Mosambiek (Portugees: Moçambique, [musɐ̃ˈbikɨ]), amptelik die Republiek Mosambiek (República de Moçambique, [ʁɛˈpuβlikɐ ðɨ musɐ̃ˈbikɨ]), is 'n land in Suider-Afrika, wat grens aan Suid-Afrika, Eswatini, Tanzanië, Malawi, Zambië en Zimbabwe. Die Comore-eilande is geleë langs die noordoostelike kus en Madagaskar oorkant die Mosambiekkanaal. Mosambiek is 'n lid van die Gemeenskap van Portugese Lande (CPLP), die Statebond en die Afrika-unie.

Soos ander voormalige Portugese kolonies in Afrika het ook Mosambiek sy ontstaan as geografiese en politieke entiteit aan Portugese pogings te danke om 'n seeroete rondom die vasteland van Afrika na die rykdomme van Asië te vind en te beskerm. Hiervoor het Vasco da Gama en sy opvolgers forte in Beira (Sofala), Quelimane en op Mosambiekeiland opgerig. Met die Nederlandse verowering van Portugees-Asië in die 17de eeu het die klem in Portugal se ekonomiese en strategiese belange verskuif na die slawehandel tussen Wes-Afrika en die Amerikas, terwyl nedersettings in Mosambiek in verval begin raak het. Die land het sodoende die verwoestings, wat deur die slawehandel in ander dele van Afrika gesaai is, grotendeels gespaar gebly. Ook was dit 'n toevlugsoord in tye van oorlog. So is Mosambiek nie op dieselfde skaal ontvolk soos byvoorbeeld Angola nie. Dr Bernard Stonehouse (red.): Philips' Illustrated Atlas of the World. London: Guild Publishing 1985, bl. 167

In die najaar van 2011 het die ontdekking in Cabo Delgado-provinsie van aardgasreserwes, wat blykbaar so groot is soos dié van Katar, tot 'n herwaardering van Mosambiek se ekonomiese potensiaal gelei. Die land kan dalk 'n groot uitvoerder van aardgas op die wêreldmark word. In die middel 2017 het 'n Islamitiese militante insurgensie in Cabo Delgado begin wat, soos gevrees word, tot onstabiliteit in Noord-Mosambiek kan lei.

Etimologie Die land is deur die Portugese Moçambique genoem na die Mosambiekeiland, afgelei van Mussa Bin Bique, Musa Al Big, Mossa Al Bique, Mussa Ben Mbiki of Mussa Ibn Malik, 'n Arabiese handelaar wat die eiland eers besoek en later daar gewoon het History. ilhademo.net en nog gelewe het toe Vasco da Gama dié eiland in 1498 besoek het. Die eilanddorp was tot in 1898 die hoofstad van die Portugese kolonie, toe dit suidwaarts na Lourenço Marques geskuif is (nou Maputo).

Geskiedenis Voorkoloniale periode duimnael|links|'n Tradisionele seilboot aan die kus van Noord-Mosambiek duimnael|links|Portugese kolonies in Afrika tydens die Portugese Koloniale Oorlog duimnael|links|Kaart van Mosambiek Die eerste bewoners van die land was die San, die voorvaders van die Khoisan, 'n volk van jagters en versamelaars van kos. In die tydperk tussen die 1ste en 4de eeu begin groepe van Bantoe-stamme vanuit die weste en noorde na die Zambesiriviervallei en later ook geleidelik na die plato en kusgebiede verhuis. Die Bantoevolke was boere en het ook yster bewerk.

Portugese koloniale periode tussen tussen 1498 en 1885 Toe die Portugese seevaarder Vasco da Gama Mosambiek in 1498 op pad na Indië bereik het, was daar reeds 'n aantal Arabiese handelsposte langs die kus en op die eilande gevestig, wat eeue lank ook slawehandel bedryf het. Vanaf 1505 het die Portugese begin om die gebied geleidelik te koloniseer. Portugese handelsposte en forte het as basisse vir handelskepe gedien wat langs die nuwe seeroete op pad na die Verre Ooste geseil het. Later het handelaars en delwers op soek na negerslawe en goud ook die binneland van Mosambiek deurdring.

Alhoewel die Portugese invloed geleidelik versterk is, was dit nogtans beperk en is dit meestal uitgeoefen deur individuele setlaars en beamptes, wat verregaande outonomie geniet het. Gevolglik was daar 'n gebrek aan beleggings uit die moederland, terwyl die Portugese owerhede hulle eerder op die winsgewende handel met Indië en die Verre Ooste en die kolonisering van Brasilië gekonsentreer het. So het die invloed van Portugal – en Portugees as omgangstaal – eeue lank beperk gebly tot die kusgebied langs die Indiese Oseaan (met 'n lengte van bykans 3 000 km) en die Zambesivallei.

Portugese koloniale bewind vanaf 1885 Die Koloniale Konferensie van Berlyn, wat in 1884 en 1885 in die Duitse Rykshoofstad gehou is, het die volkeregtelike erkenning van enige Europese koloniale moondheid se gebiedsaansprake in Afrika afhanklik gemaak van bepaalde voorwaardes. Die belangrikste daarvan was die effektiewe beheer van 'n gebied deur middel van gevestigde administratiewe strukture, polisie- en militêre magte. Portugal het vervolgens aktiewe stappe onderneem om die hele Mosambiek te beset – waarvoor in die suide van die land ook militêre geweld gebruik is – en sy administrasie tot die verste uithoeke van Mosambiek uit te brei. Hierdie proses is eers ná die Eerste Wêreldoorlog voltooi.

Tot en met 1942 het die Portugese owerheid sekere regte, bevoegdhede en verantwoordelikhede oorgedra aan privaatondernemings. Teen die vroeë 20ste eeu was die administrasie van groot dele van Mosambiek reeds in die hande van groot privaatmaatskappye, soos byvoorbeeld die Mosambiekse Kompanjie, die Zambezi-Kompanjie en die Nyassa-Kompanjie. Hulle is oorwegend deur Britte beheer en gefinansieer, wat ook die spoorweglyne na die buurlande gebou en die myne en plantasies van die nabygeleë Britse kolonies en Suid-Afrika van swakbetaalde Swart werkers – en dikwels ook Swart dwangarbeiders – voorsien het.

Gedurende die eerste dekade van formele kolonialisme het die suidelike landsdele opmerklike ekonomiese groei getoon wat hoofsaaklik aan Lourenço Marques se ligging naby die goudvelde van die Witwatersrand in Suid-Afrika te danke was. Met die voltooiing van die NZASM-spoorlyn, wat die hawestad met die Witwatersrand verbind het, is sowat 'n derde van dié streek se goud- en mineraaluitvoere deur Lourenço Marques se seehawe verskeep. Philip Briggs (hersien deur Sean Connolly): Mozambique – the Bradt Travel Guide. 6de uitgawe. Chalfont St Peter: Bradt Travel Guides 2014, bl. 13

Aangesien die ekonomiese beleid daarop gemik was om Portugese immigrante en die moederland te bevoordeel, is min aandag geskenk aan die nasionale integrasie van Mosambiek, sy infrastruktuur en die opleiding van sy bevolking. Derhalwe het die getal Portugese in die land aanvanklik betreklik klein gebly.

Mosambiek ná die Tweede Wêreldoorlog Terwyl die meeste Europese koloniale moondhede ná die Tweede Wêreldoorlog onafhanklikheid aan hulle kolonies in Afrika verleen het, het Portugal Mosambiek net soos sy ander besittings steeds as oorsese provinsies van die moederland beskou, en 'n groot aantal Portugese het hulle in die kolonies gevestig. Nogtans het dele van die nie-blanke bevolking van Mosambiek na onafhanklikheid gestreef, en in 1962 het 'n aantal politieke groeperings, wat teen die Portugese heerskappy gekant was, hulle verenig om saam die Bevrydingsfront van Mosambiek (FRELIMO) te stig. FRELIMO begin in September 1964 sy gewapende stryd teen die Portugese koloniale regering in wat bekend staan as die Mosambiekse Vryheidsoorlog.

Desondanks was baie Mosambiekers nie ten gunste van 'n onafhanklike staat nie, en min mense het die gewapende stryd teen die Portugese, wat die land immers vierhonderd jaar lank oorheers het, goedgekeur. Alhoewel FRELIMO en ander guerillamagte deur die Volksrepubliek China en die Sowjetunie van wapens voorsien is, is hulle deur Portugese troepe in bedwang gehou.

Mosambiek as onafhanklike staat

duimnael|Meer as 20 000 Mosambiekers was tussen 1979 en 1989 as kontrakarbeiders in die Duitse Demokratiese Republiek werksaam. Na hulle word in Mosambiek as Madgermanes verwys. Sommige van hulle wag steeds daarop dat uitstaande lone deur die Mosambiekse regering uitbetaal word. www.bpb.de, 24 Oktober 2016: "Sie kamen quasi mit leeren Händen zurück". Besoek op 10 Julie 2018

Ná tien jaar van sporadiese gevegte het FRELIMO slegs klein dele van die land oorheers. Ná die staatsgreep van 25 April 1974, waarin Sosialisties-gesinde troepe onder die leiding van 'n groep junior militêre offisiere die outoritêre Caetano-bewind in Lissabon beëindig het, is die besluit geneem om onafhanklikheid aan die kolonies te verleen. Mosambiek het op 25 Junie 1975 'n onafhanklike staat geword. Die eerste (nie-verkose) president was Samora Machel.

Burgeroorlog In die volgende sestien jaar is Mosambiek deur 'n burgeroorlog tussen die FRELIMO, wat deur die Sowjetunie en ander Oosbloklande ondersteun is, en die pro-Westerse weerstandsbeweging RENAMO verwoes, wat meer as 900 000 menselewens geëis het. Groot dele van die land se infrastruktuur is as gevolg van oorlogshandelinge vernietig, terwyl die bevolking getraumatiseer is deur die meedoënlose manier, waarop die konflikpartye die oorlog gevoer het. Selfs kinders is as vegters ingespan. RENAMO is onder meer deur Rhodesië en Suid-Afrika ondersteun. Intussen het RENAMO 'n politieke party geword wat veral in die noorde baie aanhangers het.

Vredestyd duimnael|Die president van Mosambiek, Daniel Chapo President Machel het in 1986 die slagoffer van 'n vliegtuigramp geword, en die FRELIMO-party is steeds meer deur sy Marxistiese vleuel oorheers, wat die nywerhede genasionaliseer en kollektiewe boerdery gestig het. Die emigrasie van opgeleide Blanke vaklui het die ekonomie erg getref.

Tog het die land ná die einde van die oorlog in 1992 tydens die presidentskap van Joaquim Chissano tot een van Afrika se modelstate ontwikkel, wat met 'n gemiddelde groeikoers van sowat tien persent gespog het. Westerse lande het Mosambiek van sy skuldlas bevry en ontwikkelingshulp verleen. Sedert 1995 is Mosambiek saam met Gaboen, Rwanda en Togo die enigste lid van die Britse Statebond wat vroeër geen Britse kolonie was nie.

President Chissano het met die verkiesings van Desember 2004 afgetree. Sy opvolger, Armando Guebuza, 'n welgestelde sakeman, is een van die stigterslede van FRELIMO en word dikwels as onverbiddelik beskryf. In 1975 het hy as Minister van Binnelandse Sake die Portugese inwoners net 24 ure gegun om die land te verlaat. Vandag is hy 'n sakeman en miljoenêr. Guebuza het die presidentsverkiesing van 2004 gewen in nege van die elf provinsies, terwyl sy vernaamste teenstander, Afonso Dhlakama, leier van die voormalige rebellegroep Renamo, 'n oorwinning in die ander twee provinsies behaal het. Die uitslag van die verkiesing is meer as twee weke uitgestel na bewerings van knoeiery deur opposisiepartye.

Die huidige staatspresident, Filipe Jacinto Nyusi (FRELIMO) het die presidensiële verkiesing van 15 Oktober 2014 gewen. Hy is op 15 Januarie 2015 ingesweer.

Islamitiese insurgensie Sedert 2015 word Mosambiek in die noordelike Cabo Delgado-provinsie met 'n voortslepende insurgensie deur Islamitiese groepe gekonfronteer. In September 2020 het ISIS-insurgente die aflandige Vamizi-eiland oorgeneem en tydelik beset. In Maart 2021 is dosyne burgerlikes om die lewe gebring en 35 000 ander verdryf met die Slag van Palma, toe Islamitiese rebelle die kusdorp Palma binneval. Om die skrikbewind in Cabo Delgado teë te staan het Suid-Afrika in Julie 2021 onderneem om 1 500 troepe vir drie maande aldaar te ontplooi, teen 'n beraamde koste van R1 miljard.

Buitelandse betrekkinge

duimnael|links|Plekke oor die wêreld heen waar Mosambiek ambassadeurs het duimnael|Mosambiek se ambassade in Washington, D.C. Alhoewel alliansies wat dateer uit die Mosambiekse onafhanklikheidsoorlog steeds relevant bly, het Mosambiek se buitelandse beleid toenemend pragmaties geword. Die twee pilare van die beleid is handhawing van goeie betrekkinge met sy bure en instandhouding en uitbreiding van bande met ontwikkelingsvennote.