Schleswig-HolsteinSlesvig-HolstenSlaswik-HolstiinjSleswig-HolsteenSleeswyk-Holstein Landsvlag Landswapen 150px 100px (Besonderhede) (Besonderhede) Leuse „Op ewig ungedeelt“(„Vir ewig ongedeel“)Leuse van diehertogdomme Sleeswyk en Holstein wat sedert 1460 verenig is Basiese gegewens Ampstaal: Duits, Nederduits,Noord-Fries, Deens Hoofstad: Kiel Stigting: 23 Augustus 1946 Oppervlakte: 15 799,65 km² (12de) Bevolking: 2 922 005 (9de) (31 Desember 2021) Bevolkingsdigtheid: 185 inwoners / km² (10de) BBP  - Totaal 2021 104,506 miljard € (10de) Volkslied (Landeshymne): Schleswig-Holstein meerumschlungen Skuldlas per inwoner: 11 363 € (31 Maart 2022) Totale skuldlas: 33,204 miljard € (31 Maart 2022) Werkloosheidsyfer: 5,0% (Junie 2022) ISO 3166-2: DE-SH Amptelike webwerf: www.schleswig-holstein.de Politiek Eerste Minister: Daniel Günther (CDU)(sedert 28 Junie 2017) Regerende partye: CDU en Grüne Setels in die parlement (Landtag)(69 setels) (2017: 73 setels): CDU 34 (2017: 25)B90/Grüne 14 (10)SPD 12 (21)FDP 5 (9)SSW 4 (3) Laaste verkiesing: 8 Mei 2022 Volgende verkiesing: Mei 2027 Parlementêre verteenwoordiging Stemme in die Federale Raad (Bundesrat): 4 (van 69) Kaart 250px

Sleeswyk-Holstein (Duits: Schleswig-Holstein [ˈʃleːsvɪç ˈhɔlʃtaɪ̯n] , Deens: Slesvig-Holsten, Noord-Fries: Slaswik-Holstiinj, Nederduits: Sleswig-Holsteen) is die mees noordelike deelstaat van die Federale Republiek van Duitsland en word dikwels as die "Land tussen die mere" (Noord- en Oossee) beskryf. Sedert die stigting van die huidige deelstaat op 23 Augustus 1946 dien die hawestad Kiel as die administratiewe hoofstad.

Met 'n oppervlakte van 15 799,65 vierkante kilometer is Sleeswyk-Holstein – behalwe vir die stadstate Berlyn, Vrye en Hansestad Hamburg en Vrye Hansestad Bremen – die kleinste Duitse deelstaat ná die Saarland. Sleeswyk-Holstein grens in die noorde aan Denemarke, aan die deelstate Hamburg en Nedersakse in die suide en Mecklenburg-Voorpommere in die suidooste.

Geografie duimnael|links|Waddesee naby Keitum (eiland Sylt) Sleeswyk-Holstein vorm in geografiese opsig die suidelike gedeelte van die skiereiland Jutland (Duits: Jütland, Deens: Jylland) en word omsluit deur die Noordsee in die weste, die Oossee en Mecklenburg-Voorpommere in die ooste, Hamburg en Nedersakse in die suide en Denemarke in die noorde.

Die belangrikste landskappe in wes-oostelike-rigting is die Marsch, die Geestland en die Oostelike Heuwelland. Die ooskus word deur fjorde en baaie in die kleiner skiereilande Angeln, Schwansen, Deense Wohld en Wagrien verdeel. Die grootste rivier is die Eider, terwyl die Bungsberg met 'n hoogte van 168 meter bo seevlak die hoogste bergspits is.

In histories-politieke opsig bestaan Sleeswyk-Holstein sedert meer as 1 000 jaar uit die twee landsdele Sleeswyk en Holstein wat deur die riviere Eider en Levensau van mekaar geskei word. Hierdie twee riviere het tot by die jare 1806 en 1864 ook die noordelike grens van die Heilige Romeinse Ryk en later die Duitse Bond gevorm. Die hertogdom Lauenburg is in 1876 by Sleeswyk-Holstein ingelyf, terwyl die Hansestad Lübeck danksy 'n ruilooreenkoms by die gebied ingesluit is nadat die Holsteinse stede Altona en Wandsbek met die Wet oor Groot-Hamburg in 1937 by Hamburg ingelyf is.

Sleeswyk-Holstein behels 189 natuurbewaringsgebiede en 275 sogenaamde Landschaftsschutzgebiete ("Landskapsbewaringsgebiede") met 'n totale oppervlakte van 2 000 vierkante kilometer (waarvan sowat 1 600 vierkante kilometer see- en waddeseegebiede). Naas vyf natuurparke in die binneland is ook die grootste nasionale park in Sentraal-Europa, die Nasionale Sleeswyk-Holsteinse Waddeseepark, in die deelstaat geleë.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis Ná die laaste kouetydperk het jagters en versamelaars hulle in Sleeswyk-Holstein gevestig. Vanaf 4000 v.C. het akkerboere die gebied begin koloniseer wat tussen 3500 en 2800 v.C. 'n groot aantal megalietstrukture gebou het. Net sowat 100 van hierdie monumente het bewaar gebly. Die sogenaamde Ossepad, 'n belangrike handelsroete vir vee uit Noord-Jutland, het vermoedelik reeds sedert die Bronstydperk bestaan.

In die tyd van die groot volksverhuisings het talle Germaanse stamme die gebied verlaat. So het die Angele tussen die 3de en 5de eeu uit die gelyknamige streek noord van die Schlei-rivier na Groot-Brittanje geëmigreer waar hulle met ander Germaanse stamme tot die Angel-Saksiese volk verenig en groot dele van die Keltiese eiland verower het. Hulle sou die naamgewers vir die latere Engeland word. Sleeswyk-Holstein was in hierdie periode yl bevolk.

Wikings en Slawiese bewoners duimnael|links|Gerekonstrueerde Wikinghuise in Haithabu duimnael|links|Haithabu Ná die Angelse emigrasiegolf het Deense en Jutlandse setlaars hulle in die gebied gevestig. Omstreeks 770 het hulle die hawestad Haithabu gestig en die Danewerk (Deens: Danevirke) gebou, 'n magtige beskermingswal teen Saksiese aanvallers uit die suide. Tussen 768 en 811 is die heidense Noord-Germane verskeie kere in gevegte met Frankiese magte gewikkel sodat die wal steeds verder uitgebou is. Eers in 811 is 'n vredesooreenkoms gesluit waarin die Eider-rivier as grenslyn tussen Denemarke en die Frankiese Ryk bepaal is.

Gedurende die Wiking-tydperk (omstreeks 800–1050) en die Middeleeue (1050–1500) was die handelstad Haithabu (Deens: Hedeby, Duits: Haddeby) en die stad Schleswig (Deens: Slesvig) die mees suidelike nedersettings in die Koninkryk Denemarke. Hulle was in die grensgebied tussen Denemarke en die Saksiese en Slawiese gebiede in die suide geleë. Von Freeden, Uta en Siegmar von Schnurbein: Germanica. Unsere Vorfahren von der Steinzeit bis zum Mittelalter. Uitgegee vir die Römisch-Germanische Kommission des Deutschen Archäologischen Instituts. Augsburg: Weltbild 2007, bl. 368

Argeologiese opgrawings het die destydse nou bande met Skandinawië bevestig, terwyl ook die huidige plekname noord van die Eiderrivier dikwels van Deense oorsprong is. Die weste van Holstein tussen die Eider en die benedeloop van die Elbe is deur Noord-Albingiese Saksers bewoon wat ná die Saksiese Oorloë van Karel die Grote die Frankiese gesag oor die gebied aanvaar het. Esesfeld naby Itzehoe het in die vroeë 9de eeu as militêre buitepos van die Frankiese Ryk gedien, terwyl Hamburg in die Laat-Karolingiese periode as die eerste biskopsetel noord van die Elbe ontstaan het.

Die ooste van Holstein en Wes-Mecklenburg is deur die Slawiese Abodrite (soms ook Obodrite genoem) bewoon; die grenslyn (Latyns: limes Saxoniae) tussen hul gebied en die Saksers het vanuit die Kieler Förde (Kielse Fjord) in suidelike rigting tot by die Elbe geloop. Die Abodrite het deel uitgemaak van die Elbe- en Oossee-Slawiese volke wat by die Polabo-Pomoraniese taalgroep gereken word. Von Freeden/von Schnurbein (2007), bl. 368 Net soos die oorspronklik Deense taalgebied van die noorde sy Skandinawiese name bewaar het, word ook Oos-Holstein in toponimiese opsig deur 'n groot aantal Slawiese plekname gekenmerk. Tydens die Slawiese periode tussen omstreeks 700 en die Duitse kolonisasie in die middel van die 12de eeu het die Slawiese dorpe en versterkings van Oldenburg, Ou-Lübeck en Ratzeburg 'n belangrike rol as Slawiese sentra gespeel.

Die weskus van Sleeswyk-Holstein noord van die Eider is deur Noord-Friese bewoon wat hul taal tot vandag op 'n aantal eilande en in dorpe op die vasteland bewaar het. Vanweë die Middeleeuse taalsituasie – met Oud-Fries (Noord-Fries) in die noordweste, Oud-Deens in die noorde, Oud-Saksies in die suide en Oud-Polabies in die ooste – vergelyk die destydse Sleeswyk-Holstein met die huidige Switserland. Von Freeden/von Schnurbein (2007), bl. 369 In handelsentrums soos Haithabu is ook ander tale gebesig, terwyl Latyn as kerktaal gedien het. In die loop van die Middeleeue het Middelnederduits in die gebied geleidelik begin uitbrei, net soos Duitse plekname.

Bevolking duimnael|links|Ockelützwarft op die eiland Hooge Sleeswyk-Holstein het 'n bevolking van 2,92 miljoen en is met 'n bevolkingsdigtheid van 185 inwoners per vierkante kilometer op vyf ná die ylste bevolkte deelstaat van Duitsland. Daar is sowel 'n Deense asook 'n Noord-Friese minderheid in die landsdeel Sleeswyk. Die histories inheemse bevolking is van Nedersaksiese, Jutse en Noord-Friese afkoms. Ná die Tweede Wêreldoorlog was Sleeswyk-Holstein egter die Duitse deelstaat met die grootste aandeel van vlugtelinge uit die Russies- en Pools-besette Duitse oosgebiede, veral uit Agterpommere en Oos-Pruise. In die tydperk tussen 1939 en 1949 het die bevolking met 1,1 miljoen gegroei.

Die bevolking is oneweredig oor die deelstaat versprei. Naas die groter stede, wat in administratiewe opsig selfregerende gebiede vorm, is die noordelike metropolitaanse gebied van Hamburg net soos die distrikte Pinneberg en Stomarn dig bevolk, terwyl die landsdeel Sleeswyk en die distrik Dithmarschen deur 'n baie lae bevolkingsdigtheid gekenmerk word.

Vanweë sy afgeleë geografiese ligging en stadiger ekonomiese groei is die persentasie buitelanders die laagste van alle Duitse deelstate. Driekwart van die sowat 140 000 buitelanders is Europeërs en 22 persent van alle buitelanders is in die ou lidstate van die Europese Unie gebore. Die grootste groepe buitelanders is Turke (42 000) en immigrante uit die voormalige Joego-Slawië (14 000).

Minderhede Sleeswyk-Holstein is die enigste deelstaat in Duitsland waar die Duitssprekende meerderheidsbevolking, twee nasionale minderhede – Deens- en Noord-Friessprekendes – en een volksgroep – Sinti en Roma met Duitse burgerskap – naas mekaar leef. Die deelstaat was die eerste in Duitsland wat in 1988 'n spesiale amptenaar benoem het wat na die belange van etniese minderhede omsien.

Die Deense gemeenskap Geskiedenis duimnael|Die uitslae van die referendum wat in 1920 gehou is Sedert die Pruisiese oorwinning in die oorlog teen Denemarke in 1864 en die insluiting van Noord- en Suid-Sleeswyk by Pruise is daar 'n inheemse Deenssprekende minderheid in die landsdeel Suid-Sleeswyk. Ná die Eerste Wêreldoorlog is in 1920 'n referendum oor die staatkundige toekoms van dié gebiede gehou waarin die meerderheid van die bevolking van Noord-Sleeswyk ten gunste van Denemarke gestem het, terwyl die meeste bewoners in Suid-Sleeswyk hulle ten gunste van Duitsland uitgespreek het.

Die huidige beleid ten opsigte van die Deenssprekende minderheid baseer sowel op nasionale asook op deelstaatvlak op die Bonn-Kopenhaagse Verklarings van 1955 waarvolgens enigiemand, wat homself as "Deen" beskou, deur die owerheid as sulks erken word sonder dat hy enige bewys vir sy etniese afkoms moet lewer. Dieselfde geld vir Duitssprekendes in Denemarke. Volgens artikel 5 van die Sleeswyk-Holsteinse grondwet erken die deelstaat die Deenssprekende minderheid en bevorder hulle belange. Vandag is daar 50 000 inwoners met Duitse burgerskap wat dieselfde waardes en tradisies deel soos die Deense bevolking van Denemarke, asook sowat 6 000 Deense burgers (sogenaamde Ryksdene). www.schleswig-holstein.de: Minderheiten in Schleswig-Holstein – dänische Minderheit

Die meeste Deenssprekendes is in die grensstad Flensburg, in die administratiewe distrikte Noord-Friesland en Schleswig-Flensburg asook in die noordelike deel van Rendsburg-Eckernförde saamgetrek. In Flensburg en sommige kleiner nedersettings beloop die aandeel Deenssprekendes tot twintig persent.

Taal duimnael|A.P. Møller-Skolen in Schleswig is 'n Deensmedium-hoërskool