Die bakoorjakkals (Otocyon megalotis), bekend vanweë sy groot ore, is 'n klein, skadelose dier wat in Oos- en Suid-Afrika voorkom. Dit is die enigste spesie in die genus Otocyon. As gevolg van die bakoorjakkels se gebit, word dit soms ook as 'n selfstandige subfamilie beskou (Otocyoninae).

Bakoorjakkalse het 'n grysbruin pels en groot, breë ore wat wit is aan die binnekant. 'n Gemiddelde volwasse bakoorjakkals het 'n massa van 5 kg, 'n lengte van ± 80 cm en 'n hoogte van ± 35 cm. Sy ore is ongeveer 13 cm lank en goed ontwikkel om by woestynklimaat aan te pas. Die oppervlak van sy ore is goed beaar en bevorder die verwerking van oortollige hitte. duimnael|links|Twee bakoorjakkalse in die veld. Bakoorjakkalse lewe van insekte en ander goggas, muise en ander knaagdiere en wilde vrugte. Hulle sal ook soms klein voëltjies vang of voëleiers eet. Sy gebit lyk ook meer na die van 'n inseketer as die van 'n roofdier. Bakoorjakkelse het tussen 40 en 46 relatiewe klein tande.

Hulle kom in droë streke voor en is meestal snags aktief. Bakoorjakkalse woon alleen, in pare, met hulle kleintjies, of selfs in klein groepe. Die wyfie is vir drie maande dragtig en skenk telkens aan drie tot vyf kleintjies geboorte. Beide ouers help om die kleintjies groot te maak.

Subspesies Otocyon megalotis megalotis - Suid-Zambië, Botswana, Namibië en Suid-Afrika Otocyon megalotis virgatus - Tanzanië, Kenia Otocyon megalotis canescens - Ethiopië, Somalië

Sien ook Lys van Suider-Afrikaanse soogdiere Lys van Suider-Afrikaanse soogdiere volgens wetenskaplike name Suider-Afrikaanse soogdiere en hul ordes

Bronnelys

Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke (1979). Saamgestel deur Die Nasionale Parkeraad. 'n Publikasie van die Raad van Kuratore vir Nasionale Parke van die Republiek van Suid-Afrika. . Clark, H.O., Jr. 2005. Otocyon megalotis. Mammalian Species. 766:1-5. Nel & Maas (2004): Otocyon megalotis by die IUCN se Red List vir bedreigde spesies. Hondagtiges in Wêreldspektrum, volume 11. 1983 Ensiklopedie Afrikana: (EDMS) BPK. Vosse in Wêreldspektrum, volume 29. 1983 Ensiklopedie Afrikana: (EDMS) BPK.

Kategorie:Hondagtiges