duimnael|regs|Die Intrepid in the Suid-Chinese See op 17 Oktober 1968 Die USS Intrepid (CV/CVA/CVS-11), ook bekend as The Fighting "I", is een van 24 Essex-klas vliegdekskepe wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog vir die Amerikaanse Vloot gebou is. Dit is die vierde skip van die Amerikaanse Vloot wat die naam gedra het. Die Intrepid is in Augustus 1943 in diens gestel en het daarna aan verskeie offensiewe in die Stille Oseaangebied deelgeneem, insluitend die Slag van Leytegolf.
Die Intrepid is uit diens onttrek kort nadat die oorlog beëindig is, dit is gemoderniseer en weer in diens gestel in die vroeë 1950's as 'n aanvalsvliegdekskip (CVA) en is later as 'n teenduikbootvliegdekskip (CVS) geklassifiseer. Tydens sy tweede loopbaan het die skip hoofsaaklik in die Atlantiese Oseaan diens gedoen maar het ook aan die Viëtnamoorlog deelgeneem.
Die Intrepid was die herwinningskip vir 'n Mercury- en 'n Gemini-ruimtetuig. As gevolg van die prominente rol wat die skip tydens die oorlog gespeel het, het dit die bynaam "the Fighting I", gekry. Na 'n reeks insidente (die skip is eenkeer deur 'n torpedo en vier keer deur kamikaze-vlieëniers getref) en baie tyd gespandeer in die droogdok vir herstelwerk, is daar na die skip verwys as "Decrepit" en "the Dry I".
Die Intrepid is vir die tweede keer in 1974 uit diens onttrek, en het in 1982 deel van die Intrepid Sea, Air & Space Museum in New York geword.
Kategorie:Skepe betrokke in Tweede Wêreldoorlog Kategorie:Amerikaanse vliegdekskepe