklenburg die stad van 22 September 1550 tot 5 November 1551 beleër. Die beleg is met 'n vredesooreenkoms beëindig, en as 'n sentrum van die verset teen die gedwonge rekatolisering het Maagdeburg, wat tussen 1547 en 1562 selfs onder ryksban gestaan het, die erename Unseres Herrgotts Kanzlei ("Kanselary van ons Heer") en Heilige Wehrstadt des Protestantismus gekry.
Die Dertigjarige Oorlog
Die Dertigjarige Oorlog het in 1618 uitgebreek, en vyf jaar later het ook Maagdeburg met sy bewapening begin, alhoewel daar pogings onderneem is om nie self by die militêre konflik betrokke te raak nie. In 1625 het keiserlike troepe vir die eerste keer in Maagdeburg aangekom. Vier jaar later het die oorlogshandelinge reeds tot ekonomiese moeilikhede gelei; die ou stadsraad is ontslaan en nuwe raadslede verkies. duimnael|links|250px|Maagdeburg in 1572. Gekleurde kopergravure deur Franz Hogenberg (1535-1590) Vanweë sy weiering om 'n tribuut ter waarde van 150 000 ryksdaalders te betaal, is Maagdeburg deur keiserlike troepe beleër. In 1630 is geallieerde Sweedse hulptroepe gestuur om die stad te bevry. Vanaf Maart 1631 is Maagdeburg opnuut deur keiserlike troepe beleër, en op 4 Mei het die keiserlike generaal Johann t'Serclaes von Tilly die kapitulasie van Maagdeburg geëis. Die bestorming van Maagdeburg is deur verwoestende plunderings, brandskattings en verkragtings gekenmerk, alhoewel in die Heilige Romeinse Ryk destyds gewoonlik die doodstraf vir hierdie soort misdade toegepas is.
Vanaf 10 Mei 1631 het sowat 26 000 keiserlike soldate die stad beleër. Die Sweedse soldate onder die bevel van koning Gustav II Adolf, wat eintlik militêre bystand aan Maagdeburg sou verleen het, was ná die verowering van Frankfurt an der Oder in 'n toestand van insubordinasie en moeilik in toom te hou. Gustav II Adolf het derhalwe geweier om die keiserlike troepe buite Maagdeburg met sy swakker magte aan te val. Die stadsraad het die kapitulasie oorweeg, tog is hierdie besluit uiteindelik nie geneem nie - onder meer omdat Sweedse afgevaardigdes hierdie opsie afgeraai het.
Op 20 Mei vanaf sewe uur soggens is die Alte Stadt (die geskiedkundige stadskern) en omliggende dorpe vir die eerste keer deur swaar geskut getref. Vanaf nege uur het keiserlike troepe onder bevel van Tilly en Gottfried Heinrich Graf zu Pappenheim na Maagdeburg opgeruk en die stad in die loop van die dag ingeneem. Die Maagdeburgse burgers is as voëlvry beskou, en tydens die verowering is 'n ongekende aantal gruweldade gepleeg wat rooftogte, verkragtings en moorde, waarby ook kinders en volwasse burgerlikes vermoor is, ingesluit. Selfs 'n aantal lede van die keiserlike troepe was ontsteld oor die omvang en aard van geweldpleging. duimnael|regs|250px|Otto-von-Guericke-standbeeld Welvarende burgers is toegelaat om uit die stad te vlug nadat hulle hulself by keiserlike soldate vrygekoop het. Maagdeburg is vervolgens aan die brand gesteek waardeur nog meer inwoners hul lewens verloor het. Keiserlike troepe en Maagdeburgers het mekaar wedersyds daarvan beskuldig dat hulle vir die brandramp verantwoordelik sou wees.
Die oorlogshandelinge en plunderings het nog enkele dae voortgeduur. Die Maagdeburgse domkerk het as toevlugsoord vir tussen 2 000 en 4 000 mense gedien en was vir die keiserlike troepe die laaste taboe. Die keiserlike generaal Pappenheim het die aantal slagoffers in Maagdeburg op sowat 20 000 geraam. Op 25 Mei is 'n Rooms-Katolieke mis in die domkerk gehou. Pous Urbanus VII het op 24 Junie 'n brief opgestel waarin hy vol blydskap na die "uitwissing van die ketternes" verwys het. Vroeg in 1632 het keiserlike troepe die stad nogeens beset.