Professor Elize Botha (1930–2007, née Elizabeth Lindes) was 'n gerespekteerde Suid-Afrikaanse akademikus en literêre kritikus.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, Sy was onder meer hoofbestuurslid van die Afrikaanse Skrywerskring en redakteur van die Afrikaanse Tydskrif vir letterkunde. In 1982 is die Gustav Preller-medalje vir Literatuurwetenskap en Kritiek (die eerste keer aan ’n vrou) aan haar toegeken, en in 1989 ontvang sy die Orde vir Voortreflike Diens (silwer). Sy was die eerste vrou in die direksie van die mediareus Naspers (1988), die eerste vrouekanselier van die Universiteit Stellenbosch (1998) en die eerste vrouevoorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (1989). In 2001 ontvang sy die ATKV se Prestigetoekenning vir haar bydrae tot die Afrikaanse prosa, prosateorie en vir haar rol in die bewaring en instandhouding van die Afrikaanse kultuurskat. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het haar in 2004 'n erelid gemaak. Die Afrikaanse skrywer en akademikus Marlene van Niekerk het haar die "Die Elwekoningin van die Afrikaanse Letterkunde" genoem.

Lewe en werk

Vroeë lewe en opleiding Elizabeth Lindes is op 19 November 1930 in Krugersdorp as die jongste van twee kinders gebore.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Elize_Botha Sy het ’n ouer broer, Nick, gehad. Haar pa, Klaas Lindes, was hoof van die tweemanplaasskool op Koesterfontein, sowat 8 km wes van Magaliesburg, waar sy grootword en begin skoolgaan. Aanvanklik is haar pa onderwyskollege toe, waar hy ’n onderwysdiploma verwerf het, en eers in 1920 is hy op 28-jarige ouderdom na die Universiteit van Stellenbosch vir sy graadstudie.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Botha,_Elize_(Elizabeth) Hier was hy een van die eerste inwoners van Dagbreek, die manskoshuis. Haar ma was Bess Lindes, wat die orrel bespeel het vir die plaaslike NG gemeente. Elize het tot st. 2 skoolgegaan op Koesterfontein. Toe die skool op Koesterfontein moes sluit, het die gesin na Magaliesburg verhuis, waar haar pa skoolgehou het tot met sy aftrede in 1951. Elize voltooi hier haar laerskoolopleiding, waarna die gesin trek na die nabygeleë Krugersdorp-Noord. In 1947 matrikuleer sy aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp, waar sy ook ’n prefek was. Sy kry onderskeidings in Afrikaans, Engels, Duits, Natuur- en Skeikunde en Wiskunde. In 1948 gaan sy na die Universiteit van Stellenbosch, waar sy in 1950 ’n B.A.-graad cum laude behaal met Afrikaans-Nederlands en Engels as hoofvakke. Onder leiding van professor F.E.J. Malherbe behaal sy in 1952 ’n M.A.-graad met ’n verhandeling oor Die poësie van D.J. Opperman met verwysing na verwantskappe met T.S. Eliot. Op universiteit is sy lid van die Studenteraad, primaria van Huis ten Bosch en dien ook op die redaksie van die studentetydskrif Die Stellenbosse Student. Sy werk hierna vanaf Augustus 1952 tot Mei 1953 as joernalis by Die Burger. Die Porter-stipendium word deur die Universiteit van Stellenbosch aan haar toegeken en met behulp hiervan sit sy dan haar studies in Amsterdam voort.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/bothae.html Op 22 November 1955 behaal sy onder leiding van N.P. van Wyk Louw ’n doktorsgraad (D.Litt. et Phil.-graad) met lof aan die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam. Die titel van haar proefskrif is Veelheid en binding: ’n Bydrae tot die ondersoek van die eenheidsprobleem in die literatuurwetenskap, wat ’n studie is oor D.J. Opperman se Sprokie van die spikkelkoei. Sy is op 24 Maart 1956 getroud met professor Johan Botha, wat sy in 1950 op universiteit ontmoet het. Hy is ’n broer van oud-minister Pik Botha. Die egpaar het drie kinders, twee dogters (Liesbeth en Maria), en ’n seun (Frederik).

Akademiese loopbaan Haar akademiese loopbaan in departemente van Afrikaans-Nederlands strek oor verskeie dekades en universiteite. Sy is vanaf die begin van 1956 tot Julie 1960 verbonde aan die personeel van die Universiteit van Suid-Afrika, eers as lektrise en vanaf die begin van 1958 as senior lektrise. In Augustus 1962 word sy aangestel as dosent aan die Universiteit van Pretoria, waar sy aanbly tot aan die einde van September 1982. Sy is in 1964 ook deeltydse dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand. In Januarie 1981 word sy aangestel as medeprofessor aan die Universiteit van Pretoria en vanaf 1 Oktober 1982 tot met haar aftrede in 1995 is sy hoogleraar aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Kampvegter vir Afrikaans Sedert 1967 is sy lid van die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie (en voorsitter vanaf 1984) en dien vanaf 1981 ook op die raad van die Akademie. Vanaf 1973 tot 1992 is sy redakteur van die Tydskrif vir Letterkunde. Sy skryf vanaf 1971 ’n gereelde rubriek oor die prosa vir Tydskrif vir Geesteswetenskappe en is ook ’n gereelde deelnemer aan die radioprogramme oor die letterkunde van die Afrikaanse Diens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie. In die program Vrouerubriek lewer sy onder andere ’n aantal praatjies oor Suid-Afrikaanse skryfsters van die sestigerjare, wat later in boekvorm gepubliseer word. Vanaf die stigting van die Afrikaanse Letterkundevereniging in 1984 tot 1990 is voorsitter van hierdie vereniging. Verder is sy stigterslid in 1992 en tussen 1994 en 1999 voorsitter van die raad van trustees van die Stigting vir Afrikaans, hoofbestuurslid van die Afrikaanse Skrywerskring, spesialis-direkteur van die Stigting vir die Skeppende Kunste, sedert 1990 lid van die Raad van TRUK, vanaf 1992 voorsitter van die raad van die Staatsbiblioteek en dien sy in die raad van die F.W. de Klerk-stigting. Van 1990 tot 1993 is sy ’n SABC-raadslid en sy dien ook in die direksie van die Staatsteater. In 1994 is sy lid van die kuns- en kultuurtaakgroep en van 1997 tot 2000 is sy ’n lid van die Nasionale Raad vir die Kunste. Sy is deel van die nasionale komitee vir die inhuldiging van president Nelson Mandela en in 2003 dien sy in die Adviesraad vir Nasionale Simbole in die presidensie, wat moet besluit oor die nuwe Suid-Afrikaanse vlag en volkslied.

As openbare figuur en bekende literator tree sy gereeld in die openbaar op en lewer verskeie belangwekkende toesprake en lesings. Van die belangrikste hiervan is die referaat Etienne Leroux as sosiale kommentator wat sy op 25 Maart 1976 by die sesde vyfjaarlikse kongres van die Afrikaanse Skrywerskring in Pretoria lewer. In 1982 word sy genooi om die jaarlikse N.P. van Wyk Louw-gedenklesing by die Randse Afrikaanse Universiteit te gee, onder die titel N.P. van Wyk Louw en die Afrikaanse prosa. Sy lewer in 1983 die D.F. Malan-gedenklesing aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat getiteld Verskyningsvorme van die romantiek in die Afrikaanse prosa: D.F. Malherbe en daarna. In 1999 lewer sy die C.J. Langenhoven-gedenklesing aan die Universiteit van Port Elizabeth onder die titel Wat het geword van ‘Brolloks en Bittergal’? Spore (en spoke) van C.J. Langenhoven in die wêreld van taal en lettere aan die eeu-einde in Suid-Afrika.

Vrou van 'eerstes' Sy staan bekend as vrou wat verskeie “eerstes” behaal. So is sy in 1987 die eerste vroulike ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en tussen 1989 en 1991 die eerste vroulike voorsitter.SA History: http://www.sahistory.org.za/people/professor-elize-botha In September 1988 word sy die eerste vrou ooit om verkies te word tot die direksie van Nasionale Pers. In die NG gemeente Hartbeesspruit in Hatfield in Pretoria is sy in 1991 die eerste vrou wat tot ouderling verkies word. Sy word in 1993 tot die raad van die Universiteit van Stellenbosch verkies en is ook die eerste vroulike kanselier van hierdie universiteit toe sy op 22 Junie 1998 in hierdie pos ingelyf word en ook in 2003 vir ’n tweede vyfjaar-termyn herkies word.Universiteit Stellenbosch , Die Kanselier , besoek op 18 November 2007Ferreira, Thinus “Prof. Elize Botha eenparig tot kanselier van U.S. herkies” “Die Burger” 20 Mei 2003 Ook was sy die eerste vroulike lid van die Afrikaner-Broederbond. Op politieke gebied maak sy ’n bydrae wanneer sy in 1993 deur die Veelparty-onderhandelingsraad benoem word as voorsitter van die kommissie insake nasionale simbole, in 1994 dien in die nasionale inhuldigingskomitee wat verantwoordelik is vir die reëlings vir die inhuldiging van president Nelson Mandela en deur die minister van kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie benoem word tot die Nasionale Kunsteraad. Sy is op 16 November 2007 in die Sungardens Hospice in Pretoria aan kanker oorledeUniversiteit Stellenbosch , US neem met hartseer afskeid van prof Elize Botha , besoek op 18 November 2007Beeld, Prof. Elize verloor stryd teen kanker , besoek op 18 November 2007

Skryfwerk

Werk as letterkundige kritikus Sy lewer veral werk as letterkundige kritikus, met die prosa as fokuspunt. Suid-Afrikaanse skryfsters van die sestigerjare is ’n versameling van die reeks praatjies wat sy gedurende April en Mei 1965 oor die Vrouerubriek van Radio Suid-Afrika gelewer het. Skryfsters wat sy behandel sluit in M.E.R., Alba Bouwer, Henriette Grové, Freda Linde, Berta Smit, Audrey Blignault, Elsa Joubert, Elise Muller, Anna M. Louw, Sannie Uys, T.C. Pienaar, Elisabeth Eybers en Ingrid Jonker.

Haar verspreide opstelle oor veral die prosa word gebundel in Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelleBritz, E.C. “Die Transvaler” 27 April 1981 en Prosakroniek (laasgenoemde hoofsaaklik ’n bundeling van haar gereelde bydraes tot Tydskrif vir GeesteswetenskappeBrink, André P. “Rapport” 13 Desember 1987Smuts, J.P. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 28 no. 4, Desember 1988Van Zyl, Ia “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 27 no. 2, Mei 1989) en saam met Henning Snyman skryf sy die blokboek oor Hoogtepunte in die Afrikaanse verhaalkuns.Brink, André P. “Rapport” 12 Augustus 1978Viljoen, Hein “Tydskrif vir Letterkunde”, Nuwe reeks 18 no. 2, Mei 1980

’n Groot aantal artikels en resensies oor die letterkunde verskyn van haar in akademiese tydskrifte en bloemlesings. Saam met Joan Swiegers stel sy die Gids by My derde verseboek en Gids by My vyfde verseboek saam, waarin voorgeskrewe poësie vir onderskeidelik standerd drie- en standerd vyf-leerlinge behandel word. Sy skryf saam met A.P. Grové die Handleiding by die studie van die letterkunde, waar sy die afdeling oor die prosa hanteer en Grové die bydraes oor die poësie en die drama lewer.Scholtz, H. van der Merwe “Klasgids” Jaargang 2 no. 2, November 1966 Van haar skryfwerk word in versamelbundels opgeneem, waaronder By die dood van Ina Boudier-Bakker in Dames 17 onder redaksie van C.J.M. Nienaber. Hierdie stuk is ’n radiopraatjie wat oorspronklik op 9 Februarie 1967 deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie uitgesaai is.

Samesteller As samesteller is sy verantwoordelik vir die versamelbundel Afrikaanse essayiste, wat steeds beskou word as waarskynlik die mees gesaghebbende versamelbundel van sy soort. Die bundel ’n Keur uit sy gedigte wat sy in 1960 saam met A.P. Grové uit die werk van N.P. van Wyk Louw opstel, is veral gemik op die Nederlandse mark. Uit die werk van M.E.R. maak sy ’n keur van haar kortkuns, wat in 1975 met geleentheid van M.E.R. se honderdste verjaarsdag onder die titel M.E.R. van naby gesien verskyn. ’n Keuse uit die prosa van Hennie Aucamp verskyn in 1979 onder die titel In een kraal. Sy stel twee versamelbundels uit die werk van Audrey Blignault saam. In 1977 verskyn Nogtans sal ek jubel waarin sy essays en vertellings opneem en in 1996, per geleentheid van Blignault se tagtigste verjaarsdag, stel sy saam met Hennie Aucamp Mal Hansie en ander verhale saam, ’n keur uit Blignault se kortverhale.

Redakteur