duimnael|Die Baha’i-wêreldsentrum soos gesien vanaf die boonste terrasse duimnael|Die hawestad Haifa met die Heiligdom van die Bab in die voorgrond duimnael|Die Baha’i se hangende tuine word beskou as 'n simbool van vrede en 'n plek van rustigheid in die hartjie van die Haifa-metropool op Karmelberg. Hulle is van die mees besoekte toeriste-aantreklikhede in Israel
Die Baha’i-wêreldsentrum (Engels: Baháʼí World Centre; Arabies: المركز البهائي العالمي; Hebreeus: המרכז הבהאי העולמי) is die administratiewe en godsdienstige sentrum van die Baha’i-geloof en sluit geboue in of naby die stede Akko en Haifa in Noord-Israel in.
Die Baha’i-wêreldsentrum se ligging in Akko en Haifa het sy oorsprong in Baha'u'llah, die Baha’i-geloof se stigter, se verbanning na Akko se vesting deur Ottomaanse owerhede in 1868. In die Baha’i-wêreldsentrum is talle van die Baha’i se heilige plekke geleë, waaronder die Heiligdom van Baha'u'llah, die Heiligdom van die Bab en die Heiligdom van ʻAbdu'l-Bahá. Daarbenewens sluit dit die huise in, waar Baha'u'llah en sy familie hul ballingskap deurgebring het of wat 'n belangrike betekenis in die Baha’i-geskiedenis het. Van dié geboue, monumente en heiligdomme is in die Baha’i-tuine by Karmelberg geleë. Digby die Heiligdom van die Bab op Karmelberg is ook die Universale Huis van Geregtigheid (die hoogste beheerliggaam van die Baha’i-geloof), die Setel van die Internasionale Onderrigsentrum, die Internasionale Argief en die Sentrum vir die Bestudering van die Heilige Geskrifte geleë. Die meeste van die Baha’i-geloof se internasionale bestuur en koördinasie vind by die Baha’i-wêreldsentrum plaas, waaronder onderrigplanne en beide die studie en vertaling van die Baha’i se heilige geskrifte. Die Baha’i-wêreldsentrum is ook die hoofbestemming vir beide godsdienstige toerisme en Baha’i-pelgrims, en lok jaarliks sowat een miljoen besoekers.
Die meeste van die Baha’i-wêreldsentrum se geboue, waaronder die terrasse en die Heiligdom van die Bab aan die noordelike hange van Karmelberg, is in 2008 deur Unesco as 'n wêrelderfenisgebied gelys.
Karmelberg Dwarsdeur die religieuse geskiedenis is in 'n aantal bronne na Karmelberg verwys. Byvoorbeeld word in die Ou Testament se boek Jesaja geprofeteer dat dit die "Here se berg" is, waarna "al die volke sal stroom". Baha'u'llah het Haifa vier keer besoek en sy tent op Karmelberg opgeslaan. Tydens een van hierdie besoeke het hy vir ʻAbdu'l-Bahá die plek aangedui waar die Heiligdom van die Bab opgerig sou word. Op 'n ander keer het hy die sogenoemde "Tablet van Karmel" geskryf, waarin Karmelberg se betekenis vir die toekomstige Baha’i-gemeenskap beskryf word.
Geskiedenis duimnael|Baha'u'llah se pad van ballingskap tot in Akko van 1853 tot 1868 duimnael|Ligging van die Baha’i-wêreldsentrum in Akko en Haifa, Israel Die ligging van die administratiewe sentrum was die gevolg van 'n opeenvolgende aantal verbannings en gevangenisstrawwe wat Baha'u'llah, die stigter van die Baha’i-geloof, opgelê is. Baha'u'llah is in 1853 deur Naser ed-Din Kadjar uit Persië verban, waarna Baha'u'llah na Bagdad in die destydse Ottomaanse Ryk gegaan het. In 1863 is hy deur die Ottomaanse sultan Abdülaziz verban op versoek deur die Persiese sjah na gebiede verder weg van Iran en in 1868 uiteindelik na Akko in die destydse Ottomaanse Sirië. In dié gebied het Baha'u'llah sy laaste lewensjare deurgebring en hy het met sy volgelinge dwarsdeur die Nabye Ooste, Sentraal-Asië en Indië deur spesiale koeriers gekommunikeer, waardeur Akko in die sentrum van die groeiende Baha’i-geloof se netwerk ontwikkel het. Toe Baha'u'llah se gevangenisstraf gelig is, het die gebied ook 'n sentrum van Baha’i-pelgrimstogte geword, aangesien Baha’i die langste afstand sou aflê om Baha'u'llah te ontmoet.
Tydens 'n besoek aan Haifa het Baha'u'llah vir sy seun ʻAbdu'l-Bahá die ligging van die latere Heiligdom van die Bab op Karmelberg aangedui. Daarbenewens het Baha'u'llah in sy Tablet van Karmel, wat beskou word as een van die Baha’i-administrasie se handvesdokumente, die toekomstige ligging van die Baha’i-geloof se administratiewe sentrum op Karmelberg beskryf.
In 1892 is Baha'u'llah naby Akko oorlede en sy rusplek is in sy Heiligdom in Bahji. Ná Baha'u'llah se dood is sy seun ʻAbdu'l-Bahá tot hoof van sy vader se godsdiens benoem en die ontwikkeling van die plek as die sentrum van die Baha’i-geloof is voortgesit. Hy het aanhou kommunikeer met Baha’i dwarsoor die wêreld, waaronder nou ook Baha’i in Westerse lande. Terwyl hy steeds amptelik 'n gevangene en op Akko beperk was, het ʻAbdu'l-Bahá ook die oordrag van die Bab se oorskot van Iran na Palestina gereël. Hy het die aankoop van land by Karmelberg georganiseer, waar Baha'u'llah opdrag gegee het om die oorskot van die Bab ter ruste te lê en het ook die oprigting van die Heiligdom van die Bab georganiseer. Dié projek het nog tien jaar geneem en is in 1909 voltooi.
In 1908 is ná die Jong Turkse rewolusie al die politieke gevangenes in die Ottomaanse Ryk vrygelaat, waaronder ook ʻAbdu'l-Bahá. Kort ná die rewolusie het hy na Haifa verhuis om naby die Heiligdom van die Bab te woon, en sedertdien is die administratiewe hoofkwartier van die godsdiens in Haifa geleë. Gedurende ʻAbdu'l-Bahá se oorblywende lewensjare het die toenemende vlak aan korrespondensie gelei tot die indiensneming van 'n aantal sekretarisse, waaronder sommiges van Westerse tale en die voorsiening van 'n pelgrimhuis in die gebied. ʻAbdu'l-Bahá is in 1921 oorlede en hy is in 'n kamer in die Heiligdom van die Bab in Haifa ter ruste gelê.
Ná ʻAbdu'l-Bahá se dood was Shoghi Effendi die leier van die godsdiens en hy het die ontwikkeling van 'n aantal afsonderlike bouprojekte in die gebied gelei. Hy het in 1929 die huis van Baha'u'llah in Bahji gerenoveer en in die 1950's wettige besit van die grond rondom die gebou verseker, waarop 'n aantal tuine aangelê is. Hy het ook besit verkry van ander plekke rondom Akko wat verband hou met Baha'u'llah se lewe, waaronder die Huis van ʻAbbud. Rondom Haifa het hy die Heiligdom van die Bab uitgebrei deur sy goue koepelvormige bobou op te rig en grond rondom die Heiligdom aangekoop om tuine aan te lê. Shoghi Effendi het ook besluit dat die geboue wat die instellings van die godsdiens, waarvoor in Baha'u'llah se Tablet van Karmel voorsiening gemaak is, waaronder die Universale Huis van Geregtigheid, die destyds nog nie gestigte beheerliggaam van die wêreldwye Baha’i-gemeenskap, in 'n deur tuine omringde Boog sou gerangskik wees. Die sentrum van dié Boog het die Graftuine geword, wat die grafte van lede van die Baha’i-heilige familie bevat. Gedurende sy eie leeftyd het hy die oprigting van een van die Boog se geboue begin, die Internasionale Argiefgebou. Daarbenewens het hy met Israel belastingvrye status vir al die Baha’i-eiendomme onderhandel. Die godsdiens se situasie in Israel is uitgeklaar in 'n ooreenkoms wat in 1987 deur die destydse adjunkpremier en minister van buitelandse sake, Shimon Peres, onderteken is, waarin die regering die Baha’i-geloof beskryf as 'n "erkende godsdiensgemeenskap in Israel" en sy "vriendskaplike betrekkinge" met die wêreldwye Baha’i-gemeenskap bekragtig en opmerk dat die "heiligste plekke van die Baha’i-geloof, … in Israel geleë is", en bevestig "dat die Universale Huis van Geregtigheid van die Internasionale Baha’i-gemeenskap die toesighouer oor die Heilige Plekke van die Baha’i-geloof in Israel en oor die Baha’i-skenkings in Israel" is.
Geboue Heilige plekke in Haifa en Akko
Heiligdom van die Bab In dié mausoleum is die Bab se oorskot ter ruste gelê en dit is op die plek opgerig, wat deur Baha'u'llah tydens 'n besoek aan Haifa self aangedui het. ʻAbdu'l-Bahá het die opdrag gehad om die gebou op te rig, die Bab se oorskot ná 60 jaar se wandelgang uit van Teheran in Iran na die heilige Karmelberg te bring en daar te begrawe. Die gebou huisves tans ook ʻAbdu'l-Bahá se graftombe.
Heiligdom van Baha'u'llah Dit bevat Baha'u'llah se oorskot. Volgens die Baha’i is die plek uniek, aangesien hier volgens Shoghi Effendi "die heiligste stof wat die aarde ooit in sy baarmoeder ontvang het" begrawe is. Baha'u'llah is in die noordelikste kamer in die huis van sy skoonseun Siyyid ʻAli Afnan op die dag van sy dood op 29 Mei 1892 net ná sononder begrawe. Vir dié kamer is later 'n aparte oordekte toegang opgerig. Dit word daagliks deur talle Baha’i besoek, wat die heilige plekke meestal tydens hul pelgrimstogte besoek vir stille gebede en meditasies. Hierdie plek is ook van groot belang vir al die Baha’i wêreldwyd, omdat dit as "Kiebli" die rigting vir die daaglikse verpligte gebede en die gebed vir die dooies aandui.
Heiligdom van ʻAbdu'l-Bahá Deesdae is ʻAbdu'l-Bahá in die Heiligdom van die Bab begrawe. Op 7 Mei 2019 het die Universale Huis van Geregtigheid aangekondig dat Hossein Amanat opdrag gegee is met die ontwerp vir die Heiligdom van ʻAbdu'l-Bahá. Op 19 September 2019 het die Universale Huis van Geregtigheid die ontwerp vir die Heiligdom publiek gemaak. Die heiligdom se konstruksie vorder.
Ridvan-tuin Baha'u'llah het hierdie klein, groen eiland in die middel van 'n rivier die Ridvan-tuin (Arabies: "Paradys") genoem, wat egter nie moet verwar word met die Ridvan-tuin in Bagdad nie, waar Baha'u'llah in 1863 sy sending verkondig het. Die Ridvan-tuin was die plek waar Baha'u'llah ná byna tien jaar se arrestasie in Akko vir die eerste keer die Akko-gevangenis se mure kon verlaat en weer die natuur ervaar het. Voorheen was sy enigste fisiese bewegings om in sy slaapkamer op en af te loop.
Landhuis Bahji Die Landhuis Bahji is op 'n heuwel in 'n gebied geleë waarna vroeër as Al-Bahja (Arabies: "Plek van Vreugde") verwys is. Uit dié voormalige somerpaleis van die ryk koopman Udi Khammar, wat oorspronklik in besit was van die Huis Abbud se oostelike helfte, is ná 'n pandemie deur die eienaars ontruim. In 1879 het ʻAbdu'l-Bahá die landhuis verkry en dit het die verblyf geword vir die meeste van sy familie. Verskeie kamers in die huis is vir die Baha’i van groot historiese belang.
Huis van Abbud In die gebou wat uit twee dele bestaan, wat die "Huis van Abbud" genoem is, het Baha'u'llah byna sewe jaar gewoon. Die gebou was vir die aantal familielede van Baha'u'llah heeltemal te klein, omdat deels 13 mense een kamer moes deel. Nietemin is hier in 1873 die Kitab-i-Aqdas, die Baha’i se heiligste boek, geopenbaar.
Baha'u'llah se sel in die Akko-gevangenis Die sel in die Akko-gevangenis, waar Baha'u'llah van 1868 tot 1870 saam met familielede gevange gehou is, is vandag 'n pelgrimsterrein in die Museum van die Ondergrondse Gevangenes. Israeliese monumentbewaring, die Baha’i-gemeenskap en die Genootskap vir die Ontwikkeling van Ou Akko het die sel in Junie 2004 herstel en heropen.
Ander geboue Die ander geboue van die Boog, die Setel van die Universale Huis van Geregtigheid, die Sentrum vir die Bestudering van die Heilige Geskrifte en die Setel van die Internasionale Onderrigsentrum is onderskeidelik in 1982, 1999 en 2000 voltooi. Die vyfde gebou wat nog opgerig sal word, die Internasionale Baha’i-bibliotek, sal uiteindelik aan die oostelike kant van die Boog opgerig word en sal na verwagting as 'n sentrum vir "kennis in alle gebiede" dien, waaronder wetenskaplike ondersoek. Die terrasse rondom die Heiligdom van die Bab is in 2001 voltooi.
Galery
Administrasie duimnael|Die Baha’i-boog soos gesien vanaf die Internasionale Argief duimnael|Sentrum vir die Bestudering van die Heilige Geskrifte