Adolessensie is ’n oorgangstadium in die menslike fisieke en sielkundige ontwikkeling wat duur van puberteit tot meerderjarigheid. Vir ’n seun is dit gemiddeld van 14 tot 21 jaar en vir ’n meisie van 12 tot 21 jaar."Adolessensie" in die HAT. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig). Besoek op 20 Oktober 2020. Adolessensie word gewoonlik vereenselwig met die tienerjare, maar die fisieke, sielkundige en kulturele uitdrukking daarvan kan vroeër of later wees. Puberteit begin deesdae eerder al voor adolessensie, veral by meisies. Fisieke groei (veral in mans) en kognitiewe ontwikkeling kan voortduur tot in die vroeë 20's. Ouderdom is dus net ’n rowwe aanduiding van adolessensie en dit is vir geleerdes moeilik om oor ’n presiese definisie ooreen te kom.

thumb|240px|links|Twee adolessente luister na musiek. ’n Deeglike begrip van adolessensie in die gemeenskap hang af van inligting uit verskillende perspektiewe, insluitende sielkunde, biologie, geskiedenis, sosiologie, opvoeding en antropologie. In al dié perspektiewe word adolessensie beskou as ’n oorgangstydperk tussen die kinderjare en volwassenheid, en die kulturele doel daarvan is om kinders voor te berei op grootmensrolle.Larson, R., & Wilson, S. (2004). Adolescence across place and time: Globalization and the changing pathways to adulthood. In R. Lerner and L. Steinberg Handbook of adolescent psychology. New York: Wiley Dit is ’n tydperk wat verskeie oorgange behels: in opleiding, indiensneming en werkloosheid, asook oorgange van een lewenstadium tot ’n ander.Coleman, John; Roker, Debi. Psychologist11. 12 (Desember 1998): 593. "Adolescence".

Die einde van adolessensie en die begin van volwassenheid verskil van land tot land. Selfs binne ’n sekere staat, nasie of kultuur kan ouderdomme verskil waarop ’n individu as volwasse genoeg beskou word dat die gemeenskap sekere voorregte en verantwoordelikhede aan hom of haar toevertrou. Dit sluit in die bestuur van ’n motor, wettige seksuele verhoudings, diens in die weermag, die koop en drink van alkohol en tabak, stemreg, die huwelik en geregtelike verantwoordbaarheid.

In die bestudering van adolessente ontwikkeling kan dié tydperk biologies gedefinieer word, as die fisieke oorgang wat gekenmerk word deur puberteit en die einde van fisieke groei; kognitief, as veranderings in die vermoë om abstrak en veelvlakkig te dink; of sosiaal, as ’n tydperk van voorbereiding op grootmensrolle. Groot puberteits- en biologiese veranderings sluit in veranderings aan die geslagsorgane, lengte, gewig en massa, asook in breinontwikkeling en . Kognitiewe voordele sluit in beide ’n toename in kennis en die vermoë om abstrak te dink en doeltreffender te redeneer. Die bestudering van adolessente ontwikkeling behels dikwels interdissiplinêre samewerking. Navorsers in neurowetenskap kan fokus op veranderings in breinstruktuur en die uitwerking daarvan op sosiale verhoudings. Sosioloë kan aandag skenk aan die aannleer van sosiale rolle en hoe dit van kultuur tot kultuur verskil.Côté, J.E. (1996). Identity: A multidimensional analysis. In G. R. Adams, T. Gullotta & R. Montemeyer (reds.), Issues in Adolescent Development (Vol. 6, pp. 130–180). New York, NY: Sage Publications. Ontwikkelingsielkundiges kan fokus op veranderings in verhoudings met ouers en tydgenote as ’n funksie van skoolstruktuur en puberteitstatus.Simmons, R., & Blyth, D. (1987). Moving into adolescence. New York: Aldine de Gruyter. Sommige wetenskaplikes het al die universaliteit van adolessensie as ’n ontwikkelingsfase bevraagteken. Hulle meen eienskappe wat gewoonlik as tipies van adolessente beskou word, is nie werklik inherent aan die tienerjare nie.

Biologiese ontwikkeling Puberteit in die algemeen

thumb|200px|Die bolyf van ’n tienerseun. Die struktuur het verander en begin lyk soos dié van ’n volwassene. Puberteit is ’n tydperk van verskeie jare waarin vinnige fisieke groei en sielkundige veranderings plaasvind wat tot seksuele rypheid lei. Die gemiddelde begin van puberteit is 11 jaar vir meisies en 12 jaar vir seuns. Elke mens se individuele tydskaal vir puberteit word hoofsaaklik deur oorerflikheid bepaal, hoewel omgewingsfaktore soos dieet en oefening ook ’n invloed het. Dié faktore kan lei tot vroeë of laat puberteit.

Van die belangrikste dele van puberteitsontwikkeling behels spesifieke fisieke veranderings in ’n individu se lengte, gewig, liggaamsamestelling, bloedsomloop- en asemhalingstelsel.Marshal, W. (1978). Puberty. In F. Falkner & J.Tanner (Eds.), Human growth, Vol. 2. New York: Plenum. Dié veranderings word hoofsaaklik deur hormonale aktiwiteit bewerkstellig. Hormone vervul ’n organisatoriese rol, deur die liggaam te beïnvloed om op ’n sekere manier op te tree sodra puberteit begin, en ’n aktiewe rol, wat te doen het met veranderings in hormone gedurende adolessensie wat die sneller is vir gedrags- en fisieke veranderings.Coe, C., Hayashi, K., & Levine, S. (1988). Hormones and behavior at puberty: Activation or concatenation. In M. Gunnar & W.A. Collins (Eds.), The Minnesota Symposia on Child Psychology, Vol. 21, pp. 17–41. Hillsdale, NJ: Erlbaum.

Puberteit begin met ’n toename in hormoonvervaardiging, wat weer ’n paar fisieke veranderings teweegbring. Dit word gekenmerk deur die verskyning of ontwikkeling van die sekondêre geslagseienskappe (byvoorbeeld ’n dieper stem en groter adamsappel by seuns en die ontwikkeling van borste en ronder heupe by meisies). Die geslagskliere (testikels en eierstokke) word ook geaktiveer en laat hulle groei en ontwikkel. Dié kliere begin nou ’n massavervaardiging van hormone: onderskeidelik testosteroon en estrogeen. Die hormoonvervaardiging neem geleidelik toe totdat seksuele rypheid bereik word.

Gesigshare by seuns kom in ’n spesifieke volgorde voor: gewoonlik van die hoeke van die bolip tot oor die hele baardarea. Die grootste baken vir seuns in puberteit is spermarg, die eerste ejakulasie, wat gewoonlik op sowat 13 voorkom.(Jorgensen & Keiding 1991). Vir meisies is dit menarg, die begin van die maandstondes, op sowat 12 tot 13 jaar.(Tanner, 1990). Om menarg te bereik moet meisies ’n sekere hoeveelheid liggaamsvet hê. Meisies wat ondervoed is of in gemeenskappe met kinderarbeid woon, begin later menstrueer as ander meisies.

Meisies voltooi gewoonlik teen 15 tot 17 jaar hulle volle fisieke ontwikkeling, terwyl dit by seuns op sowat 16 tot 17 jaar gebeur.Marshall (1986), p. 176–7 Meisies bereik voortplantingsrypheid sowat vier jaar ná die eerste fisieke tekens van puberteit. Daarteenoor ontwikkel seuns stadiger, maar hulle groei vir tot ses jaar ná die eerste sigbare tekens.Garn, SM. Physical growth and development. In: Friedman SB, Fisher M, Schonberg SK., reds. Comprehensive Adolescent Health Care. St Louis: Quality Medical Publishing; 1992. Besoek op 20 Februarie 2009

thumb|center|900px|’n Benaderde voorstelling van die ontwikkelingstydperk in die kinderjare en vroeë volwasse jare. Adolessensie is boaan in rooi gemerk.

Geslagseienskappe Primêre geslagseienskappe is dié wat regstreeks met die seksorgane verband hou. By mans is die eerste fases van puberteit die groei van die testikels en skrotum, gevolg deur die groei van die penis.Goldstein, B. (1976). Introduction to human sexuality. Belmont, CA: Star. Terselfdertyd ontwikkel ander dele, soos die prostaat. Die eerste ejakulasie van seminale vloeistof kom gewoonlik voor sowat ’n jaar nadat die penis begin groei het, maar dit word dikwels deur kultuur eerder as biologie bepaal, want by baie seuns geskied die eerste ejakulasie tydens masturbasie.Tanner, J. (1972). Sequence, tempo, and individual variation in growth and development of boys and girls aged twelve to sixteen. In J. Kagan & R. Coles (Eds.), Twelve to sixteen: Early adolescence, New York: Norton.

By meisies hou veranderings in primêre eienskappe verband met die groei van die baarmoeder, vagina en ander dele van die voortplantingstelsel. Menarg is ’n redelik laat ontwikkeling wat op ’n lang reeks hormonale veranderings volg.

Veranderings in sekondêre geslagseienskappe sluit in alle veranderings wat nie met seksuele voortplanting verband hou nie. By seuns behels dit die verskyning van gesigs-, pubiese en liggaamshare, die stem wat dieper word, die vel om die boarms en bobene wat growwer word en verdere ontwikkeling van die sweetkliere. By meisies is dit die ontwikkeling van die borste, die heupe wat breër word, die verskyning van pubiese en onderarmhare, die areolas wat groter word en die verhoging van die tepels.Steinberg, L. (2008). Adolescence, 8ste uitg. New York, NY: McGraw-Hill.

In die brein Die menslike brein is nog nie ten volle ontwikkel teen die tyd dat iemand puberteit bereik nie. Tussen 10 en 25 jaar ondergaan die brein veranderings wat belangrike implikasies vir gedrag inhou. Die brein het 90% van sy volwasse grootte bereik teen die tyd dat ’n kind ses jaar oud is. Die brein groei dus nie baie gedurende adolessensie nie, maar voue in die brein raak ingewikkelder tot in die laat tienerjare. Die grootste veranderings in die voue in dié tyd is in die dele van die korteks wat kognitiewe en emosionele inligting verwerk.

thumb|links|200px|Portret van 'n jong meisie, deur Aleksei Harlamof (1840-1925). Gedurende adolessensie neem die hoeveelheid witstof in die brein lineêr toe, terwyl die hoeveelheid grysstof ’n omgekeerde U-patroon volg. Onnodige senuverbindings in die brein word verwyder en die hoeveelheid grysstof neem af. Dit beteken egter nie die brein verloor funksionaliteit nie; dit word net doeltreffender vanweë die isolering van die aksons en die vermindering van ongebruikte bane.

Die eerste dele van die brein wat gestroomlyn word, is dié wat by die primêre funksies betrokke is, soos motoriese en sensoriese gebiede. Die dele van die brein wat by ingewikkelder prosesse betrokke is, verloor later stof. Dit sluit die laterale en prefrontale korteks in. Die ontwikkelings in die brein bring beter besluitneming en kognitiewe beheer mee, asook doeltreffender inligtingsprosessering, bepaling van risiko's en belonings, en impulsbeheer.

thumb|240px|Dopamienbane in die brein. Die senuoordraers wat ’n belangrike rol speel in die ontwikkeling van adolessente se brein is glutamaat, dopamien en serotonien. Glutamaat is ’n prikkelende senuoordraer. Tydens die stroomlyning van die brein bevat baie van die senuverbindings wat in die slag bly ontvangers vir glutamaat en ander prikkelende senuoordraers.Weinberger, D.R., Elvevåg, B., Giedd, J.N. (2005). The Adolescent Brain: A Work in Progress. The National Campaign to Prevent Teen Pregnancy.

Dopamien word verbind met plesier en ’n instelling op die omgewing tydens besluitneming. Tydens adolessensie styg dopamienvlakke in die limbiese stelsel. Die balans tussen prikkelende en inhiberende senuoordraers en ’n toename in dopamienaktiwiteit in adolessente het moontlik gevolge vir die neem van risiko's en vatbaarheid vir verveling.

Serotonien is ’n senumodulator wat betrokke is in die regulasie van gemoedstemming en gedrag. Ontwikkeling in die limbiese stelsel speel ’n belangrike rol in die bepaling van belonings en strawwe, asook in die verwerking van emosionele ondervinding en sosiale inligting. Veranderings in die vlakke van dopamien en serotonien in die limbiese stelsel maak adolessente emosioneler en meer vatbaar vir belonings en stres. Die ooreenstemmende toename in emosionele wisselings kan ook ’n adolessent se kwesbaarheid laat toeneem.

Kognitiewe ontwikkeling