Mikro (die skuilnaam van Christoffel Hermanus Kühn; 8 Oktober 1903 – 17 April 1968) was 'n bekende Afrikaanse skrywer, van meer as honderd boeke.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Mikro Hy is die skrywer van novelles en romans, speurverhale, jeugverhale en toneelstukke en hy skryf selfs ’n aantal gedigte wat in die vroeë dertigerjare in Die Huisgenoot gepubliseer is. Hy is veral bekend vir Ruiter in die nag en Die jongste ruiter.
Lewe en werk
Vroeë lewe en herkoms Mikro (die skrywersnaam van Christoffel Hermanus Kühn), is op 8 Oktober 1903 op Van Reenensplaas naby Amandelboom (later die dorp Williston) gebore as die tweede jongste van veertien kinders, waarvan net sewe groot word.Mikro. Hy koop toe vir hom ’n pen. Voortrekkerpers Johannesburg Eerste uitgawe 1968 Van die sewe is vier seuns en drie dogters. Sy vader is die vooraanstaande boer Benjamin Abraham Kühn, wat in die kerkraad van Amandelboom dien, die bidure in die wyk lei en die kinders streng godsdienstig grootmaak. Hy publiseer ook gereeld gediggies in De Koningsbode en De Wekker.
Mikro ontvang sy skoolopleiding vir sowat ’n jaar op sy geboorteplaas en gaan daarna na die skool op die naby geleë plaas Klein Perdekloof, wat tydens ’n groot droogte in 1913 tot niet gaan. Mikro en sy broer Sam help dan vir sowat agtien maande met skape oppas op die plaas. Hierna koop sy vader ’n huis op Williston, waar hulle ma saam met hom en sy broer bly terwyl hulle daar skoolgaan. In Januarie 1918 begin hy en sy broer die hoërskool op Robertson bywoon, waar hulle in die koshuis inwoon. Op 28 Oktober 1918 is sy vader tydens die groot griepepidemie oorlede. Die laaste keer wat hy en sy broer hom gesien het, was toe hy hulle met die trein by die skool op Robertson besorg het. Einde 1919 slaag Mikro standerd agt, maar in November 1920 word hy ernstig siek aan dubbele longontsteking. Na sy herstel begin hy in Julie 1921 die Hoërskool Carnarvon bywoon, waar die Nederlandse onderwyser, J.D.A. Crafford, sy belangstelling in die letterkunde wek. Hy matrikuleer hier aan die einde van 1922.Remembered: http://remembered.co.za/obituary/view/8475
Studie In 1923 begin hy sy studies in die mediese wetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch, maar slaan die daaropvolgende jaar oor na landbou en voltooi in Desember 1927 die B.Sc. Landbou-graad aan die Universiteit van Stellenbosch.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Kuhn,_Christoffel_Hermanus Op universiteit kry hy die bynaam Mikro van sy klasmaats. Hy was eendag laat vir ’n biologieklas waar hulle mikroskopiese werk gedoen het en as verskoning het hy aangevoer dat hy sy mikrovlooi (in stede van mikroskoop) nie kon kry nie, waarna hy die bynaam op die lyf geloop het. Hy moet telkens tydelik sy studies onderbreek om skool te hou ten einde geld in te samel om vir sy studies te betaal. So hou hy in 1924 ’n kwartaal skool op Klaasvoogds en in 1926 en 1927 vyf kwartale op Van Rhynsdorp. Hy onderneem ook ’n bootreis saam met die vragskip Cawdor Castle van Kaapstad na Liverpool, waar hy diens doen as beeswagter vir die beeste aan boord. Die Cawdor Castle het op sy volgende vaart gesink.
Loopbaan as onderwyser In 1928 begin hy skoolhou, eers vir ’n kwartaal by die plaasskooltjie op Vaalhoek naby Williston en toe as aflos op Williston, waarna hy in Junie van daardie jaar op Kuilsrivier begin skoolhou. In 1932 neem hy studieverlof en behaal sy Senior Onderwysdiploma aan die Universiteit van Kaapstad.
Hy tree in Maart 1933 in die huwelik, waaruit ’n seun (Christoph Herman) gebore word, maar skei in 1942. In Junie 1932 en weer in Junie 1933 doen hy dubbele longontsteking op, sodat daar elke keer opnuut vir sy lewe gevrees word. Hy herstel egter beide kere. Nadat hy herstel in 1933 vind hy en sy vrou vir ’n paar maande ’n heenkome op Nietvoorby, die plaas van Louis Basson naby Laingsburg in die Karoo, waar die klimaat gunstiger is vir sy gesondheid. Die einde van die jaar verhuis hulle na Franschhoek, waar sy skoonouers woon, en hy vir ’n paar maande voltyds skryf aan Toiings. Vanaf April 1934 tot einde 1935 neem hy waar as skoolhoof op Ritchie naby Kimberley, waarna hy aan die begin van 1936 terugkeer na Kuilsrivier en in 1937 as skoolhoof aangestel word.
Loopbaan as kunstenaar In Desember 1943 tree hy uit die onderwys en op 19 Februarie 1944 trou hy weer, hierdie keer met die onderwyseres Cornelia Jacoba (Ora) Steyn, wat hy ontmoet wanneer sy onderwys begin gee op Kuilsrivier terwyl hy daar skoolhoof is. Sy is byna twintig jaar jonger as hy. Uit hierdie huwelik word die bekende skryfster Corlia Fourie gebore, asook ’n ander dogter, Lucia, en ’n seun, Herman.
In hierdie tyd begin hy ook skilder, nadat Gregoire Boonzaier hom aanmoedig. Hy skryf hom in as deeltydse student aan die Kaapstadse kunsskool, waar hy meer leer oor die tegniek en uitvind hoe om verf aan te maak, waarna hy vir die res van sy lewe hierdie stokperdjie beoefen sonder om ’n uitstalling te hou. Dit is eers na sy dood wat Saambou in samewerking met sy vrou Ora in Oktober 1969 ’n uitstalling van sy werke reël om sodoende as huldeblyk te dien. Verder was hy ’n goeie brugspeler en het ’n goeie kennis van sport gehad, veral tennis, rugby en krieket. In sy jong dae was hy ’n uithalertennisspeler en het ook dikwels as rugbyskeidsregter opgetree.
Loopbaan as skrywer en joernalis Van 1944 tot 1949 wy hy hom voltyds aan sy skryfwerk. Die inkomste hieruit is egter onvoldoende om aan sy behoeftes te voldoen en hy lê hom ook sonder veel sukses toe op die verkoop van versekering en eiendom en spekulasie met aandele. In 1948 aanvaar hy ’n betrekking as takbestuurder van die Hottentots Holland Trustmaatskappy in die Strand, maar die salaris is onvoldoende om aan hom en sy gesin se behoeftes te voorsien. In 1949 los hy vir ’n kwartaal af as onderwyser op Kuilsrivier en vir twee maande aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Van April 1950 tot aan die einde van 1955 is hy lektor aan die Oudtshoornse Opleidingskollege, waar hy Afrikaans en Natuurstudie doseer. Na ’n tydperk in ’n hotel en huurhuis, laat bou hy ’n huis in Oudtshoorn wat die gesin in November 1950 betrek. Teen die einde van 1950 doen sy vrou ’n bloedklont in die longe op en word in Kaapstad verpleeg. Daar word geruime tyd vir haar lewe gevrees, maar sy herstel en keer weer in Maart 1951 terug huis toe.
Mikro doen dan aansoek en word aangestel om die redaksie van die jeugtydskrif My Land in Pretoria vir die Departement van Landbou te behartig. Wanneer hy aan die begin van 1956 in Pretoria aanland, verneem hy dat daar intussen teen die stigting van hierdie tydskrif besluit is en hulle bied hom die pos aan as redakteur van die tydskrif Boerdery in Suid-Afrika. Hierdie pos beklee hy tot 1960 en dien daarna tot met sy aftrede in April 1964 as hoofleier van die Landsdiensbeweging in die Departement van Landboutegniese Dienste.
Latere jare en afsterwe Hierna vestig hy hom saam met sy gesin in die Strand terwyl hulle ’n huis in Somerset-Wes laat bou, wat hulle in September 1964 betrek. Sy gesondheid begin in die tyd in Pretoria agteruitgaan en van 1959 af verswak sy sig vinnig.
In Desember 1965 het hy ’n ernstige hartaanval, en op 17 April 1968 is hy in sy huis op Somerset-Wes aan ’n hartaanval oorlede.
Sy vrou is op 5 Oktober 1997 in die Tygerberg Hospitaal oorlede. links|duimnael|Die skrywer Mikro
Skryfwerk Aan die begin van sy onderwysloopbaan begin Mikro ernstig skryf om die tyd te verwyl en geniet dit so dat hy nooit weer ophou nie. Sy eerste pennevrug is Sy eie pad, waarvan die manuskrip verlore raak. In 1929 moet hy die kinders afrig vir ’n skoolkonsert en by gebrek aan gepaste stukke skryf hy sy eerste drama, wat later as Diplomaties gepubliseer word. Hy is skrywer van novelles en romans, speurverhale, jeugverhale en toneelstukke en hy skryf selfs ’n aantal gedigte wat in die vroeë dertigerjare in Die Huisgenoot gepubliseer word.
Prosa Sy eerste kortverhaal is Rou rieme, wat in 1931 in Die huisgenoot verskyn. Hierna skryf Mikro Toiings, maar die manuskrip word deur Nasionale Pers afgekeur vir publikasie en eers later deur J.L. van Schaik aanvaar. Die oorspronklike manuskrip raak egter in die uitgewer se kantore verlore, waarna Mikro die hele boek weer van vooraf opnuut moet skryf.
Werke oor 'Toiings' Sy letterkundige nalatenskap word veral gekenmerk deur twee wêrelde, wat die hoogtepunt van sy kreatiewe skeppings verteenwoordig. skryf hy ’n trilogie (Toiings, Pelgrims en Vreemdelinge) oor Toiings, ’n Kleurling wie se naam eintlik Frikkie is, maar sy bynaam kry oor die toestand van sy klere. Toiings word geteken as iemand met ’n kinderlike natuur, met ’n mistieke liefdesverlange en religieuse gevoel. Hy bly op Kareeplaas, die plaas van die boer Fanie Naudé, wat optree as ’n soort beskermheer vir hom. Die verhale handel nie oor groot botsings nie, maar beeld eerder die klein konflikte in die lewe van eenvoudige mense uit, wat die menslikheid vooropstel. Mikro slaag daarin om die eenvoudige Toiings en sy probleme met diepe menslikheid voor te stel, sodat hy een van die interessantste karakters in die Afrikaanse letterkunde word.
In Toiings tree die blanke boer en sy vrou alleen as byfigure op en draai die hele verhaal rondom die bruin gemeenskap. Toiings is ’n getroue skaapwagter, oordrewe beskeie en geneig om sentimenteel te wees. Hy vind in Siena sy ideale maat en sy hele lewenshouding word deur sy liefde vir haar beheers. Hulle seun kry die bulnaam Dawid Goliat Filistyn. Kort na die geboorte sterf sy, maar by alles wat Toiings doen, en veral by gewigtige besluite soos ’n nuwe huwelik, gesels hy eerbiedig met haar by haar graf en die herinnering aan haar liefde help hom om struikelblokke te oorwin. Op Kareeplaas gaan dit goed, maar Toiings gaan dan Blikkiesdorp toe om ’n nuwe bruid te soek en raak dan maats met die verkeerde soort wat by die kantiene rondlê. Daar is ook ’n vermaaklike rugbywedstryd tussen die Never Sweats en die Lily Whites, waarby die mededinging om ’n mooi jong vrou ’n rol speel. Toiings se seun Dawid se siekte laat hom berouvol aan Siena erken dat hy nie kontrak gehou het nie en sy kind verwaarloos het. Nadat hy met verkeerde vroue soos Griet en Drieka Wee deurmekaar was, vind hy met behulp van oompie Dissel eindelik vir Jannetjie. Sy is ’n skamerige maar deeglike vrou wat by sy stemmige geaardheid pas en hy keer terug na die plaas.
Pelgrims se titel verwys na afgedwaalde pelgrims wat ná ’n swerftog in die woestyn eindelik weer die goeie pad vind. In hulle eenvoud worstel hulle steeds met universele lewensvraagstukke. Toiings en Jannetjie is getroud en hy is vol heilige voornemens om nou reg te lewe en fluks vorentoe te boer. Sy eerste daad is om Siena se verwaarloosde graf skoon te skoffel en in sy verbeelding vereenselwig hy sy twee goeie vroue met mekaar. Hy sien in sy geluk nie die voortekens van die dreigende droogte raak nie en redeneer dat omdat hy nou reg lewe, die reën nie kan wegbly nie. Wanneer Twaailaait, die donkie wat hy eenmaal as troosgeskenk aan oompie Dissel gegee het, wegloop terug na Toiings toe, verruil hy hom vir ses bokke. Na hierdie slegte daad verdwyn Toiings se gemoedsrus. Wanneer die droogte aanhou en die vee begin vrek, raak hy opstandig. Eindelik word hy so sterk oortuig dat die droogte aan sy sonde met Twaailaait te wyte is en dat hy nog verder gestraf sal word deur ook Jannetjie se dood, dat hy sy sonde aan oompie Dissel bely. Die vee begin vrek en dan sterf oompie Dissel ook, waarna Toiings hom tot die drank wend vir troos. Hy verlaat vir Jannetjie, Dawid en sy dogtertjie Siena en gaan weg na waar Saul Niklaas en sy mooi dogter Sysie ook is. Hy sien egter in ’n visioen Siena se graf oopgaan, maar dit is Jannetjie wat hom roep. Dit is net die teken wat hy nodig het om terug te gaan huis toe en kort daarna begin dit reën. Pelgrims en Toiings ontvang in 1936 die Hertzogprys vir Prosa.