duimnael|'n Gedeelte van die wit konsentrasiekamp by Bloemfontein|alt= Die presiese datum van die ontstaan van die Bloemfonteinse konsentrasiekamp – of “refugee camp” soos dit deur die Britte genoem is – is onbekend. Hoewel lord Roberts op 22 September 1900 aangekondig het dat ʼn vlugtelingkamp in Bloemfontein gevestig gaan word, het die kamp volgens E.B. Sargant, die waarnemende direkteur van onderwys vir Transvaal en die Oranjerivierkolonie, reeds sedert Augustus 1900 bestaan. Wat seker is, is dat die Bloemfonteinse kamp minstens teen 12 November 1900 sy beslag gekry het, aangesien maj. Holland Pryor, die assistent-adjudant-generaal van die Oranjerivierkolonie, op hierdie datum in sy verslag meld dat die departement van die hoofprovoos, kapt. Barnett-Hitchcock, verantwoordelik is vir die collection of refugees from various parts of the Colony, and the formation of a camp near Bloemfontein for their accommodation. Daar was trouens toe reeds 519 inwoners in die kamp by Bloemfontein, wat as ʼn vlugtelingkamp vir die gesinne van wapenneerlêers begin het en onder kapt. Nelson van die Imperial Yeomanry se gesag gestaan het.
Die primêre vereiste vir die oprigting van vlugtelingkampe was dat hulle binne die “military lines and spheres of protection” moes val. Ingevolge dié beleid sou die ligging van die Bloemfonteinse konsentrasiekamp dan deur die ligging van die Britse militêre kamp bepaal word. Op 15 November 1900 het die dorpsraad sowat 260 hektaar aan die Britse owerheid afgestaan. Dit het van die dorpsgrond se hoekgrens af in ʼn suidwestelike rigting tot by die grens van die plaas Retreat gestrek, dan suidoos langs die spruit af tot by die pomp, en dan weer noordoos langs die Tempe-pad tot by die dorpsgrens. Hier sou die militêre kamp en die konsentrasiekamp nou amptelik hul beslag gekry, hoewel albei toe reeds nieamptelik hier gevestig was.
Op 14 September 1900 het Roberts ʼn stel maatreëls afgekondig wat die lewe van die gesinne van vegtende burgers ingrypend sou verander. Burgerlikes wat deur dié drastiese stappe sonder huis en haard gelaat is, sou gevang en deur konvooie na die kampe gebring word wat oorspronklik vir die sogenaamde “refugees” bestem was. Hiermee het die kamp te Bloemfontein sy karakter as vlugtelingkamp verloor, aangesien die inwoners nou nie meer suiwer vlugtelinge of hendsoppers was nie, maar ook persone ingesluit het wat onder dwang daarheen gebring is. Die oorspronklike handjievol “refugees” is nou verswelg deur die toevloei van nuwe aankomelinge. Die kamp by Bloemfontein het dus pas ná sy stigting reeds die karakter van ʼn konsentrasiekamp aangeneem.
Die kamp word vergroot Die inwonertal het teen einde Desember 1900 tot meer as 1 200 aangegroei. Teen April 1901 meld maj. A. Baird in ʼn verslag daar is 3 700 mense in die kamp, en tussen Julie en November 1901 het die getal met nog 1 618 toegeneem. Van Augustus tot Desember 1901 sou die kamp meer as 6 000 mense huisves, met ʼn rekordgetal van 6 586 inwoners in Augustus.
Reeds op 13 April 1901 het kapt. Trollope laat blyk daar is ʼn behoefte aan ʼn nuwe kamp, aangesien die bestaande kamp onhanteerbaar groot geword het en die daaglikse instroming van nuwelinge groot behuisingsprobleme geskep het. Die bestaande terrein, wat teen ʼn heuwel geleë was, was nie geskik vir die oprigting van nog tente nie.
Op 15 April kry hulle toestemming vir die oprigting van ʼn nuwe kamp (kamp B) op die terrein wes van die Britse artilleriekamp en teenaan die bestaande kamp. Teen Julie 1901 was die nuwe kamp feitlik klaar uitgelê – ʼn netjiese, sindelike kamp met goeie dreinering in ʼn sonnige, oop vallei wat beskut was teen die wind. Die inwonders is gehuisves in tente wat 36,5 m uit mekaar geplaas is – ʼn verbetering op kamp A, waar die tente dig opgemekaar was. Daar was nege seksies in die nuwe kamp, wat in blokke van 30 tente verdeel is. Elkeen van die blokke is alfabeties genommer en ʼn nommer is aan elke tent toegeken. Die breë strate is met witgeverfde klippe uitgemerk. Daar was 26 markiestente: 20 is deur gesinne bewoon, drie is as kantore benut en een as ʼn menasietent, terwyl die oorblywende twee as kerke gedien het en elk sowat 250 mense kon huisves. Afgesien van die markiestente was daar nog 908 kloktente waarvan 880 deur burgerlike gesinne betrek is. Langs die badhuis was daar vier wastrôe waar linne en klere van die hospitaal ná ontsmetting gewas is. Daar was altesaam nege algemene winkels in die twee kampe wat deur privaat persone bestuur is.
Sanitasie en vullisverwydering Aan die buitewyke van die kamp, ver van die tente, is 23 sinklatrines opgerig. Daar was 15 latrines met 187 sitplekke in kamp B, en agt met 91 sitplekke in kamp A. Een van die knelpunte was juis die ondoeltreffende en onhigiëniese maatreëls by die latrines. Baird het tydens sy ondersoek na die sanitasiemaatreëls van die kamp bevind dit is weens die reuk onmoontlik om binne 50 treë van die latrines te kom sonder om jou mond en neus toe te druk. Verder het hy opgemerk dat die inwoners ʼn nabygeleë sloot vir ontlasting gebruik, hoewel daar voldoende latrines is. Hy meld ook dat die emmers teen 11:00 nog steeds in die son voor die latrines staan. Die kampkommandant se verskoning was dat die dorpsraad verantwoordelik is vir die verwydering van nagvuil en hy dus nie vir die toestand verantwoordelik gehou kan word nie. Die dorpsraad het buitendien £125 per maand vir die diens ontvang. Ook lt. genl. Tucker het namens die troepe wat in die omgewing van die kamp gestasioneer was, gekla oor die toestand van die latrines. Hume, die superintendent van die kamp, se verweer was egter dat die vroue daarvoor verantwoordelik gehou moet word omdat hulle volgens hom nie weet hoe om die latrines te gebruik nie.
ʼn Hewige briefwisseling het tussen die verantwoordelike amptenare ontstaan waarin beskuldigings heen en weer geslinger is sonder dat die probleem opgelos is. Dit was eers nadat die nuwe kampsuperintendent, J.F. Bennett, die aanbevelings van die Dameskomitee teen einde 1901 deurgevoer het, dat die toestande rakende vullisverwydering en sanitasie geleidelik verbeter het. Die Dameskomitee het onder meer bevind ʼn addisionele toitet uitsluitlik vir vroue moet ingerig word en die ander moet duidelik gemerk word. Vullis moes ook daagliks verwyder word na ʼn ashoop wat verder van die kamp geleë was.
Watervoorsiening en waternood duimnael|Kinders wag op hul waterrantsoene|alt=
Water vir die kamp is van vier boorgate – twee per kamp – en twee damme verkry, terwyl die dorpsraad ook daagliks water uit die Modderrivier aan die kamp voorsien het.
Ondanks al die voorsorgmaatreëls kon die owerhede egter nooit genoeg water aan die kamp lewer nie. Inwoners moes van vroeg die oggend tot laat in die aand toustaan vir water. Familielede het mekaar afgelos, “want die ou pompie het te stadig geloop”.
Daar was nie veel water vir wasgoed was nie en dit het moeilik gegaan om die klere skoon te kry. Die Dameskomitee het bevind die vroue gebruik wastrôe nie en die krane is gesluit. Baie van die vroue het in een van die damme se troebel water klere gewas. Seep het aanvanklik nie deel van die rantsoen uitgemaak nie, maar was wel by een van die kampwinkels te koop. Volgens J.A. Lombard was dit ʼn “luukse artikel”. As daar ʼn bietjie oorskietwater was, het hulle dit gebruik om die tentvloere nat te spat. Dit was juis die skaarste aan water wat die kampowerhede genoodsaak het om sommige gesinne in November 1900 na die pas gestigte kamp by Norvalspont oor te plaas.
Gebrekkige akkommodasie Kort ná sy aankoms as adunkadministrateur van die Oranjerivierkolonie het ʼn geskokte Hamilton Goold-Adams in Februarie 1901 ʼn skrywe aan sir Alfred Milner gerig oor die gebrekkige akkommodasie in die kamp:
“From what I have seen in this camp I must aknowledge that the occupants are receiving a hard time, the tents which were supplied were in the first instance second hand. They are now virtually worn-out and truly in many cases the door flaps and bottom portions are now so worn out that the families in them have little privacy or guard against the elements.”
Omdat sinkhutte ongeveer £500 elk gekos het om op te rig, het Goold-Adams sy hoop eerder gevestig op die beloftes van die militêre owerheid dat hulle tente in ʼn goeie toestand beskikbaar sou stel.
As superintendent van die kamp het Humee met die hande in die hare gesit. Op 18 Maart 1901 het hy geëis dat Trollope óf vir hom meer tente kry óf die inbring van vlugtelinge na die kamp opskort. Drie dae later was hy genoodsaak om 500 vlugtelinge uit die disrikte Wepener en Smithfield tydelik op waens te laat slaap totdat tente vir hulle gevind kon word. Trollope het toe versoek dat nog 100 tente beskikbaar gestel word. Maj. W. Tribe van die krygsbehoefteafdeling het Trollope egter ingelig “that the troops are only allowed one tent per 15 men and the same rule of accommodation applies to the refugees”. Trollope het Tribe laat wet dat ʼn tent wel 15 persone kan huisves as die inwoners mans was, “...but I beg to point out to you that there are hardly any men at all in these camps but mostly women and children. It is quite impossible to put more that one family in each bell-tent.”
In September 1901 het lt. kol. W.L. Butcher, die hoofkrygsbehoeftebeampte, Trollope duidelik laat verstaan dat hy nie meer tente vir die kampe in voorraad het nie. Trollope het erken die kloktente – al was dit geskik vir troepe – is nie geskik vir huisgesinne nie. Die hitte bedags was intens, terwyl dit nie ongewoon was dat die temperatuur snags skerp gedaal het nie. Volgens hom sou die Oosterse tipe tente wat in Indië gebruik is, meer geskik wees vir Suid-Afrikaanse toestande.
In die eerste maande van 1902 het ʼn besending van 500 kloktente, 50 markiestente en 1 200 van die sogenaande Oosterse tente wat Trollope so graag wou gehad het, Boemfontein uiteindelik bereik.
Tot met die sluiting van die kamp sou verslag ná verslag die woningnood, die oorbevolkte tente, die haglike toestand van die tente en hutte, en die soms desperate pogings wat aangewend is om die nood te verlig, beklemtoon.
Rantsoene Vleisrantsoene is daagliks aan die kampinwoners uitgedeel en hulle het een keer per week kruideniersware ontvang. Die vleis was egter van swak gehalte. Die kruideniersrantsoene is tussen 06:00 en omstreeks 16:00 uitgedeel. As gevolg van die gebrekkige reëlings moes vroue en kinders, elk met hul skottel in die hand, soms in ysige koue en ander kere in die bloedige son ure lank in rye staan en wag op rantsoene. Vir baie van die vroue was dit ʼn vernederende ervaring.
Aanvanklik is daar onderskeid getref tussen die rantsoenskale van die werklike “refugees” en die gedwonge inwoners. Reeds op 1 Desember 1900 het lord Kitchener bevele laat opstel “to make a marked difference between those who are refugees from Boer oppression and those who had to be removed from their farms”. Die “refugees” het uiteindelik maar net 2 onse koffie en 4 onse suiker per week meer as die ander kampinwoners gekry. In die Vrystaat is daar nie so ʼn skerp onderskeid getref nie en het die gedifferensieerde rantsoenskaal hoogstens vier maande lank gegeld.
Brandhout Maaltye is by die onderskeie tente voorberei aangesien daar nie genoeg kookgeriewe was nie. Die mense in die kamp het ook klei- en baksteenoonde vir die bak van brood opgerig. Brandstof was egter baie skaars. Die vuurmaakgoed het bestaan uit hout en partykeer ʼn bietjie steenkool. Steenkool was egter nie geskik vir die primitiewe oonde en kookgeriewe waarvan die kampinwoners gebruik moes maak nie. Al die bosse in die omgewing is afgekap vir brandstof en selfs die boomwortels is met pikke uitgegrawe. Die brandhout was soms te min om een dag se etes voor te berei. Die gevolg was dat die kos byna rou en die pap soms halfgaar geëet moes word. In die winter was die brandstof ook te min om die tente te verhit.
Siektes en hospitale alt=Die hospitaalkamp by Bloemfontein|duimnael|Die hospitaalkamp by Bloemfontein