Bongani Michael Baloyi (gebore 28 Februarie 1987) is 'n Suid-Afrikaanse politikus en lid van die Umkhonto we Sizwe- party. Hy was voorheen lid van die Demokratiese Alliansie, ActionSA en die president van sy eie party Xiluva. Baloyi het as burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit tussen 2013 en 2021 gedien. Hy was toe slegs 26 jaar oud en het gevolglik die jongste burgemeester in Suid-Afrikaanse geskiedenis geword. Baloyi was op daardie stadium 'n lid van die DA.
Vroeë lewe Baloyi is op 28 Februarie 1987 in Thokoza, suidwes van Alberton aan die Oos-Rand, gebore. Hy het op 'n jong ouderdom in politiek begin belangstel.
Politieke loopbaan Baloyi het in 2005 'n lid van die Demokratiese Alliansie geword. Hy was sedertdien lid van die party se Uitvoerende Komitee van die Vaalstreek, die Provinsiale Uitvoerende Komitee en die Federale Raad. Hy was ook 'n deelnemer aan die DA se Jong Leiers-program.
Hy is in Mei 2011 as 'n proporsioneel-verteenwoordigende raadslid van die Midvaal-munisipaliteit verkies, direk na afloop van die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesing van 2011. Burgemeester Timothy Nast het hom as die lid van die burgemeesterskomitee vir ontwikkeling en beplanning aangestel. Nast het in Julie 2013 bedank nádat hy tot die Gautengse Beplanningskommissie aangewys is. Baloyi is as sy opvolger verkies en op 29 Augustus 2013 ingehuldig. Hy is hierna in Augustus 2016 vir 'n volle termyn as burgemeester verkies.
Onder Baloyi se leiding het Midvaal ses opeenvolgende ongekwalifiseerde ouditverslae ontvang. In Maart 2020 kondig hy aan dat hy nie beskikbaar is vir herverkiesing in 2021 nie. Daar is in politieke kringe bespiegel dat Baloyi 'n moontlike kandidaat vir die DA-leierskap sou wees.
Insidente Baloyi en 'n ANC-lid is op 29 September 2018 in hegtenis geneem nadat hulle aanrandingsklagtes teen mekaar ingedien het, na 'n voorval tydens 'n boomplantgeleentheid in Savannah City. Hy is op borgtog vrygelaat en die aanrandingsaak is later teruggetrek.
Verwysings
Eksterne skakels Profiel op People's Assembly
Kategorie:Geboortes in 1987 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Politici van die Demokratiese Alliansie Kategorie:Suid-Afrikaanse burgemeesters