Die Republiek van Komi (Russies: Республика Коми) is ’n outonome republiek (’n deelgebied van Rusland) wat in die noordoostelike hoek van Europese Rusland lê. Die Oeralgebergte vorm die oosgrens. Die belangrikste riviere is die Petsjora in die noorde en die Witsjegda in die suide. ’n Kwart van die bevolking praat Komi-Sirjeens, ’n Fins-Oegriese taal.
Ekonomie en geskiedenis duimnael|links|Kaart van die Republiek van Komi Die belangrikste bestaansmiddele is jag, vissery en die houtnywerheid. Die grootste nywerheidsentrums is Workoeta, Inta, Petsjora en Oechta (steenkool, aardolie, aardgas, ystererts), wat alles langs die Noordelike spoorlyn gevind word. Dié spoorlyn loop na die suidwestelike Kotlas, ’n stad in Archangelsk-oblast en na die noordooste na Labitnangi in die outonome okroeg Jamalië in Wes-Siberië.
In baie stede is Goelag-strafkampe gevestig – veral Workoeta was berug vir sy kamp. ’n Groot deel van die nywerheid en infrastruktuur het tussen 1929 en 1953 ontstaan met die hulp van honderdduisende Goelag-dwangarbeiders. In die dertigerjare het die NKVD die gebied vir ’n tyd lank self bestuur. In dié tyd is die gebied ook "gesuiwer" van nasionalistiese en invloedryke mense, wetenskaplikes, etniese Duitsers en baie ander "vyande van kommunisme". Duisende mense is ook hierheen gebring om die gebied te bewoon en te ontwikkel.
In 1936 is meer as 2 000 gevangenes tegelykertyd tereggestel (waarvan ’n deel lewend verbrand is) by die rivier Oechtarka ná ’n opstand in een van die kampe van die Oecht-Petsjlag. Workoeta
Komi was van 1921 af ’n outonome oblast en van 1938 af ’n outonome Sowjetrepubliek (OSSR). Ná die val van die Sowjetunie het die gebied sy huidige status van outonome republiek gekry. Sy ongerepte woude is 'n Unesco-wêrelderfenisgebied.
Groot stede en dorpe Siktifkar (Сыктывкар) – 230 011 inwoners Oechta (Ухта) – 103 340 Workoeta (Воркута) – 84 917 Petsjora (Печора) – 48 700 Oesinsk (Усинск) – 45 358 Inta (Инта) – 41 217 Sosnogorsk (Сосногорск) – 29 587 Worgasjor (Воргашор) – 19 100 Jemwa (Емва) – 16 739 Woektil (Вуктыл) – 14 472 Sewerni (Северный) – 12 028 Nizjni Odes (Нижний Одес) – 11 745 Mikoen (Микунь) – 11 680 Wilgort (Выльгорт) – 10 211 Zjesjart (Жешарт) – 10 029
Verwysings
Amptelike UNESCO bladsy
Komi Komi