Bárðarbunga (IFA: ˈpaurðarˌpuŋka, ) is 'n stratovulkaan onder Ysland se grootste gletser, Vatnajökull in die Nasionale Park Vatnajökull. Dit is die tweede hoogste berg in Ysland (2 009 m bo die seevlak) en deel van 'n vulkaanstelsel wat sowat 200 km lank en 25 km breed is.
Beskrywing Bárðarbunga is 'n subglasiale stratovulkaan onder die yskap van die Vatnajökull-gletser in die Nasionale Park Vatnajökull. Dit is tot 2 009 m hoog bo die seevlak en is dus die tweede hoogste berg in Ysland, sowat 101 m laer as Hvannadalshnjúkur. Die kaldera is sowat 80 km2, tot 10 km breed en sowat 700 m diep."Bárdarbunga". Global Volcanism Program. Smithsonian Institution. Besoek op 2009-06-18. Die rand is tot 1 850 m hoog, maar die basis is gemiddeld omtrent 1 100 m. Die vulkaan is tot 850 m diep met ys bedek, en dit verberg die gletsergevulde krater. Die verwante vulkaanstelsel en sy geassosieerde skeurstelsel is sowat 190 km lank en 25 km breed.http://en.vedur.is/about-imo/news/nr/2968
Bárðarbunga was 'n redelik onbekende vulkaan in Ysland vanweë sy verre ligging en ongereelde uitbarstings omtrent elke 50 jaar, maar onlangse studies het aangetoon dat baie van die puinlae wat oorspronklik geglo is van ander vulkane af kom, eintlik deur Bárðarbunga uitgewerp is.
Seismiese aktiwiteit het van 2007 af geleidelik begin toeneem op Bárðarbunga en sy geassosieerde noordelike skeurstelsel, en dit het gelei tot 'n uitbarsting aan die einde van 2014.
Uitbarstings van 2014-2015 In Augustus 2014 het sowat 1 600 aardbewings in 48 uur voorgekom.Gunnar Dofri Ólafsson, 1.600 earthquakes in 48 hours. mbl.is. 2014-08-19. Op 23 Augustus het die Amerikaanse opname USGS die lugvaartkode van oranje na rooi verhoog, wat beteken het 'n uitbarsting is ophande.
Die kode is die volgende dag weer van rooi na oranje verlaag en die verklaring dat 'n uitbarsting ophande was, is teruggetrek. Later het lugwaarnemings van glasiale depressies suidoos van die vulkaan aangedui die aanvanklike verslag van 'n komende uitbarsting was korrek en dat 'n kort uitbarsting wel onder die ys plaasgevind het, maar dat dit opgehou het. In die vroeë ure van 29 Augustus het 'n nuwe skeuruitbarsting voorgekom tussen Bárðarbunga en Askja, in die Holuhraun-lawaveld. Dit is gevolg deur 'n tweede skeuruitbarsting in die Holuhraun-gebied, met dieselfde vulkaanskeur langs, wat begin het kort ná 04:00 op 31 Augustus.
Die uitbarsting het groot hoeveelhede swaweldioksied vrygestel en die luggehalte in Ysland benadeel. Daar was geen effek op vlugte buite die onmiddellike omgewing nie, aangesien nie baie vulkaanas uitgewerp is nie.
Op 28 Februarie 2015 is amptelik aangekondig dat die uitbarsting verby is.28 February 2015 12:00 – declaration from the Scientific Advisory Board Daar was egter steeds lugbesoedeling en die gebied noord van Bárðarbunga het toe gebly vir toeriste, tot op 16 Maart 2015.Reduction of the access controlled area north of Vatnajökull
Verwysings
Skakels
Kategorie:Berge van Ysland Kategorie:Vulkane