Robert Franklin Stroud (28 Januarie 1890 - 21 November 1963), bekend as die "Birdman of Alcatraz", was 'n veroordeelde moordenaar, Amerikaanse federale gevangene en skrywer wat een van die berugste misdadigers in die VSA genoem is. Tydens sy tyd in die Leavenworth-gevangenis het hy voëls grootgemaak en verkoop en het hy 'n gerespekteerde ornitoloog geword. Hy was van 1942 tot 1959 'n gevangene in die Alcatraz-gevangenis, waar hy weens die regulasies nie voëls kon aanhou nie. Stroud is nooit vrygelaat nie; hy was van 1909 in die tronk tot met sy dood in 1963.

Stroud is in Seattle, Washington, gebore en het van sy alkoholis-pa weggeloop toe hy 13 jaar oud was. Teen die tyd dat hy 18 was, was hy 'n koppelaar in Alaska. In Januarie 1909 het hy 'n kroegman gedood wat sy minnares aangeval het, en hy is tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Stroud het 'n reputasie as 'n gevaarlike gevangene gekry wat voortdurend met ander gevangenes en tronkpersoneel slaags was. In 1916 het hy 'n bewaarder doodgesteek. Hy is aan moord skuldig bevind en ter dood veroordeel, maar ná verskeie verhore is sy vonnis tot lewenslange tronkstraf in eensame opsluiting versag.

In 1920, terwyl hy in die Leavenworth-gevangenis was, het Stroud 'n nes met drie klein mossies op die tronkwerf ontdek. Hy het hulle grootgemaak en binne 'n paar jaar sowat 300 kanaries bymekaargemaak. Hy het voëls begin bestudeer en twee boeke oor voëlsiektes geskryf. Hy het 'n belangrike bydrae tot voëlsiektes gelewer en respek onder ornitoloë en boere verdien. Stroud het 'n suksesvolle besigheid uit sy tronksel bedryf, maar dit het personeellede woedend gemaak. Hy is in 1942 na Alcatraz oorgeplaas nadat ontdek is hy maak in die geheim alkohol met die toerusting in sy sel.

Stroud het op 19 Desember 1942 'n termyn van 17 jaar in Alcatraz begin. In 1943 is hy tot 'n psigopaat verklaar. Sonder sy voëls het hy 'n geskiedenis van die tronkstelsel geskryf. In 1959 is hy na die mediese sentrum vir federale gevangenes in Springfield, Missouri, oorgeplaas waar hy gebly het tot met sy dood in November 1963.

Vroeë lewe en arres Stroud is in Seattle gebore as die oudste kind van Benjamin Franklin Stroud en Elizabeth Jane (gebore McCartney). Sy ma het twee dogters uit 'n vorige huwelik gehad. Sy pa was 'n alkoholis wat sy gesin mishandel het en Stroud het op 13-jarige ouderdom van die huis weggeloop.

Teen sy 18de jaar was Stroud in Cordova, Alaska, waar hy die 36-jarige Kitty O'Brien ontmoet het. Sy was 'n prostituut en dansvermaakster vir wie hy as koppelaar opgetree het. Op 18 Januarie 1909, terwyl hy by die werk was, het 'n kennis, die kroegman F.K. "Charlie" von Dahmer, na bewering nagelaat om O'Brien vir haar dienste te betaal. hy het haar geslaan en 'n hangertjie van haar nek afgeruk wat 'n foto van haar dogter bevat het. Stroud het Von Dahmer gekonfronteer, en 'n bakleiery het ontstaan waarin laasgenoemde doodgeskiet is. Stroud is na die polisiekantoor en het homself oorgegee. Volgens polisieverslae het Stroud Von Dahmer bewusteloos geslaan en hom toe van naby geskiet.

Stroud is op 23 Augustus 1909 aan manslag skuldig bevind en tot 12 jaar tronkstraf gevonnis in die federale gevangenes op McNeil Island, Washington, omdat Alaska toe 'n Amerikaanse gebied was sonder sy eie regterlike gesag.

Tronklewe Stroud was bekend as gevangene #1853.Larsen, Lawrence H. (1991). "The Last Days of Robert F. Stroud The Birdman of Alcatraz". Prologue: The Journal of the National Archives, Volume 23. Washington, D.C.: National Archives and Records Service, General Services Administration. p. 160. . Hy was een van die gewelddadigste gevangenes op McNeil Island en het dikwels met medegevangenes en personeel baklei. Hy het ook aan verskeie fisieke kwale gely. Hy het na bewering 'n medegevangene gesteek wat hom gerapporteer het omdat hy kos uit die kombuis gesteel het. Hy het ook 'n hospitaalordonnans aangerand omdat hy hom gerapporteer het omdat hy probeer het om morfien deur dreigemente en intimidasie te bekom. Hy het na berig word ook 'n ander gevangene gesteek wat betrokke was in die poging om met die middel te smokkel.

thumb|220px|links|Stroud #8154, omstreeks 1912. Op 5 September 1912 is Stroud gevonnis tot nog ses maande vir die aanvalle, en hy is van McNeil Island na die Leavenworth-gevangenis in Kansas gestuur. Op 26 Maart 1916 is Stroud betig deur die kafeteriawag Andrew F. Turner vir 'n klein oortreding wat sou veroorsaak dat Stroud nie besoek van sy jonger broer, wat hy agt jaar tevore laas gesien het, sou kon ontvang nie. Hy het Turner met 'n tuisgemaakte mes doodgesteek.

Stroud is skuldig bevind aan moord en ter dood aan die galg veroordeel, maar die vonnis is deur die appèlhof tersyde gestel. In 'n tweede verhoor op 28 Mei 1917 is hy tot lewenslange tronkstraf gevonnis, maar die prokureur-generaal John W. Davis het vrywillig 'n "fout erken" omdat hy wou hê Stroud moet die doodstraf kry.

Stroud is in Mei 1918 die derde keer verhoor en op 28 Junie is hy weer ter dood aan die galg veroordeel.

Stroud se ma het 'n appèl aan president Woodrow Wilson gerig, en die teregstelling is agt dae voor die tyd, op 15 April 1920, stopgesit. Stroud se vonnis is versag tot lewenslange gevangenisstraf. Leavenworth se hoofbewaarder, T.W. Morgan, was sterk teen die besluit gekant weens Stroud se reputasie vir geweld. Hy het die president oortuig om aan te dui dat, aangesien Stroud aanvanklik gevonnis is om in eensame opsluiting op sy teregstelling te wag, dié toestand gehandhaaf moet word totdat die teregestelling uitgevoer kan word. President Wilson se minister van justisie, Alexander Mitchell Palmer, het toegesien dat Stroud vir die res van sy lewe in eensame opsluiting sou deurbring.

Die Birdman van Leavenworth thumb|220px|Stroud #17431, omstreeks die 1920's.

Terwyl hy in 1920 in Leavenworth was, het Stroud 'n nes met drie beseerde mossies op die tronkwerf ontdek, en hy het hulle grootgemaak. Gevangenes is soms toegelaat om kanaries te koop en Stroud het begin om voëls tot sy versameling te voeg. Hy het voëls grootgemaak en hulle versorg. Hy hon hulle dan verkoop om voorraad te koop en sy ma te help onderhou. Volgens Stroud het hy 'n "skeermeslemmetjie en spykers as gereedskap" gebruik en sy eerste voëlhok uit houtkratte te maak.

Kort daarna het Leavenworth se administrasie verander en William Biddle het as tronkhoof oorgeneem. Hy was beïndruk met die moontlikheid om Leavenworth as 'n progressiewe rehabilitasiegevangenis voor te hou en het Stroud toegerus met hokke, chemikalieë en skryfbehoeftes sodat hy sy ornitologiese studies kon voortsit. Stroud se voëlversameling is aan besoekers gewys en baie het sy kanaries gekoop.

Deur die jare het Stroud byna 300 kanaries in sy selle grootgemaak. Hy het ook twee boeke geskryf: Diseases of Canaries (1933), wat uit Leavenworth gesmokkel is, en 'n latere weergawe, Stroud's Digest on the Diseases of Birds (1943), met bygewerkte, spesifieke inligting. Hy het verskeie belangrike bydraes gemaak tot voëlpatologie, veral 'n kuur vir die hemorragiese bloedvergiftigingsfamilie van siektes. Hy het respek en 'n sekere vlak van simpatie op die gebied van voëls verkry.

Stroud se bedrywighede het probleme vir die tronkbestuur veroorsaak. Volgens die regulasies moes elke brief wat in die tronk gestuur of ontvang is, gelees, gekopieer en goedgekeur word. Stroud was so betrokke in sy besigheid dat hy alleen 'n voltydse sekretaris genoodsaak het. Daarby is die voëls toegelaat om vry in sy sel rond te vlieg, en weens die groot getal voëls wat hy aangehou het, was sy sel vuil.

thumb|180px|Stroud, #17431, omstreeks laat 1930's. In 1931 is probeer om Stroud te dwing om sy besigheid te staak en van die voëls ontslae te raak, maar hy en een van sy korrespondente, 'n voëlnavorser van Indiana met die naam Della Mae Jones, het dit in die wiele gery deur sy storie aan koerante en tydskrifte bekend te maak. 'n Enorme briefveldtog en 'n petisie met 50 000 handtekeninge is aan president Herbert Hoover gestuur en dit het daartoe gelei dat Stroud toegelaat is om sy voëls te hou. Ondanks die oorvol tronk het hy selfs 'n tweede sel gekry om hulle te huisves. Sy voorreg om briewe te skryf is egter grootliks ingeperk. Jones en Stroud het so bevriend geraak dat sy in 1931 na Kansas verhuis en 'n besigheid saam met hom begin het deur sy voëlmedisynes te verkoop.

Tronkbeamptes, wat moeg was van sy bedrywighede en die publisiteit daaromheen, het hulle pogings vergroot om hom uit Leavenworth te kry. Stroud het uitgevind van 'n wet in Kansas wat die oorplasing van gevangenes verbied wat in Kansas getrou het. Hy het met die handskoen met Jones getrou, wat die tronkadministrateurs woedend gemaak het en hy is nie toegelaat om met sy vrou te korrespondeer nie.

Stroud se ma was ook woedensd oor die troue, want sy het geglo vroue sou net probleme vir haar seun veroorsaak. Sy het nou beswaar aangeteken teen sy paroolaansoek en het 'n groot struikelblok geword in sy pogings om vrygelaat te word. Sy het van Leavenworth weggetrek en enige verdere kontak met hom geweier. Sy is in 1937 dood.

In 1933 het Stroud in 'n publikasie geadverteer dat hy geen tantième ontvang het vir die verkope van Diseases of Canaries nie. Uit weerwraak het die uitgewer by die tronkhoof gekla en as gevolg daarvan is stappe begin om Stroud na Alcatraz oor te plaas, waar hy nie toegelaat sou word om voëls aan te hou nie. Op die ou einde is Stroud toegelaat om beide sy voëls en kanariebesigheid by Leavenworth te hou.

Stroud het 'n paar jaar lank moeilikheid vermy, totdat dit bekend geword het dat van die toerusting wat Stroud vir sy laboratorium aangevra het, gebruik word om alkohol te vervaardig. Beamptes het eindelik 'n verskoning gekry om van hom ontslae te raak. Hulle het sy "gevaarlike neigings" en langdurige kommer oor die sanitêre toestande in sy sel gebruik om hom na Alcatraz te stuur.

Alcatraz

thumb|180px|Stroud se sel in Alcatraz.

Op 16 Desember 1942 is Stroud na Alcatraz oorgeplaas en het hy gevangene #594 geword. Hy is na berig word net 10 minute voordat hy moes vertrek daaroor ingelig. Sy voëls en toerusting is na sy broer gestuur, want Alcatraz se streng regulasies het die aanhou van voëls verbied. Hy het ses jaar in eensame opsluiting deurgebring en nog 11 jaar in die tronk se hospitaalvleuel.

In 1943 is Stroud ondersoek deur die psigiater Romney M. Ritchey, wat hom gediagnoseer het as 'n psigopaat met 'n IK van 112 (volgens die aanvanklike verslag in 1942 wat op sy tyd in Leavenworth gebaseer is, het hy 'n IK van 116 gehad). Terwyl hy in Alcatraz was, het hy twee manuskripte geskryf: Bobbie, 'n outobiografie, en Looking Outward: A History of the U.S. Prison System from Colonial Times to the Formation of the Bureau of Prisons. 'n Regter het bepaal dat Stroud die reg het om te skryf, maar het die tronkhoof se besluit bekragtig om die publikasie daarvan te verbied. Ná Stroud se dood is die manuskripte aan sy advokaat, Richard English, gegee.

By Alcatraz was daar gerugte oor Stroud se homoseksualiteit. Volgens Donald Hurley, wie se pa 'n bewaarder was, "is Stroud fyn dpgehou wanneer hy naby ander was, wat selde was, omdat tronkamptenare baie bewus was van sy openlike homoseksuele neigings". In 'n onderhoud met Hurley vir sy boek het 'n voormalige gevangene gesê hy het gehoor "Stroud was altyd in eensame opsluiting of later in die hospitaal omdat hy 'n 'wolf' (aggressiewe homoseksueel) met 'n slegte humeur was".

In Februarie 1963 het Stroud die akteur Burt Lancaster, wat hom in The Birdman of Alcatraz uitgebeeld het, ontmoet en met hom gesels. Stroud het nooit die rolprent gesien of die boek gelees waarop dit geskoei was nie, maar het gesê een van die probleme wat sy parool verhinder het, was dat hy 'n "selferkende homoseksueel" is. Lancaster het Stroud aangehaal toe hy sê: "Kom ons sien die feite voor oë: Ek is 73 jaar oud. Beantwoord dit jou vraag oor of ek 'n gevaarlike homoseksueel sou wees?"