thumb|260px|'n Ouma en haar kleinkind tydens Nouruz in Koerdistan, Iran.
Veroudering is die proses van ouer word. Die term verwys hoofsaaklik na mense, baie ander diere en swamme, terwyl bakterieë, meerjarige plante en sommige eenvoudige diere potensieel onsterflik is.
By die mens verteenwoordig dit die stelselmatige ophoping van veranderings, wat fisiek, sielkundig en sosiaal kan wees. Reaksietyd kan byvoorbeeld met veroudering stadiger raak, terwyl herinneringe en algemene kennis kan toeneem. Veroudering is die grootste bekende risikofaktor vir die meeste menslike siektes: kanker, Alzheimersiekte, diabetes, hartbloedvatsiektes, beroerte en talle ander. Van die rofweg 150 000 sterftes wat elke dag wêreldwyd voorkom, is sowat twee derdes verwant aan ouderdom.
Huidige verouderingsteorieë word toegeskryf aan die skadekonsep, waar die ophoping van skade (soos DNS-oksidasie) kan veroorsaak dat biologiese stelsels ingee, of aan die geprogrammeerde verouderingskonsep, waar die interne prosesse (epigenetiese onderhoud soos DNS-metilering) inherent veroudering kan veroorsaak.
Veroudering teenoor onsterflikheid Mense en lede van ander spesies, veral diere, verouder en gaan dood. Swamme kan ook verouder. In teenstelling daarmee kan baie spesies as moontlik onsterflik beskou word: Bakterieë verdeel byvoorbeeld om dogterselle te produseer, aarbeiplante groei lopers om klone van hulleself te skep en diere in die genus Hydra het 'n herlewingsvermoë wat voorkom dat hulle van ouderdom doodgaan.
Vroeë lewe op Aarde, wat minstens 3,7 miljard jaar gelede begin het, was enkelsellige organismes (organismes wat net uit een sel bestaan, in teenstelling met meersellige organismes, wat uit talle selle bestaan). Sulke organismes (prokariote, alge, ensovoorts) vermeerder deur die verdeling in dogterselle. Hulle verouder nie en is dus potensiaal onsterflik onder gunstige toestande.
Veroudering en sterflikheid van die individuele organisme het moontlik geraak met die evolusie van seksuele voortplanting, wat begin het met die opkoms van die koninkryke Fungi/Animalia sowat 'n miljard jaar gelede en die ontwikkeling van saadplante 320 miljoen jaar gelede.
Die seksuele organisme kon hierna van sy genetiese materiaal oordra om nuwe individue te produseer en self misbaar word met betrekking tot die oorlewing van die spesie.
thumb|180px|Die onsterflike Hydra, 'n verwant van die jellievis. Dié klassieke biologiese idee is egter onlangs op sy kop gekeer met die ontdekking dat die bakterie E. coli in onderskeidbare dogterselle kan verdeel. Dit het die teoretiese moontlikheid daargestel dat "ouderdomsklasse" onder baterieë kan bestaan.
Selfs in mense en ander sterflike spesies is daar selle met die moontlikheid van onsterflikheid: spesifieke kankerselle en stamselle soos kiemselle (wat eier- en spermselle vervaardig). In kunsmatige kloning kan moederselle tot embriostatus verjong word en dan gebruik word om nuwe weefsel of 'n dier te skep sonder dat hulle ouer word.
thumb|180px|Ouer mense se groter neuse en ore word soms toegeskryf aan die voortgesette groei van kraakbeen, maar die oorsaak is waarskynliker swaartekrag.
Tekens Die meeste mense ondervind 'n paar tipiese verouderingsimptome gedurende hul leeftyd: Tieners verloor ’n jong kind se vermoë om hoëfrekwensieklanke bo 20 kHz te hoor. Plooie ontwikkel, veral op dele wat aan die son blootgestel word (soos die gesig). Nadat vroulike vrugbaarheid in die middel 20's ’n hoogtepunt bereik het, neem dit stadig af. Ná 30 jaar neem die menslike liggaamsmassa af. Spiere reageer minder op oefening of besering, en verlies aan spiermassa en -krag is algemeen. ’n Groter risiko kom by mense bo 35 voor dat die krag in die siliêre spier (die kringspier van die straalvormige liggaam in die oog) afneem, wat kan lei tot probleme om op nabye voorwerpe te fokus (versiendheid). Die meeste mense ondervind versiendheid teen 45 tot 50 jaar. Om en by 50 jaar begin hare grys word. Omtrent 30% tot 50% van mans en ’n kwart van vroue begin hare op dele van die kop verloor. Menopouse kom tussen gemiddeld 44 en 58 jaar voor. In die ouderdomsgroep 60 tot 64 styg die voorkoms van osteoartritis tot 53%. Net 20% rapporteer egter op dié ouderdom stremmende osteoartritis. Amper die helfte van mense bo 75 jaar ervaar gehoorverlies, wat gesproke kommunikasie kan belemmer. Teen 80-jarige ouderdom het meer as die helfte van Amerikaners ’n katarak. Tingerigheid, ’n gevolg van ’n afname in krag, fisieke aktiwiteit en energie, raak 25% van mense ouer as 85.Persentasie verkry uit Tabel 2 in Fried et al. 2001 Arteriosklerose word as ’n ouderdomsiekte geklassifiseer. Dit lei tot hartbloedvatsiektes (soos beroerte en hartaanvalle), wat wêreldwyd die algemeenste oorsaak van die dood is.{https://laysamagazine.com/pdf/heart-disease-stroke-statistics/} Die veroudering van are veroorsaak ’n verlies aan elastisiteit en veroorsaak ’n styfheid van die liggaam se bloedvatnetwerk.
thumb|220px|’n Vergelyking tussen ’n brein wat normaalweg verouder het (links) en ’n brein wat deur Alzheimersiekte aangetas is (regs). Demensie kom algemeen by ouer mense voor. Sowat 3% van mense tussen 65 en 74, 19% tussen 75 en 84, en byna die helfte van mense ouer as 85 jaar het demensie. Die spektrum wissel van ligte kognitiewe belemmering tot die neurodegeneratiewe siektes Alzheimersiekte, serebrovaskulêre siekte, Parkinson se siekte en motorneuronsiekte. Baie soorte geheue neem ook af met die ouderdom, maar nie semantiese geheue (algemene kennis soos woorddefinisies) nie; dié neem toe of bly dieselfde tot laat in ’n mens se lewe. Intelligensie neem ook af, maar die tempo hang af van die soort en kan selfs dieselfde bly en net aan die einde van die leeftyd skielik afneem.
Ouderdom kan sigprobleme meebring en dit bemoeilik nieverbale kommunikasie, wat weer kan lei tot afsondering en moontlik depressie. Dit lyk egter of ouer mense minder aan depressie ly as jonger volwassenes; oor die algemeen verbeter die gemoedstoestand, ondanks ’n afname in fisieke gesondheid. Sigprobleme kan ook deur ander faktore veroosaak word, soos spieragteruitgang en groeisels om die retina.
Veroudering is die grootste risikofaktor vir siektes. Van die rofweg 150 000 mense wat jaarliks wêreldwyd sterf, sterf omtrent twee derdes (100 000 mense per dag) aan ouderdomsverwante siektes. In nywerheidslande is die persentasie hoër, tot 90%.Brunet Lab: Molecular Mechanisms of Longevity and Age Related Diseases. Stanford.edu. Besoek op 11 April 2012.
Biologiese basis thumb|160px|links|'n 95-jarige vrou hou 'n vyf maande oue seuntjie vas.
Navorsers begin nou maar eers die biologiese faktore van veroudering verstaan, selfs in relatief eenvoudige organismes met 'n kort leeftyd soos gis. Selfs minder is bekend oor die lewe van soogdiere, deels as gevolg van die langer lewe van selfs klein soogdiere soos die muis (sowat drie jaar).
'n Ideale organisme vir die bestudering van ouderdom is die rondewurm Caenorhabditis elegans, danksy sy kort leeftyd van twee tot drie weke en ons vermoë om genetiese manipulasies toe te pas of geenaktiwiteit met RNS-inmenging te onderdruk, ensovoorts. Die meeste bekende mutasies en RNS-inmengingsteikens wat lewensduur verleng, is eerste in C. elegans ontdek.
Die faktore wat as invloede op biologiese veroudering voorgestel is, val in twee hoofkategorieë: "geprogrammeer" en "skadeverwant". Geprogrammeerde faktore volg 'n biologiese tydskaal, dalk een wat 'n verlenging is van die een wat reguleer. Dié regulering sou afhang van veranderings in geenuitdrukking wat die stelsel beïnvloed wat verantwoordelik is vir instandhouding-, herstel- en verdedigingsmeganismes. Skadeverwante faktore sluit in interne en omgewingsaanslae op lewende organismes wat op verskillende vlakke ophopende skade aanrig.
Voorkoming en vertraging Lewenstyl 'n Kaloriebeperking beïnvloed baie diere se lewensduur aansienlik, veral die vermoë om ouderdomsverwante siektes uit te stel of te voorkom. Gewoonlik beteken dit die inname van 60-70% van die kalorieë wat 'n dier normaalweg sou inneem terwyl dit nog genoeg voedingstowwe inkry. In knaagdiere het dit lewensduur tot 50% verleng; 'n soortgelyke invloed is behaal met gis en Drosophila ('n genus vlieë). Geen data daaroor bestaan vir die mens nie, maar verskeie verslae steun beskerming teen ouderdomsverwante siektes.
In sy boek How and Why We Age skryf Hayflick kaloriebeperking sal nie vir die mens voordelig wees nie en noem die Baltimore Longitudinal Study of Aging, wat getoon het dat mense wat skraal is nie noodwendig langer lewe nie. Daar is ook ander verwarrende faktore, soos die rookgewoonte, wat beide eetlus demp en lewensduur verkort of massaverlies weens 'n terminale siekte. Soms word ook beweer gematigde oorgewig later in die lewe kan oorlewing bevorder. Dié faktore moet nog uitgeklaar word. Intussen lyk dit of die optimale liggaamsmassa bo 65 jaar ooreenstem met 'n skraler liggaamsmassaindeks van 23 tot 27.
thumb|220px|’n Bejaarde vrou. thumb|220px|’n Bejaarde man. Dit hou ook voordele vir 'n langer lewe in wanneer die inname van proteïene verminder word sonder 'n afname in kalorieë. 'n Beperking op proteïene onderdruk twee meganismes wat vermoedelik tot veroudering lei, mTOR en IGF-1.
Die Mediterreense dieet word daarvoor geprys dat dit die gevaar van hartsiektes en 'n vroeë dood beperk. Die grootste rede hiervoor blyk 'n hoër inname te wees van groente, vis, vrugte, neute en essensiële vetsure soos olyfolie.
In teenstelling daarmee kan die inname van sekere kossoorte soos suiker, verfynde koolhidrate, alkohol, geprosesseerde vleise en oliegebraaide kos veroudering verhaas.
Die hoeveelheid slaap het ook 'n invloed op langlewendheid. Mense wat die langste lewe, slaap volgens verslae tusssen ses en sewe uur per nag. 'n Gebrek aan slaap (minder as vyf uur per nag) meer as verdubbel die kans op sterfte aan hartbloedvatsiektes. Te veel slaap (meer as nege uur) word ook verbind met 'n verdubbeling in die risiko van sterfte, hoewel nie aan hartbloedvatsiektes nie.
Fisieke oefening kan 'n mense se lewensverwagting verleng. Mense wat matig tot baie oefen, het 'n laer sterftesyfer as mense wat nie fisiek aktief is nie. Die grootste voordele uit oefening word bereik by omtrent 3 500 MET-minute per week. Om byvoorbeeld elke dag 10 minute trappe te klim, 15 minute te stofsuig, 20 minute in die tuin te werk, 20 minute te draf en 25 minute te loop of fiets te ry sal saam sowat 3 000 MET-minute per week wees.
Die vermyding van chroniese spanning (in teenstelling met akute spanning) word in die meeste studies verbind met 'n stadiger verlies van telomere en met 'n afname in vlakke van kortisol (hidrokortisoon). 'n Kortisolvlak wat chronies hoog is, benadeel die immuunstelsel, veroorsaak hartskade/arterosklerose en word verbind met gesigsveroudering, wat weer 'n aanduiding kan wees van 'n toename in swartgalligheid en sterfte. Daar is aanduidings dat eensaamheid 'n groter sterwensgevaar inhou as rook.
Spanning kan verminder word deur sosiale verkeer, spiritualiteit en (meer vir mans as vir vroue) 'n getroude lewe. Dit word alles verbind met langlewendheid.
Mediese ingryping 'n Paar middels het getoon hulle vertraag veroudering in diere of keer dit om, maar daar is geen bewyse van dié gevolge in mense nie. In 'n oorsig lê Wolf (2021) klem daarop dat 'n paar van dié middels (soos resveratrol, rapamisien en metformien) almal massaverlies veroorsaak, 'n faktor wat "as onbelangrik afgemaak word" in baie publikasies oor veroudering; dit is dus waarskynlik dat die middels net die lewensverkortende uitwerking van obesiteit teenwerk en nie veel kan doen vir iemand met 'n normale liggaamsmassa nie.
In 2015 is die middel metformien getoets vir 'n moontlike vertraging in die veroudering in die wurm C. elegans en die kriek Acheta domesticus. Die uitwerking op gesonde mense is onbekend.