Daniel Streicher Badenhorst (6 Desember 1967 – ), ook bekend as Daantjie Badenhorst en Daantjie Dinamiet, is 'n Suid-Afrikaanse TV-vasvraprogramwenner, joernalis en Aspergersindroom-bewustheidsaktivis. Hy is die wenner van die 24ste seisoen van Noot vir Noot, 'n musiekvasvraprogram, asook van die 2005-uitgawe van Flinkdink, 'n Afrikaanse algemene kennis- vasvraprogram.
Badenhorst is in Pietermaritzburg gebore as een van vier kinders. Hy het aan Hoërskool Waterkloof, Pretoria gematrikuleer in 1985. Na sy studies het hy by die Suid-Afrikaanse Staatsdrukker in Pretoria gaan werk.
In 2004 het hy ingeskryf vir Noot vir Noot en dadelik geskiedenis gemaak nadat hy die maksimum van R 10 000 oortref het voor die einde van die program. Dit was die eerste keer dat dit in die program se geskiedenis gebeur het. Sy totale prysgeld in Noot vir Noot vir die aand was R 26 075. Badenhorst se vertoning in die program het wye reaksie uitgelok en baie artikels oor hom het in koerante en tydskrifte verskyn, insluitende Huisgenoot en You. Tydens die seisoen van Noot vir Noot het Badenhorst R 77 200 gewen, wat 'n rekord was. In dié tyd is hy 'n pos van subredakteur by Beeld aangebied wat hy aanvaar het.
As gevolg van sy vertoning op Noot vir Noot is hy uitgenooi om deel te neem aan die 2005 uitgawe van die Flinkdink-vasvraprogram, wat hy ook gewen het. Sy faam het hom ook 'n rol besorg in 'n Suid-Afrikaanse Chevrolet Aveo-advertensie.http://www.biz-community.com/Article/196/12/9253.html
Badenhorst is Afrikaanssprekend maar kan ook Engels, Frans en Duits vlot praat. Sy eerste boek, 'n verhaal Net een wenner is in 2005 deur Praag gepubliseer. Badenhorst is getroud en het twee kinders, Dirk (gebore op 12 Julie 2004) en Suzanne (gebore op 28 Mei 2007).
Badenhorst ly aan Aspergersindroom, 'n vorm van Outisme. Vandat hy 'n openbare figuur is, het hy aktief begin om die publiek meer bewus te maak van die toestand.
Verwysings
Eksterne skakels Daantjie Badenhorst se eie Musiekwebblad
Kategorie:Suid-Afrikaanse joernaliste Kategorie:Geboortes in 1967 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Afrikaners Kategorie:Alumni van Hoërskool Waterkloof