duimnael|250px|Basilica de la Sagrada Familia, Barcelona, Spanje, 2017 Die Basílica de la Sagrada Família (Basilika van die Heilige Familie), ook bekend as die Sagrada Família, is 'n groot, onvoltooide Rooms-Katolieke kerk in Barcelona, Katalonië, Spanje. Die kerk is deur die Spaanse/Katalaanse argitek Antoni Gaudí (1852-1926) ontwerp; sy werk aan die gebou is deel van 'n UNESCO-wêrelderfenisgebied.Works of Antoni Gaudí, UNESCO World Heritage Centre, Retrieved 14 November 2010 Op 7 November 2010 het pous Benedictus XVI die kerk ingewy en dit as 'n mindere basilika verklaar.
Bouwerk aan die Sagrada Família het op 19 Maart 1882, onder leiding van die argitek Francisco de Paula del Villar begin. In 1883, toe Villar bedank, het Antoni Gaudí as hoofargitek oorgeneem. Hy het die projek met sy eiesoortige argitektoniese- en ingenieurstyl, met 'n kombinasie van Gotiese en gekurfde Art Nouveau-vorms, omskep. Gaudí het die res van sy lewe aan die projek gewy, en hy is in die kript van die gebou begrawe. Ten tyde van sy dood in 1926 was minder as 'n kwart van die projek voltooi.
Omdat die konstruksie van die Sagrada Família slegs van private skenkings afhanklik was, het dit stadig gevorder, en is dit boonop deur die Spaanse Burgeroorlog onderbreek. Tydens Julie 1936 het rewolusionêres die kript aan die brand gesteek en by die werkswinkel ingebreek, waar hulle Gaudí se oorspronklike planne, tekeninge en gipsmodelle gedeeltelik vernietig het. Dit het 16 jaar se werk geneem om die fragmente van die meestermodel weer aanmekaar te sit. Tydens die 1950's is konstruksie met onderbroke vordering hervat. Vooruitgang in tegnologie soos rekenaargesteunde ontwerp en gerekenariseerde numeriese beheer (CNC) het vordering sedertdien bespoedig; konstruksie het in 2010 die halfpadmerk verbygesteek. Van die grootste uitdagings van die projek lê egter nog voor, insluitend die bou van nog tien torings, wat elk 'n belangrike Bybelse figuur in die Nuwe Testament sal simboliseer. Na verwagting is dit moontlik dat die gebou teen 2026 voltooi sal wees; dit sal ook die eeufeesherdenking van Gaudí se dood wees."Video: See How La Sagrada Família Will Progress in 2015", metropolismag.com, 25 September 2014 (retrieved 2 October 2019)
Die basilika het 'n lang geskiedenis van meningsverskille onder die inwoners van Barcelona: oor die aanvanklike moontlikheid dat dit met die Barcelona-katedraal sal kompeteer, oor Gaudí se ontwerp, oor die moontlikheid dat die bouwerk na Gaudí se dood sy ontwerp misken het, en die 2007-voorstel om 'n tonnel te bou wat Spanje se hoë-spoed treinstelsel met Frankryk verbind, en wat die stabiliteit van die basilika sou kon versteur. In 'n beskrywing van die Sagrada Família, het Rainer Zerbst, 'n kunskritikus, gesê "dit is waarskynlik onmoontlik om 'n kerkgebou, wat enigsins daarmee vergelyk, in die ganse kunsgeskiedenis te vind".Rainer Zerbst, Gaudí – a Life Devoted to Architecture., pp. 190–215 Paul Goldberger beskryf dit as "die mees buitengewone interpretasie van Gotiese argitektuur sedert die Middeleeue”. Die basilika is nie die katedraalkerk van die aartsbisdom van Barcelona nie, want dié titel behoort aan die Katedraal van die Heilige Kruis en Sint Eulalia (Barcelona-katedraal).
Geskiedenis
Agtergrond links|duimnael|Model van die volledige ontwerp Die Basílica de la Sagrada Família was die inspirasie van 'n boekhandelaar, Josep Maria Bocabella, stigter van Asociación Espiritual de Devotos de San José (Spirituele assosiasie van aanhangers van Sint Josef).The Gaudí & Barcelona Club Sagrada Família
Na 'n besoek aan die Vatikaan in 1872 het Bocabella van Italië teruggekeer met die voorneme om 'n kerk te bou wat deur die basilika by Loreto geïnspireer is. Op 19 Maart 1882, tydens die fees van Sint Josef, is daar met die apsiskript van die kerk begin, wat deur skenkings befonds is. Die kerk is deur die argitek Francisco de Paula del Villar ontwerp, wat beplan het om 'n standaardvorm Gotiese herlewingskerk te bou. Die apsiskript is voor Villar se bedanking op 18 Maart 1883 voltooi. Antoni Gaudí het hierna verantwoordelikheid vir die ontwerp, wat hy radikaal verander het, aanvaar. Gaudi het in 1883 aan die kerk begin werk, maar is eers in 1884 as direkteur van argitektuur aangestel.
Konstruksie duimnael|Nuwe klipwerk by die Sagrada Família is duidelik sigbaar teen die bevlekte en verweerde ouer gedeeltes. Oor die kwessie van die geweldige lang konstruksietydperk word beweer dat Gaudí opgemerk het: "My kliënt is nie haastig nie." Toe Gaudí in 1926 sterf, was tussen 15 en 25 persent van die basilika voltooi. Na Gaudí se dood is die werk onder leiding van Domènec Sugrañes i Gras voortgesit, totdat dit in 1936 deur die Spaanse Burgeroorlog onderbreek is.
Dele van die onvoltooide basilika en Gaudí se modelle en werkswinkel is tydens die oorlog deur Katalaanse anargiste vernietig. Die huidige ontwerp is gebaseer op gerekonstrueerde weergawes van die planne wat in 'n vuur verbrand is, sowel as op moderne aanpassings. Die argitekte Francesc Quintana, Isidre Puig Boada, Lluís Bonet i Gari en Francesc Cardoner het sedert 1940 die werk voortgesit. Die verligting is deur Carles Buïgas ontwerp. Die huidige direkteur, en seun van Lluís Bonet, Jordi Bonet i Armengol, het sedert die 1980's rekenaars in die ontwerp- en konstruksieproses gebruik. Mark Burry van Nieu-Seeland is die uitvoerende argitek en navorser. Beeldhouwerke van J. Busquets, Etsuro Sotoo en die kontroversiële Josep Maria Subirachs versier die fantastiese fasades. Jordi Fauli, wat in Barcelona gebore is, het in 2012 as hoofargitek oorgeneem.
Die gewelwe van die sentrale middeskip is in 2000 voltooi en die belangrikste take sedertdien was die konstruksie van die dwarsvleuels en apsis. Teen 2006 het die werk op die kruising en die ondersteunende struktuur vir die hooftoring van Jesus Christusgekonsentreer, sowel as die suidelike afsluiting van die sentrale middeskip, wat die gloriefasade sal word.
Die Sagrada Família-skool wat oorspronklik in 1909 deur Gaudí ontwerp is vir die kinders van die konstruksiewerkers, is ook op die kerkterrein. Die gebou is in 2002 vanaf die oostelike hoek van die terrein na die suidelike hoek hervestig en huisves tans 'n uitstalling.
Konstruksiestatus duimnael|Skaalmodel van Sagrada Familia, met bruin gedeeltes wat reeds-voltooide areas aandui (2019) Die hoofargitek Jordi Fauli het in Oktober 2015 aangekondig dat 70 persent van die konstruksie voltooi is, en dat die finale fase, waartydens ses enorme torings gebou sal word, bereik is. Die torings en die grootste gedeelte van die kerkstruktuur behoort teen 2026, die honderdjarige herdenking van Gaudi se dood, voltooid te wees. Volgens beramings wat in 2017 gedoen is, behoort die dekoratiewe elemente teen 2030 of 2032 voltooi te wees. Die toegangsgeld van besoekers van € 15 tot € 20 finansier die jaarlikse konstruksiebegroting van € 25 miljoen. Rekenaarondersteunde ontwerptegnologie word gebruik om die konstruksie van die gebou te versnel. Die huidige tegnologie maak dit moontlik dat die klip weg van die bouperseel, deur 'n CNC-freeswerktuig gesny word, terwyl dit in die 20ste eeu met die hand gekerf is. links|duimnael|Die Japannese kunstenaar Etsuro Sotoo werk in die gipswerkswinkel In 2008 het 'n aantal bekende Katalaanse argitekte die staking van die konstruksie bepleit (English tr.) om Gaudí se oorspronklike ontwerpe te respekteer, wat hoewel dit nie volledig was nie en gedeeltelik vernietig is, oor die afgelope jare slegs gedeeltelik gerekonstrueer is.
In 2018 is die kliptipe wat vir die konstruksie benodig word in 'n steengroef in Brinscall, naby Chorley, Engeland, gevind.
Onlangse geskiedenis
AVE-tonnel Sedert 2013 loop AVE-sneltreine naby die Sagrada Família, deur 'n tonnel wat onder die middestad van Barcelona geleë is. Die konstruksie van die tonnel, wat op 26 Maart 2010 begin is, was omstrede. Die Ministerie van Openbare Werke van Spanje (Ministerio de Fomento) het beweer dat die projek geen risiko vir die kerk inhou nie. Ingenieurs en argitekte van Sagrada Família het nie hiermee saamgestem nie en gesê daar is geen waarborg dat die tonnel nie die stabiliteit van die gebou sal beïnvloed nie. Die Raad van die Sagrada Família (Patronat de la Sagrada Família) en die Buurtvereniging AVE pel Litoral (AVE by die kus) het sonder sukses 'n veldtog teen die AVE-roete gelei.
In Oktober 2010 het die tonnelboormasjien die kerk onder die grond, in lyn met die hooffasade van die gebou, bereik. Diens deur die tonnel is op 8 Januarie 2013 geopen. Die treinspoor in die tonnel maak gebruik van 'n stelsel deur Edilon Sedra waarvolgens die spore in 'n elastiese materiaal ingebed is om vibrasies te verminder. Daar is tot dusver nog geen skade aan die Sagrada Família gerapporteer nie.
Inwyding Die hoof middeskip is in 2010 bedek, en 'n orrel is geïnstalleer, wat dit moontlik gemaak het om die gebou wat steeds half-voltooid was, vir godsdienstige doeleindes te gebruik. Die kerk is op 7 November 2010, voor 'n gemeente van 6 500 mense, deur pous Benedictus XVI ingewy. 'n Verdere 50,000 mense het die inwydingsmis aan die buitekant van die basilika gevolg, waar meer as 100 biskoppe en 300 priesters die Nagmaal bedien het.
Vanaf 9 Julie 2017 word daar elke Sondag en Heilige dag van verpligting, om 9 uur 'n internasionale mis by die basilika gehou. Dit is oop vir die publiek (totdat die kerk vol is). Soms word die mis ook op ander tye aangebied - 'n uitnodiging tot toegang is egter nodig. Wanneer 'n mis geskeduleer word, word aanwysings oor hoe om 'n uitnodiging te kry op die basilika se webwerf geplaas. Besoekers mag ook in die Kapel van die geseënde sakrament en boetedoening bid.
Brand Op 19 April 2011 het 'n brandstigter 'n klein brand in die sakristie begin, wat die ontruiming van toeriste en konstruksiewerkers genoodsaak het. Die sakristie is beskadig, en dit het 45 minute geduur om die brand onder beheer te bring.[s.n.] (19 April 2011). Fire by suspected arsonist at Sagrada Familia. The Telegraph. Accessed September 2013.
Pandemie Op 11 Maart 2020, as gevolg van die 2020-koronaviruspandemie in Spanje, is die konstruksie gestaak en die basilika onbepaald gesluit. Die Gaudí-huismuseum in Park Güell is ook gesluit.
Ontwerp Die styl van la Sagrada Família word as Spaanse laat-Goties, Katalaanse modernisme of Art Nouveau beskryf. Terwyl die Sagrada Família binne die Art Nouveau-periode val, wys Nikolaus Pevsner daarop dat Gaudí, sowel as Charles Rennie Mackintosh in Glasgow, die Art Nouveau-styl baie verder as die gewone gebruik daarvan as 'n oppervlakversiering gevoer het.Nikolaus Pevsner, An Outline of European Architecture, Penguin Books, (1963), pp. 394–5
Plan Hoewel daar nooit beoog is dat die Sagrada Família 'n katedraal (setel van 'n biskop) sal wees nie, is daar van die begin af beplan dat die gebou die grootte van 'n katedraal sal wees. Die grondplan toon duidelike ooreenkomste met vroeëre Spaanse katedrale soos Burgos-katedraal, León-katedraal en Sevilla-katedraal. Soos by ander Katalaanse, en verskeie Europese Gotiese katedrale, is die Sagrada Familia kort in vergelyking met die breedte, en het 'n groot kompleksiteit van dele, 'n menigte torings en drie portale wat elk drasties verskil met betrekking tot die struktuur sowel as die ornamentasie. Hoewel dit algemeen is dat katedrale in Spanje deur talle kapelle en kerklike geboue omring word, het die plan van hierdie kerk 'n ongewone kenmerk: 'n bedekte gang of klooster wat 'n reghoek vorm wat die kerk omring en deur elk van die drie voorportale loop. Met hierdie eienaardigheid ter syde, dui die plan, wat deur Villar se kript beïnvloed is, skaars op die kompleksiteit van Gaudí se ontwerp of die afwykings wat dit van tradisionele kerkargitektuur maak. Daar is min reguit lyne in die ontwerp, en geen presiese regte hoeke binne of buite die kerk nie.
Torings