Die Nederlandse letterkunde () omvat alle skryfwerk van letterkundige verdienstelikheid wat geskryf is in die Nederlandse taal, wat tans nagenoeg 23 miljoen moedertaalsprekers het. Die Nederlandse letterkunde is die produk van Nederland, België, Suriname, die Nederlandse Antille, en voormalige Nederlandssprekende streke soos Frans-Vlaandere, Suid-Afrika, en Indonesië. Die Nederlandse letterkunde moet egter nie verwar word met die Vlaamse letterkunde nie, wat die produk is van die Vlaamssprekende deel van die Belgiese bevolking, en soos die Afrikaanse letterkunde onderskei word van die letterkunde wat in Nederland geproduseer is, alhoewel die Vlaamse letterkunude in die konteks van hierdie artikel bespreek word as deel van die Nederlandse oftewel Nederlandstalige letterkunde. Nederlands Oos-Indië, soos Indonesië bekend gestaan het onder Nederlandse kolonisasie, het gelei tot 'n aparte deel van die Nederlandse letterkunde.Nieuwenhuys, Rob Mirror of the Indies: A History of Dutch Colonial Literature – vertaal uit die Nederlands deur E. M. Beekman (Uitgewer: Periplus, 1999) Beekman E.M. Fugitive dreams: an anthology of Dutch colonial literature (Uitgewer: University of Massachusetts Press, Amherst, 1988) Op soortgelyke wyse is Nederlandse literatuur soms geskryf deur mense wat oorspronklik van oorsee afkomstig was, soos byvoorbeeld Anne Frank en Kader Abdolah. Wat sy vroegste fases betref, word die Nederlandse letterkunde gedefiniëer as daardie letterkunde wat geskryf is in een van die Nederlandse dialekte van die Lae Lande. Voor die 17de eeu was daar nie 'n verenigde standaardtaal nie; die dialekte wat as Nederlands beskou word het ontwikkel uit Oudfrankies. 'n Aparte Afrikaanse letterkunde het in die 19de eeu begin ontwikkel, en dit deel dieselfde letterkundige wortels as kontemporêre Algemeen Beschaafd Nederlands (ABN), aangesien Afrikaans ontwikkel het uit 17de eeuse Nederlands. Die begrip kan in 'n eng sin letterkunde uit Nederland beteken, of alternatiewelik soos vroeër vermeld, Nederlandstalige letterkunde (soos uiteengesit in hierdie artikel). Afrikaans en "Nieu-Nederlands" (vandag se Standaard Nederlands), soos die taalkundige Professor H.J.J.M. van der Merwe dit noem, is dus sustertale.H.J.J.M. van der Merwe, Herkoms en ontwikkeling van Afrikaans, 1970, Afrikaanse Pers-Boekhandel, Johannesburg
Die Nederlandse letterkunde het, net soos ander literatuur in Europa, tot aan die einde van die 11de eeu byna geheel en al uit mondelinge oorlewering bestaan in die vorm van poësie. In die 12de en 13de eeue het skrywers begin om ridderlike romanse en hagiografieë vir edelmanne te skryf. Literatuur het vanaf die 13de eeu meer didakties geword en 'n proto-nasionale karakter begin aanneem. Aan die einde van die 13de eeu het 'n verandering in die Nederlandse letterkunde plaasgevind. Die Vlaamse en Nederlandse dorpe het begin floreer en 'n nuwe vorm van literêre uitdrukking het posgevat. Omstreeks 1440 is Rederijkerkamers, of in Afrikaans, Kamers van Retoriek, opgerig wat gewoonlik die middelklasse bedien het. Die vroegste van hierdie kamers van retoriek was betrokke by die uitvoering van misterieëspele. Anna Bijns (omstreeks 1494–1575) is 'n belangrike figuur wat in moderne Nederlands geskryf het. Die Hervorming het in 1540 neerslag gevind in die Nederlandse letterkunde by wyse van 'n bundel vertalings van die Psalms, en in 'n Nuwe Testamentiese vertaling in Nederlands uit 1566. Die mees bekende Nederlandse skrywer is die Katolieke dramaturg en digter, Joost van den Vondel (1587–1679).
Gedurende die laat 18de en vroeë 19de eeu het die Lae Lande deur groot politieke omwentelinge gegaan. Die prominentste skrywers was Willem Bilderdijk (1756–1831), Hiëronymus van Alphen (1746–1803), en Rhijnvis Feith (1753–1824). Piet Paaltjens (skuilnaam van François Haverschmidt, 1835–1894) verteenwoordig in Nederlands die Romantiese aar, wat deur skrywers soos Heine geïllustreer word. 'n Nuwe beweging genaamd die Tagtigers (die Beweging van 1880) is vernoem na die dekade waarin dit ontstaan het. Een van die belangrikste geskiedkundige skrywers van die 20ste eeu was Johan Huizinga, wat in die buiteland bekend was en in verskillende tale vertaalwerk gedoen het. Gedurende die 1920's het 'n nuwe groep skrywers ontstaan wat hulle van die sierlike styl van die Tagtigers gedistansieer het, onder leiding van Nescio (J.H.F. Grönloh, 1882–1961). Van die mees invloedrykste skrywers van die oorlogsjare was Anne Frank (wie se dagboek postuum gepubliseer is) en die misdaadfiksieskrywer, joernalis en digter Jan Campert. Skrywers wat deur die gruweldade van die Tweede Wêreldoorlog geleef het, het in hul werke die veranderde persepsie van die werklikheid voor die gees gehaal. Uiteraard het baie teruggekyk op hul ervarings, soos Anne Frank in haar dagboek gedoen het; dit was ook die geval met Het bittere kruid van Marga Minco, en Kinderjaren van Jona Oberski. Diè vernuwing, wat in die literatuurgeskiedenis as "ontluisterend realisme" beskryf sou word, word hoofsaaklik met drie skrywers geassosieer: Gerard Reve, W.F. Hermans en Anna Blaman. Reve en Hermans word dikwels saam met Harry Mulisch as die "Groot Drie" van die Nederlandse naoorlogse letterkunde aangehaal.
Oudnederfrankies (500–1150) Omstreeks 500 n.C. het Oudnederlands, 'n Wes-Germaanse taal wat deur die Franke, en in 'n mindere mate deur mense wat in die streke wat deur die Franke verower gepraat is, uit Oudfrankies ontwikkel. Tot aan die einde van die 11de eeu was die Nederlandse literatuur, soos in die res van Europa, byna geheel en al van mondelinge aard, en in die vorm van poësie, aangesien dit die troebadoere gehelp het om hul tekste te onthou en voor te dra. Wetenskaplike en religieuse tekste is in Latyn geskryf, en as gevolg hiervan was die meeste tekste wat in die Lae Lande geskryf is in Latyn, eerder as Oudnederlands. Bestaande Nederlandse tekste uit hierdie tydperk is skaars.
In die vroegste stadia van die Nederlandse taal was 'n aansienlike mate van wedersydse verstaanbaarheid moontlik met ander Wes-Germaanse dialekte, en sommige fragmente en skrywers kan opgeëis word deur beide die Nederlandse en Duitse literature. Voorbeelde hiervan sluit die 10de eeuse Wachtendonckse Psalms, 'n Nederfrankiese vertaling van sommige van die Psalms – op die drempel van wat beskou kan word as Nederlands – asook die 12de eeuse digter Hendrik van Veldeke (1150 – na 1184) in.
Die Leiden Willeram Leiden Willeram is die naam van 'n manuskrip wat 'n Nederfrankiese weergawe van die Oudhoogduitse kommentaar op die Hooglied van Salomo deur die Duitse ab Williram van Ebersberg bevat. (uiteindelik deur Isidorus van Seville). Tot onlangs, gebaseer op die ortografie en fonologie daarvan, is die teks van die manuskrip deur die meeste navorsers beskou as Oudhoogduits, deurspek met 'n paar Limburgiese of andersins Frankiese woorde daarby. In 1974 het die Duitse filoloog Willy Sanders egter in sy studie getiteld Der Leidener Willeram bewys dat die teks eintlik 'n onvolmaakte poging deur 'n skriba uit die noordwestelike kusgebied van die Lae Lande verteenwoordig om die oorspronklike Oosfrankiese teks te vertaal in die plaaslike volkstaal. Die teks bevat baie Oudnederlandse woorde wat nie in Oudhoogduits bekend is nie, asook foutief-vertaalde woorde wat veroorsaak is deur die skriba se onbekendheid met sommige Oudhoogduitse woorde in die oorspronklike teks, en 'n verwarde ortografie wat sterk beïnvloed is deur die Oudhoogduitse oorspronklike. Die grafeem <z> word byvoorbeeld gebruik na aansluiting van die Hoogduitse tradisie waar dit die Germaanse t verteenwoordig wat na verskuif is. Sanders het ook bewys dat die manuskrip, tans in die Universiteitsbiblioteek van die Universiteit van Leiden, geskryf is aan die einde van die 11de eeu in die Abdy van Egmond in Noord-Holland, vanwaar die manuskrip se ander naam, Egmond Willeram.
Hebban olla vogala Die oudste bekende poësie is geskryf deur 'n Wes-Vlaamse monnik in 'n klooster in Rochester, Engeland omstreeks 1100: hebban olla vogala nestas hagunnan hinase hic enda thu wat unbidan we nu ("Al die voëls het neste begin, behalwe ek en jy – waarvoor wag ons nou? "). Volgens professor Luc de Grauwe kan die teks ewegoed Oudengels wees, en meer spesifiek Oudkenties, alhoewel daar nie konsensus is wat betref hierdie hipotese nie. Op daardie tydstip was Oudnederlands en Oudengels baie soortgelyk.
Die Rynlandse Rymbybel 'n Verdere belangrike bron vir Oudnederlands is die sogenaamde Rynlandse Rymbybel (Nederlands: Rijnlandse Rijmbijbel en Duits: Rheinische Reimbibel). Dit is 'n versvertaling van Bybelse historieë, wat bestaan uit 'n reeks fragmente, wat geskryf is in 'n gemengde dialek wat Nederduits, Oudnederlands en Hoogduits insluit.David A. Wells, The "Central Franconian Rhyming Bible" ("Mittelfränkische Reimbibel"): An early-twelfth-century German verse homiliary. Amsterdam: Rodopi, 2004 Dit is waarskynlik in die vroeë 12de eeu in Noordwes-Duitsland geskryf, moontlik in die Werden Abdy, naby Essen.
Middelnederlandse letterkunde (1150–1500)
In die 12de en 13de eeue het skrywers begin om ridderlike romanse en hagiografieë te skryf (d.i. verhale oor die lewens van die Heiliges) vir betalende adellikes. Vanaf die 13de eeu het literatuur meer didakties geword en 'n proto-nasionale karakter begin aanneem. Die primêre kliënte was nie meer die adellikes nie, maar die bourgeoisie. Die groeiende belang van die Suidelike Lae Lande het tot gevolg gehad dat die meeste van die werke in Brabants, Vlaams en Limburgs geskryf is.
In die eerste stadia van die Nederlandse letterkunde was poësie die dominante vorm. Hoflike- romanse en poësie was in beide die Lae Lande en die res van Europa gedurende die Middeleeue gewild. Die reeds gemelde van Veldeke was 'n minnesanger, en die eerste skrywer in Nederlands wat by name bekend geword het en epiese poësie en hagiografieë geskryf het. Die ridderlike romanse was ook 'n gewilde genre, met as protagonis dikwels Koning Arthur of Karel die Grote.
Aangesien die politiese en kulturele klem in die tyd op die suidelike provinsies geval het, is die meeste van die werke wat vanaf die Middeleeue oorgedra is in Nederfrankiese dialekte soos Limburgs, Vlaams en Brabants geskryf. Van Veldeke was die eerste bekende Nederlandse skrywer, en het liefdesgedigte en eposse (uitgebreide, poëtiese relase oor die avonture van 'n held of soortgelyke figuur) oftewel heldedigte geskryf.
Beatrijs van Nazareth (omstreeks 1200–1268) is die eerste bekende prosaskrywer in Nederlands. Sy is die outeur van "Van seven manieren van heiliger minnen". Die Brusselse Broeder Jan van Ruusbroec (1293/4–1381) het Beatrijs opgevolg deur prosa buite die ekonomiese en politiese sfere te neem en dit vir letterkundige doeleindes te gebruik. Hy het preke geskryf wat met mistieke gedagtes vervul is.
'n Aantal bestaande Nederlandse werke, en veral die hoflike romanse, is kopieë of uitbreidings van vroeëre Duitse of Franse pogings, maar daar bestaan ook voorbeelde van werklike oorspronklikheid (soos die anoniem-geskrewe "Karel ende Elegast") en Nederlandse werke wat die basis gevorm het vir weergawes in ander tale (soos die toneelstuk "Elckerlijc" wat die basis is vir die 15de eeuse Engelse stuk, "Everyman"). 'n Verdere gewilde genre in die Middeleeue was die fabel. Die mees uitgebreide fabel wat deur die Nederlandse letterkunde geproduseer is, is 'n verwerking van die Reinard die Vos-verhaal, wat omstreeks 1250 deur 'n persoon wat slegs geïdentifiseer kan word as Willem, geskryf is.