Die Asjantiryk (Asante-Twi: Asanteman), ook gespel Ashanti of Asante, was van 1670 tot 1957 ’n Akanryk in wat nou Ghana is. Dit het uitgebrei van Asjanti na die hedendaagse Brong-Ahafo-, Sentrale, Oostelike, Groter Accra- en Westelike Streek van Ghana. Danksy die ryk se militêre mag, rykdom, argitektuur, gesofistikeerde hiërargie en kultuur is die Koninkryk Asjanti wyd bestudeer en het meer geskiedskrywings daaroor deur Europese, veral Britse, skrywers die lig gesien as oor enige ander inheemse kultuur van Afrika suid van die Sahara.Collins en Burns (2007), p. 140.

In die laat 17de eeu het die Asantehene (Asjantikoning) Osei Tutu I en sy raadgewer Okomfo Anokye die Koninkryk Asjanti gestig met die Goue Stoel van Asjanti as ’n verenigende simbool. Onder Osei Tutu het die gebied geweldig uitgebrei; hy het die weermag opgebou deur dit te herorganiseer en het ’n gedissiplineerde en paramilitêre weermag in ’n doeltreffende gevegsmag omskep. In 1701 het die Asjantiweermag Denkyira verower en toegang tot die Golf van Guinee en die Atlantiese Seekus gekry. Hulle het met Europeërs aan die kus begin handel dryf in goud, ivoor, slawe en ander goedere.

In 1896 het ’n Britse ekspedisiemag in Kumasi aangekom. Ná verskeie oorloë met die Asjanti het Brittanje die gebied geannekseer. Die koning is afgesit en verban. Die Asjantiryk is ontbind en het die Britse Goudkuskolonie geword.

In 1935 is die Ashantiryk se selfregering en troon herstel. Toe die Goudkus in 1957 sy onafhanklikheid van Brittanje kry en Ghana word, het die Asjantiryk deel van dié land geword.

Vandag bestaan die Asjantiryk as ’n konstitusioneel beskermde, subnasionale kwasistaat en tradisionele gesag in die Republiek van Ghana. Die huidige koning van Asjanti is Otumfuo Nana Osei Tutu II. Asjanti is die tuiste van die Bosumtwimeer, Ghana se enigste natuurlike meer. Die streek se huidige inkomste word hoofsaaklik verkry uit handel in goudstawe, kakao, kolaneute en landbou; woude is ook afgekap om broodwortels, mielies en jams te plant.Collins en Burns (2007), p. 139.

Etimologie en oorsprong thumb|links|150px|Kentestof, die tradisionele materiaal wat deur Asjanti-koninklikes gedra is. Die naam Asante beteken "as gevolg van oorlog". Dit kom van die Twi-woorde ɔsa, "oorlog", en nti, "as gevolg van". Die naam het ontstaan vanweë die Asante se oorsprong as ’n koninkryk wat gestig is om teen die koninkryk van die Denkyiravolk te veg.

Die spelling Ashanti kom uit Britse verslae wat Asante getranskribeer het soos die Britte gehoor het dit uitgespreek word, as "as-hanti". Die koppelteken is eindelik uitgelaat en die naam Ashanti het oorgebly, met verskillende spellings, insluitende Ashantee, tot in die vroeë 20ste eeu.

Tussen die 10de en 12de eeu het die etniese Akanvolk na die woudgordel van Suid-Ghana migreer en verskeie Akanstate gestig: Asjanti Brong-Ahafo Assin-Denkyira-Fante-Mankessim (die huidige Sentrale Streek) Akyem-Akwamu-Akuapem-Kwahu (die huidige Oostelike en Groter Accrastreek) en Ahanta-Aowin-Sefwi-Wassa (die huidige Westelike Streek).

Voordat Asjanti kontak met Europeërs gehad het, het handel met ander Afrikastate floreer danksy Asjanti se goudrykdom. Handel met die Portugese het al in die 15de eeu begin.MacLean, Iain. Rational Choice and British Politics: An Analysis of Rhetoric and Manipulation from Peel to Blair, 2001, bl. 76. Toe die goudmyne in die Sahel ophou produseer, het die Koninkryk Asjanti die hoofspeler in die goudhandel geword en die Asjanti het ryk geword uit hulle goud.

Geskiedenis Stigting thumb|220px|Stoel (Dwa), simbool van die Asjantiryk. Die Asjanti is ’n subgroep van die Akanvolk; as politieke organisasie was dit aanvanklik gesentreer om clans met ’n hoofman, of Amanhene, aan die hoof.Kings And Queens Of Asante Een clan, die Oyoko, het hulle in die gebied van Asjanti se subtropiese woud gevestig met Kumasi as hoofsentrum.Ashanti.com.au Die Asjanti het skatpligtiges geword van ’n ander Akanstaat, Denkyira, maar in die middel 17de eeu het die Oyoko onder hoofman Oti Akenten die Asjanticlans in ’n losse konfederasie teen die Denkyira begin verenig.

thumb|220px|Goue Stoel (Sika dwa) in die Koninkryk Asjanti, 1935. Die instelling van die Goue Stoel (Sika dwa) was ’n manier van sentralisasie onder Osei Tutu. Volgens legende is ’n vergadering van al die clanhoofmanne van die Asjanti-nedersettings belê net voor hulle hulle onafhanklik van die Denkyira verklaar het. Op hierdie vergadering het Okomfo Anokye, die hoofpriester en raadgewer van Osei Tutu, die Goue Stoel uit die hemel laat neerdaal. Dit het op Osei Tutu se skoot beland. Okomfo Anokye het die stoel verklaar tot simbool van die nuwe Asjanti-unie (die Koninkryk Asjanti), en trou is aan die stoel gesweer, asook aan Osei Tutu as die Asantehene. Die nuut gestigte koninkryk het daarna oorlog teen die Denkyira verklaar en hulle verslaan.Alan Lloyd, The Drums of Kumasi, Londen: Panther, 1964, pp. 21-24. Die stoel is steeds heilig vir die Asjantivolk, want daar word geglo dit bevat die Sunsum – die gees of siel van die Asjanti.

Onafhanklikheid thumb|220px|’n Tekening van die Asjanti-argitektuur deur Thomas Edward Bowdich, met Adinkrasimbole teen die mure. In die 1670's het die hoof van die Oyokoclan, Osei Tutu, deur diplomasie en oorlogvoering nog ’n vinnige konsolidasie van Akanvolke begin.Kevin Shillington, History of Africa, New York: St. Martin's, 1995 (1989), p. 194. Hy en Anokye het ’n koalisie van invloedryke stadstate teen die Denkyira gelei en hulle met die Slag van Feyiase verslaan. Hulle het hulle finale onafhanklikheid in 1701 afgekondig. Die twee mans het ander stadstate daarna oorrreed of gedwing om trou aan Kumasi, die Asjanti se hoofstad, te sweer. Van die begin af het Osei Tutu en Anokye die Asjanti se gebied uitgebrei en ’n imperialistiese buitelandse beleid gevolg.

thumb|220px|’n Asjantihuis in Kumasi, voor Britse kolonisasie. Osei Tutu het voortgegaan met die sentralisasie van die naburige Akangroepe, en het die mag van die regstelsel in die gesentraliseerde regering uitgebrei. Die losse federasie van stadstate het gegroei tot ’n koninkryk en eindelik ’n gebeidsryk wat sy grense bly uitbrei het. Nuwe gebiede wat verower is, het die keuse gehad om by die ryk aan te sluit of skatpligtige state te word.Giblert, Erik Africa in World History: From Prehistory to the Present 2004 Opoku Ware I, Osei Tutu se opvolger, het die grense verder uitgebrei en ’n groot deel van die hedendaagse Ghana verower.Shillington, loc. cit.

Kontak met Europa Europeërs het in die 15de eeu in die kusstreek van die Golf van Guinee kontak met die Asjanti gemaak. Dit het gelei tot handel in goud, ivoor, slawe en ander goedere met veral die Portugese. Op 15 Mei 1817 het die Engelsman Thomas Bowdich in Kumasi aangekom. Hy het ’n paar maande gebly, was beïndruk en het met sy terugkeer na Engeland ’n boek, Mission from Cape Coast Castle to Ashantee, geskryf Joseph Dupuis, die eerste Britse konsul in Kumasi, het op 23 Maart 1820 in die hoofstad gearriveer. Bowdich en Dupuis het albei ’n verdrag met die Asantehene gesluit.

Slawerny Slawerny was histories ’n tradisie in die Asjantiryk – die slawe was hoofsaaklik hulle vyande wat hulle in oorloë gevange geneem het. Die lot van die slawe het gewissel van die reg om rykdom te versamel en in sy eienaar se familie in te trou tot om geoffer te word in begrafnisseremonies. Die Asjanti het geglo ’n eienaar se slawe moet hom na die hiernamaals volg. Slawe kon soms ander slawe besit of aansoek om ’n nuwe eienaar doen as hy gevoel het sy eienaar behandel hom uiters sleg.Alfred Burdon Ellis, , The Tshi-speaking peoples of the Gold Coast of West Africa , 1887. p. 290Rodriguez, Junius P. The Historical Encyclopedia of World Slavery, Volume 1, 1997. p. 53.

Die moderne Asjanti verwerp die idee dat slawe sleg behandel is.Johann Gottlieb Christaller, Ashanti Proverbs: (the primitive ethics of a savage people), 1916, pp. 119-20. Hulle voer aan iemand wat sy slawe mishandel het, is deur die gemeenskap geminag en lê klem daarop dat die slawe kon trou, en dat hulle kinders vry gebore is.History of the Ashanti Empire.

As ’n eienaar ’n vroulike slaaf begeerlik gevind het, mag hy met haar getrou het. Soms het mans dit verkies weens die Asjanti se matriargale stelsel. Kinders is beskou as gebore in die ma se clan en het die status van dié clan verkry. Die vrou is deur haar familie beskerm en haar ouer broer was gewoonlik ’n mentor vir haar kinders. As ’n man met ’n slaaf getrou het, was daar nie ’n familie wat haar kon bevoordeel nie en het hy volle beheer oor sy kinders gehad.

Britse betrekkinge In Januarie 1896 het ’n Britse ekspedisiemag onder bevel van Robert Baden-Powell in Kumasi aangekom."The Downfall of Prepmeh" deur Robert Baden-Powell, 1896, die Amerikaanse uitgawe kan afgelaai word by http://www.thedump.scoutscan.com/dumpinventorybp.php Die Asantehene het die Asjanti aangesê om nie weerstand te bied nie, want hy was bang vir ’n volksmoord. Kort daaarna het goewerneur William Maxwell ook in Kumasi aangekom.

Brittanje het die gebiede van die Asjanti en die Fante geannekseer. Asantehene Prempeh I is afgesit en gevange geneem, en hy en ander Asjantileiers is na die Seychelle verban. Die Asjantiryk is ontbind. Die Britte het die gebied van die Koninkryk Asjanti en die kusstreke amptelik verklaar tot die Goudkuskolonie. ’n Britse resident is aangestel en kort daarna is ’n fort by Kumasi gebou.

Opstande van 1900 en sedert 1935 As ’n finale weerstand het die lede van die Asjantihof wat nie verban is nie, ’n aanval teen die resident in die Kumasifort geloods. Dit is gelei deur die Asjantikoningin Yaa Asantewaa, die koninginmoeder van Ejisu. Die Asjanti en die Britte was van 28 Maart tot laat in September 1900 in ’n stryd gewikkel wat as die Oorlog van die Goue Stoel bekend geword het. Die Britte het eindelik geseëvier; hulle het Asantewaa en ander leiers ook na die Seychelle verban. In Januarie 1902 het die Britte finaal ’n protektoraat in die koninkryk afgekondig.

Die Ashantiryk se selfregering is op 31 Januarie 1935 herstel en koning Prempeh II is op die troon teruggeplaas. Toe Ghana sy onafhanklikheid van Brittanje in 1957 verkry, het die Asjantiryk ’n politieke unie met dié land gevorm.

Geskiedenistydlyn

Regering en politiek Die Asjantiregering was geskoei op ’n gesofistikeerde burokrasie in Kumasi, met aparte departemente om die staat se sake te hanteer. Veral die departement van buitelandse sake is noemenswaardig; dit was klein, maar het aparte afdelings gehad vir betrekkinge met Brittanje, Frankryk, Nederland en Arabië. Kenners van Asjanti se geskiedenis soos Larry Yarak en Ivor Wilks Wilkes verskil oor die mag van die burokrasie in vergelyking met dié van die Asantehene, maar stem saam dit was ’n hoogs ontwikkelde regering met ’n skeiding van magte.

Asantehene thumb|180px|Prempeh II, die Asantehene van 1931 tot 1970. Aan die hoof van die magstruktuur was die Asantehene, die koning van Asjanti. Hy is op die Goue Stoel gekroon, want dit het die mag van die koning gesimboliseer. Die Asantehene het geweldig baie mag gehad, maar was nie ’n absolute monarg nie. Hy het aansienlike regs- en uitvoerende magte met die burokrasie gedeel. Hy was egter die enigste persoon in Asjanti wat die doodsvonnis kon uitspreek in die geval van ’n misdaad. In oorlogstyd was hy die opperbevelvoerder van die weermag, hoewel die departement van oorlog in die 19de eeu al hoe meer oorlogsake hanteer het. Osei Kwadwo (1764-1777) het die stelsel begin om sentrale amptenare volgens hulle vermoëns aan te stel en nie volgens hulle herkoms nie.Shillington, p. 195.