Ronald Ozzy Lamola (gebore op 21 November 1983) is 'n Suid-Afrikaanse prokureur en politikus en sedert 3 Julie 2024 die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking in die Regering van Nasionale Eenheid. Hy het van Mei 2019 tot Julie 2024 as die Minister van justisie en korrektiewe dienste gedien. Hy is 'n lid van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika, lid van die regerende African National Congress (ANC) en die voormalige vise-president van die ANC se jeugtak.
Vroeë lewe Lamola is op 21 November 1983 in die dorp Bosbokrand in die destydse Oos-Transvaal gebore. Hy het reeds op die jeugdige ouderdom van 13 by die ANC-jeugliga aangesluit. Nadat hy in 2000 gematrikuleer het, het hy aan die Venda-universiteit sy LLB-graad verwerf. Daar het hy deel geword van plaaslike studente-politiek. Hy het later ook grade aan die Universiteit van Suid-Afrika, Universiteit van Pretoria en Wits Enterprise verwerf.
Loopbaan In 2006 is hy ingeneem as 'n prokureur by TMN Kgomo and Associates. Hy word hierna in 2009 aangestel as die bestuurder van die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit. Hy was van 2009 tot 2011 'n direkteur in die kantoor van die LUR vir sport, kultuur en ontspanning van Mpumalanga. Kort hierna was hy die waarnemende woordvoerder vir Mpumalanga se premier, David Mabuza.
Intussen het hy gedien as die vise-president van die ANC-jeugliga saam met die organisasie se president Julius Malema voordat Malema uit die amp geskors is. Lamola was sterk gekant teen die voormalige ANC president Jacob Zuma, dus het hy openlik vir Kgalema Motlanthe gesteun voor die 2012 ANC-verkiesingskongres.
Na die jeug-verkiesingskongres in 2015 het Lamola uit die publieke oog verdwyn. Hy het sy eie prokureursfirma bestuur. In 2017 gooi hy sy steun agter Cyril Ramaphosa om ANC-president te word. Ramaphosa is toe verkies by die party se Desember-verkiesingskongres.
In 2019 slaag Lamola uiteindelik om verkies te word tot die parlement. Hy was 'n onsuksesvolle kandidaat in die algemene verkiesing van 2014. Hy is as 'n LP op 22 Mei 2019 ingehuldig. Ramaphosa het toe sy nuut-gestruktureerde kabinet aangekondig waarin Lamola aangestel is as Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste. Hy is op 30 Mei amptelik ingesweer as 'n minister.
Gesinslewe Hy is in 2013 met Winnie Msiza getroud.ANCYL's Ronald Lamola weds
Verwysings
Eksterne skakels
Mnr. Ronald Lamola – Regering van Suid-Afrika Ronald Ozzy Lamola. People's Assembly. Besoek op 29 Mei 2020.
Kategorie:Geboortes in 1983 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Politici van die African National Congress Kategorie:Lede van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van justisie Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van korrektiewe dienste Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers van buitelandse sake