El Niño (; ) is die warm fase van die El Niño–Suidelike Ossillasie (ENSO) en word geassosieer met 'n band van warm seewatertemperature wat ontwikkel in die sentrale en oostelike sentrale ekwatoriaal Stille Oseaan (ongeveer tussen die Internasionale datumgrens en 120°W), insluitend die gebied aan die weskus van Suid-Amerika. ENSO is die siklus van warm en koue see-oppervlaktemperatuur van die Tropiese sentrale en Oostelike Stille Oseaan. El Niño gaan gepaard met hoë lugdruk in die westelike Stille Oseaan en lae lugdruk in die oostelike Stille Oseaan. Dit is bekend dat die El Niño-fase amper vier jaar duur, maar rekords toon dat die siklusse al tussen twee en sewe jaar geduur het. Tydens die ontwikkeling van El Niño ontwikkel reënval tussen September en November. Die koel fase van ENSO is La Niña, met see-oppervlaktemperature in die oostelike Stille Oseaan ondergemiddeld, en hoë lugdruk in die oostelike Stille Oseaan en lae lugdruk in die westelike Stille Oseaan. Die ENSO siklus, insluitend beide El Niño en La Niña, veroorsaak globale veranderinge in temperatuur en reënval.
Ontwikkelende lande wat staatmaak op hul eie landbou en visvang, veral diegene wat aan die Stille Oseaan grens, word gewoonlik die meeste geraak. In Spaans beteken die term El Niño "die seun". In hierdie fase van die ossillasie is die poel warm water in die Stille Oseaan naby Suid-Amerika op sy warmste rondom Kersfees-tyd. Die oorspronklike frase, El Niño de Navidad, het eeue gelede ontstaan, toe Peruaanse vissers die weerverskynsel na die Christuskind vernoem het. La Niña, gekies as die "teenoorgestelde" van El Niño, is Spaans vir "die meisie".
Die naam El Niño is aanvanklik in die negentiende eeu gebruik vir ’n seestroom wat naby Suid-Amerika ontspring het, maar later het wetenskaplikes die naam begin gebruik om die verskynsel te beskryf wat die gevolg is van die interaksie tussen die atmosfeer en die tropiese Stille Oseaan. Waar die winde gewoonlik van oos na wes waai (van ’n hoëdrukkern naby die kus van Suid-Amerika na ’n laedrukgebied naby Indonesië), ontwikkel ’n buitengewoon sterk en hardnekkige stroom warm water naby Peru en Ecuador. Lugdruk val in die oostelike Stille Oseaan en verhoog in die westelike deel, wat gevolg het dat die oos-na-wes-winde verswak en selfs in trurat gaan. Daarna ontstaan klimaatsveranderinge wat onder meer reënvalpatrone raak: sommige dele is abnormaal nat en ander (soos gewoonlik die geval is met Suid-Afrika) droër. duimnael|El Niño ontwikkel naby aan die kus van Suid-Amerika en het 'n droogte-invloed op onder meer Suid-Afrika en Australië. In die onlangse dekades het die El Niño's van 1982/'83 en 1997/'98 van die ergste droogteskade in die Suidelike Halfrond en terselfdertyd vloedskade in die Noordelike Halfrond veroorsaak. El Niño kom gewoonlik elke tweede tot sewende jaar voor en word deur verskeie lande gevrees. Volgens navorsing beïnvloed dié verskynsel waarskynlik reeds die wêreld minstens 5 000 jaar lank en is daar tekens dat ’n eens florerende Egipte sowat 2000 v.C. op sy knieë gedwing is deur ’n reeks droogtes. In ander gebiede, soos China, was daar in 2000 v.C. weer geweldige vloede.
Wat die afgelope dekades betref, het verskeie El Niño’s al miljarde rande se skade aangerig deur droogtes en terselfdertyd vloede in ander wêrelddele. So word die El Niño’s van 1982/’83 en 1997/’98 as die ergstes in die onlangse jare geag: derduisende mense is dood, miljarde rande se oesskade is aangerig deur droogte en ’n oormaat reën en vloede het strukture en infrastruktuur erg beskadig. Die El Niño van 1957/’58 word ook as een van die rampspoedigstes van die afgelope eeu beskou, en die El Niño van 1972/’73 word ook onder die ernstigstes gereken.
Die kragtige El Niño van 1877/’78 in die negentiende eeu het die wêreld waarskynlik op soortgelyke wyse beïnvloed en miljoene mense se dood veroorsaak en erge ellende wêreldwyd veroorsaak.
Hoewel die El Niño nog nie heeltemal verklaar of voorspel kan word nie, is daar al ander faktore geïdentifiseer wat tot die vorming kan bydra. Navorsers meen byvoorbeeld dat die voorafgaande El Chichón-vulkaanuitbarsting in Meksiko tot die vorming van die kragtige El Niño in 1982/’83 kon bygedra het deur die atmosferiese sirkulasie te verswak wat oseaansirkulasie aandryf. Die uitbarsting van Mount Pinatubo in die Filippyne in 1991 het waarskynlik ’n soortgelyke uitwerking op klimaatpatrone en die vorming van die El Niño kort daarna gehad.
Die Noorweegs-Amerikaanse meteoroloog Jacob Bjerknes het eers in die laat-vyftigerjare van die vorige eeu rigting gegee aan teorieë oor die verband tussen winde en seeverwarming in die Stille Oseaan, maar die internasionale media wou tot in die tagtigerjare nog nie aan sy en ander wetenskaplikes se teorieë byt nie. Eers in die middel-tagtigerjare is baie van die geheimenisse van die verskynsels uitgepluis en statistieke saamgestel van El Niño’s wat waarskynlik al eeue lank met erge droogtes en vloede saamgeval het maar hom minstens in die afgelope eeu as ’n groot weerverskynsel gevestig het.
Definisie en terminologie duimnael|regs|350px|Die Suidelike Ossillasie-indeks van 1876 tot 2025. Die Suidelike Ossillasie is die atmosferiese komponent van El Niño: 'n ossillasie in die lugdruk aan die oppervlak tussen die tropiese oostelike en westelike Stille Oseaan. Die El Niño–Suidelike Ossillasie is 'n enkele klimaatverskynsel wat in drie fases herhaal: neutraal, La Niña of El Niño. La Niña en El Niño is teenoorgestelde fases van die ossillasie, en 'n gebeurtenis word verklaar wanneer bepaalde oseaan- en atmosferiese toestande bereik of oortref word.
Die verwarmingsfase van die see-oppervlaktemperatuur staan as El Niño bekend en die verkoelingsfase as La Niña, terwyl die "Suidelike Ossillasie" die ossillasie in die lugdruk aan die oppervlak tussen die tropiese oostelike en die tropiese westelike Stille Oseaan is.
Een van die vroegste opgetekende gebruike van die term "El Niño" met verwysing na die klimaat was in 1892, toe kaptein Camilo Carrillo die geografiese vereniging se kongres in Lima meegedeel het dat Peruaanse seelui die warm suidwaarts vloeiende stroom "El Niño" genoem het. La Niña, die kouer teenhanger, is in die verlede ook 'n anti-El Niño en El Viejo – "die ou man" – genoem.
Grondbeginsels duimnael|regs|Die westelike Stille Oseaan is gewoonlik warmer as die oostelike deel. Die warmer water in die weste lei tot meer wolke, meer reënval en 'n laer lugdruk, en die opbou van warm water in die weste verdiep ook die termoklien. Gemiddeld is die see-oppervlaktemperatuur in die tropiese oostelike Stille Oseaan sowat 8 tot 10 °C koeler as in die tropiese westelike Stille Oseaan. Die see-oppervlaktemperatuur van die westelike Stille Oseaan noordoos van Australië is gemiddeld 28 tot 30 °C, teenoor sowat 20 °C in die oostelike deel voor die weskus van Suid-Amerika.
Sterk passaatwinde naby die ewenaar dryf water uit die oostelike Stille Oseaan na die westelike deel. Dié water word stadig deur die son verwarm terwyl dit weswaarts langs die ewenaar beweeg. Een gevolg hiervan is dat die seevlak naby Indonesië gewoonlik sowat 'n halwe meter hoër is as dié naby Peru. Die warm oppervlakwater versamel in die westelike Stille Oseaan, met die gevolg dat die termoklien – die oorgangsone tussen die warmer water naby die oseaanoppervlak en die kouer water van die diepsee – in die weste veel dieper lê, met 'n gemiddelde diepte van sowat 140 m teenoor sowat 30 m in die ooste.
Die kouer diepseewater vervang die water wat aan die oppervlak uit die oostelike Stille Oseaan wegvloei en styg in 'n proses wat opwelling genoem word. Langs die weskus van Suid-Amerika word die water naby die oppervlak weswaarts gestoot deur die kombinasie van die passaatwinde en die Corioliskrag – 'n proses wat as Ekman-vervoer bekend staan – en kouer water uit die dieper oseaan styg langs die vastelandrand op om dit te vervang. Die noordwaarts vloeiende Humboldtstroom voer boonop kouer water uit die Suidelike Oseaan na die trope, en die kombinasie van dié stroom en die opwelling handhaaf 'n gebied van koeler water voor die kus van Peru.
Die westelike Stille Oseaan het nie 'n koue seestroom nie en minder opwelling, omdat die passaatwinde daar gewoonlik swakker is; dit laat die weste hoër temperature bereik. Dié warmer water verskaf energie vir die opwaartse beweging van lug, en die warm westelike Stille Oseaan het daarom gemiddeld meer wolke en reën as die koel oostelike deel.
Wanneer die passaatwinde swakker as gemiddeld is, verminder sowel die opwelling in die ooste as die vloei van warm oppervlakwater na die weste. Dit lei tot 'n koeler westelike en 'n warmer oostelike Stille Oseaan, en die wolke en reën verskuif ooswaarts. Dít is El Niño. Die teenoorgestelde gebeur wanneer die passaatwinde sterker as gemiddeld is: dan is die weste warmer en die ooste koeler, met meer bewolking en reënval oor die westelike Stille Oseaan. Dít is La Niña.
Bjerknes-terugvoer Die noue verband tussen die oseaantemperature en die sterkte van die passaatwinde is in 1969 vir die eerste keer deur Jacob Bjerknes geïdentifiseer. Bjerknes het ook veronderstel dat ENSO 'n stelsel met positiewe terugvoer is, waarin die gepaardgaande veranderinge in een komponent van die klimaatstelsel – die oseaan of die atmosfeer – die veranderinge in die ander versterk. Tydens die groei van 'n El Niño lei die kleiner verskil in oseaantemperature oor die Stille Oseaan byvoorbeeld tot swakker passaatwinde, wat die El Niño-toestand verder versterk.
Indien die Bjerknes-terugvoer die enigste proses was, sou ENSO egter permanent in een fase bly. Verskeie teorieë is voorgestel om te verklaar hoe die stelsel ondanks die positiewe terugvoer van een toestand na 'n ander kan verander. Volgens een siening stel die Bjerknes-terugvoer self negatiewe terugvoer in werking wat die afwykende toestand van die tropiese Stille Oseaan beëindig en omkeer, sodat ENSO 'n selfbeperkende proses is. Ander teorieë beskou die toestand as iets wat deur onreëlmatige en eksterne verskynsels verander word, soos die Madden-Julian-ossillasie, tropiese onstabiliteitsgolwe en uitbarstings van westelike wind.
Walker-sirkulasie Bjerknes het voorgestel dat ENSO die gevolg is van 'n oos-wes omwentelende atmosferiese sel bo die Stille Oseaan, wat hy die Walker-sirkulasie genoem het na Gilbert Walker, wat die Suidelike Ossillasie vroeg in die twintigste eeu ontdek het. Volgens Bjerknes hang die sterkte van die sel af van die oos-wes temperatuurgradiënt langs die ewenaar: die opwaartse tak gaan met hoë seetemperature, konveksie en reënval in die westelike Stille Oseaan gepaard, terwyl die afwaartse tak oor die koeler see-oppervlaktemperature van die sentrale en oostelike Stille Oseaan voorkom.
Tydens die groei van 'n El Niño verklein die hoër see-oppervlaktemperatuur in die ooste die oos-wes temperatuurgradiënt en verswak die omwenteling. Dit verswak op sy beurt die oostelike winde aan die oseaanoppervlak, verminder die opwelling van koue water en lei uiteindelik tot nóg warmer see-oppervlaktemperature in die oostelike Stille Oseaan.
Suidelike Ossillasie Die Suidelike Ossillasie is die atmosferiese komponent van ENSO. Die sterkte daarvan word met die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI) gemeet, wat uit die wisseling in die verskil in lugdruk aan die oppervlak tussen Tahiti in die Stille Oseaan en Darwin in Australië bereken word. El Niño-episodes het 'n negatiewe SOI – laer druk oor Tahiti en hoër druk oor Darwin – en La Niña-episodes 'n positiewe SOI. Lae lugdruk kom gewoonlik oor warm water voor en hoë druk oor koue water, deels weens diep konveksie oor die warm water.