Hansestad Stralsund 280px Kaart Wapen 180px|senter 75px|senter Vlag 50px|senter Land 20px Duitsland Deelstaat 20px Mecklenburg-Voorpommere Koördinate  Stigting 10de eeu Stadstatus 1234 Oppervlakte:    - Totaal 38,97 vk km  Hoogte bo seevlak 13 m Bevolking:    - Totaal (31 Desember 2014) 57 525 Statistisches Landesamt M-V – Bevölkerungsentwicklung der Kreise und Gemeinden 2014  - Bevolkingsdigtheid 1 746/vk km Tydsone UTC +1 (MET)  - Somertyd UTC +2 (MEST) Burgemeester Alexander Badrow (CDU) Amptelike Webwerf www.stralsund.de

Die Hansestad Stralsund is 'n selfregerende stad in die Noord-Duitse deelstaat Mecklenburg-Voorpommere. Vanweë sy ligging aan die Strelasund, 'n nou seestraat van die Oossee, word die stad ook die "Poort na die eiland Rügen" genoem.

Stralsund het in die 10de eeu as 'n Slawiese nedersetting ontstaan. In 1234 is die stadstatus volgens die Lübeckse stadreg aan die destydse Stralow toegeken. Stralsund was gedurende die 14de eeu die tweede belangrikste Hansestad in die suidelike Oosseegebied na Lübeck. Vanaf die 17de tot in die vroeë 19de eeu het die stad 'n deel van die Koninkryk Swede gevorm en is daarna by Pruise ingelyf. Die historiese stadskern van Stralsund is in 2002 deur Unesco as wêrelderfenisgebied aangewys.

Geografie duimnael|links|'n Uitsig oor Stralsund duimnael|links|Die nuwe brug oor die Strelasund (Duits: Strelasundquerung) is in 2007 geopen en verbind Stralsund met die eiland Rügen Stralsund is aan die seestraat Strelandsund in die landsdeel Voorpommere van die Noord-Duitse deelstaat Mecklenburg-Voorpommere geleë. Die stadsgebied behels drie vywers en 'n bosgebied. Die hoogste punt is die Galgenberg aan die westelike stadsrand. Die grootste stede in die omgewing is Greifswald, Barth, Ribnitz-Damgarten en Rostock.

Met 'n oppervlakte van sowat 39 vierkante kilometer is Stralsund een van die digs bevolkte stede in Mecklenburg-Voorpommere. In 1869 het die stad sy vestingkarakter verloor en vinnig na die omliggende gebiede uitgebrei. Ná die politieke omwenteling in die Duitse Demokratiese Republiek (Oos-Duitsland) en die Duitse hereniging in 1990 het baie bewoners van Stralsund hulle in kleiner nedersettings in die omgewing soos Prohn en Negast gevestig.

Die Strelasund is 'n seestraat wat deel uitmaak van die Oossee en die eiland Rügen naby Stralsund van die vasteland skei. Die wyd gestrekte seestraat het 'n oppervlakte van 64 vierkante kilometer en 'n gemiddelde diepte van vier meter. Sy wydte varieer sterk.

Die landskap in die omgewing van Stralsund is gedurende die laaste koue periode van die Ystydperk (sowat 13 000 jaar gelede) gevorm. Toe die ysmassa's afgesmelt het, het hulle 'n saggies golwende landskap met klein heuwels agtergelaat. Sowat 7 000 jaar gelede het die smeltwater 'n rivierloop geskep wat deur 'n beboste vallei gevloei het, tog is die rivieroewers later deur seewater oorstroom. Die Strelasund word deur lae oewers omring, met uitsondering van sommige streke op Rügen wat deur hoë, steil oewers gekenmerk word.

Geskiedenis Stigting en vroeë geskiedenis Die eiland Rügen en die teenoorliggende gebiede op die vasteland is oorspronklik deur die Slawiese Rane bewoon, 'n volk wat tot in die middel van die 12de eeu sy politieke onafhanklikheid bewaar het en – as een van die laaste nie-Christelike groepe in Sentraal-Europa – ook vasgehou het aan sy tradisionele Slawiese godsdiens.

In die 12de eeu was die Rane in 'n stryd met hul Christelike buurlande verwikkel wat in 1168 met die oorwinning van die Deense koning Waldemar I en die verowering van die Raniese heiligdom Jaromarsburg by Kaap Arkona geëindig het. Die Slawiese heersers het ná die Deense oorwinning leenmanne van die Deense kroon geword en die Christelike geloof aangeneem. Gelyktydig het hulle begin om veldtogte teen die Pommerse gebiede in die omgewing te voer om sodoende hulle magsfeer na die vasteland uit te brei.

Die nedersetting Strale was strategies by die kruispunt van handelspaaie tussen Rostock, Demmin, Rügen en Stettyn geleë, en die eiland Stralow het met sy natuurlike hawe die aanleiding tot die stigting van 'n dorp gegee. Volgens die geskiedskrywer Saxo Grammaticus het die Dene reeds in die 12de eeu tydens hulle veldtogte op die vastelande die eiland as 'n ankerplek gebruik.Saxo Grammaticus: Historica Danica, ed. G. Waltz, Monumenta Germaniae Historica, Scriptores XXIX, bl. 75, 142

Stralow, 'n Slawiese vissersdorp, wat op die eiland ontstaan het, het blykbaar al voor die stigting van Stralsund tot 'n groter nedersetting ontwikkel wat danksy die moerasgebiede en vywers in sy omgewing oor 'n natuurlike versterking beskik het. Die ligging aan die Strelasund het daarnaas maklike toegang tot die Oossee vanuit twee rigtings gebied, terwyl die ryk visgronde met Atlantiese harings die grondslag vir 'n bloeiende vis- en handelsbedryf was en talle koopmans na die gebied gelok het.

duimnael|regs|250px|Stigtingsdokument uit die jaar 1234 In 1234 het die Rügense vors Wizlaw I die stadstatus volgens die Lübeckse Reg aan Stralow toegeken. Die nuwe stad het destyds as Stralesund bekend gestaan. Vanweë sy vinnige groei is Stralsund deur die magtige Hansestad Lübeck as 'n ongewenste mededinger beskou. In 1249 het 'n Lübeckse vloot onder die bevel van Alexander von Soltwedel die stad onverwags aangeval en aan die brand gesteek.

In 1256 is met die bou van die stadsmuur begin, en die groot vywers, wat aangelê is, het van Stralsund 'n goed versterkte watervesting gemaak. Nadat groot dele van Stralsund in 1271 deur 'n brandramp verwoes is, is rooi bakstene vir die heropbou gebruik wat nog steeds die plaaslike boustyl kenmerk.

Die eerste historiese vermelding van die Nikolaikerk dageken van 1276. In hierdie periode was die ou stadskern reeds digbevolk, en steeds meer bewoners het hulle in die nuwe stadswyk Neustadt begin vestig. Onlangse navorsing het bevestig dat hierdie nuwe buurt, wat al in die middel van die 13de eeu bestaan het, as 'n tweede stad met die naam Schadegard gestig is, wat sy stadstatus weer kwytgeraak het. Toe in 1289 met die bou van die groot Mariakerk begin is, het die twee nedersettings reeds 'n gemeenskaplike stadsgebied gevorm.

Duitse immigrasie Die kerstening van die plaaslike Slawiërs het gepaard gegaan met immigrasiegolf van mense uit gebiede wes van die Elberivier, waaronder Nedersaksers, Wesfale, Holsteiners, Friese, Hollanders en Vlaminge, en die stigting van nuwe stede langs die Oosseekus. Historiese dokumente verwys na Rostockse koopmans as die dryfkrag agter die stigting van Stralsund. Die Stralsundse stadsboek van 1270 en die burgerboek vanaf 1319 bevat lyste van inwoners, en soos uit die vanne blyk, was twee derdes van die bevolking uit verder af geleë gebiede afkomstig. 'n Aantal immigrante het selfs uit die Russiese Nowgorod, Italië en Boheme gekom.Fritze, Konrad: Die Hansestadt Stralsund. Schwerin: Petermänken 1961, bl. 24 Die inheemse Slawiese bevolking het ten opsigte van hul taal en leefstyl vinnig by die Duitse meerderheid aangepas.

Handel en ambagte duimnael|Die 13de eeuse Raadsaal van Stralsund is 'n pragtige voorbeeld van die Noord-Duitse Baksteengotiese boustyl en getuig van die stad se ekonomiese opswaai in die Middeleeue Die groeiende handel het ook die plaaslike nywerhede bevorder, en die ambagsmanne het hulle in verskillende gildes (Duits: Amt, meervoud Ämter) georganiseer, met verkose Altermänner as gildeleiers. Die oudste Amt in Stralsund is in 1290 deur die plaaslike skoenmakers gestig. Ambagsmanne en hul gildes het in die plaaslike politiek geen noemenswaardige rol gespeel nie – volgens die Lübeckse Stadsreg is hulle nie as lede tot die stadsraad toegelaat nie. Uit hierdie politieke bedeling, wat die mag hoofsaaklik in die hande van koopmans gekonsentreer het, het verskeie kere geskille voortgespruit.

Die plaaslike koopmans het merendeels landbouprodukte soos brand- en timmerhout, vis, traan, graan, hops, beeste en varke asook bier uitgevoer. Die handel was aanvanklik beperk tot inheemse produkte, maar het na gelang van die uitbreiding van die handelsbetrekkinge geleidelik ook goedere soos pelse en byewas uit Nowgorod, Letlandse en Estniese hennep, haring uit Skåne, Engelse wol, Vlaamse lakengoed, Sweedse yster, Pruisiese graan en baie ander goedere ingesluit. Die Stralsundse koopmans het as middelmanne meer wins gemaak.

Aangesien Stralsund op Deense leengebied geleë was, was dit voor die hand liggend om eers handelsbande met Denemarke te smee. Die eerste historiese verwysings na betrekkinge met die noordelike buurland dateer uit die jaar 1249. Maar ook handelsbande met Vlaandere was van die grootste belang. Brugge was destyds die belangrikste handelstad noord van die Alpe, en Vlaamse lakens was uiters waardevolle handelsgoedere. Daarnaas kon in Brugge ook handelsbetrekkinge met koopmans uit Spanje, Italië, Frankryk en Suid-Duitsland aangeknoop word. Swede, Engeland en die Baltiese lande was eweneens belangrike handelsvennote, terwyl die handel met die Russiese stad Nowgorod dikwels moeilikhede geskep het. Dit was nogtans uiters winsgewend, soos uit die Nowgorodvaarders se kosbare kerkstoele in die Nikolaikerk blyk.

Danksy die ekonomiese opswaai en welvaart was Stralsund in staat om verreikende voorregte met hul heersers – Rügense en later Pommerse vorste – te beding wat byna aan selfregering gegrens het. Tog was Stralsund veral in strategiese opsig vir die heersers té belangrik sodat hulle nooit oorweeg het om aan Stralsund die status van Vrye Ryksstad te verleen nie – 'n voorreg wat groter stede soos Lübeck en Hamburg geniet het.

Lidmaatskap in die Hanseverbond duimnael|Middeleeuse afbeelding van 'n koggeskip op 'n Stralsundse stadseël Sy rol as 'n stigtingslid van die Hanseverbond en sy ontwikkeling tot een van die verbond se beduidendste handelstede het die selfbewussyn van Stralsund bevorder en die stadskarakter sterk beïnvloed. Die Stralsunders was daarvan bewus dat hulle ekonomiese opswaai enersyds die belange van ander Oosseehawens sou raak, maar andersyds ook politieke en ekonomiese bande met sy mededingers noodsaaklik sou maak – dit was immers belangrik om in 'n sterk posisie teen die adel te wees en sodoende sy belange te beskerm.

Reeds in die 1260's het Stralsund ooreenkomste aangaane regshulp met sy buurstede Demmin en Tribsees gesluit, en in 1278 het die stad saam met Lübeck, Rostock, Wismar en Greifswald vrye toegang tot die markte in Hvidanger (Denemarke) verkry. Saam met Stettin, Demmin en Anklam het hierdie stede in 1283 in die Rostockse Landvrede ook ooreenkomste met die plaaslike heersers gesluit en daarnaas die reg gekry om self ooreenkomste aan te gaan.

Hierdie voorreg was reeds in laat 1283 van groot belang – 'n geskil tussen Noorweë en die Duitse handelstede het tot 'n Duitse seeblokkade van Noorse hawens gelei. Tien jaar later het Stralsund, Lübeck, Rostock, Wismar en Greifswald 'n ooreenkoms vir wedersydse bystand onderteken wat – naas diplomatieke optrede – ook voorsiening vir die opstel van 'n gemeenskaplike vloot van oorlogskepe gemaak het. Hierdie verdrag was die hoeksteen vir die latere Hanseverbond.

Die handelstede het groot voordele uit hul gemeenskaplike optrede getrek soos lae invoertariewe in Noorse hawens. Koning Magnus het in 1358 selfs besondere beskerming aan Stralsundse burgers toegesê wat as koopmans 'n besoek aan Noorweë afgelê het. Die Hanseverbond het ook die stede se handel met Engeland bevorder en in 1356 tydens 'n geskil met Vlaandere, wat deur diplomatieke stappe nie bygelê kon word nie, 'n suksesvolle seeblokkade deurgevoer totdat daar in 1360 aan sy eise voldoen is. Belangrike handelsbetrekkinge is daarnaas ook met koopmans uit Wesfale, Elbing, Kolberg, Litaue en Nowgorod aangeknoop.

duimnael|links|Die pragtige Rigavaarders-gestoelte in Stralsund se Nikolaikerk weerspieël die welvaart en internasionale handelsbetrekkinge van Stralsundse Hansekoopmans