thumb|220px|Die Berlynse spesimen van Archaeopteryx lithographica.
Die wetenskaplike vraag van uit watter groter groep diere voëls ontwikkel het, word tradisioneel die "oorsprong van voëls" genoem. Die huidige wetenskaplike konsensus is dat voëls 'n groep maniroptoriese teropode-dinosourusse is wat in die Mesosoïese Era ontstaan het.
'n Nou verwantskap tussen dinosourusse en voëls is in die 19de eeu die eerste keer voorgestel ná die ontdekking van die primitiewe voël Archaeopteryx in Duitsland. Voëls en uitgestorwe nievlieënde dinosourusse het baie unieke eienskappe van hul skelette in gemeen. Daarbenewens is die fossiele van meer as 30 spesies nievlieënde dinosourusse ontdek met vere wat bewaar gebly het. Daar is selfs baie klein dinosourusse, soos Microraptor en Anchiornis, met lang vere aan die bene en arms wat vlerke vorm. Fossielbewyse het ook getoon voëls en dinosourusse het ooreenstemmende eienskappe soos hol bene met lugruimtes, gastroliete in die spysverteringstelsel en nesbou- en broeigedrag.
Hoewel die oorsprong van voëls histories 'n omstrede onderwerp in evolusionêre biologie is, bevraagteken min wetenskaplikes deesdae die feit dat voëls van dinosourusse afkomstig is; hulle stel ander vorme van afkoms voor, soos uit reptiele van die klade Archosauria. Al word aangeneem voëls stam van dinosourusse af, word die presiese reeks evolusionêre gebeure wat aanleiding tot die ontstaan van vroeë voëls in die groep maniroptoriese teropodes gegee het, steeds betwis. Die oorsprong van vlieg in voëls is 'n aparte, maar verwante vraag waarvoor daar ook 'n paar voorgestelde antwoorde is.
Navorsingsgeskiedenis Huxley en vroeë navorsing thumb|160px|Thomas Henry Huxley (1825-1895).
Wetenskaplike navorsing na die oorsprong van voëls het begin kort ná die publikasie in 1859 van Charles Darwin se On the Origin of Species. In 1860 is 'n fossiele veer ontdek in Duitse kalksteen uit die laat Jura. Die Duitse paleontoloog Christian von Meyer het die veer die volgende jaar as Archaeopteryx lithographica beskryf. Die Brit Richard Owen het in 1863 'n feitlik volledige skelet beskryf en dit herken as 'n voël, ondanks baie eienskappe wat aan 'n reptiel herinner, insluitende voorpote met kloue en 'n lang, benerige stert.
Die bioloog Thomas Henry Huxley, wat 'n geesdriftige ondersteuner was van Darwin se nuwe teorie van evolusie deur middel van natuurlike seleksie, het feitlik dadelik beweer Archaeopteryx is 'n oorgangsfossiel tussen voëls en reptiele. Van 1868 af, ná vroeë voorstelle deur Karl Gegenbaur en Edward Drinker Cope,skakel het Huxley gedetailleerde vergelykings getref tussen Archaeopteryx en verskeie prehistoriese fossiele. Hy het gevind dit is feitlik soortgelyk aan Hypsilophodon en Compsognathus.
Die ontdekking in die laat 1870's van die ikoniese "Berlynse spesimen" van Archaeopteryx, kompleet met 'n stel reptieltande, was verdere bewyse daarvan. Nes Cope het Huxley 'n evolusionêre verwantskap tussen voëls en dinosourusse voorgestel. Hoewel Huxley teenstand gekry het van die invloedryke Owen, is sy gevolgtrekkings deur baie bioloë aanvaar, terwyl ander gemeen het die ooreenkomste is vanweë samelopende evolusie.
Heilmann se hipotese 'n Keerpunt het in die vroeë 20ste eeu gekom met die skryfwerk van Gerhard Heilmann van Denemarke. Hy was 'n kunstenaar met 'n belangstellings in voëls. Van 1913 tot 1916 het hy die resultate gepubliseer van sy navorsing oor die anatomie, embriologie, gedrag, paleontologie en evolusie van voëls. Sy werk, wat aanvanklik in Deens gepubliseer is as Vor Nuvaerende Viden om Fuglenes Afstamning, is in 1926 in Engels gepubliseer as The Origin of Birds.
thumb|links|200px|Heilmann se hipotetiese illustrasie van twee vegtende "proavisse", 1916. Nes Huxley het Heilmann Archaeopteryx en ander voëls vergelyk met 'n lang lys prehistoriese reptiele, en ook tot die gevolgtrekking gekom die teropode-dinosourusse soos Compsognathus was die naaste daaraan. Heilmann het egter opgemerk dat voëls sleutelbene het wat saamgesmelt is om 'n been met die naam furcula (wens- of vurkbeentjie) te vorm. Terwyl sleutelbene bekend is in primitiewer reptiele, het hulle nog nie in dinosourusse voorgekom nie. Hy het geglo evolusie is nie "omkeerbaar" nie en kon nie aanvaar dat sleutelbene verlore gegaan het in dinosourusse en weer in voëls te voorskyn gekom het nie. Hy het dus noodgedwonge die idee uitgeskakel dat dinosourusse voëls se voorsate was en het alle ooreenkomste aan samelopende evolusie toegeskryf. Hy het beweer voëls se voorsate kan eerder gevind word in die "Thecodontia"-graad reptiele. Heilmann se uiters deurtastende benadering het daartoe gelei dat die boek 'n klassieke werk geword het. Die gevolgtrekkings oor die oorsprong van voëls is vir die volgende vier dekades deur feitlik alle evolusionêre bioloë aanvaar.
Sleutelbene is baie delikaat en kan dus vernietig of onherkenbaar beskadig word. Nogtans is 'n paar sleutelbeenfossiele van teropodes ontdek voordat Heilmann sy boek geskryf het, maar hulle is verkeerd geïdentifiseer.
Die gebrek aan sleutelbene in dinosourusse het die ortodokse siening geword, ondanks die ontdekking in 1936 van sleutelbene in die primitiewe teropode Segisaurus. Die volgende verslag oor sleutelbene in 'n dinosourus was in 1983 in 'n Russiese artikel.
Ongeag wat Heilmann geglo het, het paleontoloë nou aanvaar sleutelbene, en in die meeste gevalle furculae, is 'n standaardeienskap nie net in teropodes nie, maar alle souriskiatiese dinosourusse. Tot in laat 2007 is verbeende furculae (wat uit been eerder as kraakbeen bestaan) in alle soorte teropodes gevind behalwe die primitiefstes, Eoraptor en Herrerasaurus. Die oorspronklike verslag oor 'n furcula in die primitiewe teropode Segisaurus (1936) is bevestig ná 'n herondersoek in 2005.
Versmelte, furcula-agtige sleutelbene is ook ontdek in Massospondylus, 'n Sauropodomorpha uit die vroeë Jura.
Ostrom en die dino-renaissance thumb|200px|Die ooreenkoms tussen die arms van Deinonychus (links) en Archaeopteryx het John Ostrom aangespoor om die skakel tussen voëls en dinosourusse te laat herleef.
Die mening het teen die "Thecodontia"-hipotese begin draai ná die ontdekking in 1964 van 'n nuwe teropode-dinosourus in Montana. In 1969 het John Ostrom van die Yale-universiteit die dinosourus beskryf en Deinonychus gedoop. Die volgende jaar het Ostrom 'n spesimen van Pterodactylus in die Teyler-museum in Nederland herbeskryf as nog 'n skelet van Archaeopteryx. Die spesimen het hoofsaaklik bestaan uit 'n enkele vlerk, en die beskrywing daarvan het Ostrom bewus gemaak van die ooreenkoms tussen die gewrigte van Archaeopteryx en dié van Deinonychus.
In 1972 het die Britse paleontoloog Alick Walker gehipotetiseer dat voëls nie van "Thecodontia" afkomstig is nie, maar van krokodilvoorsate soos Sphenosuchus. Ostrom se werk met beide teropodes en vroeë voëls het hom in die middel 1970's 'n reeks publikasies die lig laat sien waarin hy die ooreenkomste tussen voëls en teropode-dinosourusse uitlig, en dit het die mening laat herleef wat meer as 'n eeu tevore die eerste keer deur Huxley gelug is. Ostrom se herkenning van dinosourusse as voëls se voorsate, asook ander nuwe idees oor die aktiwiteitsvlakke van dinosourusse se metabolisme en hulle ouersorg, het in die 1970's begin wat bekend geraak het as die dino-renaissance.
Ostrom se onthullings het saamgeval met die toenemende aanvaarding van filogeniese sistematika (kladistiek), wat in die 1960's begin het met die werk van Willi Hennig. Kladistiek is 'n presiese metode om spesies te rangskik geskoei op hulle evolusionêre verwantskappe.
In die 1980's het Jacques Gauthier en ander die eerste keer kladistieke metodologie op dinosourusfilogenie toegepas, en dit het onteenseglik gewys voëls stam van 'n groep teropode-dinosourusse af. Vroeë ontledings het aangetoon Dromaeosauridae-teropodes soos Deinonychus is veral nou verwant aan voëls, 'n resultaat wat sedertdien herhaaldelik bevestig is.
Geveerde dinosourusse in China thumb|links|220px|'n Fossiel van Sinosauropteryx prima.
In die vroeë 1990's is uitstekend bewaarde voëlfossiele in verskeie geologiese formasies uit die vroeë Kryt in die provinsie Liaoning in die noordooste van China ontdek. In 1996 het Chinese paleontoloë Sinosauropteryx beskryf as 'n nuwe genus voëls uit die Yixian-formasie, maar die dier is gou herken as 'n meer basale teropode-dinosourus wat nou verwant is aan Compsognathus. Sy liggaam was bedek met lang, filamentagtige strukture. Hulle is "protovere" gedoop en word as homoloë van die meer gevorderde vere van voëls beskou. Sommige wetenskaplikes stem egter nie saam met dié siening nie.
Kort daarna het Chinese en Noord-Amerikaanse wetenskaplikes Caudipteryx en Protarchaeopteryx beskryf. Geskoei op skeleteienskappe, was dié diere nievlieënde dinosourusse, maar hulle oorblyfsels het ten volle gevormde vere gehad wat baie soos voëls s'n lyk. "Archaeoraptor", wat sonder hersiening in 'n 1999-uitgawe van National Geographic beskryf is, het 'n gesmokkelde vervalsing blyk te wees, maar regte oorblyfsels stroom steeds uit die Yixian, beide wettig en onwettig.
Vere of "protovere" is gevind aan 'n groot verskeidenheid teropodes in die Yixian, en die ontdekking van uiters voëlagtige nievlieënde dinosourusse, sowel as nievlieënde, dinosourusagtige primitiewe voëls, het die morfologiese gaping tussen nievlieënde teropodes en voëls feitlik heeltemal uitgewis.
Filogenie thumb|319x319px|'n Vereenvoudigde filogenetiese stamboom wat die verwantskap wys tussen moderne voëls en dinosourusse.
Archaeopteryx word histories as die eerste voël, of Urvogel ("oervoël"), beskou. Hoewel fossiele wat meer onlangs ontdek is die gaping vul tussen teropodes en Archaeopteryx, en tussen Archaeopteryx en moderne voëls, gebruik filogenetiese taksonome tradisioneel altyd Archaeopteryx as 'n bepaler om Aves te help definieer. Aves word minder dikwels geïdentifiseer as 'n kroongroep wat net uit moderne voëls bestaan. Byna alle paleontoloë beskou voëls as selurosouriese teropode-dinosourusse. Binne die Selurosouriërs het verskeie kladistiese ontledings gedui op 'n moontlike klade met die naam Maniraptora, wat bestaan uit Therizinosauria, Oviraptorosauria, Troodontidae, Dromaeosauridae en voëls. Dromaeosauridae en Troodontidae kom gewoonlik saam voor in die klade Deinonychosauria, wat 'n sustersgroep van voëls is (en saam die niekladistiese Eumaniraptora vorm) binne die stamklade Paraves.
Ander studies stel alternatiewe evolusies voor waarin sekere groepe dinosourusse wat gewoonlik as nievlieënd beskou word, kon ontwikkel het uit vlieënde voorsate. In 'n ontleding in 2002 is byvoorbeeld bevind oviraptorosouriërs is basale voëls. Die genus Rahonavis, wat oorspronklik as 'n vroeë voël beskryf is, is in verskeie ander studies as 'n nievlieënde dromeosouride geïdentifiseer. Daar is al voorgestel dat Dromaeosauridae en Troodontidae self in Aves geplaas word eerder as net daarbuite.
Eienskappe wat voëls en dinosourusse verbind Voëls en teropode-dinosourusse deel baie anatomiese eienskappe.
Vere Archaeopteryx, die eerste goeie voorbeeld van 'n "geveerde dinosourus", is in 1861 ontdek. Die eerste spesimen is ontdek in die Solnhofen-sandsteen van Suid-Duitsland, 'n merkwaardige geologiese formasie wat bekend is vir sy besonder gedetailleerde fossiele. Archaeopteryx is 'n oorgangsfossiel, wat duidelike eienskappe toon tussen dié van nievlieënde teropode-dinosourusse en dié van voëls. Dit is ontdek net twee jaar ná Darwin se Origin of Species, en het weer die debat ontlok tussen voorstanders van evolusionêre biologie en van die skeppingsleer. Dié vroeë voël stem so met 'n dinosourus ooreen dat minstens een spesimen sonder duidelike vlerkafdrukke vir 'n Compsognathus aangesien is. links|thumb|220px|Die dele van 'n veer. 1. Vlag. 2. Skag. 3. Baard. 4. Dons. 5. Spoel.