thumb|200px|Die eerste dag van die Skepping, deur Jean Colombe uit die Heures de Louis de Laval.
Die Genesis-skeppingsverhaal is die skeppingsmiteDie term "mite" word hier in sy akademiese betekenis gebruik, dus 'n tradisionele storie wat bestaan uit gebeure wat skynbaar histories, hoewel dikwels bonatuurlik, is en die oorsprong van 'n kulturele praktyk of natuurlike verskynsel verduidelik." Dit word nie gebruik vir "iets wat vals is" nie. van beide die Judaïsme en Christendom. Die verhaal bestaan uit twee stories, wat rofweg ooreenstem met die eerste twee hoofstukke van Genesis. In die eerste storie skep Elohim (die Hebreeuse generiese woord vir God) die hemel en aarde in ses dae; daarna rus Hy en seën en heilig die sewende dag (dus die Bybelse Sabbat). In die tweede storie skep God (wat nou Jaweh genoem word), vir Adam, die eerste man, uit die stof en plaas hom in die tuin van Eden. Eva, die eerste vrou, word uit Adam se ribbebeen omgebou as 'n metgesel.
Die Hebreeuse skeppingsverhaal het temas geleen uit die Mesopotamiese mitologie, maar het dit aangepas by hulle unieke geloof in een God. Die eerste uitgebreide konsep van die Pentateug (die reeks van vyf boeke van Genesis tot Deuteronomium) is vermoedelik in die laat 7de of die 6de eeu v.C. opgestel (die Jahwistiese bron) en is later uitgebrei deur ander skrywers (die priesterlike bron) tot 'n werk wat baie ooreenstem met die Genesis wat ons vandag ken. Die twee bronne kan onderskei word in die skeppingsverhaal. Die gekombineerde verhaal is 'n kritiek op die Mesopotamiese skeppingsteologie: Genesis bevestig monoteïsme en ontken politeïsme. Robert Alter beskryf die gekombineerde verhaal "boeiend in sy argetipiese hoedanigheid, sy aanpassing van mite vir monoteïstiese doeleindes".
Geleerdes verwys dikwels na Genesis as 'n mite, want al het die skrywer van Genesis 1-11 sy verhaal "gedemitologiseer" deur die verwydering van die Babiloniese mites en die elemente wat nie in sy eie geloof gepas het nie, bly dit 'n mite in die sin dat dit 'n storie van oorsprong is.
Samestelling thumb|180px|links|'n Wigskriftablet met die Atra-Hasis-verhaal in die Britse Museum.
Bronne Hoewel Genesis volgens tradisie aan Moses toegeskryf word, glo Bybelse geleerdes dat dit saam met die volgende vier boeke (wat die Jode die Tora en Bybelse geleerdes die Pentateug noem) 'n "saamgestelde werk is, die produk van baie hande en tydperke". 'n Algemene hipotese onder Bybelse geleerdess vandag is dat die eerste groot konsep van die Pentateug in die laat 7de of die 6de eeu v.C. (die Jahwistiese bron) saamgestel is en dat dit later uitgebrei is met die byvoeging van verskeie verhale en wette (die priesterlike bron) tot 'n werk baie soos die een wat ons vandag ken.
Wat die historiese agtergrond betref wat tot die skepping van die verhaal gelei het, is 'n teorie wat al hoe meer belangstelling lok, hoewel dit steeds omstrede is, die een van "Persiese keiserlike magtiging". Daarvolgens het die Perse, ná hulle oorwinning van Babilon in 538 v.C., ooreengestem om 'n groot mate van outonimiteit in die ryk aan Jerusalem toe te ken, maar in ruil daarvoor moes die plaaslike owerhede met 'n enkele regskode vorendag kom wat deur die hele gemeenskap aanvaar word. Daar word verder voorgestel dat daar twee magtige groepe in die gemeenskap was – die priesterlik families wat die Tempel beheer het en die grondbesittende families wat die "ouderlinge" uitgemaak het – en dat dié twee groepe oor baie sake verskil het.
Elk het sy eie "geskiedenis van oorsprong" gehad, maar die Persiese belofte van groter plaaslike outonimiteit vir almal was 'n sterk aansporing om saam te werk en 'n enkele teks te skep.
Struktuur Die skeppingsverhaal bestaan uit twee stories, wat rofweg ooreenstem met die eerste twee hoofstukke van Genesis (daar is geen verdeling van die hoofstukke in die oorspronklike Hebreeuse teks nie). Die eerste deel (Genesis 1:1-2:3) gebruik 'n herhalende struktuur van Goddelike beslissing en verwesentliking, gevolg deur die stelling "Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die [xde] dag" vir elk van die ses dae van die skepping. In elk van die eerste drie dae was daar 'n handeling van verdeling: Dag een skei die lig en die donker, dag twee die "waters onder die gewelf" van die "waters bo die gewelf" en dag drie "die waters onder die hemel" van die "droë grond". In elk van die volgende drie dae word hierdie verdelings gevul: Op dag vier is die lig en donkerte gevul met die son, maan en sterre; op dag vyf is die waters en grond gevul met seediere en voëls, en eindelik op dag ses is die mak diere, diere wat kruip, wilde diere en mens gemaak.
Eenvormigheid is duidelik nie in die letterkunde van die Nabye Ooste as 'n noodsaaklikheid van storievertelling beskou nie. "Een aspek van die verhaal in Genesis wat spesiale aandag verg, is die baie weergawes van dieselfde voorval, 'n bekende eienskap van die Nabye Oosterse letterkunde ... Dit sou nie kon gebeur as die bestaan van variasies beskou is as 'n ernstige defek of as rigiede eenvormigheid as noodsaaklik beskou is nie." Die oorvleuelende stories van Genesis 1 en 2 is teenstrydig, maar ook aanvullend, met die eerste (die priesterlike storie) wat gaan oor die skepping van die hele kosmos terwyl die tweede een (die Jahwistiese storie) fokus op die mens as die merele agent en verbouer van sy omgewing. Die hoogs geordende sewedaevertelling van Genesis 1 verleen prominensie aan 'n almagtige God wat 'n mens soos God skep, terwyl die eendagvertelling van Genesis 2 'n eenvoudige lineêre vertelling gebruik, 'n God wat kan misluk sowel as slaag, en 'n mens wat nie soos God is nie, maar gestraf word omdat hy probeer om soos God te word. Selfs die volgorde en metode van die skepping verskil.
Die primêre vertellings in elke hoofstuk word verenig deur 'n letterkundige brug in Genesis 2:4: "Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is." Dit eggo die eerste reël van Genesis 1: "In die begin het God die hemel en die aarde geskep", maar word omgeruil in die volgende frase van Genesis 2:4: "Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het". Dié vers is een van die "generasies"-frases wat deur die hele Genesis gebruik word en wat 'n letterkundige struktuur aan die boek verskaf. Hulle dien gewoonlik as opskrifte vir wat daarna gebeur, maar die posisie van dié een, die eerste in die reeks, word baie oor gedebatteer.
Mesopotamiese invloed Die vergelyking van mitologieë verskaf historiese en kruiskulturele perspektiewe op die Joodse mitologie. Albei bronne van die Genesis-skeppingsverhaal het temas van die Mesopotamiese mitologie geleen, maar dit aangepas by hulle geloof in een God. So is 'n monoteïstiese verhaal geskep in teenstelling met die politeïstiese skeppingsmite van antieke Israel se bure.
thumb|220px|Mardoek, die god van Babilon, vernietig Tiamat, die draak van die oerchaos. Genesis 1-11 is vol Mesopotamiese mites. Genesis 1 het beide treffende verskille van en treffende ooreenkomste met Babilon se skeppingsmite, die Enoema Elisj. Wat ooreenkomste betref, begin albei met 'n fase van chaotiese waters voordat iets geskep is. In albei is daar 'n gewelf wat dié water van die bewoonbare aarde skei, en albei eindig met die skepping van 'n wese wat "mens" genoem word en die bou van 'n tempel vir die god (in Genesis 1 is dié tempel die hele kosmos).
Wat teenstellings betref, is Genesis 1 monoteïsties; dit wend geen poging aan om die oorsprong van God te verduidelik nie en daar is geen teken van weerstand teen die omskepping van chaos in orde (letterlik "godestryd") nie, wat alles in die Mesopotamiese skeppingsweergawes voorkom. Tog toon Genesis 1 ooreenkomste met die Baälsiklus van Israel se buurman Oegarit.
Die Enoema Elisj het ook 'n invloed op Genesis 2 gehad. Albei begin met 'n reeks stellings oor wat nie bestaan het voor die oomblik waarop die skepping begin het nie; die Enoema Elisj noem 'n fontein (in die see) as die punt toe die skepping begin het, teenoor die fontein (op die land – Genesis 2 is bekend as 'n "droë" skeppingsverhaal) in Genesis 2:6: "Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak"; in albei mites het Jahweh / die gode 'n mens geskep om Hom/hulle te dien en toe die diere en plante. Terselfdertyd het die Joodse weergawe, nes met Genesis 1, sy Babiloniese model drasties verander: Dit lyk of Eva die rol vul van 'n moedergodin, terwyl sy in Genesis 4:1 sê sy "het 'n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here”, maar sy is nie 'n goddelike wese soos haar Babiloniese eweknie nie.
Genesis 2 het ook groot parallelle met nog 'n Mesopotamiese mite, die Atra-Hasis – daar is in der waarheid parallelle wat deur die hele Genesis 2-11 strek, van die Skepping tot met die Sondvloed en sy gevolge. Die twee verhale deel baie besonderhede (voorbeelde is die goddelike tuin en die rol van die eerste man in die tuin, die skepping van die eerste man uit 'n mengsel van die aarde en 'n goddelike bestanddeel, die kans op onsterflikheid, ensovoorts) en het 'n soortgelyke algehele tema: die geleidelike verduideliking van die man se verhouding met die God/gode en die diere.
Skepping deur woord en deur stryd Die verhale in Genesis 1 en 2 was nie die enigste skeppingsmites in antieke Israel nie, en die volledige Bybelse bewyse dui op twee teenstellende modelle. Die eerste is die "logos"- of praatmodel, waarin 'n oppergod rustende materie in bestaan "praat". Die tweede een is die "agon"- of strydmodel, waarin dit God se oorwinning oor die monsters van die see is wat sy soewereiniteit en mag teweegbring. Genesis 1 is 'n voorbeeld van 'n skepping deur praat, terwyl Psalm 74 en Jesaja 51 voorbeelde is van die "stryd"-mitologie, wat herinner aan 'n Kanaänitiese mite waarin God die wêreld skep deur die watergode te verslaan: "Gryp in, Here, gryp in! ... Is dit dan nie U wat vir Rahab verslaan het nie, wat die seemonster deurboor het nie? Is dit nie U wat die see, die groot diep waters laat opdroog het nie, U wat op die seebodem 'n pad gemaak het sodat dié wat verlos is, kon deurgaan nie?" (Jesaja 51:9-10)
Eerste verhaal: Genesis 1:1-2:3 thumb|200px|The Ancient of Days deur William Blake (Kopie D, 1794).
Agtergrond Die kosmos wat in Genesis 1 geskep word, toon 'n treffende ooreenkoms met die tabernakel in Eksodus 35-40 van die Hebreeuse Bybel, wat die prototipe van die Tempel in Jerusalem en die fokus van die priesterlike aanbidding van Jahweh was; om dié rede en omdat ander Midde-Oosterse skeppingsverhale ook 'n hoogtepunt bereik met die bou van 'n tempel/huis vir die skeppergod, kan Genesis 1 vertolk word as 'n beskrywing van die konstruksie van die kosmos as God se huis, waarvoor die Tempel in Jerusalem gedien het as die aardse verteenwoordiging.
Die woord bara word in die Afrikaanse Bybel vertaal as "vorm", maar die begrip is nie dieselfde as in die moderne term nie: In die wêreld van die antieke Nabye Ooste het die gode hulle mag oor die wêreld gedemonstreer nie deur materie te vorm nie, maar deur lotsbeslissings, sodat die essensie van die bara wat God in Genesis verrig, gaan oor die feit dat Hy die "hemel en aarde" (wat beteken "alles") laat ontstaan het deur die organisering en toekenning van rolle en funksies.
Syfers in antieke tye is dikwels gebruik vanweë simboliese waarde vir die skrywer. Die getal 7, wat dui op goddelike vervollediging, is volop in Genesis 1: Vers 1 bestaan in die Hebreeuse Bybel uit 7 woorde, en vers 2 uit 14. Genesis 2:1-3 het 35 (5×7) woorde. Elohim word 35 keer genoem; "hemel", "gewelf" en "aarde" 21 keer elk; en die frases "so het dit gebeur" en "God het gesien dit is goed" 7 keer elk.
Voor die Skepping: Genesis 1:1-2
Hoewel die openingsfrases van Genesis 1 in die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel soos hier bo vertaal word, is die Hebreeus meersinnig en kan dit op drie maniere vertaal word: as 'n stelling dat die kosmos 'n absolute begin het ("In die begin het God die hemel en die aarde geskep");