Dmitri Andrejewitsj Moeratof (Russies: Дмитрий Андреевич Муратов, gebore op 30 Oktober 1961) is 'n Russiese joernalis en televisieaanbieder, en die hoofredakteur van die Russiese koerant Nowaja Gazeta. Hy het 2021 se Nobelprys vir Vrede saam met Maria Ressa van die Filippyne gewen vir "hulle pogings om vryheid van uitdrukking te beskerm, wat 'n voorwaarde is vir demokrasie en blywende vrede".
Moeratof het in 1993 die prodemokratiese blad Nowaja Gazeta saam met verskeie ander joernaliste gestig. Hy was van 1995 tot 2017 die hoofredakteur en weer van 2019 af. Die koerant is bekend vir sy verslaggewing oor sensitiewe onderwerpe soos regeringskorrupsie en oortredings van menseregte. As hoofredakteur het Moeratof berigte deur Anna Politkofskaja gepubliseer wat die Poetin-administrasie deeglik onder die loep geneem het. Moeratof het gehelp om "die enigste ware kritiese koerant met nasionale invloed in Rusland vandag" op die been te bring, volgens die Amerikaanse nieregeringsorganisasie Committee to Protect Journalists.
Sy koerant was invloedryk daarin om lig te werp op die stormagtige situasies in Tsjetsjnië en die Noord-Kaukasus in die algemeen, asook op die Russiese kitswassery, 'n geldwasskema.Global banks handled laundered Russian cash worth hundreds of millions in CNN deur Ivana Kottasova op 24 Maart 2017
Verwysings
Skakels
Kategorie:Russiese joernaliste Kategorie:Wenners van die Nobelprys vir Vrede Kategorie:Geboortes in 1961 Kategorie:Lewende mense