duimnael|280px|links|Die jag van ’n Glyptodon. Glyptodons is gejag totdat hulle uitgesterf het binne twee millenniums nadat die mens in Suid-Amerika aangeland het. duimnael|200px|links|Paleolitiese grotkuns in Noord-Spanje. Die Paleolitikum, ook genoem die Ou Steentydperk, is ’n tydperk in die mens se voorgeskiedenis wat gekenmerk word deur die aanvanklike ontwikkeling van klipwerktuie. Dit dek sowat 99% van die mens se tegnologiese voorgeskiedenis. Dit strek van die heel eerste gebruik van klipwerktuie deur Hominini sowat 3,3 miljoen jaar gelede tot aan die einde van die Pleistoseen sowat 11 650 v.C.

Die Paleolitikum in Europa het die Mesolitikum voorafgegaan, hoewel die datum van die oorgang met verskeie duisende jare van plek tot plek wissel. Gedurende die Paleolitikum het Hominini in klein gemeenskappe saamgewoon en oorleef deur plante te versamel, te hengel en te jag, of deur die aas van wilde diere te eet. pp. 6–12 Die tydperk word gekenmerk deur die gebruik van klipwerktuie wat hulle gemaak het, maar ook van hout- en beengereedskap. Ander organiese materiaal is ook gebruik om gereedskap te maak, soos leer en plantvesels, maar weens vinnige verrotting het hulle nie lank gehou nie.

Sowat 50 000 jaar gelede was daar ’n merkbare toename in die verskeidenheid artefakte. In Afrika het beenartefakte en die eerste kuns in die argeologiese rekords begin verskyn. Daar was ook tekens dat die mens begin visvang het, soos in die Blombosgrot in Suid-Afrika. Argeoloë klassifiseer artefakte van die afgelope 50 000 jaar in baie verskillende kategorieë, soos projektielpunte, graveergereedskap, meslemme en boorwerktuie.

Die mens het geleidelik ontwikkel van die vroeë lede van die genus Homo – soos Homo habilis, wat eenvoudige klipgereedskap gebruik het – tot moderne mense volgens anatomie en gedrag teen die laat Paleolitikum."Human Evolution". Microsoft Encarta Online Encyclopedia 2007 Bygedra deur Richard B. Potts, B.A., Ph.D. Teen die einde van die Paleolitikum, veral die middel- en laat tydperk, het mense die eerste kunswerke gemaak en begin om godsdienstige of spirituele praktyke te beoefen soos begrafnisse en rituele. Toestande gedurende die Paleotitikum het deur ’n stel glasiale en interglasiale tye gegaan waarin die klimaat van tyd tot tyd tussen warm en koud gewissel het. Argeologiese en genetiese data dui daarop dat die vroeë mens in yl beboste gebiede gewoon en digte woude vermy het.

Teen omstreek 50000-40000 v.C. het die eerste mense in Australië aangeland. Teen omstreeks 45000 v.C. het mense by die breedtegraad 61°N in Europa gewoon. Teen omstreeks 30000 v.C. het mense in Japan aangekom en teen omstreeks 27000 v.C. in Siberië, bo die Arktiese Sirkel. Teen die einde van die laat Paleolitikum het ’n groep mense die Beringlandbrug oorgesteek en deur die Amerikas versprei.

Etimologie Die argeoloog John Lubbock het die term "Paleolitikum" in 1865 uitgedink. Dit kom van Grieks: παλαιός palaios, "oud", en λίθος lithos, "steen", en beteken dus "ou tydperk van die steen", of "Ou Steentydperk".

Paleogeografie en klimaat

duimnael|links|160px|Hierdie kopbeen van ’n vroeë Homo neanderthalensis, Miguelón, dateer van die vroeë Paleolitikum (omstreeks 430000 v.C. duimnael|290px|Temperatuurstygings aan die einde van die Paleolitikum, soos verkry uit yskerndata. Die Paleolitikum stem feitlik presies ooreen met die epog Pleistoseen van die geologiese tydlyn, wat geduur het van 2,6 miljoen jaar gelede tot sowat 12 000 jaar gelede. Belangrike geografiese en klimaatsveranderings wat menslike gemeenskappe geraak het, het in dié epog voorgekom.

Tydens die voorafgaande Plioseen het kontinente bly skuif van moontlik so ver as 250 km van hul huidige posisies tot net 70 km van hul huidige posisies. Suid-Amerika het met Noord-Amerika verbind geraak deur middel van die Panamalandengte, en dit het ’n feitlik algehele einde gebring aan Suid-Amerika se eiesoortige buideldierlewe. Die vorming van die landengte het groot gevolge ingehou vir globale temperature, want warm ekwatoriale oseaanstrome is afgesny, en die koue Arktiese en Antarktiese waters het temperature in die nou geïsoleerde Atlantiese Oseaan laat daal.

Die grootste deel van Sentraal-Amerika het tydens die Plioseen gevorm en Noord- en Suid-Amerika verbind. Dit het diere van hierdie twee kontinente in staat gestel om hul oorspronklike habitats te verlaat en nuwe gebiede te betrek. Afrika se botsing met Asië het die Middellandse See geskep en die oorblyfsels van die Tetisoseaan afgesny. Gedurende die Pleistoseen was die moderne kontinente basies op hulle huidige plekke; die tektoniese plate waarop hulle voorkom, het moontlik sedert die begin van die epog hoogstens 100 km van mekaar beweeg.

Klimate gedurende die Plioseen het koeler en droër geword, asook seisoenaal, soortgelyk aan huidige klimate. Ysplate op Antarktika het groter geword. ’n Yskap het omtrent 3 miljoen jaar gelede op die Noordpool gevorm. Ysvorming by gemiddelde breedtegrade het moontlik voor die einde van die epog begin. Die globale afkoeling wat gedurende die Plioseen voorgekom het, kon woude help verdwyn het en die verspreiding van graslande en savannes aangehelp het.

Die Pleistoseen se klimaat is gekenmerk deur herhaalde glasiale siklusse, waartydens kontinentale gletsers op sommige plekke tot by die 40ste breedtegraad gestrek het. Vier groot glasiale voorvalle is geïdentifiseer, sowel as baie klein voorvalle tussenin. ’n Groot voorval is ’n algemene glasiale uitbreiding, wat ’n "glasiale tyd" genoem word. Hulle word afgewissel deur "interglasiale tye". Tydens ’n glasiale tyd ondergaan gletsers klein uitbreidings en intrekkings. Die klein uitbreidings word "stadiale tye" genoem; tydperke tussen stadiale tye word "interstadiale tye" genoem. Met die vorming van elke glasiale tyd word groot hoeveelhede water in kontinentale ysplate van 1 500-3 000 m dik opgeneem, wat beteken seevlakke daal tydelik met 100 m of meer oor die hele oppervlak van die aarde. Tydens interglasiale tye, soos tans, styg water weer en kan kuslyne oorstroom.

duimnael|links|260px|Baie groot soogdiere soos wolhaarmammoete, wolhaarrenosters en grotleeus het gedurende die Pleistossen die Eurasiese steppe bewoon. Die uitwerking van die verysing was wêreldwyd. Antarktika was deur die hele Pleistoseen en die voorafgaande Plioseen met ys bedek. Die suide van die Andes was met ’n yslaag bedek. Daar was gletsers in Nieu-Seeland en Tasmanië. Die kleiner wordende gletsers van berg Kenia, Kilimandjaro en die Rwenzoriberge in Oos- en Sentraal-Afrika was groter. Daar was gletsers in die berge van Ethiopië en wes van die Atlasgebergte. In die Noordelike Halfrond het baie gletsers saamgesmelt. Die noordweste en ooste van Noord-Amerika was met ys bedek, so ook Noord-Europa, insluitende Brittanje. Die noordelike seë was gevries. In die laaste deel van die Paleolitikum (omstreeks 18000 v.C.) was die Beringlandbrug tussen Asië en Noord-Amerika deur ys geblokkeer, wat kon gekeer het dat vroeë Paleo-Indiane soos die Cloviskultuur dit kon oorsteek na die Amerikas.

Volgens Mark Lynas kon die Pleistoseen se algemene klimaat gekenmerk gewees het deur ’n voortdurende El Niño, met passaatwinde in die suidelike Stille Oseaan wat verswak of ooswaarts beweeg het, warm lug wat naby Peru opgestyg het, warm water wat van die westelike Stille Oseaan en die Indiese Oseaan na die ooste van die Stille Oseaan versprei het, en ander El Niño-eienskappe.National Geographic Channel, Six Degrees Could Change The World, Mark Lynas-onderhoud. Besoek op 14 Februar 2008.

Die Paleolitikum het volgens baie geëindig aan die einde van die ystydperk (die einde van die Pleistoseen), en daarna het die aarde se klimaat warmer geword. Dit kon veroorsaak of daartoe bygedra het dat die megafauna van die Pleistoseen uitgesterf het, hoewel dit ook moontlik is dat die Kwartêre uitsterwings (minstens gedeeltelik) veroorsaak is deur ander faktore soos siektes en oormatige jag deur mense.

Nuwe navorsing dui daarop dat die uitsterwing van die wolhaarmammoet veroorsaak kon gewees het deur ’n kombinasie van klimaatsverandering en die jagpraktyke van die mens. Wetenskaplikes meen die klimaatsverandering aan die einde van die Pleistoseen kon gelei het tot ’n krimping van die mammoet se habitat, en dus ’n afname in die bevolking. Die klein bevolkings is toe deur Paleolitiese mense gejag. Die wêreldwye verwarming wat aan die einde van die Pleistoseen en die begin van die Holoseen plaasgevind het, kon dit makliker vir die mens gemaak het om die mammoet se habitats te bereik wat voorheen toegeys was. Klein hoeveelhede mammoete kon op die geïsoleerde Arktiese eilande St. Pauluseiland naby Alaska en Wrangeleiland naby Siberië voorgekom het tot onderskeidelik omstreeks 3700 en 1700 v.C. Die bevolking van Wrangeleiland het uitgesterf min of meer in die tyd toe prehistoriese mense daar gaan woon het. Daar is geen bewyse van die teenwoordigheid van prehistoriese mense op St. Pauluseiland nie, maar wel op nabygeleë eilande.

Menslike lewenswyse duimnael|240px|’n Kunstenaar se voorstelling van ’n tydelike houthuis, gebaseer op bewyse wat by Terra Amata (in Nice, Frankryk) ontdek is en uit die vroeë Paleolitikum (omstreeks 400000 v.C.) dateer. Byna al ons kennis van die menslike kultuur en lewenswyse van die Paleolitikum kom van argeologiese en etnografiese vergelykings met dié van moderne jagter-versamelaars soos die !Kung San, wat nes hulle Paleolitiese voorouers gelewe het. pp. 9–13 p. 70 Die ekonomie van ’n tipiese Paleolitiese gemeenskap was ’n jagter-versamelaar-ekonomie. pp. 9–13 Mense het diere gejag vir vleis, terwyl hulle ander kos, vuurmaakhout en materiale vir hulle gereedskap, klere en skuilings versamel het.

Die digtheid van die menslike bevolking was baie laag: sowat een mens per 2,5 km2. Hulle het baie tyd gehad vir tydverdrywe, anders as boerderygemeenskappe van die Neolitikum en moderne nywerheidsgemeenskappe.; p. 10 Later in die Paleolitikum, veral die middel- en laat-Paleotitkum, het mense begin om kunswerke te maak soos grottekeninge, rotstekeninge en juweliersware, en hulle het godsdienstige rituele en begrafnisse begin reël.

Verspreiding Aan die begin van die Paleolitikum is Hominini hoofsaaklik in Oos-Afrika, oos van die Groot Skeurvallei, aangetref. Die meeste Hominini-fossiele van meer as ’n miljoen jaar gelede word in dié gebied ontdek, veral in Kenia, Tanzanië en Ethiopië.

Teen omstreeks 2-5 miljoen jaar gelede het groepe Hominini Afrika begin verlaat en hulle in Suid-Europa en Asië begin vestig. Die Suid-Kaukasus is teen 1,7 miljoen jaar gelede beset en Noord-China teen 1,66 miljoen jaar gelede. Teen die einde van die vroeë Paleolitikum het lede van die Homini-familie gewoon in wat nou China, Wes-Indonesie en Europa is (tot om die Middellandse See, Engeland, Frankryk, Suid-Duitsland en Bulgarye). Hulle verdere uitbreiding noordwaarts kon beperk gewees het deur die gebrek aan beheer oor vuur: Studies van grotnedersettings in Europa kon geen gereelde gebruik van vuur vind voor omstreeks 400000-300000 v.C. nie."On the earliest evidence for habitual use of fire in Europe", Wil Roebroeks et al, PNAS, 2011

Oos-Asiatiese fossiele uit hierdie tydperk word gewoonlik geplaas in die genus Homo erectus. Baie min fossielbewyse is beskikbaar van bekende Europsese terreine uit die vroeë Paleolitikum, maar daar word geglo dat Hominini wat op dié plekke gewoon het, ook Homo erectus was. Daar is geen bewyse van Hominini uit dié tydperk in die Amerikas, Australië of êrens in Oseanië nie.

duimnael|180px|’n Homo heidelbergensis-kopbeen wat in Spanje ontdek is.